Waak en Bid / Watch and Pray

omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie / for ye know not when the time is (Mark 13:33)

Archive for June 16th, 2008

DIE EVANGELIESE INISIATIEF – ‘N KLOMP “STOM HONDE?”

Posted by Thomas on June 16, 2008

Die stigting van die “Evangeliese Inisiatief” wat in Pretoria-Oos die eerste lig gesien het, was eintlik maar te wagte. Die kerkgeskiedenis getuig deurgaans van persone wat ter wille van Skrifsuiwerheid dikwels die hiërargie oor dwaalleer aangevat het, en dit is ook goed so. Dit toon dat daar sommiges is wat nie soos ‘n klomp stom honde geword het wat nie kan blaf nie (Jesaja 56: 10).

Die vraag is: Gaan die stigters van die “Evangeliese Inisiatief” in eie geledere ‘n klomp stom honde duld? Ek sê dit na aanleiding van die alombekende feit dat Dirkie van der Spuy en Adrio König nie dieselfde Skrifuitleg oor homoseks handhaaf nie. Daarvan getuig die berig wat op 22 September 2005 in Beeld verskyn het (“Moreleta stel saak aan hof; Orrelis se stilte bring kerk onder wanindruk”) en wat Adrio König op 28 Oktober 2002 in Beeld se Godsdiens Aktueel oor homoseks geskryf het (“Hoekom net dít as sonde uitsonder? Dalk moet elke gemeente self besluit oor gays”). Dit is presies wat gebeur wanneer die gesag van die Skrif gerysmier word — elkeen moet maar self besluit wat reg of verkeerd is. Gaan die lede van die “Evangeliese Inisiatief” hierdie onbybelse benadering tot God’s Woord toelaat?

Indien hulle dit wel sou toelaat, sal die “Christus Opstandingfees” wat Moreletapark se megakerk verlede jaar op 13 Oktober aangebied het sekerlik netsoos die Nuwe Hervormers se onbybelse standpunte oor die Opstanding nie tot eer van die Here kan wees nie. Laat my toe om te verduidelik.

Daar lê ‘n groot gevaar daarin om die histories-fisieke opstanding van Christus voor te hou as iets wat in die verre verskiet plaasgevind het sonder om die krag daarvan vir die mens met sy hedendaagse probleme duidelik te maak. Neem ‘n mens in ag wat König in sy skrywe in Godsdiens Aktueel gevra het, nl. “Is homoseksualiteit nie ‘n saak waaroor ons kán verskil nie?” blyk dit dat hy die lewensveranderende dinamiek wat die opstandingskrag van Christus in enige persoon se lewe kan meebring, misken. Christus se opstanding gaan nie net oor sy opstanding nie; dit gaan nie maar net oor ‘n geloof hier in my kop in sy histories-fisieke oorwinning oor die dood nie. In sy wese gaan dit oor die skepping van nuwe skepsels (2 Kor. 5: 17) — ook dié skepsels wat vasgevang is in homoseks. Natuurlik is die een sonde nie kleiner of groter as ‘n ander sonde nie. Dit gaan nie om of ek gesondig het nie (“want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”) maar wat ek met my sondes doen — soos Jesus gesê het “Gee jou juk vir my dan gee ek my juk vir jou” (Matt 11:28).

Die grootste fees wat die “Evangeliese Inisiatief” kan vier, is om vir verlore sondaars te sê: “Julle kan uit die julle sondes opstaan omdat Christus namens julle die sondes wat julle in die greep van die dood vashou, deur sy opstanding oorwin het.”

Posted in Uncategorized | Leave a Comment »