Woord van God of woorde van mense oor God?
Posted by Thomas on June 23, 2008
IS DIE BYBEL DIE HEILIGE GEES GEÏNSPIREERDE WOORDE VAN GOD OF IS DIT DIE ON-GEÏNSPIREERDE WOORDE VAN MENSE OOR GOD (M.A.W. FEILBARE MENSGEMAAKTE WOORDE WAT GOD EN SY DADE OP ‘N MOG-HET-TROFFE WYSE BESKRYWE)? – DEEL 2
HOE WEET ONS DAT DIE BYBEL INDERDAAD DIE WOORD VAN GOD IS EN NIE MAAR NET MENSE SE WOORDE OOR GOD NIE?
Die beste en vinnigste manier waarop ons kan vasstel of die Bybel die Woord van God is, is om God se eie woorde oor sy Woord in oënskou te neem. Om dit te kan doen moet ons die Bybel self as ons verwysingsraamwerk inspan wat dit natuurlik vir diegene wat glo dat die Bybel niks anders as mense se woorde oor God is, problematies maak. En waarom sou hulle in elk geval glo dat die Bybel die Woord van God is as hulle nie eens glo in die letterlike vervulling van die profesieë nie — een van die sekerste bewyse dat God se Woord inderdaad Sy Woord is en nie mense se woorde oor Hom nie.
Ps 119: 89 Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele. U trou is van geslag tot geslag;
Nog voordat die mens geskape is, was die Here se Woord vas in die hemele. Dit is dus nie sommer iets wat ontstaan het toe die eerste skrywer (Moses) op eie ingewing en sommer maar net lukraak besluit het om die pen op te neem en te begin skryf nie. So-ook het al die ander profete en apostels wat ‘n bydrae gelewer het tot die skrywe van die Bybel nie ‘n enkele ding uit hulle duime gesuig nie. Sy Woord staan reeds van ewigheid tot ewigheid (nog voor die grondlegging van die wêreld) vas (onfeilbaar en onveranderlik) in die hemel. Dit beteken gewoon dat omdat God in sy alwetendheid reeds voor die grondlegging van die heelal, die aarde, en die mens geweet het wat die mens alles op aarde sou doen, het Hy ook reeds vooraf geweet hoedat hy alles in sy Woord sou laat opteken. Daarom staan daar geskrywe dat die betaling vir ons sondes ook nie maar net iets was wat op die ingewing van die oomblik besluit is nie maar dat dit reeds voor die grondlegging van die wêreld in die hemel beplan is (1 Pet 1:17-21). Ons moet nooit vergeet nie dat die hele Bybel sentreer om Jesus Christus se soendood aan die kruis. Iemand het eenmaal gesê:
Die Bybel is met ‘n enkele doel voor oë geskrywe — om aan die mens bekend te maak die reddende genade en liefde van God en om die weg van saligheid langers ‘n gekose Messiaanse geslaglyn te ontvou.
Die apostel Petrus sou nimmer as’t nooit kon weet dat die kruisiging van Christus reeds voor die grondlegging van die wêreld in die hemel beplan is as die Heilige Gees dit nie aan Hom geopenbaar het nie. Daarom sê hy in 2 Pet 1: 19-21:
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”
Ps 12: 6 Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.
In teenstelling met die woorde van mense wat nie vertrou kan word nie (Jer 17: 9) is God se woorde rein (gelouter) en die onteenseglike waarheid. M.a.w. daar is nie ‘n greintjie onwaarheid in God se woorde nie. Die getal sewe spreek van voltooidheid en volmaaktheid. Sy woorde is foutloos en betroubaar (Ps 18: 30). Sy woorde (soos opgeteken in die Bybel) is nie besmet met misleiding en vleitaal nie, maar is ten volle betroubaar. Wanneer hulle sê “die Bybel is woorde van mense oor God” sê hulle eintlik dat die Bybel onbetroubaar is omdat die woorde van mense nie vertrou kan word nie (Rom 3: 3, 4). Hulle erken darem ten minste dat die Bybel korrek en betroubaar is is in sy evaluering van die mens se woorde. Daarvan getuig Prof. Jurie le Roux maar te goed toe hy voor een van sy klasse die Bybel in sy hand opgehou het en gesê het: “Die Bybel is die gekonkel van mense.” (1) M.a..w. mense se woorde kan nie vertrou word nie want dis gewoonlik ‘n gekonkel. Maar hulle vergeet gerieflikheidshalwe dat Dawid nie gepraat het van mense se woorde nie, maar die woorde van God.
