Ons het so pas die afgelope naweek die dood en opstanding van ons Here Jesus Christus herdenk. Maar wat beteken dit vir ons in ons alledaagse lewe? Hoe raak dit ons daaglikse lewe? Dit is sekerlik goed om sy dood en opstanding jaarliks te vier maar as dit nie in ons lewens uitkristaliseer nie, beteken dit net mooi niks nie. Die vraag is: Hoe moet Jesus Christus se dood en opstanding in ons lewens uitkristaliseer?
Galasiërs 5:14-17 Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie. Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
As daar een ding is wat die mens graag wil beskerm, pamperlang, verdedig en voorop stel dan is dit sy eie vleeslike natuur, sy eie “ek” soos ons dikwels daarna verwys. Maar, is dit wat God graag wil hê ons moet doen? Is dit sy wil dat ons eie “ek” voorrang moet geniet? Nee! hoegenaamd nie want soos ons hierbo sien, stry die vlees teen die Gees. Die natuurlike begeertes van die vlees blus die Gees (1 Thessalonicense 5:19).
Dit is die soewereine wil van God dat my gees en siel en liggaam geheel en al onder die heerskappy van die Heilige Gees moet staan, sodat Hy die lewe, gesindheid en karakter van die Here Jesus Christus in en deur my kan voortbring.
My eie selflewe in die siel, met al sy natuurlike eienskappe van selfgesentreerdheid, staan in God se pad. Die gevolg is dat Sy lewe, wat in my innerlike mens of gees woon, as’t ware gevange gehou word deur die harde dop van my eie selflewe. Eers wanneer hierdie harde dop deur God self gebreek is, d.w.s. wanneer my siel nie meer onafhanklik of op eie inisiatief (impulsief) funksioneer nie, maar die instrument word van en ondergeskik gemaak is aan die Heilige Gees, kan Sy lewe (die lewende water) vanuit my gees en deur my gebroke sielslewe na ander vloei.
In ons tuin groei daar ‘n Lemon Verbena wat vreeslik lekker en skoon ruik. Elke keer wanneer ek daar verbyloop, pluk ek een van die blaartjies, vryf dit hard tussen die palms van my hande en ruik dan met ‘n diep teug daaraan. Eers dan kan jy die ryk en vol geur daarvan ruik en waardeer. Christene is veronderstel om die geur of reuk van die Here Jesus te versprei oral waar hulle hul bevind, en dit gebeur alleenlik wanneer hulle so ‘n bietjie gepars word.
Efesiërs 5: 1 en 2 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.
Van al die offers wat in Levitikus beskrywe word, is die Brandoffer die enigste offer wat geheel en al verbrand is. Dit dui op Jesus Christus se volkome oorgawe aan die volmaakte wil van sy Vader wat vir Hom ‘n lieflike geur was (wat Hom volkome tevrede gestel het). So-ook moet Christene, net soos hulle Meester, hulle volkome oorgee aan die Vader tot ‘n lieflike geur vir Hom. Maar, soos met die Here Jesus, verg dit ook ‘n offer.
Romeine 12:1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer–dit is julle redelike godsdiens.
In die Ou Testament is die offers doodgemaak. Van ons word dit egter verwag om die vlees aan die dood (kruis) af te gee sodat ons vir God kan lewe.
Romeine 6: 11 en 13 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.
WAT IS GEBROKENHEID?
Gebrokenheid is dié toestand waarin God my bring:-
- nadat ek deur middel van omstandighede myself en die afskuwelikhede van my “ek” in Sy lig raakgesien het.
- nadat ek onder die oortuiging van die Heilige Gees tot die diepe besef gebring is dat die “self” of die “ek” alleenlik vir één ding goed is – die kruis (die dood).
- nadat ek met heelhartige oorgawe die “ek” aan die kruis (die dood) afgegee het en die dood van die Here Jesus aan die kruis deur die geloof as my eie aanvaar het . . . SODAT
- die heerlike opstandingslewe van die Here Jesus tot oorvloedige volheid in my kan kom.
Anders gestel, gebrokenheid word op elke terrein van my lewe bewerk (godsdienstige lewe, huwelikslewe, arbeidslewe, private lewe, huislike lewe of wat ook) wanneer God d.m.v. die kruis van Jesus (die krag van God) en met my heelhartige toestemming en gewilligheid klaarspeel met my ou lewe sodat die nuwe lewe (die lewe van Jesus) in my lewe ingeburger kan word.
