Waak en Bid / Watch and Pray

omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie / for ye know not when the time is (Mark 13:33)

Archive for June 10th, 2008

LAAT GOD HOMSELF BESKRYF

Posted by Thomas on June 10, 2008

Soos in een van Dr. Aldert Brink se vorige artikels (Kerkbode, 14 September 2007) waarin hy pleit dat ons God moet toelaat om Homself te beskerm, skryf hy in die NG Kerkkoerant “Kerkbode” van 2 Mei 2008 dat ons God moet toelaat om Homself te beskryf. Op die oog af klink dit heel skaflik en eg Christelik maar by nadere ondersoek, veral in die lig van die Skrif, wonder ‘n mens wat nou eintlik agter die kap van die byl lê.

Miskien moet ons begin deur te sê dat God nie nodig het om Homself te beskryf nie en nog minder dat ons Hom moet toelaat om Homself te beskryf. Hy het Homself reeds beskrywe. Sy ewige en onveranderlike Woord (1 Pet 1:24, 25) wat gewis nie maar net woorde van mense oor God is nie, beskryf Hom op so ‘n wyse dat selfs die eenvoudigstes Hom kan leer ken, en so terloops, om God en sy Seun te ken is die essensie, die kern, die hart van God se verlossingsleer (Johannes 17:3). Ek wil in die gees en die letter van Dr. Brink se pleidooi om eerder luistertogte as kruistogte te onderneem, vir hom vra om te luister na wat Christus op sy “kruistog” na die plek van Hoofskedel eenmaal gesê het:

Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

God beskryf Homself nie net haarfyn in sy Woord nie maar elkeen kan Hom waarlik leer ken — kan in ‘n intieme en ewige verhouding met Hom tree deur slegs in ‘n gees van kinderlike geloof alles te aanvaar wat Hyself oor Hom in sy Woord openbaar. En tog sê Dr. Brink dat Skrifbeskouing en Skrifgesag nie meer die eenvoudige sake is wat dit eens was nie. Hy sê voorts:

Baie sienings het drasties verander. Mense verskil wyd uiteenlopend hieroor en dit gee aanleiding tot debat. Die styl waarin die debat gevoer word, is egter soms kommerwekkend. Die debat lyk vir my soms na ‘n oorlog.

Glo dit as u wil, ons is juis in ‘n hewige oorlog gewikkel, ‘n oorlog waarin die Kaptein reeds sy lewe vir die soldate afgelê het en ook weer triomfantelik uit die dood opgestaan het, maar hierdie oorlog is nog lank nie klaar nie want die vyand loop nog steeds rond soos ‘n brullende leeu (en dis beslis nie die Evangeliese Inistiatief nie) om te kyk wie hy kan verslind. Die goeie nuus is egter dat die Kaptein sy soldate meer as oorwinnaars gemaak het en hulle toegrus het met ‘n wapenrusting wat skrik vir niks. Twee van die belangrikste dele van hierdie wapenrusting is die gordel van waarheid om die lendene te omgord en skoene (stewels) om die voete van die soldate te beskerm terwyl hulle die Evangelie onbevrees verkondig. Die res van hierdie wapenrusting wat ewe belangrik is, is die borswapen van geregtigheid, die skild van die geloof om die vurige pyle van die bose af te weer, die helm van verlossing en die swaard van die Gees. Daarbenewens maan die apostel Judas die Christene om kragtig te stry vir die Evangelie wat eenmaal aan hulle oorgelewer is. Nogtans is dit van kardinale belang om te onthou dat hierdie stryd nie teen mense is nie; hierdie “kruistog” waarin God sy kinders beveel om hulleself te verloën, hulle kruis op te neem en Hom te volg, is gerig op God se vyand, die satan (wat volgens baie NG Kerk predikante nie bestaan nie). Miskien het hulle die wapenrusting van God nie nodig nie. Hoe dan, as die satan die fiktiewe persoon van ‘n primitiewe wêreldbeeld is?

As God Homself reeds in sy Woord beskryf het en selfs so ver gegaan het om sy Enigste Seun na ons te stuur sodat ons kan weet en verstaan wie en wat Hy werklik is (Joh 10:30; 14:9), waarom is dit nodig om in debatte betrokke te raak waarin mense “God anders beskryf as ons,” en “Jesus dalk op ‘n ander manier ken?” Is stof en as se ander manier om God te ken so belangrik terwyl Jesus reeds gesê het daar is net één manier om sy Vader te ken en dit is deur Hom? (Joh 14: 6). Toe Hy sy dissipels uitgestuur het, het Hy hulle nie toestemming verleen om aan debatte deel te neem met mense wat Hom anders beskryf of op ‘n ander manier ken nie. Hy het hulle opdrag gegee om dissipels te maak van alle mense en hulle alles te leer wat Hy hulle beveel het, en diegene wat dit verwerp, het hulle keuse gemaak. God dwing niemand nie. Anders as die Calviniste wat glo dat die mens nie ‘n wil van sy eie het nie en dus arbitrêr en soewerein deur God uitverkies moet word tot saligheid, gee God in sy wonderlike genade die mens ‘n keuse om te besluit watter pad hy graag wil loop – die breë of die nou pad (Deut 30:19).

