Waak en Bid / Watch and Pray

omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie / for ye know not when the time is (Mark 13:33)

Hoekom net dit as sonde uitsonder?

Posted by Tom Lessing on September 16, 2008

“Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” (Johannes 3:10)

In sy brief aan Godsdiens Aktueel: “Hoekom net dít as sonde uitsonder?” (Beeld: 27 Oktober 2002) het Prof. Adrio König (Sistematiese Teologie, UNISA) ’n baie pertinente vraag gevra wat onlangs weer tydens die hofsaak, Moreletapark NG Kerk versus mnr. Johan Strydom, op die spits gedryf is. Sy vraag, “Is homoseksualiteit nie ‘n saak waaroor ons kán verskil nie?” som die relatiwistiese benadering van die post-modernisme tot die hedendaagse kwelvrae oor menslike gedrag, veral rondom homoseksualiteit, raak op. Met sy gebruik van die woordjie “ons”, plaas hy die hele debat rondom seksuele oriëntasie onmiddellik op die vlak van die humanisme waarin God geheel en al nie meer ’n sê het nie. Daar is soveel wyd-uiteenlopende sienings oor hierdie saak en elkeen staaf sy mening op so ’n “oortuigende manier” vanuit die Skrif, dat selfs die leraars nie meer weet wat om oor hierdie dinge te dink of te sê nie. Uit wanhoop roep hulle uit, “kan ons nie maar hieroor verskil nie?” Gesien vanuit die oogpunt van die hedendaagse kultuur van ”eenheid binne diversiteit” kan ons (volgens die postmoderne denkers) inderdaad daaroor verskil omdat absolute waarhede (soos dit in die Woord van God vervat word) in hierdie kultuur nie meer langer geduld word nie; omdat die post-moderne relatiwisme reg en verkeerd, waar en vals, goed en sleg, in ’n “yin-yang” tipe van denkpatroon ingedwing het sodat niemand meer weet wat om oor hierdie dinge te dink of sê nie. “Ek sal jou opinie respekteer, maar dan moet jy ook myne met agting bejeen” het die slagspreuk van ons eeu geword wat die duiwel en die hel laat skaterlag. Verdraagsaamheid — nie die waarheid nie — is mos die eerbare weg wat ons moet volg om nie aanstoot te gee nie, om die vrede te bewaar en om liefde te betoon.

“Relatiwisme” (verdraagsaamheid) is nie die enigste post-moderne slimmigheid van die redetwisters van hierdie eeu wat in Adrio König se pleidooi na vore kom nie. “Kontekstualisering” is ’n ander wysheid wat die redetwisters van hierdie eeu uitgedink het om die gewete van die mens te sus. König skryf,

‘n Ander groep vra of homoseksualiteit nie in Die Bybel in ‘n totaal ander verband voorkom as in ons gemeentes nie. Dink net aan Romeine 1 en 1 Korintiërs 6. In 1 Korintiërs word homoseksuele in dieselfde asem genoem as afgodsdienaars, dronkaards en bedrieërs. In Romeine lees ons dat homoseksuele God haat, dat hulle vol hebsug, gemeenheid en moord is, dat hulle pleks van God beelde van diere of slange aanbid. Gaan dit nie in ons gemeentes om ander mense nie? In die nuwe besluit van die sinode word van “homoseksuele gelowiges” gepraat. Dit is onmoontlik in Die Bybel omdat hulle daar ongelowiges, Godhaters, moordenaars, bedrieërs genoem word. Dié groep vra dus of ons nie moet aanvaar dat homoseksualiteit in Bybeltye in ‘n konteks van goddeloosheid gebeur het nie, en dat Paulus dus nie anders daaroor kon oordeel as wat hy gedoen het nie. Maar dat ons vandag weet van homoseksuele mense wat die Here saam met ons liefhet en dien. Van sulke homoseksuele is daar nie in Die Bybel sprake nie. Kan ons hulle dan oor dieselfde kam skeer as wat Paulus gedoen het?

So ’n breë opmerking verg twee vrae. Die eerste vraag: — Was dit die algemene goddeloosheid van die mense in Bybeltye wat homoseksualiteit ’n sonde gemaak het en is dit die godsdienstigheid van vandag se homoseksuele mense wat die Here saam met ons liefhet en dien wat homoseksualiteit ontsondig of ten minste aanvaarbaar maak?

