Waak en Bid / Watch and Pray

omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie / for ye know not when the time is (Mark 13:33)

Archive for June 28th, 2008

DIE DOELGERIGTE MISLEIDING – DEEL 4

Posted by Thomas on June 28, 2008

Warren begin hoofstuk twee “JY IS GEEN ONGELUK NIE” weereens met twee aanhalings – een uit die Bybel en een van ‘n Godloënaar, Albert Einstein.

So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm het in die moederskoot . . .

Jesaja 44: 2

God dobbel nie

Albert Einstein

Ten einde sy agenda van ‘n doelgerigte lewe te bevorder, skroom Warren nie om belangrike gedeeltes van ‘n enekele vers weg te laat nie, dit geheel en van die konteks waarin dit geskryf is, los te skeur en dit onbeskaamd as die waarheid aan sy lesers op te dis. Hy hou soms sommer in die middel van die teks op omdat die res van die teks nie in sy raamwerk van ‘n doelgerigte lewe pas nie. Die opskrif van hierdie hoofstuk, “JY IS GEEN ONGELUK NIE” gevolg deur die eerste gedeelte van Jes 44: 2, is ‘n baie goeie voorbeeld hiervan. Die hoofopskrif “JY IS GEEN ONGELUK NIE,” gevolg deur “So sê die Here wat jou gemaak het. Hy wat jou gevorm het in die moederskoot . . .” skep die indruk dat dit die Here is wat gesê het “Jy is geen ongeluk nie.” Dan onderstreep Warren die titel van hierdie hoofstuk met ‘n aanhaling van Albert Einstein, “God dobbel nie” om te bewys dat jy nie per ongeluk of per abuis gebore is nie. Die profeet praat nie in Jes 43 en 44 van individue nie maar van God se roeping (uitverkiesing) en vorming van Israel as ‘n heilige (afgesonderde) volk vir Hom.

Warren suggereer dat die mens geen aandeel in die beplanning van die geboorte van hulle nakomelinge het nie en dat God alleen soewerein beplan en bepaal wanneer enigeen gebore word en selfs doodgaan.

Omdat God jou vir ‘n rede gemaak het, het Hy ook besluit wanneer jy gebore gaan word, en hoe lank jy gaan leef. Hy het die dae van jou geboorte en dood gekies. Die Bybel sê: U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe.

Psalm 139:16 beteken nie dat God Dawid se lewensdae nog voor sy geboorte bepaal en beplan het nie. Dit beteken eenvoudig net dat God in Sy alwetende vooruitskouing vooraf geweet het wanneer Dawid gebore sou word en wanneer hy sou sterwe. Warren gaan selfs so ver om te sê dat God die besonderheid van jou liggaam bepaal en dat hy jou ras, jou velkleur, jou hare en elke kenmerk doelbewus gekies het.

Toe die Here Sy heel eerste opdrag aan die mens gegee het “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Gen 1: 28,) het Hy hom die mag gegee om sy Godgegewe voortplantingvermoëns aan te wend binne die raamwerk van sy eie wilsbelsuite. As sodanig is niemand ‘n ongeluk nie, maar dit is ook nie korrek om te sê dat God elke individuele geboorte reeds voor die grondlegging van die aarde beplan het nie. Dit is miskien ‘n hele mondvol maar enkele voorbeelde uit die Skrif sal dit duideliker maak.

