Waak en Bid / Watch and Pray

omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie / for ye know not when the time is (Mark 13:33)

Die Pre-Groot Verdrukking Wegraping – Deel 1

Posted by Thomas on January 3, 2009

Inleiding

‘n Goeie vriend en broer van my in die Here het nie lank voor sy dood nie die artikels van ‘n klompie gereformeerde predikante aan my gestuur waarop ek soos volg kommentaar gelewer het.

Dit is nogal ironies dat almal wat die wegraping ontken tog verplig voel om Paulus se woorde in 1 Thessalonicense 4: 17 “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees,” met iets van ’n wegraping te vereenselwig. Ds. Rob Visser skryf in sy artikel “Wie Bly Agter?” as volg.

Die Here Jesus kom by sy wederkoms van die hemel af. Dan staan almal wat op aarde geleef het op. Die mense wat dan op die aarde leef verander. Die gelowiges van alle eeue vaar dan van die aarde op en ontmoet in die lug die Here Jesus. Hulle verwelkom hulle God en Redder en gaan dan saam met Hom na die aarde waar Hy dan almal sal oordeel en waar die aarde tot die nuwe aarde word.

Hiervolgens is dit duidelik dat die teëstanders van die Pre-Groot Verdrukking Wegraping erken dat die tweede Koms van Christus Jesus ten minste in twee fases sal plaasvind — d.i. die opraping om Hom in die lug tegemoet te gaan en Sy terugkeer onmiddellik daarna saam met die heiliges na die aarde om die nasies te oordeel. Daar is egter ’n paar wesentlike probleme met hierdie besondere siening. Eerstens, plaas dit die opstanding van almal (gelowiges en ongelowiges) in dieselfde en gelyktydige tydraamwerk terwyl die Bybel uitruklik leer dat hulle nie saam of gelyltydig uit die dood opgewek gaan word nie. Tweedens, bied die aanname dat alle gelowiges (die opgestane dooies en die oogwink-veranderde lewendes) die Here in die lug tegemoet gaan net om onmiddellik weer na die aarde terug te keer, nie tyd vir die voltrekking van die Bema-troon oordeel en die Bruilof van die Lam nie. “Dit is nie waar nie,” sal die anti-wegraap kamp waarskynlik van verontwaardiging uitroep en sê: “Die bruilof vind plaas wanneer Christus met Sy Tweede Koms terugkeer na die aarde onmiddelik nadat Hy Sy bruid in die lug tegemoet gegaan het.”

Wat sê die Skrif? Volgens Openbaring 19:7 sal die Bruilof van die Lam alreeds a voldonge en afgehandelde gebeuretenis wees wanneer Christus Jesus met Sy Tweede Koms na die aarde terugkeer. Daarvan getuig die woord “erchomai” (het gekom) wat ’n reeds voltooide daad aandui en nie iets sal wees wat op daardie spesifieke oomblik gaan plaasvind nie. Die gebruik van die woord waar mense betrokke is, beteken nie dat iets aangebreek het nie maar dat die reeds voldane gebeurtenis van een plek na ’n ander verplaas is of gekom het en in die openbare oog sigbaar geword het. M.a.w. dit dui daarop dat die Bruilof van die Lam alreeds voltrek sal wees wanneer Hy met Sy Tweede Koms na die aarde terugkeer. Dit word ook baie duidelik beaam deur vers 8 wat sê dat aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.” Dit is uiters belangrik om daarop te let dat die regverdigheid van die heiliges in die meervoud is en verwys dus nie na die eenmalige toegerekende geregtigheid wat elke bekeerling by sy redding ontvang nie. Dit verwys na die regverdige dade van die heilges wat die vuurtoets van die Bema-troon oordeel deurstaan het. Ek sal later ’n bietjie meer oor die Bema-troon oordeel sê. Dit beteken nie dat die rein en blink fyn linne (regeverdige dade) van die regverdiges by die Tweede Koms aan die heilges gegee sal word nie. Inderdaad, al die regverdiges kom reeds geklee met rein en blink fyn linne (regverdige dade) wanneer hulle saam met Christus terugkeer. Daarvan getuig Openbaring 19: 14 baie duidelik: “En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.”