Gebrokenheid is verder ‘n tydstip in my lewe waartydens ek ‘n keuse moet maak tussen my wil en die wil van die Here. Kom ons kyk so ‘n bietjie aan die hand van ‘n voorbeeld of ‘n situasie, wat hierdie keuse tussen my wil en God se wil behels. As u so voel kan u self korresponderende tekse in die Bybel gaan soek om ‘n beter prentjie hiervan te vorm.
Sê nou maar iemand beskuldig my valslik van allerhande dinge en dit loop naderhand uit op ‘n onhoudbare situasie waarin selfs van my Christen broers en susters die rug op my keer. Ek kan een van twee dinge doen:-
1) Ek kan my eie vrye wil uitoefen wat in hierdie spesifieke verband uiting vind in,
A) SELFREGVERDIGING
Dit is wanneer ek alles in my vermoë doen om te bewys dat ek reg en hulle verkeerd is, al moet ek dieselfde metodes gebruik wat hulle aangewend het om my te beswadder of by ander in ‘n slegte lig te stel.
B) SELFVERDEDIGING
Dit is wanneer ek alles in my vermoë doen om my beeld wat deur die onregverdigheid van die ander geskaad is, deur selfregverdigmakende metodes weer in ere te herstel, al beteken dit ook dat die beeld van die ander wat my beswadder het, ook nou daardeur in die gedrang mag kom.
C) SELFBEJAMMERING
Wanneer sulke dinge met ons gebeur, bid ons gewoonlik soos volg “Ag! Here, waarom moes hierdie ding nou juis met my gebeur? Wat het ek gedoen om so-iets te verdien?” Ons gaan sit dan op ‘n ashoop van selfingekeerdheid, met die gevolg dat ons heeltemal blind en afgestomp raak vir die eintlike wil, doel en plan van God wat heel dikwels agter hierdie omstandighede verskuil lê.
D) BITTERHEID
‘n Galbitter gesindheid of houding is heeltemal onversoenbaar met die Heilige Gees. Bitterheid besoedel nie net die gees van die Christen self nie maar ook die Christen atmosfeer waarin hy beweeg. Bitterheid is die resultaat van ‘n onvergewensgesinde hart (Hebreërs 12:15).
E) KWADE GEVOELENS
Geen Christen sal ruiterlik erken dat hy al ooit kwade gevoelens teenoor ander wat hom benadeel het, geopenbaar het nie. Hy sal hierdie gevoelens van hom nie openlik wys nie maar dit eerder in ‘n aggressiewe godsdienstige gebedskleed toewikkel en die Here vra om maar self met hierdie of daardie persoon se gal te werk.
F) TRAAK-MY-NIE-AGTIGHEID WAT MY GEBEDSLEWE KNIEHALTER
Ag! wat maak dit nou in elk geval saak. Dit is nie die eerste keer dat hulle so-iets doen nie en ek betwyfel dit baie sterk of hulle ooit sal kan verander. Dit help nie eens om vir hulle te bid nie. Redeneer ons nie ook soms so nie?.
OF
2) Ek kan my wil geheel en al aan God oorgee sodat Hy my wil deur die werking van die kruis van Jesus totaal in harmonie met Sy soewereine wil mag bring. Sodra ek dit doen, sal ek hoegenaamd geen behae meer daarin hê om myself te verdedig nie, myself te regverdig nie, myself te bejammer nie, om bitter te word nie, om kwade gevoelens in my hart te koester nie, of om traak-my-nie-agtig te word nie. Waarom sal ons nie hierdie bogenoemde gesindhede meer langer in ons harte koester nie? Omdat ons weet dat dit, soos alle ander eienskappe van die self, die Heilige Gees blus of bedroef, m.d.g. dat Hy die Here Jesus nie in my lewe kan verheerlik of tot volle vergestalting kan bring nie.
Selfbehoud blus en bedroef die Heilige Gees want dit is ‘n vyand van die wil van God. Selfbehoud verloën die krag van God (die kruis van Jesus). Selfbehoud is kenmerkend van die lewe van die natuurlike mens wat lynreg in opposisie staan teen die lewe wat God ons wil bied – daardie heerlike opstandingslewe en voortdurende oorwinningslewe in en deur onse Here Jesus Christus.