Ons lees in Gen 38 dat Juda, nadat hy in ‘n komplot saam met sy 10 broers Josef aan die Ismaeliete en Midianiete verkoop het, hom van sy broers onttrek en in Adullum (ongeveer 24 km Noord-Wes van Hebron) gaan woon het. Daar het hy ‘n Kanaänitiese vrou ontmoet met wie hy toe getroud is. Die nakomelinge van Jakob (Israel) het ondertrouery met die Kanaäniete vermy (sien hoofstuk 34) en Juda se huwelik met ‘n Kanaäniet het so byna sy familie geruïneer. Juda het dus geheel en al buite die wil van God met ‘n Kanaäniet getrou en die een ramp na die ander het die familie getref. God het sy eersgeborene (Er) doodgemaak omdat hy ‘n bose mens was. Sy tweede seun, Onan, moes toe volgens tradisie met sy weduwee Tamar trou om vir Er ‘n nageslag te voorsien maar hy het hierdie wet gebruik om sy eie seksuele drange te bevredig sonder om die verantwoordelikheid van ‘n vader te aanvaar en na te kom. God het toe ook sy lewe geneem. Uit vrees dat dit ook met sy derde seun Sela kon gebeur, het hy geweier om hom as man vir Tamar te gee. Hy was in elk geval nog te jonk en selfs later toe hy wel oud genoeg was, het Juda nog steeds geweier. Na die dood van sy vrou, het Juda na sy skaapskeerders in Timnat gegaan. Toe Tamar daarvan hoor, het sy sake in eie hande geneem en haarself as ‘n tempel prostituut vermom en gesorg dat Juda haar pad kruis. Ons weet almal wat toe gebeur het. Juda het by haar ingegaan en as pand het hy haar sy staf en seëlring gegee totdat hy sy belofte om vir haar ‘n boklam as loon vir haar dienste te stuur, nagekom het. Toe Tamar drie maande swanger was en Juda daarvan te wete gekom het, het hy opdrag gegee dat sy onmiddellik verbrand moes word. Toe sy sy pand tevoorskyn haal, moes Juda ewe verleë erken dat sy regverdiger was as hy en nie weer by haar ingegaan nie. Tamar het tweeling seuns gebaar — Peres en Serag.

Kan ons Warren se uitlating “Jou ouers het jou miskien nie beplan nie, maar God” het gelate aanvaar wanneer ons die verhaal van Juda in oënskou neem. Het God reeds voor die grondlegging van die wêreld beplan dat Juda buite Sy wil met ‘n Kanaänitiese vrou sou trou en drie seuns by haar sou hê waarvan Hy twee doodgemaak het omdat hulle sleg was? Het Hy beplan dat Tamar haar soos ‘n tempel-prostituut vermom om haar skoonpa uit te lok om met haar gemeenskap te hê? Was dit deur Sy toedoen en beplanning dat Tamar op hierdie wyse tweeling seuns in die lewe gebring het? Indien ons Warren se siening oor God se soewereine besluite en bepalings met die geboorte van inidvidue moes aanvaar en ‘n regmerkie daaragter aftik, sou dit beteken dat ons God medepligtig moet maak aan die sondes van die mens. Dit as sondanig sou ons goeie kandidate maak vir die weë wat in Jes 5: 20 uitgespreek word oor hulle wat goed sleg noem en sleg goed, wat duisternis lig maak en lig duisternis, bitter soet maak en soet bitter. God alleen is goed en kan nie deur die kwaad versoek word nie en Hy self versoek niemand nie (Jak 1:13).

Ons kan gerus ook maar kyk na Lot se twee dogters wat hulle pa dronk gemaak het, by hom in die grot waarin hulle skuiling gevind het, gaan lê het en met hom gemeenskap gehad het om vir hulle ‘n nageslag te verseker. Uit hierdie onheilige samekoms is die geslagte van twee van God en Israel se grootste vyande verwek — die Moabiete en die Ammoniete. Ons moet weer eens vir onsself afvra: Het God reeds voor die grondlegging van die wêreld beplan dat Lot se dogters bloedskande met hulle vader sou pleeg om twee van Sy grootste vyande, die Moabiete en die Ammoniete, te verwek? Nee! God beplan beslis nie die sondes van mense in die voortplanting van hulle nageslagte nie. Later in die boek Rut lees ons een van die mooiste liefdesverhale in die Skrif, toe die skoondogter van Naomi (Rut, ‘n Moabiet in die tyd van die Rigters) met Boas getroud is. Uit hulle pragtige huwelik is Obed gebore wie die oupa was van koning Dawid. Hier vind ons een van die wonderlikste voorbeelde in die Bybel van God se ondeurgrondelike genade en barmhartigheid. In Deut 23: 3, 4 lees ons “Geen Ammoniet of Moabiet mag in die vergadering van die HERE kom nie; selfs hulle tiende geslag mag nooit in die vergadering van die HERE kom nie; omdat hulle julle, by jul uittog uit Egipte, nie met brood en water op die pad tegemoetgekom het nie; en omdat hy Bileam, die seun van Beor, uit Petor in Mesopotamië, teen jou gehuur het om jou te vloek.” En tog, laat God in die boek Rut toe dat ‘n Moabiet in Sy familie opgeneem word wanneer sy met haar losser, Boas, trou. (Rut 3: 1-12) Dit is ‘n pragtige tipering van Jesus Christus se huwelik met sy bruid (alle sondaars wat gewas is in sy bloed) wat aanvanklik nie toegelaat is om in die teenwoordigheid van die allerheiligste God te kom nie.