Dit is opvallend dat toe Johannes die Doper in die tronk gesmyt is, hy self begin twyfel het of Jesus Christus waarlik die Messias was. Hy self het begin wonder of die Woord (dit wat hy in sy tyd beskikbaar gehad het) nie maar net ‘n klomp “onbetroubare woorde van mense oor God” was nie. Die Ou Testament het dan so duidelik belowe dat die Messias die Koninkryk van God sou oprig maar sy omstandighede in die tronk en opdoemende onthoofding het nie juis enige vertroosting gebied nie en hy het sterk begin twyfel. Hy wou die feite op die tafel hê; hy wou sien voordat hy sou glo. Hy het toe twee van sy dissipels gestuur om seker te maak of Jesus werklik die Messias was. Hier’s wat Christus gesê het.
Joh 7: 22 Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.
Christus het Hom nie na die tronk gehaas om Johannes met ‘n klomp wonderwerke te oortuig dat Hy die Messias was nie. Hy het ook nie vir hulle gesê om die sg. en kwansuise “altered state of conciousness” of denkbeeldige ervarings wat hulle van sy wonderwerke gehad het aan hom oor te vertel nie. Hy het Johannes se dissipels teruggestuur om te vertel wat hulle gesien en gehoor het. Feite berus nie altyd op wat ons persoonlik sien nie, maar op wat ander betroubare getuienisse gesien het. As dit nie so was nie sou ons howe nie kon vasstel wat die waarheid in ‘n saak is nie.
Joh 17: 20 Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo— dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
Christus het sy dissipels soveel vertrou en geweet dat hulle sy Woord getrou sou oordra dat HY die vrymoedigheid gehad het om te praat van hulle woord. Hulle woorde was egter nie net woorde wat hulle uit hulle duime gesuig het nie. Dit is woorde wat gegrond is op feite wat hulle self met hulle eie oë gesien het en met hulle eie ore gehoor het. Moet ons nie dieselfde hoë premie op hulle getuienis plaas as Hy nie? As Hy so seker was dat hulle sy woorde en dade 100% aan die mense deur die eeue sou oordra, behoort ons hulle dan nie ook te glo nie? Christus het dieselfde hoë premie geplaas op die getuienis van sy Ou Testamentiese profete.
Luk 24:44 En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die Psalms, vervul moet word.
‘n Mosie van wantroue in die Bybel, is eintlik maar ‘n mosie van wantroue in God se karakter. Die huidige post-moderne siening dat die profete en die dissipels se getuienisse alles deel vorm van ‘n ou wêreldse denkpatroon of wêreldbeeld en dat ons die Bybel nuut moet verwoord volgens ons nuwerwetse wêreldbeeld (so asof sonde in ‘n ou-wêreldse en ‘n nuwerwetse wêreldbeeld ingedeel kan word), is niks anders as ‘n ontkenning van Christus (wat gesê het HY is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde) se waarmerkstempel op sy dissipels en profete se getuienis nie. As Hy, die Ewige Onveranderlike wat gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde is, dan is sy waarmerkstempel voldoende bewys dat hulle getuienis eweneens ewig en onveranderlik is (Luk 21: 33). Sy disssipels en profete se woorde was inderdaad sy eie woorde en daarom kon Hy ook met absolute oortuiging sê:
Luk 10:16 Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het (sien ook Mat 10: 40).
As God (Jesus Christus, die Seun van God) hulle getuienis met soveel vertroue aan ‘n verlore wêreld met sy eie bloed kon onderskryf, dan behoort predikante dieselfde hoë premie daarop te plaas. In sy essensie spruit ongeloof nie uit ‘n wantroue in alles wat ons in sy Woord lees nie, maar uit ‘n wantroue in sy karakter (heiligheid, liefde, goedheid, geregtigheid). Hy sê tog baie duidelik van Homself:
Num 23:19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?
In sy wese is ongeloof dus maar net die flagrante skending van God se karakter. Dit lei tot onverantwoordelike uitlatings soos, “God is nie almatig nie; Hy is nie alwetend nie, Hy is nie alomteenwoordig nie”; “Hy maak dus foute en ons kan Hom nie vertrou nie”; “die Bybel is die gekonkel van mense (Prof. Jurie le Roux: Teologiese Fakulteit van UP, 2004); “Vir die eerste eeuse Christene het Jesus opgestaan omdat dit deel van hul wêreldbeeld was, vandag kan ons dit nie meer so verstaan nie” (Jurie le Roux 2004; GW 1:12; 11h30. Universiteit van Pretoria.) ens. ens. ens.
Psalm 119: 160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Niemand kan ooit sê dat net sekere dele van die Bybel moontlik die waarheid kan wees en dat die res ‘n klomp verdigsels is nie. Die Jesus Seminaar van die Weststar Inistituut het bevoorbeeld met behulp van navorsing en gesamentlike stemmings bepaal dat groot dele van die Bybel onwaar is. Robert Funk, die argitek en stigter van die Jesus Seminaar sê die volgende oor die Bybel.