In hierdie voorbeeld wat aan u voorgehou is, moet ons daarop let dat die belastering of beswaddering as sodanig nie die wil van God is nie. Die wil van God kan en mag nooit in verband gebring word met die sonde van ‘n mens nie. Maar God gebruik soortgelyke omstandighede om Sy wil in my lewe te bereik. God is dus, met eerbied gesê, ‘n opportunis wat elke omstandigheid en geleentheid sal gebruik om Sy wil in my lewe te bereik. Die keuse lê by my – óf ek kan myself verloën, my kruis opneem en Jesus volg (God se wil) óf ek kan die kruis wat oor my pad gelê word ignoreer, daaroor loop en voortgaan om my selflewe te behou (my wil). Dit is ‘n keuse wat ek daagliks moet maak. Ek moet dus waaksaam wees om die geleenthede wat God my bied om my “selflewe” ter wille van die Here Jesus en Sy Evangelie te verloor, met albei hande aan te gryp. Dit is ‘n geval van die een of die ander – óf ek verloën myself en verloor my lewe ter wille van die Here Jesus, óf ek verloën die Here Jesus en behou my “selflewe” wat niks anders as ‘n stinkende lyk is wat aan my vaskleef nie. “Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Romeine 7:24 en 25)
Sodanige omstandighede maak ‘n mens baie seer en soms is dit uiters vernederend, maar dit is die enigste manier om Christus tot Sy reg in my lewe te laat kom. Die pad van God se plan vir my lewe is via die kruis.
Gebrokenheid word ook gesien as die pad van Heiligmaking in my lewe. Die doel daarvan is om die dood van die Here Jesus gelykvormig te word deurdat ons daartoe gelei word om die ou sondige natuur wat nog nie gekruisig is nie en nog nie aan die Heilige Gees onderwerp is nie, af te sterwe, sodat ons vir die Here bruikbaar kan wees en vir Sy koninkryk vrug kan dra. Heiligmaking is ‘n proses van verruiling of uitruiling. Daarmee word bedoel dat die weefwerk van my eie egoïstiese lewenspatroon stelselmatig deur die Heilige Gees uitgerafel moet word sodat die lewenspatroon van die Here Jesus in my lewe ingeweef kan word. So byvoorbeeld -
1) word die draad (thread) van selfliefde vervang met liefde vir God, my broers en susters in die Here en ook vir my medemens. Dit sluit ook my vyande in.
2) word die draad van trots en hoogmoed vervang met nederigheid.
3) word die draad van selfvertroue vervang met vertroue in God.
4) word die draad van onafhanklikheid vervang met afhanklikheid (Sonder Jesus kan ons niks doen nie).
5) word die draad van eiesinnigheid en eiewilligheid vervang met die soewereine wil van God vir my lewe.
6) word die draad van ongeduld vervang met geduld (lankmoedigheid).
Dit sigself beteken net één ding – my selfbehoudende lewe moet vervang word met die selfopofferende lewe van onse Here Jesus Christus.
Anders gestel, ek lê my selflewe af of handig dit oor vir kruisiging en Hy vervang dit met Sy eie lewe.
HOE WORD GEBROKENHEID BEWERK?
Die selflewe is so diep in ons ingebed dat dit soms nodig is om die fondamente daarvan te skud alvorens ons die gruwel daarvan kan raaksien. Niks is so bedrieglik soos die mens se hart nie en alleen God se intense helder lig kan die ware toestand van ons harte blootlê. Die vraag is nou net, hoe gebeur dit?
BY WYSE VAN OMSTANDIGHEDE WAT GOD OOR ONS PAD TOELAAT.