Warren gebruik op bladsy 19 koning Dawid as voorbeeld om sy aanname dat ons geen ongeluk is nie, te bevestig. Almal weet van Dawid se owerspel met Batseba, die vrou van Uria wie hy summier om die lewe laat bring het. Die babatjie wat uit hierdie owerspelige verhouding gebore is, het gesterwe. Het God dit so beplan en bepaal dat Dawid ‘n owerspelige verhouding met ‘n ander man se vrou moes hê sodat hulle ‘n kind kon verwek wat gesterf het nog voordat hy sy verstand gekry het?

In al die voorafgaande voorbeelde is dit ongetwyfeld so dat die mens self verantwoordelik gehou moet word vir die kinders wat hulle in hulle sondes verwek. God het hulle beslis nie vooraf beplan nie hoewel Hy reeds vooraf daarvan geweet het, maar Hy het in elkeen van hierdie gevalle die mens se misrabele mislukkings omskep in ‘n seën — Hy het Tamar, Rut en Dawid gebruik om uiteindelik Sy Verlosser, Jesus Christus, in die wêreld te bring. Jesus Christus is die enigste Persoon wie se geboorte voor die grondlegging van die wêreld deur God beplan is, omdat Hy nie uit die wil van ‘n man nie maar uit die Gees by wyse van ‘n maagd in hierdie wêreld gebore is.

Dit is nodig om op hierdie tydstip Warren se aanhaling van Ps 138: 8 onder die loep te neem. Hy sê nie uit watter vertaling hy die vers “Die Here sal alles vir my goed laat afloop” op bladsy 19 geneem het nie, maar dit is ooglopend ‘n verdraaing van wat Dawid gesê het. Dawid spreek sy dank uit teenoor die Here wat hom met Sy kragtige regterhand en uit liefde keer op keer uit die hand van sy vyande verlos het.

Ps 138:8 As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my. Die HERE sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, HERE, is tot in ewigheid: laat nie vaar die werke van u hande nie!

Die onpersoonlike voornaamwoord “dit” verwys nie na “alles” soos die vertaling wat Warren gebruik dit stel nie maar alleenlik na die wyse waarop God Dawid telkemale uit die hand van sy vyande verlos het. Hy sê dus dat God “dit” (die haat, verdrukking en vervolging wat hy onder sy vyande verduur het) uiteindelik tot ‘n algehele einde sal bring. Die woord vir voleinding is “gamar” en beteken om iets tot ‘n volmaakte einde te bring sodat dit nooit weer sal of kan gebeur nie. Die Here alleen kan dit so volmaak doen. Warren se gebruik van ‘n korrupte vertaling van Ps 138: 7 & 8 hou vir die ongelowige groot gevaar in omdat hy hulle met ‘n valse gerustheid paai. Wanneer hy sê: “Jou geboorte was geen fout of vergissing nie, en jou lewe is nie blote stom geluk nie. Jou ouers het jou miskien nie beplan nie, maar God het,” sê hy dit nie net vir gelowiges nie maar ook die ongelowiges wat sy boek lees. Gevolglik sal die ongelowige ook glo dat “Die Here alles vir hom goed sal laat afloop.” Wat sê die Here van die ongelowiges in Sy Woord?

Jes 57:20, 21 Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op. Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!

Waarom is daar vir die ongelowiges geen vrede en sielerus nie? Omdat hulle voortdurend hulle harte verhard teen die oortuiging van die Heilige Gees om hulle tot die Here te bekeer en wat Hy, nadat Hy hulle met groot lankmoedigheid verdra het, aan hulle eie verharde harte oorgee sodat hulle uiteindelik in die verderf beland.

Rom 2: 4, 5 . . . verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ‘n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke:

Hulle sal dus nie in die verderf beland omdat God hulle daar wil hê nie, (2 Pet 3:9) maar omdat hulle eie verharde harte hulle toeberei en voorberei vir God se regverdige oordele en uiteindelik die verderf. Kan ‘n ware kind van die Here vir die ongelowiges so ‘n infame leuen vertel en sê: “Die Here sal alles vir jou goed laat afloop?”