Dit is voorwaar uiters belangrik om te luister, maar na wie moet ons luister? Mense . . .? Natuurlik moet ons luister na ander mense maar sodra ander mense se godsbegrip enigsins verskil van dié een soos God Homself in sy Woord beskryf, dan loop dit nie uit op ‘n kruistog nie maar ‘n kruispad waarop mense die keuse gestel word om of die een of die ander pad te neem (Spr 14:2). As ons uit loutere liefde en kommer mense waarsku om nie die verkeerde pad te neem nie, is ons nie besig om onleerbaar te wees nie, maar juis besig om in gehoorsaamheid aan ons Kaptein ander mense te wys wat die korrekte pad is (2 Kor 5:20). Dit is juis ‘n kruistog, nie in die sin om mense soos ‘n kruisvaarder met die dood te dreig as hulle sou weier om hulle tot God te bekeer nie, maar om vir hulle te leer (diegene wat leerbaar is) wat dit beteken om Jesus Christus op sy “kruistog” van selfverloëning en daaglikse doding van die ou Adam natuur te volg (Mark 8:34).

Dit is voorwaar uiters belangrik om te luister, maar na wie moet ons luister? In Openbaring sê die Here sewe keer “Wie ‘n oor het om te luister, laat hom hoor wat die Gees . . . sê.” Hier vind ons twee saambindende elemente van luister wat in alle gesprekke en debatte oor God nooit buite rekening gelaat mag word nie. In die eerste plek is dit die noodsaaklikheid om te kan hoor. Baie mense luister maar hoor nie altyd nie. Ons kan met die verstand luister sonder om met die hart te hoor. In die tweede plek moet ons “hoor” gerig wees op wat die Gees van God sê. Dit is goed en reg om na mekkaar te luister maar dan moet ons dit doen met ‘n oor wat sensitief ingestel is op dit wat die Gees vir ons sê sodat ons alles wat die mense sê kan toets en evalueer. As Christus self daarop aandring dat ons moet hoor wat die Gees sê dan durf ons nie glo dat sy Woord slegs woorde van mense oor God is nie of dat die “Die Bybel is die produk van die gekonkel van mense.” (1) As ons dit sou doen, sal ons nooit in der ewigheid kan hoor wat die Gees sê nie.

Dit verstom my hoedat predikers wat die Skrif as woorde van mense oor God beskou dit vrypostig gebruik maar op so ‘n wyse dat dit iets anders moet sê as wat dit werklik sê. Dr. Aldert Brink verwys na die hele Galasiërs 5 om sy vooropgestelde standpunt oor die obessesiewe kompulsiwiteit wat sommige kerkmense deesdae met reg en verkeerd het, te bewys. Hy sê:

Paulus waarsku ons om versigtig te wees om nie godsdienstig te onderskei tussen reg en verkeerd dat ons nie meer die vrug van die Gees dra nie.

Paulus trek juis ‘n sterk gemarkeerde skeidslyn tussen regte en verkeerde godsdiens in Galasiërs 5 — tussen die verkeerdheid om die wet en wettiese gebruike (werke) te beskou as God se manier om regverdigmaking deelagtig te word en God se genade wat bekeerde sondaars onverdiend regverdig maak. Paulus is dus juis besig om ons te leer dat dit uiters, uiters noodsaaklik is om te onderskei tussen reg en verkeerd in die godsdiens. As ons dit nie doen nie en volstrek weier om te hoor wat die Gees vir ons sê m.b.t. Christus se krusiging, sy opstanding en sy wederkoms en eerder luister na wat andersdenkende post-moderniste daaroor sê, dan beweeg ons doelbewus onder die sfeer van God se genade uit en onder ‘n donker wolk in van ons eie en andere se patetiese beskouinge oor God — en dit is niks anders as afgodery nie. Enige godsbegrip wat nie klop met alles wat die Gees vir ons oor God beskrywe nie, is loutere afgodery. Die onvermydelike gevolge van ‘n versuim om te luister na wat die Gees vir ons sê oor God en sy Seun is dus juis ‘n vrug-lose lewe. Die Gees van God kan onder geen omstandighede sy vrug aan ‘n boom hang waarvan die wortels nie in die vrug-bare grond van die waarheid van die Gees ingebed is nie – en dit sluit almal in wat die Bybel slegs as woorde van mense oor God beskou.

Ek het heel aan die begin gesê “Op die oog af klink dit heel skaflik en eg Christelik maar by nadere ondersoek, veral in die lig van die Skrif, wonder ‘n mens wat nou eintlik agter die kap van die byl lê.” Dit kan met een woord opgesom word — “kompromie.” Die hele doel met debatte, gesprekke en die onderlinge aanvaarding van mekaar se eiesinnige godsbegrippe is om met behulp van die Hegeleense dialektiek ‘n “gelukkige” kompromis te bereik waar elkeen kan sê, “My godsbegrip is die waarheid en so ook is joune.” Dit klink vir my alte veel na iets wat die ou Afrikaanse spreekwoord so treffend beskryf as “‘n tweegat jakkals.”

Voetnotas

1. Prof. Jurie le Roux, Departement Ou Testament van die Fakulteit Teologie aan UP en Algemene Redakteur van TEO se webblad. Op 5/06/2004 in ‘n klas aan die Teologiese Fakulteit van UP voor almal gesê.

Posted in Uncategorized | 1 Comment »