So-ook getuig Lukas 12:35, 36 dat die heilges reeds met hulle rein en blink fyn linne beklee sal wees wanneer hulle saam met hulle Bruidegom terugkeer by Sy Tweede Koms. Judas vers 14 sê ook uitdruklik dat tienduisende heiliges saam met Christus sal kom by sy wederkoms na die aarde. Met ander woorde, die heiliges moes hulle rein en blink fyn linne ontvang het by die Bema-troon oordeel nadat hulle van die aarde weggeraap is om Hom in die lug tegemoet te gaan. Die uit-die-dood-opgewekte en lewende-in-’n- oogwink-veranderde heilges sal dus nie weggeraap word om Hom in die lug tegemoet te gaan en dan weer onmiddellik na die aarde terug te keer nie. Hulle sal Hom na sy hemelse koninkryk vergesel waar elkeen volgens sy dade by die Bema-troon oordeel of ’n beloning gaan ontvang of waar sy dade deur die vuurtoets tot niet gemaak gaan word. Daarna volg die bruilof wat ook in die hemelse koninkryk voltrek sal word. Terwyl hierdie dinge in die hemel plaasvind, sal daar ’n ongekende tydperk van verdrukking oor die hele aarde kom wat sewe jaar lank gaan duur (Mattheus 24)

Wat veral baie veelseggend is en onomwonde bewys dat die Bruilof van die Lam ’n voldonge en afgehandelde gebeurtenis sal wees wanneer Christus Jesus met Sy Tweede Koms verskyn, is Sy woorde in Lukas 12: 36: “En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.” Van wie en met wie praat die Here Jesus hier? Praat Hy van en met Sy bruid? Dit sou baie vreemd wees indien dit Sy bruid sou wees vir wie Hy maan om gereed te wees om vir Hom oop te maak wanneer Hy terukeer vanaf die bruilof. As die bruid op daardie tydstip nog op die aarde sou wees om gereed te maak om vir Hom oop te maak, sou dit beteken dat Sy bruid nie saam met Hom in die hemel was nie toe Sy bruilof voltrek is. Watter bruidegom het ooit alleen en sonder sy bruid voor die kansel gestaan toe sy huwelik voltrek is? En tog verwag die a-millennialiste dat die Here Jesus Christus – die Bruidegom van alle bruidegoms – se huwelik sonder Sy bruid aan Sy sy voltrek moet word.

Onthou! In Lukas 12: 35, 36 sê die Here Jesus baie duidellik “En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom . . .” As dit nie die bruid is wat gereed moet maak om vir die Bruidegom oop te maak nie, wie is dit dan? Openbaring 19: 7-16 beskryf die bruilofsmaal wat na die voltrekking van die huwelik plaasvind. Lukas 12: 35 en 36 suggereer dat die huwelik self in die hemel voltrek word maar dat die bruilofsmaal (die huweliksonthaal) op die aarde gevier gaan word. Verskeie gelykenisse in Mattheus, o.a. die gelykenis van die vyf wyse en vyf dwase maagde in hoofstuk 25 en die gelykenis van die persoon wat betrap is sonder ’n bruilofskleed by die bruilofsmaal in hoofstuk 22 is voldoende bewys dat dié feesmaal op die aarde gevier sal word.

Dit is voor-die-hand-liggend dat as die Bruilof van die Lam en die toebereiding van die bruid in haar rein en ongekreukelde fyn linne reeds ’n voldonge en afgehandelde gebeurlikheid sal wees wanneer Christus Jesus na die aarde terugkeer met Sy Tweede Koms, dan moes die bruid op een of ander stadium voor Sy Tweede Koms saam met Hom na Sy hemel verhuis het. Inderdaad, Christus Jesus het belowe: Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14: 2, 3). Op hierdie tydstip is dit belangrik om daarop te wys dat die koms van die Here vir Sy eie gepaard gaan met ’n beloning (1 Kontinthiërs 4a: 5; 2 Korinthiërs 5: 10; Openbaring 22: 12). Dit bring ons by die betekenis va die Bema-troon oordeel wat nie met die wit troon oordeel van Openbaring 20:11 verwar moet word nie. Die eersgenoemde is net vir die gelowiges en laasgenoemde net vir die ongelowiges.