Warren predik onbeskaamd ‘n soort noodlots-godsdiens of fatalistiese godsdiens wat vir sy lesers sê: “God het alreeds julle paadjie vir julle uitgelê en julle sal presies op die sekonde sterwe wanneer God wil hê julle moet doodgaan.” Hy sê op bladsy 19: “Hy het die dae van jou lewe vooraf beplan, en die presiese tyd van jou geboorte en dood gekies.” Het die Here die miljoene soldate en burgerlikes se dood vooraf beplan wat gedurende die twee groot wêreldoorloë gesterf het? Het Hy vooraf die dood beplan van mense wat selfmoord pleeg, vermoor word, sterf aan ‘n oordosis verdowingsmiddels, ongelukke, of aan hulle rook- of drankgewoontes? Indien dit waar sou wees, kan die Here in enige sekulêre hof wat sy sout werd is beskuldig word van medepligtigheid aan die mens se sondes. Ek het dit op baie goeie gesag dat die Satan ‘n mensemoordenaar is en nie die Here nie (Joh 8: 44).

Warren lê op bladsye 10 tot 22 groot klem op die doel waarvoor God die wêreld en die heelal geskep het — dat Hy hierdie planeet se omgewing juis ontwerp het sodat ons daarin kon lewe, dat ons as ‘n spesiale doelwit vir God se liefde geskep is, dat God jou gemaak het sodat Hy jou kon liefhê ens. Soms raak Warren die eienaardigste dinge denkbaar kwyt. Hy sê op bladsy 21: “As daar geen God was nie, sou ons almal ongelukke wees, die gevolg van ‘n astronomiese willekeurige toeval in die heelal.” Nee! As daar geen God was nie, sou daar hoegenaamd net mooi niks wees nie, nie eens ongelukke nie — punt. Dit is baie goed en reg om God se liefde te beklemtoon, maar dit is terselfdertyd heel onvanpas om net Sy liefde te beklemtoon. Om net Sy liefde uit te lig is om net ‘n deel van Sy karakter uit te lig. Hy is ook ‘n God van jaloesie, van heilige toorn en van geregtigheid. Om die waarheid te sê, dit is van kardinale belang om ook sy heilige toorn en regverdige oordele te verstaan alvorens ons werklik Sy liefde kan verstaan. Trouens, iemand wat net sy liefde vooropstel, het ‘n baie vae begrip van die kruis van Jesus Christus want dit is dáár en dáár alleen waar God die Vader se liefde, regeverige toorn, oordele en geregtigheid volkome en volmaak versoen en versadig is (Ps 85: 11).

Op bladsy 20 sê Warren:

Ongeag die omstandighede van jou geboorte, of wie you ouers is, het God ‘n plan gehad toe jy geskep is. Dit maak nie saak of jou ouers goed, sleg of tussenin was nie. God het geweet daardie twee individue het presies die regte genetiese materiaal om die pasgemaakte jy te skep wat HY in gedagte gehad het. Hulle het die DNA gehad wat God wou hê om jou te maak.

Niemand kan ontken dat God in die begin alles goed gemaak het en dat Hy telkens met groot tevredenheid daarna gekyk en gesien het dit alles goed was. Inderdaad, toe God in die begin geskep het, was alles volmaak goed gewees en presies net mooi nommerpas volgens Sy wil. — ja! en die genetiese samestelling van Adam en Eva se DNA was presies netsoos Hy dit wou gehad het. Maar! . . . toe kom die sonde en sedertdien het dit die DNA van die mens deur die eeue heen nadelig aangetas. Dit is wetenskaplik bewys dat alkoholiese drank die genetiese samestelling van die DNA asook die breinselle van mans en vrouens vernietig. Jaarliks word duisende gebrekkige babas gebore omdat hulle moeders elke dag net een enkele glasie wyn drink, om nie eens te praat van die nikotien wat hulle daagliks verorber nie. Alkohol is bekend as Teratogen wat letterlik “monster-skepper” of “monster-maker” beteken. Dr. Sophie Pierog, Direkteur van Pediatrie aan die Jersey Mediese Sentrum, verklaar:

Alcohol has an effect on the early embryo in terms of the organization of brain cells. A smaller number of neuronal cells are formed, and there is a disorganization of these cells within the brain as the embryo develops under the influence of alcohol.