Die kinders van God moet onthou dat daar niks in hulle lewens gebeur sonder dat die Here dit toelaat nie (Romeine 8:28). Omstandighede, en veral dies waarin die skroef so ‘n bietjie stywer aangedraai word, kan altyd op ‘n heerlike seën uitloop. Dit hang totaal van myself af hoe ek daarna kyk en hoe ek daarop reageer. Die ou mens in my (die vlees) sal hom altyd blind staar teen die omstandighede self, m.d.g. dat die voor-die-handliggende situasies of omstandighede die natuurlike mens in my (die vlees) daartoe sal provokeer om altyd op die enigste manier wat dit ken, te reageer en op te tree. Die ou mens in my sal dus altyd op die algemeen aanvaarbare maniere soos dit deur die wêreld voorgeskryf word, optree. Dit kan hoegenaamd nie anders reageer nie, omdat daar hoegenaamd niks goeds in die vlees is nie. Kom ons wees eerlik met onsself en noem sommige van hierdie maniere weer eens by die naam. Daar is natuurlik baie ander eienskappe van die self wat na vore kom wanneer die omstandighede so ‘n bietjie moeiliker word, maar ons gaan hier net na enkeles van hulle kyk. Hulle volg bykans altyd in ‘n spesifieke patroon op mekaar, omdat hulle op mekaar teer. Hulle voed mekaar as’t ware. Gewoonlik word ek eers ongeduldig dan kwaad, daarna word ek humeurig (loop dikmond rond en almal moet net padgee), en wanneer ek nie my sin kry nie, dan volg die selfbejammering. Selfs die sodanige “goeie eienskappe” van die “self” soos die vermoë om hierdie genoemde eienskappe te onderdruk of in toom te hou, is net so sleg, indien nie slegter nie, want ek is dan besig om myself en ander te bedrieg.
Maar, dank die Here! Hy los ons nie aan onsself oor nie. Hy is lankmoedig en getrou. Hy sal voortdurend omstandighede oor my pad stuur totdat ek op daardie spesifieke terrein van ongebrokenheid, gebreek het. Daarna sal Hy selfs weer eens soortgelyke omstandighede oor my pad stuur om seker te maak dat ek wel op daardie spesifieke terrein gebroke is.
Onthou! die Bybel sê ons word daagliks as slagskape gereken. Het u al gewonder waarom die Bybel ons spesifiek slagskape noem? As kind het ek elke jaar met die lang Desember-skoolvakansies op my oom se plaas in die Vrystaat gaan kuier. Daar het ek so ‘n ietsie oor skape geleer. As ek reg onthou, is daar twee soorte skape – stoetskape en slagskape. Stoetooie en stoetramme word behoorlik gepamperlang. Die boer skenk spesiale aandag aan hulle, veel meer as aan al die ander skape, hoofsaaklik omdat hy hulle in top kondisie moet hou vir die jaarlikse skou. Niks word ontsien om hulle teen ongure weer en ander gevare te beskerm nie. Sodra die onweerswolke dreig, word die volk gestuur om hulle so gou as moontlik onder dak te kry omdat hulle pragwol en veral ook hulle lewens bewaar moet word. Daarteenoor word die slagskape nie op dieselfde wyse gepamperlang nie. Ja, dit is ook so dat wanneer ‘n slagskaap deur weerlig getref word, die boer groot skade ly, maar nooit in die mate wanneer hy ‘n stoetooi of stoetram verloor nie. Daarom sal die boer nie juis uit sy pad gaan om slagskape ook onder dak te kry wanneer onweerswolke dreig nie.
Die naam van die skaap sê in elk geval waarvoor hy goed is – ‘n stoetskaap is goed vir luisterryke geleenthede soos ‘n skou of ‘n boeredag (‘n “Show”), terwyl ‘n slagskaap net goed is vir een ding – die slagpale. Ons is nie stoetooie of stoetramme nie. Die Bybel sê ons is slagskape. ‘n Dooie stoetooi of stoetram beteken niks nie. Netso beteken ‘n lewende slagskaap ook niks nie. ‘n Slagskaap kry eers sy ware betekenis en funksie wanneer hy geslag is. So-ook kan ons eers werklik iets vir God en Sy koninkryk beteken en ons ware funksie in die liggaam van onse Here Jesus vervul wanneer ons onsself as slagskape oorgee om daagliks geslag te word. Die ou-mens moet daagliks afgelê word, sodat die nuwe mens die plek daarvan kan inneem en oorneem.
