Stille Christelike Liefde
Posted by Thomas on May 25, 2008
Ek lees vandag (Sondag 25 Mei) op Prof. Hennie Stander se blog “Goeie nuus tussen al die slegte nuus,” waarin hy die huidige xenofobiese geweld in ons land bespreek, die verstommende verklaring dat “Stille, praktiese Christelike liefde het al meer mense vir die koninkryk gewen as godsdienstige ywer, welsprekendheid of teologiese geleerdheid.” Dit is waarskynlik ‘n anonieme “iemand” wat dit gesê het van wie ons nog nie die identiteit kon vasstel nie. Hoe dit ookal sy, “iemand” se slim praatjies wat nie in harmonie is met die Woord van God nie, moet eers getoets word aan die Woord van God. Ons moet toegee dat nie een van die drie dinge wat Hennie Stander noem in staat is om mense vir God se koninkryk te wen nie, maar ons moet ook uiters versigtig wees om nie ‘n onnatuurlike klem op “stille Christelike liefde” te plaas nie, veral nie ten koste van die Woord van God nie. Daarom moet ons eers kyk na wat Jesus Christus gesê het.
Jesus Christus, die vlekkelose en volmaak sondelose Seun van God wat honger skares gevoed, siekes soos blindes, dowes, stommes en melaatses genees het, dooies opgewek het en die mees praktiese Christelike liefde nog ooit uitgeleef het, het gesê: “Julle is rein deur die Woord wat ek tot julle gespreek het” (Joh 15:3). As die vlekkelose Seun van God dit nodig geag het om die Evangelie van God te verkondig sodat mense gered kan word (rein kan word van hulle sondes) dan durf ons nie dink dat dit ons “stille praktiese Christelike liefde” opsigself gaan wees wat mense vir die koninkryk sal wen nie. Wie moet ons glo en gehoorsaam wees? Die “iemand” wat Prof. Hennie Stander aanhaal of Jesus Christus?
Ware Christelike liefde is nie maar sommer net om iets aan ander mense in hulle nood te gee of iets vir hulle te doen nie. Daarvan getuig 1 Kor 13: 3:
“En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.”
Natuurlik moet ons mense in hulle nood help en bystaan, maar dis nie al nie. Hierdie liefde is ten eerste ‘n liefde vir God en sy Woord; d.i. die liefde van Christus binne-in die bloedgewaste kinders van God (nie ons eie soetsappige liefde wat ons so graag as Christelike liefde vertolk nie) wat ons dring om as sy gesante mense te vermaan om hulle met God te versoen, so asof dit God self is wat hulle deur ons vermaan (2 Kor 5: 12 en 20). Dit is die Evangelie van God en nie wat “iemand” anders in hulle slimmigheid kwytgeraak het nie.
So terloops, waar kry dié “iemand” die statistieke om te bewys dat “Stille, praktiese Christelike liefde het al meer mense vir die koninkryk gewen?” Streng gesproke is dit ‘n growwe miskenning van die duisende en selfs miljoene mense wat deur die prediking van Petrus tot Paulus, tot Spurgeon, tot Moody en vele ander predikers (veral in lande soos Sjina) tot bekering gekom het. Ek twyfel baie sterk of daar 3000 siele op een dag tot bekering sou kom as Petrus en die ander apostels “stilswyende Christelike liefde” gehandhaaf het eerder as om vir die mense die Evangelie helder en duidelik te verkondig.
Hennie Stander sluit sy skrywe af met dié woorde:
Kom ons maak ons harte oop vir die nood van mense rondom ons, veral met die winter wat naderkom. Ons is God se hande en voete op hierdie aarde.
Ek wil graag sy belangrike woorde so ‘n bietjie anders wil stel en sê:
Kom ons maak ons harte oop vir die sielenood van die mense rondom ons en verkondig die onvervalste Evangelie van God aan hulle sodat hulle waaragtig gered kan word en gee dan sommer vir hulle as pasella ‘n kombers, ‘n warm trui en so ‘n geldjie sodat hulle nie nodig sal hê om God hierdie winter al bibberend te bedank vir sy groot reddende genade nie.