Die babas van moeders wat alkohol inneem word blootgestel aan die gevare om in hulle groei en ontwikkelingstadia erg belemmer te word, soveel so dat hulle allerlei liggaamlike abnormaliteite kan ontwikkel. Sulke babas is gewoonlik aansienlik kleiner in gewig en lengte, het kleiner hande en ontwikkel ‘n kenmerkende voorkoms wat kan insluit ‘n vismond, klein oë, lae neusbrug en hare op die voorkop en gesig. Kan Warren of enigiemand anders kategories verklaar dat die DNA van ouers wat gebrekkige kinders voortbring vanweë hulle sondige alkoholiese en rookgewoontes “presies die regte genetiese materiaal [het] om die pasgemaakte jy te skep?” Maak dit nie weer eens van die Here ‘n medepligtige in die sondes van die mens nie?

Kom ons neem vir ‘n oomblik die tragiese gevolge wat die thalomiede pil sowat vier of vyf dekades gelede op pasgebore babas gehad het in oënskou. Die meeste van hulle is met een of ander baie ernstige gebrek gebore; sommiges is sonder arms of bene gebore en andere met een of ander verstandelike vertraging. Dit mag miskien nie saak maak wie jou ouers is nie en of hulle goed of sleg of tussein is, maar hulle sondige gewoontes kan beslis ‘n baie gevaarlike en nadelige invloed op hulle babas hê. Een van die ergtse vorms van genetiese disfunksie in die DNA word veroorsaak wanneer families ondertrou (gewoonlik om rykdom binne die familiekring te hou). Sulke babas is gewoonlik deur die bank verstandelik vertraag. Kan ons eerlikwaar vir hulle sê: “Ongeag die omstandighede van jou geboorte, of wie you ouers is, het God ‘n plan gehad toe jy geskep is. Dit maak nie saak of jou ouers goed, sleg of tussenin was nie. God het geweet daardie twee individue het presies die regte genetiese materiaal om die pasgemaakte “jy” te skep wat HY in gedagte gehad het. Hulle het die DNA gehad wat God wou hê om jou te maak?

Wat ons wel vir hulle moet sê is dat ons almal gesondig het en aan die heerlikheid van God ontbreek. Nie een van ons kan ‘n teregwysende vinger na hulle wys nie. Ons moet vir hulle sê dat God binne-in hulle wil woon om nuwe skepsels van hulle te maak, al is hulle liggame (en DNA) hoedanig ookal geskend deur die sondes van hulle ouers en voorouers. Ek het eenmaal die verhaal gehoor van ‘n man wat vanweë die sondige leefwyse van sy ouers uiters gebrekkig gebore was; hy kon nie praat nie en sy liggaam was mettertyd so swak dat hy pal in die bed moes bly lê. Iemand het op ‘n dag die onvervalste Evangelie aan hom verduidelik waarna hy waarlik tot bekering gekom het. Hy kon net sy een arm en hand oplig. Wanneer iemand vir hom gekuier het, het hy altyd sy arm opgelig, met sy wysvinger hemelwaarts gewys, sy arm laat sak en sy hand op sy hart laat rus en ‘n onbeskryflike groot en lieflike glimlag op sy mond gekry. Die meeste mense wat hierdie man besoek en leer ken het, kon nie hulle trane bedwing nie.

Dit will voorkom of Warren op ‘n baie subtiele manier sonde en die gevolge daarvan vir die mens onderspeel en as niks wil afmaak nie. Waarom sou die mens hom oor sy sonde bekommer as dit die Here self is wat die sonde van die mens vóór die grondlegging van die wêreld beplan het? Niemand kan tog verantwoordelik gehou word vir die moord op iemand anders as die Here daardie persoon se dood reeds voor die grondlegging van die wêreld gekies en beplan het nie. God het in elk geval almal so lief dat “Die Here alles vir jou goed sal laat afloop.” Nee! “Die Here het almal so lief gehad dat Hy sy enigebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore moet gaan nie maar die ewige lewe kan hê.” Daar is ‘n goort verkil — weet u?

Posted in Uncategorized | Leave a Comment »