“Jesus did not ask us to believe that his death was a blood sacrifice, that he was going to die for our sins.” “Jesus did not ask us to believe that he was the messiah. He certainly never suggested that he was the second person of the trinity. In fact, he rarely referred to himself at all.” “Jesus did not call upon people to repent, or fast, or observe the sabbath. He did not threaten with hell or promise of heaven.” “Jesus did not ask us to believe that he would be raised from the dead.” “Jesus did not ask us to believe that he was born of a virgin.” “Jesus did not regard scripture as infallible or even inspired.”
Dawid het daarenteen gesê dat die hele inhoud van die Bybel God se waarheid is. Dit sluit ook aan by wat Paulus in 2 Tim 3: 16, 17 sê:
Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
Wie moet ons glo? — Robert Funk, sommige predikante wat die vermetelheid het om te sê die Bybel is maar net mense se woorde oor God, sommige professore op die Teologiese Fakulteit van UP wat glo dis ‘n gekonkel van mense, en ander post-moderne predikers wat vanaf die preekstoel verkondig dat die Bybel nie die onfeilbare en geïnspireerde Woord van God is nie — of moet ons Jesus Christus glo wat gesê het:
Joh 17: 17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
Hierdie vers is wel kort maar baie kragtig omdat dit die effek wat dit op God se kinders het, duidelik uitspel. Christus verklaar onomwonde dat die Woord van God wat die waarheid is die bomenslike vermoë het om God se kinders te heilig (vir Hom en sy diens af te sonder). Mense se woorde, selfs al handel dit oor God, het nou maar eens nie daardie krag nie. Christus se verklaring in hierdie gedeelte sluit baie mooi aan wat in Hebreërs 4: 12 staan:-
Heb 4: 12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
Wat maak predikante wat sê die Bybel is slegs woorde van mense oor God met hierdie vers uit Hebreërs? Die siel en die gees van die mens is twee duidelik onderskeibare entiteite (1 Thess 5: 23). Benewens hierdie onderskeid, is dit ook uit hierdie gedeelte opvallend dat die gees en die siel geskei moet word en dat dit alleenlik die Woord van God is wat dit kan doen. Mense se woorde, selfs mense se woorde oor God, is hoegenaamd nie in staat om die diepste innerlike wese van die mens (die siel en die gees) te skei nie. Waarom is dit so dringend noodsaaklik om die gees en die siel te skei?
Om hierdie vraag te antwoord, moet ons kyk na die funksie of funksies wat albei onderskeidelik vervul. Die siel (of die “psuche”) is dié entiteit waarin die mens se hele persoonlikheid gesetel is — dit sluit in sy eie “ek,” gevoelens of emosies, voor- en afkeure, sy selfbewustheid, ens. M.a.w. die siel is die unieke persoonlikheid van elke individu. Anders as Afrikaans wat net ‘n enkele woord vir “liefde” het, het die Grieks drie woorde, n.l. “Agapao,” “phileo” en “eros.” Die lg. twee soorte liefdes is emosies wat uit die siel voortkom. Die “eros” liefde is gerig op die selfverwesentliking van die mens m.b.t. die erotiese behoeftes van ‘n man en vrou in die huwelik. Daarsonder sou die mens nie God se opdrag “wees vrugbaar en vul die aarde” kon uitoefen nie. Maar, geen huwelik kan net op die “eros” of erotiese liefde gebou word nie. Dit bring ons by die “phileo” liefde. Dit is die liefde wat in ‘n vriendskapsverband tot uiting kom. Jou wederhelf is in hierdie opsig nie net die objek van jou erotiese behoeftes nie, maar is ook jou vriend, “confident” (vertrouensgenoot), medereisiger en helper. Dit is dié soort liefde wat jou die vrymoedigheid gee om jou hart bloot te lê en baie vertroulik en intiem met jou wederhelf te praat; om mekaar se geselskap te geniet soos jy op geen ander manier met enigiemand anders kan geniet nie. Dit is die soort liefde wat, as jou wederhelf nie by jou is nie, vir jou laat voel of ‘n stuk van jouself losgeskeur het. Die Bybelse begrip “een vlees” vind neerslag in die gesamentlike verwesenliking van die “eros” en die “phileo” liefde, en almal — gelowiges en ongelowiges — is in staat om hierdie twee liefdes te ervaar en te beoefen. Die verskil egter tussen die gelowige en ongelowige is dat lg. nie in staat is om die “agapao” (‘n selflose, Goddelike liefde) uit te leef nie omdat dit net by die wederbaring van ‘n verlore sondaar deur God in sy gees uitgestort word (Rom 5: 5). Die ongelowige kan nie die “agapao” liefde uitleef nie omdat sy gees vanweë sy sondes dood is (Mat 8: 22).