Dit lyk vir my so al of die liberale teologie sy kop hier uitsteek, wat volhou dat die sonde nie in die hart van die mens gesetel is nie maar in die samelewing waarin ons ons bevind. Dit kom daarop neer dat wanneer die samelewing ’n verandering ondergaan — in hierdie geval van goddeloosheid na godsdienstigheid — ondergaan die indiwidu ook ’n verandering. Om hierdie argument tot sy uiterste deur te voer, kan ’n mens dus sê: As ’n heteroseksuele egbreker of hoereerder in ’n goddelose samelewing sy sondige lewe beoefen dan moet ons hom net soos Paulus oordeel, maar indien dieselfde heteroseksuele egbreker en hoereerder in ’n godsdienstige samelewing saam met al die ander die Here dien en liefhet, dan moet ons hom nie oor dieselfde kam skeer nie. Dit toon maar net weer eens hoe verskriklik ver die teologie in ons tyd van Bybelse waarhede afgedwaal het.“Diensbaarheid aan die Here en ’n liefde vir Hom” maak alles mooitjies reg terwyl ons nog steeds ons eie begeertes en wil maar mag najaag. Die tweede vraag: — Indien die Here gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is (Hebreërs 13:8), beteken dit dat Hy Sy mening oor sonde volgens die eb en vloei van wêreldse kulture aanpas en verander? Dit is mos totaal ondenkbaar dat die Here Sy karakter kan verloën deur sy mening oor die sonde na gelang van die eb en vloei van kultuurveranderinge te temper!

Kom ons kyk nou na enkele van die ander uitlatings wat Adrio König in sy brief oor homoseksualiteit maak en vergelyk dit dan met wat die Skrif sê. Dit blyk baie duidelik dat hy nie noodwendig die uiteenlopende menings van andere wat hy aanhaal, ondersteun of goedkeur nie; hy sê bv. “Homoseksualiteit word inderdaad duidelik in die Bybel as sonde veroordeel, maar daar is nogtans vrae by sommige.” O! die liewe “maar” wat altyd so flussies insluip. Daar is beslis baie vrae, maar hierdie vrae gaan nie beantwoord word deur dit “’n saak te maak waaroor ons kan verskil nie.” God se mening is en bly die finale en absolute antwoord hierop en enigeen wat dit afwater of met slim praatjies wil omseil sal in die oordeelsdag rekenskap moet gee. Die mening dat die neiging tot homoseksualiteit nie sonde is nie, maar slegs die daad, is futiel. Spreuke 23:7 sny veel dieper as net dié dinge wat ons doen; dit vlek ook dit wat ons is oop tot op die been. “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy” (“For as he thinketh in his heart, so is he”). Paulus het hierdie gedagte van dit wat ons is verder gevoer in Romeine 7, waar hy die diepste wese van ons sondige natuur blootlê. Hierin erken hy dat, selfs wanneer ons ons beste voetjie voorsit om net goed te wil doen, die neiging tot die sonde nog steeds by ons aanwesig is. Om die neiging tot die kwade deur die neiging tot die goeie te probeer beheer of te onderdruk, is tevergeefs. Paulus verwys na hierdie neiging as die sonde wat in sy lede is, m.a.w. ’n ding wat onlosmaaklik deel van ons menswees is. Toe Paulus die afskuwelikheid hiervan in sy lede (vlees) ontdek, kon hy dit op geen ander manier as “die liggaam van hierdie dood” beskryf nie. Dit is soos ’n stinkende lyk wat aan ons kleef waarvan ons nie ontslae kan raak nie, al doen ons ook wat. Wie kan ons verlos van hierdie liggaam van die dood? Dank die Here, almal wat werklik wil — ook die homoseksuele persone — kan nie alleen verlossing nie maar ook algehele bevryding ontvang, en saam met Paulus uitroep “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”

Dit is nie ons diens aan die Here of selfs ons liefde vir Hom wat ons kinders van God maak nie. Die kruis van Christus alleen is die wysheid en krag van God waardeur ons vrygemaak word van die bron van die sonde — die liggaam van die dood of die ou Adam-natuur soos dit ook dikwels genoem word. Inderdaad, ons word ernstig gemaan om enige vorm van seksuele permissiwiteit (“Porneia” — homoseksualisme, lesbianisme, bestialiteit, omgang met ’n geskeide man of vrou, omgang met familielede ens.) dood te maak (te kruisig) wat afgodediens is (Kolossense 3:5).

