Waak en Bid / Watch and Pray

omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie / for ye know not when the time is (Mark 13:33)

Archive for June 5th, 2008

LAAT GOD HOMSELF BESKERM

Posted by Thomas on June 5, 2008

DEEL 6 – HET JY MY LIEF, MEER AS HULLE HIER? LAAT MY LAMMERS EN SKAPE WEI EN PAS HULLE OP!

Jesus Christus, die Ewige Onveranderlike God wat hemel en aarde geskape het en alles wat daarin is, en ons gedagtes en woorde ken nog voordat onsself enigsins dink of weet wat ons wil sê, wil van elkeen van ons weet of ons Hom waarlik liefhet. Meer nog, Hy wil nie net weet of ons Hom waarlik liefhet nie, maar of ons Hom liefhet meer as al die ander hier (ons eie bloedfamilie en broers en susters in die Here). God se liefde is nie maar net ‘n “sê-liefde” nie. Dit is ook nie sommer maar net ‘n “doen-liefde” nie. Dit is ‘n algehele “oorgawe-liefde” en dit vind weerklank in die wyse waarop ons God se lammers en skape voed en oppas. Jesus het eenmaal gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” en dank God, Hy het dit gedoen tot die dood toe, die dood van die kruis. Ons kan sekerlik ook nes Petrus vir die Here sê “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet” en dit ook met ons hele hart bedoel, maar dan sê Hy nog steeds vir ons “pas My skape op.” Christus Jesus is onnaspeurlik begaan oor sy lammers en skape, en waarom dan nie?; Hy het sy lewe vir hulle afgelê en verwag van ons om dieselfde te doen as dit nodig is (Matt. 25:45).

In die slotparagraaf van sy artikel “Laat God Homself beskerm” sê Dr. Brink die volgende:

Die uiteindelike vraag is: Wat is ons besig om te beskerm met ons stryery? Die kerk? Die Christelike godsdiens? Dalk is dit bevredigend om aan die einde van jou lewe te sê jy was die beskermheer van die kerk of van die Christelike godsdiens. Wees net versigtig dat jy nie in die proses vir God probeer beskerm nie. Hy is groter as ons almal saam. Hy beskerm ons, nie ons vir Hom nie. Laat God Homself beskerm en laat ons rustig verder oor Hom wonder, want dit is al wat ons eintlik maar kan doen – wonder. (1)

Johannes, die apostel van liefde, maan ons om alles te toets met die doel om vas te stel of dit uit God is, al dan nie (1 Joh 4:1). Hoe rym Dr. Brink se raad hierbo met Christus se woorde in Johannes 21:15-17? Het die Here Jesus daarop gesinspeel dat ons God sou beskerm as ons Sy lammers en skape laat wei en oppas? Die Almagtige God het gewis nie ons beskerming nodig nie maar sy lammers en skape moet gewis daagliks teen wolwe in skaapsklere beskerm word. Indien dit onnodig was, sou die Here nooit so’n opdrag aan ons gegee het nie. Die enigste gevolgtrekking wat ons dus kan maak is dat Dr. Brink se stelling seker een van die mees onskriftuurlike stukkies raad is wat iemand nog ooit gegee het. Dit skree nie net teen die waarskuwing wat die Here Jesus in Mattheus 24:4 aan ons gee nie, “Pasop dat niemand julle mislei nie,” maar paai God se skape en lammers om doodluiters en passief agteroor te sit terwyl die kerk met die leerdwalinge van ketters oorspoel word. Dit is ‘n flagrante ontkenning van een van die opdragte wat God aan die herders van die kerk gee om soos wagters op die muur te waak teen enige dreigende gevare wat die geloof van God’s kinders mag bedreig en ondermyn. Lees maar gerus weer Esegiël 33. Daarin waarsku die Here die herders en ook die skape om soos wagters te waak en om die basuin te blaas wanneer gevare dreig want as hulle dit nie doen nie sal God die bloed van elkeen wat deur ‘n tydsame waarskuwing gered kon gewees het maar reeds omgekom het, van ons hande eis. Paulus skryf daarvan in Handelinge 20 van vers 26:

Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.

Die verkondiging van die hele raad van God is beslis nie om vir die kudde te leer dat ons maar net oor God moet wonder nie. Dit omsluit alles wat God in Sy Woord oor Homself en Sy Seun, asook alles oor onsself aan ons openbaar. Die hele raad van God beteken tereg om die kudde sodanig in die Skrif te onderrig dat elke skaap en lammer so goed in die waarheid van God’s Woord onderlê mag wees dat hulle met gemak die leuen kan onderskei wanneer dit na hulle kant toe kom. As Paulus die hele raad van God aan sy broeders en susters kon verkondig, dan kan die hedendaagse herders dit ook doen. Om die waarheid te sê hulle staan onder ‘n heilige verpligting om dit te doen en as hulle dit nie doen nie moet hulle ‘n slag na hulle eie hande kyk om soos Paulus seker te maak dat dit rein is van die bloed van almal in hulle gemeentes.

Om die kudde te leer dat hulle maar net oor God moet wonder, is om Christus se woorde in Johannes 17 te ontken.

Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

My vraag aan dr. Brink is: Het Paulus ‘n stryery aan die gang gesit toe hy sy broers en susters teen mense soos Himenéüs en Alexander gewaarku het en hulle ook aan die duiwel oorgegee het? (1 Tim 1:20). Was sy waarskuwing daarop gemik om sy broers en susters (die kerk, ekklesia, of uitgeroeptes) teen hulle te beskerm? Paulus was darem nie so dom om te dink dat hy God kan beskerm nie, maar hy het nie versuim om sy broers en susters teen die wolwe in skaapsklere van sy tyd te beskerm nie. U is ‘n leraar van die kerk en u weet hierdie dinge nie? Was Paulus stry-lustig toe hy sy broers en susters en ook die valse profete en apostels van sy tyd gewaarsku het met die woorde, “As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ‘n vervloeking wees! Maranáta!” (1 Kor 16: 22) en “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Gal 1:8)? Nee! Paulus, was gewis nie stry-lustig nie, maar hy het sy broers en susters teen die valse apostels en profete van sy tyd gewaarsku en beskerm omdat hy hulle innig liefgehad het, en omdat hy hulle as ‘n rein maagd aan die Bruidegom wou voorstel.

2 Kor 11:2-4 Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.

U, Dr. Brink, soos enige ander herder van ‘n gemeente, is veronderstel om die kudde waaroor u aangestel is ook soos ‘n rein maagd aan Christus voor te stel. Kom ons hou op om te wonder oor God en begin om mense te vertel van die wonders van God in Christus Jesus.

Voetnotas:

1. Dr. Aldert Brink, Laat God Homself Beskerm, Kerkbode, 14 Sept. 2007

Posted in Uncategorized | 1 Comment »