Die Skrif omskryf baie duidelik twee tipe opstandings — die opstanding van die regverdiges en dié van die onregverdiges. Sommiges interpreteer Handelinge 24: 17 as ’n enkele en gelyktydige gebeurtenis. As ons egter na Openbaring 20 verse 5 en 6 kyk, is daar twee duidelik onderskeibare opstandings — dié van almal wat gedurende die Groot Verdrukking vir hulle getuienis onthoof is en vóór die duisenjarige vrederyk opstaan om saam met Christus te regeer en alle ongelowiges wat eers ná die duisendjarige vrederyk opstaan om by die wittroon oordeel finaal in die poel van vuur gewerp te word. Maar, hoe nou gemaak met die opstanding van die dooies by die Wegraping. Is dit nie die eerste opstanding nie? Sommiges maak die fout om “eerste” en “tweede”te sien as twee sekwensiële of chronologiese gebeurlikhede, terwyl die Bybel dit nie so bedoel nie. “Eerste” en “tweede” het bloot ’n kwalitatiewe betekenis, in die sin dat die eerste lei tot ’n ewige heerlikheid en die tweede tot ’n ewige verskriklike verdoemenis.

Die opstanding van die ontslape gelowiges soos beskrywe in 1 Korinthiërs 15: 51-55 en 1 Thessalonicense 4: 17 maak deel uit van die eerste opstanding wat lei tot ’n oordeel — die sg. Bema-troon oordeel van Christus. Die doel hiervan is nie om te bepaal of iemand se naam in die Boek van die Lewe voorkom al dan nie, maar om die werke van die gelowiges ná hulle bekering met vuur op die proef te stel om te bepaal wie van hulle lone of krone sal ontvang. Ons lees hiervan in 1 Korinthiërs 3: 11-15:

Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op die fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Daar bestaan geen twyfel nie dat die Bema-troon oordeel net vir gelowiges bedoel is. Die persoonlike naamwoord kom te dikwels in 2 Korinthiërs 5:1-9 voor om dit oor die hoof te sien of te ontken. Alleenlik die gelowige kan ’n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” hê. Alleenlik die gelowige kan “die sterflike deur die lewe verslind” ervaar. Alleenlik die gelowige kan God se werking ervaar wat “ons ook die Gees as onderpand gegee het.” Alleenlik die gelowige kan die sekerheid hê dat terwyl “ons in die liggaam uitwoon, ons van die Here inwoon.” Alleenlik die gelowige kan “wandel deur die geloof en nie aanskouing nie.” Elke gelowige se werk wat hy/sy in die liggaam gedoen het (2 Korinthiërs 5: 10) sal deur vuur op die proef gestel word om vas te stel wie een of meer van die volgende lone sal ontvang:

  • ’n Onverwelklike kroon vir elkeen wat oorwinning kry oor hulle vleeslike natuur (1 Korinthiërs 9: 25).
  • ’n Kroon van Roem en Blydskap vir die sielewinner (1 Thessalonicense 2: 19).
  • Die Kroon van die Lewe vir elkeen wat versoekinge verdra en die toets deurstaan (Jakobus 1: 12).
  • Die Kroon van Geregtigheid wat Sy verskyning (by die Wegraping) liefgehad het (2 Timotheus 4: 8).
  • Die Onverwelklike Kroon van Heerlikheid vir elkeen wat bereid is om die skape die regte voeding te gee (1 Petrus 5: 4).