Maar nouja, soos die boer sy stoetooie en stoetramme haastig onder dak bring wanneer onweerswolke of gevare dreig, netso hardloop ons ook onder die “dak van selfbehoud” in wanneer die dinge na ons mening ‘n bietjie te warm word. Pleks dat ons skuiling soek in die Gekliefde Rots van alle eeue, onse Here Jesus Christus, d.w.s. in die dood van onse Here Jesus, wanneer omstandighede soos onweerswolke om ons koppe saampak, peil ons blindelings op ons selfgemaakte “skuiling van selfbehoud” af omdat ons nie seer wil kry nie, en omdat ons vasgekluister is in die koninkryk van die “self”. Groot is die ontnugtering, wanneer ons mettertyd tot die besef kom dat, terwyl ons ten alle koste ons selflewe probeer behou, ons in werklikheid besig is om ons lewens te verloor. Die lewende water waarvan die Bybel praat vloei nie uit ons nie en die vrug waarvan die Bybel praat kom nie in heerlike oorvloed in ons lewens na vore nie. Trouens, ons gaan geestelik verder en verder agteruit, hoe meer ons die selflewe wil behou. Eers wanneer ons tot die daadwerklike stap oorgegaan het om onsself daagliks as slagskape te reken, om daagliks elke tekentjie van die selflewe wat na vore kom wanneer die omstandighede dreigend om ons koppe saampak aan die kruis (die dood) af te gee, ontdek ons dat die ware lewe eintlik maar net te vinde is in die dood van onse Here Jesus. Hoe dieper ons in Sy dood skuil (verlore raak), hoe heerliker kom die ware lewe na vore – Sy eie kragtige opstandinslewe.
DIE KWALITEITE VAN ‘N GEBROKE LEWE
1) TOEGANKLIKHEID (Genaakbaarheid, approachability).
Ander kan nou die vrymoedigheid neem om my te nader. Hulle kan nou makliker kontak maak met my, veral ook wanneer dit nodig is dat ekself tereggewys moet word. Ek probeer nou nie meer soos voorheen om myself te verdedig nie, maar om alle teregwysings in ‘n gees van sagmoedigheid en nederigheid te aanvaar, al sou daardie teregwysings nie op die waarheid gegrond wees nie. Wanneer dit egter wel gegrond is, kan ek my foute manmoedig erken en hulle onvoorwaardelik regstel.
2) MEDEDOëNDHEID (Meelewendheid, deelnemendheid, medelydendheid, compassion)
Ek is nou hoogs sensitief, nie meer vir my eie behoeftes en belange nie, maar vir die nood en die behoeftes van ander. Die Heilige Gees stel my in staat om ander te kan bystaan in hulle nood sodat ek ook op hierdie wyse die evangelie van Jesus Christus aan hulle kan bring.
3) VERBONDENHEID (‘n Verenigde lewe met my broers en susters; gemeenskap, fellowship)
Onafhanklikheid is een van die duidelikste tekens van iemand wat ‘n onverbonde, afgesonderde lewe lei. Hy wat homself afsonder, soek sy eie belang. Onafhanklikheid is dus ‘n kenmerk van die selflewe en kniehalter die Christen in sy verhouding met ander Christene. My verbondenheid aan ander Christene word gemeet aan my afhanklikheid. Net soos die oog nie vir die hand kan sê, ek het jou nie nodig nie, netso kan ek nie afsydig en onafhanklik van ander Christene lewe nie. Verbondenheid groei vanuit die Christene se liefde vir mekaar. Dit bevorder eenheid, eensgesindheid en dissipelskap sodat die wêreld kan sien dat die Vader Jesus gestuur het.
4) BEVATLIKHEID (Leerbaarheid, easily edified, teachability)
Ek is nou ontvanklik en vatbaar vir die lering (vermaning, stigting, geestelike opheffing) van ander terwyl ek dit nog steeds doen in die gees van ‘n ware Bereaan.
5) SAGMOEDIGHEID/NEDERIGHEID
Sagmoedigheid moet nie met saggeaardheid verwar word nie. ‘n Geaardheid is ‘n veelsydige en hoogs-veranderlike eienskap van die “self”, m.a.w. dit is ‘n inherente of ingebore eienskap van die “self” wat na gelang van omstandighede en na eie goeddunke kan verander. Ek kan byvoorbeeld ‘n vriendelike geaardheid hê, maar sodra ongewensde of ongevraagde omstandighede opduik, kan so ‘n vriendelike geaardheid eensklaps verander in ‘n norse, onvriendelike en onaangename geaardheid. Daarteenoor is sagmoedigheid onveranderlik en net die Here Jesus kan dit vir ons gee. Dit is onveranderlik omdat die Here Jesus self onveranderlik is. Omstandighede van watter aard of omvang kan dit nie verander nie. Anders as ‘n geaardheid wat by ons natuurlike geboorte langs die weg van die biologiese gene van ons ouers in ons ingeplant word, word sagmoedigheid en nederigheid eers ons deel wanneer ons natuurlike “selflewe” gesterf het (gekruisig is).
