‘N KRITIESE BESKOUING VAN DANIE VELDSMAN SE “JOHAN-HEYNS GEDENKLESING” “OOR VERWONDERING EN VERVREEMDING VAN TEOLOGIESE NADENKE: ‘N ERVARINGSPERSPEKTIEF” WAT HY OP 27 MEI 2008 AAN UP GELEWER HET – DEEL 2
Spiritualiteit sal teologie in die Nuwe Wêreldorde vervang; lewende ervaring sal die plek inneem van teologiese aannames. (1) (Klem bygevoeg)
Streng gesproke is daar nie ‘n veelvoud van godsdienste nie maar slegs twee alternatiewe maniere waarop die mens sedert die sondeval God se welbehae nastreef — die een is God se Weg wat deur Abel nagevolg is en die ander die weg van Kain. Eersgenoemde is ‘n bloedbevlekte kruisweg en die laasgenoemde ‘n bloedlose werkesaligheidsweg van selfverheffing, selfvoldaanheid en selftevredenheid. Alle godsdienste wat die kruisweg verwerp, en dit sluit ook alle Christelike groeperinge in wat albei hierdie weë gelyktydig omhels, is besig om die weg van Kain na te volg. Soos Kain wat van meet af deur sy ouers geleer is wat God se Weg is en wel deeglik in hierdie leer onderlê is, kan die godsdienste wat Kain se weg navolg nie daarop aanspraak maak dat hulle nie weet of geweet het nie. Daarvan getuig die welbekende gedeelte in Romeine:
Rom 1:18-22 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword (Klem bygevoeg).
Die Amplified Bible stel in vers 22 dit baie sterker as die Afrikaanse Bybel.
Claiming to be wise, they became fools — professing to be smart, they made simpletons of themselves.
WAT WIL DIE POSTMODERNE MENS MET SY ERVARINGSTEOLOGIE BEREIK?
Die ervaringsteologie kan om verskeie redes ook ‘n “vredesteologie” genoem word omdat die modus operandi daarvan ‘n univormige en eenvormige aanbiddingswyse en terselfdertyd ‘n eenvormige euforiese vredesdoel wil bereik. Die maklikste manier om mense uit verskillende kulture en agtergronde so ver te kry om eenders te dink oor menslike behoeftes soos vrede, geluk, samesyn en welsyn is om hulle ervaringsveld te neutraliseer. Om dit te kan doen moet die mens se belangrikste kernaktiwiteit, nl sy godsdiens, en by uitstek sy gebeds- en aanbidingsgewoontes ingespan en waar nodig drasties verander word. Maar hierdie revolusionêre omwenteling moet op so ‘n wyse geskied dat veral die Christen dit nie agterkom nie. Daarom sien ons hoedat die Oosterse aanbiddingswyses soos meditasie as ‘n vorm van gebed alhoemeer in die kerk verchristelik en vryelik toegepas word. Dit is veral die nuutgevonde broederlike verhouding tussen baie gereformeerd evangeliese kerke en die Rooms Katolieke Kerk wat hierdie heimlike infiltrasie soveel makkliker gemaak het. Let maar gerus op hoedat baie NG Kerke kerse en selfs ikone inspan om die regte kontemplatiewe atmosfeer vir aanbidding en gebed te skep. Thomas Keating en Basil Pennington, twee Rooms Katolieke priesters wat ‘n groot invloed uitoefen op die “Emerging Church” (Ontluikende Kerk) sê in hulle boek “Finding Grace at the Center:”
We should not hesitate to take the fruit of the age old wisdom of the East and “capture” it for Christ. Indeed, those of us who are in ministry should make the necessary effort to acquaint ourselves with as many of these Eastern techniques as possible . . .
Many Christians who take their prayer life seriously have been greatly helped by Yoga, Zen (2), TM and similar practices, especially where they have been initiated by reliable teachers and have a solidly developed Christian faith to find inner form and meaning to the resulting experiences. (pp. 5-6)
Hoewel daar verskeie sg. mistieke en antieke aanbiddingswyses is wat die Ontluikende Kerk aanwend, streef hulle almal na ‘n enkele doel en dit is om “God” binne die sfeer van jou eie persoonlike ervaringsveld af te bring. Ek gebruik die uitdrukking “af te bring” doelbewus” omdat dit lynreg in stryd is met die Bybelse beginsel van “in te bring” of “in te gaan” in die allerheiligste in die hemel (Hebr 10:19-22). Dit is dus ook te verstane waarom die panenteïstiese godsbegrip of wêreldbeeld soveel makliker aanklank vind by die post-moderne mens omdat dit die begrippe van “die hemel daar ver bo” en “die aarde hier ver benede” heeltemal uitskakel. God is nou vir almal toeganklik omdat Hy reeds in alles en in almal is en en dit slegs nou nodig is om een van die talryke “wonderlike” kontemplatiewe aanbiddingswyses aan te leer en toe te pas om God se teenwoordigheid daadwerklik te ervaar. Daarmee word die lewensnoodsaaklike bloed van Christus en die lewensnoodsaaklikheid om daarin te glo as die enigste manier om tot God te nader, effektief geïllimineer. Kerke wat hulle besig hou met hierdie paganistiese, kontemplatiewe aanbiddingswyses, is besig om die bloed van Christus te minag, en dit sluit hulle vereenselwiging in met Rick Warren se boek “Die Doelgerigte Lewe” waarin hy die kontemplatiewe “asemgebed” promulveer. God se regverdige toorn oor die sonde word nie afgeweer deur kontemplatiewe rituele en tegnieke nie, maar alleenlik wanneer Hy die bloed van sy Seun sien (Eks. 12:13). Bloglesers wat meer te wete wil kom oor die wye verskeidenheid van kontemplatiewe aanbiddingswyses in die ervaringsteologie kan gerus inskakel op www.lighthousetrails.com
————————————————————————————————————————————————————–
Voetnotas
1 Alice Bailey & Djwhal Khul, The Externalization of the Hierarchy, Section II – The General World Picture,
2 Op Dries Lombaard, gemeentekonsultant, betrokke by die e-kerk en “African Mosaic” se blog verskyn onbeksaamd ‘n skakel na “Zen Habits,” ‘n blad wat hulle doelwitte as volg beskryf “I love Zen. I named one of my dogs Zen. I’ve read it, tried it, love its simple philosophy, love the meditation and love the aesthetics.” Lombaard en kie verklaar “We at the The Bread and Wine spend a significant time online (our apologies, loved ones!), and we bring you this list of resources that has been a great source of inspiration and help in the past.” http://thebreadandwine.org/home/upload