Wanneer Hebreërs sê dat die gees en die siel deur die Woord van God geskei moet word, is dit ‘n skeiding wat slegs in die lewens van God se kinders kan geskied. Hierdie skeiding kan nie by ongelowiges plaasvind nie om die eenvoudige rede dat hulle ‘n totaal eensydige lewe van selfgesentreerdheid (‘n allesoorheersende “sielewe”) lei. Hulle kan ook nie anders nie want hulle gees is nog nie gewederbaar nie en is dus dood. Sodra iemand tot bekering kom, vind daar ‘n algehele ommekeer in daardie persoon se lewe plaas. Sy of haar liefde is dan nie meer langer net op sy vrou, sy gesin en op homself gerig nie, maar hulle ondervind ‘n liefde vir God wat geheel en al anders is as wat hulle tot dusver ervaar het. Dit is ‘n liefde wat voortspruit uit die wete dat God ons eerste liefgehad het (1 Joh 4: 19) . Dit is ‘n liefde wat voortspruit uit die wete dat Hy sy lewe in ons plek aan die kruis afgelê het en ons vir tyd en ewigheid losgekoop het uit die mag van die sondes, die sonde (eie “ek”) en die wêreld. As sodanig moet dit ‘n liefde wees wat God liewer het as enigiemand anders en selfs ook jou eie lewe (Luk 14: 27). Dit is hier, die besef dat ek God liewer moet hê as enigiemand en enigiets anders, waar die skeidingsproses in alle erns ‘n aanvang neem, omdat die siel met sy vooropgesteldheid vir die self en eie-belange voortdurend op die voorgrond tree en dus aan die kruis afgegee moet word vir doding. Kan die “woorde van mense” hierdie skeiding tussen gees en siel bewerkstellig? Baie predikante dink blykbaar dit kan. Hulle dwaal en lei andere op ‘n dwaalspoor.
Deel 3 volg later.
Voetnotas
1 Ferdie Mulder: Uitnodiging tot kommentaar rakende Skrif- en belydenisgetrouheid in teologiese opelleiding, p. 9
Andries said
Ek dink dat die woord wel deur die HG geinspireer is-enige wedergebore christen kan getuig daarvan.My bekommernis is wel die wydheid van intrepetasie van almal wat bleikbaar Gees gevul is-kyk maar na al ons verskillende gelowe en kerke en onderliggende struwelinge,elkeen het die antwoord en die volgende deurbraak.Hierdie vorm van geloof doen afbreek aan Christendom.
Ek sou graag wou sien dat leiers hul eie agendas laat staan en die woord weer van nuut af sal bekyk deur die leiding van die gees.Die woord is onveilbaar,sou dit wat in die bybel in u gemeente gebeur is u by die regte plek,sou die Gees,Sy gawes en werkinge nie teenwoordig wees nie=BLY WEG,KRY N ANDER GEMEENTE.
Magda Kopp said
Stem heeltemaal saam met jou Andries. Ons as wedergebore kinders van die Here word ons gelei deur die Heilige Gees soos Jesus gese het die Gees sal ons in die waarheid lei.
Ek glo dat die Woord van God deur die Heilige Gees geinspireerd is die rede: Ek het pas n boek gelees getiteld Far from Rome near to God – In hierdie boek vertel 50 roomskatolieke priesters hoe hulle wedergebore is deur die Woord van God te bestudeer en elkeen is deur die Heilige Gees gelei tot die waarheid. Miljoene mens word daagliks wedergebore deur die Byble te te lees en elkeen word op n wonderbaarlike wyse gered. Getuinenisse se dit alles God praat al 2000 jaar met die mens deur sy woord.
Nadat Pilatus vir Jesus gevra het is U dan n koning toe se Jesus ja jy is reg Ek is n koning dit is om hierdie rede waarvoor ek na hierdie wereld gekom het sodat ek n getuienis kan wees van die waarheid. Elkeen wat die waarheid ken hoor my stem.
Soos Andries se as u in gemeente nie hierdie waarhede verkondig nie soek n gemeente wat die waarheid verkondig.
.
Andries said
Ek sou graag wou byvoeg,dat ons die woord moet sien as lewendig-God se woord sal nie leeg na Hom terug keer.Die praktiese toepassing daarvan sou wees om te vra volgens die wil van die Vader, die gebed van Jesus en die leiding van die HG.Wat ons dan ook sou vra sal uitkom.
Ek dink as daar meer getuienisse sou uitkom,die twyfel oor die plek en egtheid van die woord nie bevraagteken sal word nie-die egtheid en akkuraatheid word nie net slegs getoets aan die geskiedenis van die woord nie,maar ook die toepassing en uitkomste wat dit bied vandag.