Hier sien ons baie duidelik dat alle vorme van seksuele permissiwiteit afgodery is. Daarmee word die argument geheel en al by die deur uitgegooi wat sê dat daar ’n onderskeid gemaak moet word tussen die homoseksuele persone in Paulus se tyd wat in dieselfde asem genoem word as afgodedienaars, dronkaards en bedrieërs en die hedendaagse homoseksuele persone wat deur die sinode “homoseksuele gelowiges” genoem word en die Here saam met ons lief het en dien. Tensy een of ander slim redetwister van hierdie eeu die Griekse woord “esti” (εἰμί) as geheel met iets anders as is hervertaal, is en bly die betekenis van die woord esti IS. Enige seksuele permissiwiteit is volgens Gods Woord afgodery — uit en gedaan.

In die kompromiterende wêreld waarin ons lewe, het dit mode geword om gewigtige sake wat die vermoë het om ons sosiale strukture op ’n revolusionêre wyse te beïnvloed en te verander, as iets nikseggends of minder belangriks af te maak. Dit word gewoonlik gedoen deur die gewigtige sake te vergelyk met iets wat nie so gewigtig is nie. So word homoseksualiteit dikwels met handigheid vergelyk; sommige mense is linkshandig terwyl andere weer regshandig is en net so is sommige mense heteroseksueel en andere homoseksueel. So-ook word die hedendaagse sonde-ontdoening van homoseksualiteit vergelyk met die sonde-ontdoening van haarvlegtery en vroue wat in kerkklike verband nie toegelaat word om ’n leiersposisie (vrouepredikantskap; ‘n kwessie waarna die Moreletapark kerk gewis moet kyk) te beklee nie. Die hedendaagse versagting of sonde-ontdoening van homoseksuele gedrag deur klem te lê op hulle diensbaarheid aan en liefde vir God kom eintlik neer op die verheffing van afgodery tot ’n diens aan God. Dit is darem te dik vir ’n daalder, sal almal met skokkende verontwaardiging sê. Maar! kom ons kyk so ’n bietjie of ons nie ’n soortgelyke voorbeeld in die Bybel vind nie. Toe Moses op die berg geklim het om die wet van God en Sy verordeninge vir die bou van die tabernakel te ontvang, het sy broer, Aáron, onder die druk van die volk geswig en ’n goue kalf gemaak. Na die voltooing daarvan het hy een van die verstommendste dinge gesê wat nog ooit oor die lippe van ’n godsdienstige persoon gekom het, — “En Aáron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die Here.” Die Here na wie Aáron verwys het, is nie ’n afgod van een of ander heidense volk van daardie tyd nie; dit is JEHOVAH —die selfbestaande een en waaragtige God wat hemel en aarde gemaak het. ’n Afgod en afgodediens! — tot eer en in diens van die Here van die leërskare? So kan ons dus ook vra — seksuele permissiwiteit tot eer en in diens van die Here?

Waarom beskou die Bybel seksuele sondes dan in so ’n ernstige lig? Waarom het God net vir Sodom en Gomorra uitgesonder om sy toorn oor uit te giet en nie die ander omliggende stede wat net so skuldig was aan ander sondes nie? Ons kan waarskynlik dieselfde vraag aan die Here rig wat König in sy brief stel, “Hoekom net dit as sonde uitsonder?” Ek glo vrypostig dat Efesiërs 5 ons die antwoord bied op die Bybel se geweldige erns oor seksuele sondes. Ten spyte daarvan dat hierdie Skrifgedeelte in ons post-moderne samelewing voortdurend aangeval, verdraai en uitmekaar geskeur word, is en bly dit dié monument van die mistieke liefdesband tussen Christus en Sy liggaaam (die Bruid) hier op aarde.

God het Sy Seun en ook vir ons so innig lief dat Hy die huwelik tussen man en vrou as dié besondere medium gekies het om dáárdie liefde op ’n sigbare, tasbare manier daagliks aan ons oor te dra. M.a.w, wanneer ons die verhouding tussen man en vrou in die huwelik gadeslaan — waarin die man sy liefde aan sy vrou betoon soos Christus Syne deur die aflegging van Sy lewe vir die gemeente getoon het, en die vrou haar onderdanigheid ter wille van Christus uitleef, nie omdat sy daartoe gedwing word deur ’n houding van oorheersing van haar man nie, maar daartoe aangespoor word deur sy liefde — moet ons met oorstelptheid kan uitroep, “Kyk! met watter groot liefde Christus sy bruid liefgehad het deurdat Hy Sy lewe vir haar afgelê het en kyk hoe lief het Sy aardse bruid Hom deurdat Sy haar in algehele onderdanigheid aan Hom oorgegee het” Daarom sê Paulus in vers 32, “Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.” Paulus sê inderwaarheid, “Die huwelik tussen ’n man en vrou as ’n weerspieëling van die verhouding tussen Christus en Sy gemeente is ’n groot verborgenheid en ek deel dit aan julle mee met die oog daarop om Christus se liefde vir die gemeente nog nader aan julle harte tuis te bring.” Dit verg nie ’n doktorsgraad om agter te kom waarom die duiwel die huwelik tussen ’n man en ’n vrou so intens haat en wil vernietig nie.