Die volgende gedeeltes is geneem uit “When I saw Him” van Roy Hession en is vryelik vertaal deur Hannes Hattingh.
Gebrokenheid kan nie maklik gedefinieer word nie, maar kan duidelik gesien word in die reakies van Jesus, veral voor Sy kruisiging. Ek dink dit kan soos volg op ons eie lewens van toepassing gebring word.
1) Wanneer ons die wil van God doen, selfs al sou my Christen broers en susters nie verstaan nie, moet ons onthou dat ook Sy broers en susters nie in Hom geglo het nie (Johannes 7:5). Soos Hy moet ons voor die wil van God buig en Hom onvoorwaardelik gehoorsaam wees, en die waninterpretasie aanvaar. Dit is gebrokenheid.
2) Wanneer ‘n ander een bo my verkies word en ek oorgeslaan of op die agtergrond geskuif word, moet ons onthou dat die skare geskree het “Weg met Hom, en los vir ons Barabbas” (Luk. 23:18). Soos Hy moet ons voor die wil van God buig en die verwerping aanvaar. Dit is gebrokenheid.
3) Wanneer my planne opsy geskuif word en ek jare se werk, weens die ambisies van ander, tot niet sien gaan, moet ons onthou dat Jesus deur hulle weggelei is om geskruisig te word (Matt. 27:31). Soos Hy moet ons voor die wil van God buig en die onreg sonder bitterheid aanvaar. Dit is gebrokenheid.
4) Wanneer vernedering, belydenis en restitusie die weg is waarlangs ek moet wandel om in die regte verhouding met God te lewe, moet ons onthou dat “Jesus Homself verneder het tot die dood toe, ja die dood van die kruis” (Fil. 2:7,8). As Jesus wat sonder sonde was, die skande verdra het, hoeveel te meer nie ons nie. Soos Hy moet ons voor die wil van God buig en die skande aanvaar. Dit is gebrokenheid.
5) Wanneer ander my en my eiendom misbruik, moet ons onthou dat “hulle Sy kleed geneem en die lot daaroor gewerp het” (Mattheus. 27 : 28, 35). Soos Hy moet ons voor die wil van God buig en die vernieling daarvan aanvaar. Dit is gebrokenheid.
6) Wanneer iemand op ‘n onvergeeflike wyse teenoor my optree, moet ons onthou dat toe Hy gekruisig is, Hy gebid het “Here, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:30). Soos Hy moet ons voor die wil van God buig en enige verkeerde of slegte gedrag teen ons aanvaar. Dit is gebrokenheid.
7) Wanneer mense die onmoontlike van my verwag, meer as wat tyd of menslike inspanning kan verduur, moet ons onthou dat Jesus gesê het “Dit is My liggaam wat vir julle gegee is” (Luk. 22:19). Soos Hy moet ons buig voor die wil van God en onsself oorgee vir die welsyn van ander. Dit is gebrokenheid. (Einde van vertaling)
Die kern van die saak is dat, wanneer ons gewillig is om te bely dat ons verkeerd opgetree het in omstandighede waarin ons juis dood moes wees vir die dinge wat oor ons pad gekom het, God ons weer eens regstel in Sy oë, so reg soos alleen die bloed van die Here Jesus ons kan maak. Wanneer ons dus misluk in omstandighede waarin ons onsself as dood moes reken vir die sonde (my oorgeërfde Adamnatuur), bring God ons weer in die regte verhouding met Homself deur die bloed van onse Here Jesus, nie om weer in soortgelyke omstandighede te gaan staan en misluk nie, maar om te leer uit die foute wat ons begaan het. Dit sigself beteken net één ding. Ons mislukkings en die voortdurende foute wat ons begaan, word juis toegelaat sodat ons gedryf kan word tot ‘n toestand van absolute wanhoop aan onsself; sodat ons in wanhoop kan uitroep – “Here, ek is verkeerd! Daar is hoegenaamd niks goeds in myself nie! Selfs my beste werke is ‘n besoedelde, vuil kleed voor U heilige aangesig! Here, verlos my van myself! Hier is ek, kruisig my want ek wil sterf aan die vlees in my wat voortdurend stryd voer teen U Heilige Gees! Amen!
Lord, bend that proud and stiff-necked I,
Help me to bend the neck and die,
Beholding Him on Calvary,
Who bowed His head for me.