Waak en Bid / Watch and Pray

omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie / for ye know not when the time is (Mark 13:33)

Archive for January 2nd, 2009

Hoe behoort die Dissipels van die Here Jesus die Nuwe Jaar tegemoet te gaan?

Posted by Tom Lessing on January 2, 2009

Benewens die feit dat alle dissipels van die Here Jesus die onvervalste Evangelie van God nog steeds aan ‘n verloregaande wêreld moet verkondig en in die krag van die Heilige Gees kragtig moet stry vir die waarheid wat een maal aan ons oorgelewer is, is daar twee ewe belangrike dinge wat ons moet doen.

Kyk na bo

Luk 21:28 En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is. (Klem bygevoeg)

Ons leef in ‘n wêreld wat in toenemender mate afvallig word van die enige ware God van Abraham, Isak en Jakob. Ek gebruik doelbewus die benaming “God van Abraham, Isak en Jakob” omdat hierdie afvalligheid ten nouste saamhang met die toenemende wêreldwye vyandiggesindheid teenoor Israel. Die Jode is sedert hulle God-verkreë hervestiging in die Midde-Ooste in 1948 daagliks in ‘n oorlewingstryd gewikkel, en dikwels kom hierdie vyandiggesindheid nie uit die geledere van ongelowiges nie maar grootliks uit die geledere van mense wat hulleself Christene noem. Die tragiese ironie hiervan is dat die sg. “Vervangingsteologie” (“Replacement Theology”) ‘n baie groot bydrae lewer tot die groeiende vyandiggesindheid teenoor die Jode in Israel en ook wêreldwyd. Dit, soos ek in een van my vorige kommentare gesê het, kom kortliks neer op die aanname dat God al die beloftes en seëninge wat Hy in die Ou Testament oor Israel uitgespreek het, nou op die kerk oorgedra het omdat die Joodse volk Christus werwerp het. Hierdie leer word tans ook baie sterk in Suid-Afrika in die geledere van die Calvinisme ondersteun, ten spyte van die talryke uitsprake wat God deurgaans in die Skrif t.o.v. sy volk Israel maak. Maak gerus die volgende teksgedeelte ‘n moet in u arsenaal teen die leuens van die duiwel.

Rigters 2:1 Toe trek die Engel van die HERE van Gilgal op na Bogim en sê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met ‘n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie;

Hoe weet ons dat God sy beloftes aan Israel sal nakom in weerwil van hulle eeuelange ontrouheid, afvalligheid en rebellie?

Num 23:19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Maar nee . . .! die mensekind wat, soos God sê, so maklik kan lieg, beskuldig die Allerheiligste van leuenagtigheid en verklaar dat Hy sy beloftes aan sy volk Israel nooit sal nakom nie. Wie moet ons glo – vir God of die mensekind wat so maklik kan lieg? Sjoe! dis darem maar ‘n  uiters moeilike keuse wat ons moet maak, nie waar nie? Kom hierdie gruwelike beskuldigings teen God nie maar ook uit harte wat oorskadu is met rebellie en afvalligheid nie? Enigeen wat die nakomelinge van Abramam, Isak en Jakob ter wille van die Vervangingsteologie afskryf en ‘n ikabod-swaard oor hulle koppe hou, is eintlik maar besig om die God van Abraham, Isak en Jakob ook af te skryf. ‘n God wat nie sy beloftes kan nakom nie, is nie betroubaar nie en dis maar eintlik wat die aanhangers van die Vervangingsteologie suggereer.

“En as hierdie dinge begin gebeur . . . kyk dan na bo” Wat is “hierdie dinge” waarna Christus vewys het? Ons vind die antwoord in die daaopvolgende verse.

Luk 21: 29-31 Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. (Klem bygevoeg).

Toe Frederik die Grote van Pruise (‘n Ateïs) op ‘n dag sy hofdienaar vra: “Bewys vir my dat God bestaan,” het hy sonder aarseling geantwoord, “Die Jode.” Die Pruisiese monarg was nie in die minste beïndruk nie omdat hy onder die diaboliese invloed van Voltaire was en as ateïs gesterwe het. Geen ander volk het nog ooit deurgemaak wat die Jode dwarsdeur hulle geskiedenis ervaar het nie. Dink daaraan: verskeie indiwidue en volkere het van tyd tot tyd dwarsdeur die geskiedenis probeer om die Joodse volk geheel en al uit te wis, maar God het dit nie toegelaat nie en sal dit ook nooit toelaat nie. Inderdaad, die Here beloof in Jesaja:-

Jes 11:11 En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see;
Jes 11:16 En daar sal ‘n grootpad wees vir die oorblyfsel van sy volk wat oorbly uit Assur, soos daar een gewees het vir Israel op die dag toe hulle uit Egipteland opgetrek het.

Dié Joodse uittog “in dié dag” vanuit die vier uithoeke van die wêreld sal plaasvind teen die einde van hierdie wêreldsisteem soos dit tans daaruitsien, maar Jesus herinner ons om nou reeds bedag te wees op die begin van hierdie dinge – d.i. die herstel van sy volk in hulle eie land. God se eindtyd handelinge met sy volk Israel is dus dié belangrikste teken van sy wederkoms en Jesus moedig sy volgelinge aan om na bo te kyk wanneer hulle hierdie dinge sien gebeur.

Bemoedig mekaar

Daar is net twee plekke in die Bybel waarin die woorde “Bemoedig mekaar” voorkom en albei het betrekking op die Wegraping.

1Tes 4:18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.
1Tes 5:11
Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.

Die woorde van bemoediging verskyn in verse 16 en 17 van 1 Thessalonicense 4.

1 Thes 4:16 en 17 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

Die woord “bemoedig” (“parakaleo”) is afgelei van dieselfde woord wat gebruik word vir die Trooster of die Heilige Gees (“Parakletos”). Dit kom dus daarop neer dat hierdie “bemoediging” nie maar sommer net ‘n mens-geïnspireerde bemoediging is nie; dit is ‘n Heilige Gees geïnspireerde bemoediging wat uitloop op ‘n definitiewe, onafwendbare en heerlike gebeurtenis – die koms van die Here by die Wegraping. Paulus beskryf die doel van die Wegraping vir ons in 1 Thessalonicense 5: 9 en 10.

1 Thes 5: 9 en 10 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.

Die “toorn” waarna Paulus verwys, is nie die toorn wat God in die laaste oordeelsdag oor al die ongelowiges gaan uitgiet wanneer Hy hulle in die ewige poel van vuur werp nie. Dit verwys na die toorn wat God tydens die sewejarige verdrukking oor almal wat die antichris as God gaan aanbid, sal uitgiet. Dit is hierdie toorn waartoe al die gelowiges nie bestem is nie en deur Jesus Christus weggeraap (“harpazo”) gaan word voordat die sewejarige Groot Verdrukking ‘n aanvang neem. So-ook verwys die “saligheid” in hierdie gedeelte na die finale beslag van al die gelowiges se redding wanneer hulle uiteindelik verlos gaan word van hulle huidige aardse liggame om soos Jesus Christus ‘n verheerlikte en onsterflike liggaam te ontvang. Hierdie belofte staan vas.

Ope 3:10 Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.

Ek wil na aanleiding van die bovermelde my bloglesers nie met die tradisionele woorde van “’n Voorspoedige Nuwe Jaar” toewens nie maar met die woorde van die Here Jesus en Paulus – “kyk na bo” en “bemoedig mekaar met hierdie woorde.”

Posted in Uncategorized | Tagged: , , , , , , , , , , , , , , , , | Comments Off

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.