Dit is duidelik dat die Bruilof van die Lam ná die beëindiging van die Bema-troon oordeel in die hemel sal plaasvind terwyl God se oordele sewe jaar lank oor die nasies onder aanvoering van die Antichris uitgestort sal word. Dit bring my flussies weer by die argument dat die wegraping, volgens die teëstanders van ’n Pre-Groot Verdrukking Wegraping, eintlik maar die Tweede Koms van Jesus Christus na die aarde is wanneer Hy die gelowiges gaan opraap om Hom in die lug tegemoet te gaan net om weer dadelik na die aarde terug te keer om die nasies te oordeel. Sou dít waar wees, sal daar hoegenaamd geen tyd besklikbaar wees vir die Bema-troon oordeel en die bruilof van die Lam nie.

Dit bring my by die volgende vraagstuk wat die teëstanders van ’n Pre-Groot Verdrukking Wegraping voor die deur van die wegraper-gelowiges lê en dit is: Sal die gelowiges deur die Groot verdrukking moet gaan? Twee baie duidelik onderskeibare betekenisse van die woord “verdrukking” word in die Bybel gebruik. Dat die gelowige verdrukking in hierdie lewe moet en sal ervaar is nie altemit nie. Die Here Jesus self het gesê dat ons verdrukking sal hê maar dat ons goeie moed moet hou want Hy het die wêreld vir en namens ons oorwin (Johannes 16:33). Die verdrukking wat gelowiges ervaar, het ’n gans ander doel en betekenis as die Groot Verdrukking waarvan Christus in Mattheus 24 melding maak. In hierdie welbekende hoofstuk waarin Jesus ’n blik op die eindtye gee, definieer Hy die Groot Verdrukking as ’n unieke tyd waarin daar so ’n groot verdrukking sal wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie (Mattheus 24: 21). Hy kon dus kwalik na die verdrukking van gelowiges verwys het omdat sodanige verdrukking en vervolging reeds van die begin van die skepping voorgekom het en tot vandag toe nog voortduur. Daar is dus niks unieks aan die verdrukking van die gelowiges nie omdat dit nie net eenmaal en toe nooit weer daarna plaasgevind het nie.

A-millenianiste (Prestriste) plaas die Groot verdrukking in die tydperk 70VC toe Jerusalem en die tempel deur die Romeine onder aanvoering van Flavius Vespasianus Titus vernietig is. Indien dit wel die Groot Verdrukking was dan het Christus gelieg toe Hy gesê het: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.” Elkeen wat bereid is om sy intellegensie wat die Here hom gegee het te gebruik, sal gou agterkom dat Hitler se vervolging en moord van 6 000 000 Jode ’n veel groter en intenser of ten minste netso ‘n groot verdrukking was as dié van Titus. As ’n mens die omvang van die Tweede Wêreldoorloog in oënskou neem, dan sou ons die Groot Verdrukking eerder tussen 1938 en 1945 kon plaas omdat Openbaring 3:10 sê dat ’n uur van beproewing oor die hele wêreld kom. Maar, ook die Tweede Wêreldoorlog en enige ander oorloë wat daarop gevolg het, kon gewis nie die Groot Verdrukking wees nie omdat die gebeure wat onmiddelik na die Groot Verdrukking gaan afspeel hoegenaamd nog nie plaasgevind het nie. Vanaf vers 29 van Mattheus 24 lees ons:

“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.”

Die Wegraping van alle gelowiges om Christus in die lug tegemoet te gaan, is ‘n unieke gebeurtenis wat in sy wese en doel verskil van Christus se Tweede Koms na die aarde. Ek sal in die verloop van hierdie reeks oor die Wegraping hierdie verskille aandui.

7 Responses to “Die Pre-Groot Verdrukking Wegraping – Deel 1”

  1. Magda Kopp said

    Al wat ek hierop kan antwoord is ons moet altyd gereed wees dat as Jesus kom daar olie in ons lampies is.

    Ek glo Hy gaan kom en elkeen se werke sal aan die lig gebring word.

    Here seen

Leave a Reply

XHTML: You can use these tags: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <pre> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>