Wat is die oplossing? Is daar ’n oplossing? As daar ’n oplossing is, kan ons aanvaar dat dit ’n permanente oplossing sal wees? Lê die oplossing in ons vermoëns om met mekaar te verskil? Kan elkeen maar op sy eie manier oor die saak dink of dit op eie insig interpreteer? Ek kom terug na die vraag wat die Here Jesus aan Nikodémus gevra het, ” Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” (Johannes 3:10). Die oplossing, volgens hierdie baie bekende Skrifgedeelte, is eintlik voor-die-handliggend — ’n opregte bekering waarin die hart en die denke ’n radikale verandering ondergaan.

Toe die Here Jesus begin preek het (Mattheus 4:17), het Hy dieselfde woord as Johannes die Doper gebruik om sondaars tot bekering te roep — “Metanoeo”. Dit beteken dat jy anders moet begin dink; jou denke moet ’n revolusionêre omwenteling ondergaan, of soos hulle op Engels sê, “you must change your mind for the better.” As ons in gedagte hou wat die Skrif in Spreuke 23:7 sê, dat die mens is wat hy in sy siel bereken (of dink), dan kan jy begryp waarom ’n verandering van denke noodsaaklik is om ook ’n hartsverandering te kan ondergaan. Iemand wat in weerwil van God se Woord hardnekkig vaskleef aan sy eie rebelse opinies, is besig om die “waarheid in ongeregtigheid te onderdruk,” en verbeur dus sy of haar kans om waarlik tot bekering te kom. (Romeine 1:18). Volgens hierdie gedeelte ken hulle die waarheid; hulle weet dat dít wat hulle doen verkeerd is in die oë van die Here omdat “wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar . . . sodat hulle geen verontskuldiging het nie.” (Romeine 1:19, 20). Eers wanneer so iemand bereid is om sy rebelse opinies (denke) as sonde te brandmerk en heelhartig bereid geword het om daarmee te breek, is hy of sy buigsaam genoeg om onder die oortuiging van die Heilige Gees sy of haar verlore toestand voor God te erken. So iemand het buigsaam genoeg geword om hom of haar voor God te verneder en uit te roep, “Here, U mening (nie my eie nie) oor my lewenswyse is 100% korrek; ek het geen verskoning wat ek meer langer kan of wil aanbied nie. Ek is skuldig en daarom werp ek my volkome en heelhartig op U genade wat U in die geskeurde liggaam van U Seun op Golgotha vir my bewys het. Maak my ’n nuwe skepping, één wat die ou dinge afgelê het.” (2 Korinthiërs 5:17).

“Hoekom net dít as sonde uitsonder?” is beslis nie ’n vraag wat ons vir God kan vra nie, om die eenvoudige rede dat “daar by Hom geen aanneming van die persoon is nie.” (Romeine 2:11) “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (Romeine 23:3). Die slegte nuus is, “almal het gesondig” (heteroseksueel, homoseksueel, predikant, priester, pastoor, dokter, doktor, professor, staatspresident, koning, koningin, man, vrou, kind, wit, bruin, swart, geel ens.),

Maar, dank die Here! — daar is goeie nuus. Almal, ja ALMAL kan gered word deur sy genade sonder verdienste. . . deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Maar! dan moet ons ophou om te dink dat ons sondes ”’n saak (is) waaroor ons kan verskil.” Hy kan u volkome red en vrymaak. Die vraag is: – wil u?

En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet. (Openbaring 22:17).

Ek was eers huiwerig om meegaande video te plaas, maar het tog besluit om dit te doen sodat u kan sien hoedat die Evangelie van Jesus Christus deesdae verdraai word om “gay” en “lesbiese” verhoudings goed te praat.
Jesus on Homosexuality

Sorry, the comment form is closed at this time.

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.