Die Pre-Groot Verdrukking Wegraping – Deel 2
Posted by Thomas on January 10, 2009
In hierdie , die tweede aflewering in my reeks oor die Pre-Groot Verdrukking, bespreek ek Ds H.P.M. van Ryn se siening oor die Wegraping wat op 3 Julie 2002 in Die Kerkblad verskyn het. Sy siening rondom die Wegraping is nog steeds die algemene beskouing van die gereformeerde kerke. Hy skrywe:
Die Wegraping is iets waaroor baie gelowiges deesdae praat. Boekwinkels is vol boeke met die Wegraping as tema. Oor die radio hoor ons ook advertensies van gewilde boeke wat oor die Wegraping handel. Maar wat behels die Wegraping en waarom preek Gereformeerde predikante nie daaroor nie?
“Waarom preek gereformeerde predikante nie daaroor nie?” Dis ’n baie goeie vraag omdat dit nie alleen Ds. Van Ryn se subjektiewe benadering tot die apologie blootlê nie maar ook die elgemene gemis aan profetiese perdiking in die gereformeerde kerke oor die algemeen toelig. Gereformeerde predikante preek weinig of ooit oor Ou of Nuwe Testamentiese profesieë hoofsaaklik omdat hulle belangrike eskatologiese gebeure vergeestelik of allegoriseer of omdat hulle dit op die teenswoordige kerk toepas en nie Israel nie (Vervangingsteologie). ‘n Belangrike vraag wat ons natuurlik ook vir ons moet afvra is, van wanneer af is streng gereformeerheid die finale litmustoets waarvolgens Byblese leerstellings uieindelik as reg of verkeerd geëvalueer moet word? Wil Ds. van Ryn voorgee dat die algehele gemis aan die prediking oor die Wegraping onder Gereformeerde predikante ’n klinklare bewys is dat die leer oor die Wegraping ’n mite is? Hoe seker is hy dat ’n gereformeerde predikant nog nooit daaroor gepreek het nie? Om so ’n stelling te kan maak moes hy tot dusver elke preek van alle gereformeerde predikante dwarsdeur die geskiedenis van die kerk gehoor het, wat natuurlik onmoontlik is en sy statistiek gevolglik op ’n baie wankelrige fondament plaas. Is die prediking van gereformeerde predikante die finale barometer waarvolgens ’n mens enige leerstelling toets of is dit die Woord van God? Paulus het hom nie juis aan hooggeplaasdes in die kerk gesteur wanneer suiwer leerstelling onder die loep gekom het nie. Luister wat sê hy in Galasiërs 2:6. Ek haal aan uit die Amplified Bible.
Moreover, [no new requirements were made] by those who were reputed to be something, though what was their individual position and whether they really were of importance or not makes no difference to me; God is not impressed with the positions that men hold and He is not partial and recognizes no external distinctions. Those [I say] who were of repute imposed no new requirement upon me — had nothing to add to my Gospel and from them I received no new suggestions.
Ds. Van Ryn se verwysing na die gereformeerde predikante se posisie in die beslissing van korrekte leerstelings al dan
nie is maar net nog ’n saadjie wat vanaf die Roomse kerk na die Gereformeerde kerke oorgewaai het. Wat die Priester (Roomse kerk) en die Dominee (“Meester” in die Gereformeerde kerke) sê mag nie betwyfel word nie omdat dit enige verdere vrae m.b.t. Bybelse leerstellings totaal oorbodig maak. Ek het al by verskeie geleenthede in my gesprekke met
mense sekere dinge uit God se Woord aangehaal en verduidelik net om later deur die persone gekonfronteer te word met die woorde “Ek het my predikant oor hierdie vraagstuk in die Bybel geraadpleeg en hy stem gladnie met jou saam nie. Ek luister eerder na my predikant want hy is tog immers my herder en nie jy nie.” Dat die oorgrote meerderheid gereformeerde predikante weinig of ooit oor die Wegraping, die letterlike 7-jarige Groot Verdrukking, die Tweede koms van Christus Jesus na die aarde en die daaropvolgende letterlike 1000 jaar van vrede op aarde preek, is te verstane. Die gereformeerde prediking berus hoofsaaklik op Luther en Calvyn wat op hul beurt weer in ’n baie groot mate deur Augustinus beïnvloed is.
Waaraan het A-millennialisme sy ontstaan te danke?
Dit is ironies dat die gereformeerde kerke die kerkvader Augustinus met hoë agting bejeen terwyl hy in ’n baie groot mate die fondamente van die Roomse kerk gelê het.
Daar het in die 3de eeu N.C. ’n duidelike antagonisme teen die pre-millenniale posisie onder Gauis en Clemens Alexandrinus, die Preseptor in die Kategetiese Skool van Alexandrië ontstaan wat op hulle beurt ’n baie sterk invloed op Origines (185-254 N.C.) en Dionysius (190-265 N.C.) uitgeoefen het. Dit is inderdaad ook Origines wat ’n stewige fondament vir die allegoriese metode van interpretasie gelê het maar dit was Augustinus wat die allegoriese siening van die Millennium sorgvuldig gesistematiseer het. Een van die hoofredes waarom die letterlike siening verwerp is, was omdat dit “Joods” van aard is. Daar is veral twee belangrike dinge wat tot die dood van die millenniale hoop in die gereformeerde kerke tot gevolg gehad het.
-
Die Vervangingsteologie wat reeds in die tyd van Paulus sy lelike kop uitgesteek het. Dit behels die geloof dat God al Sy beloftes aan nasionale Israel na die geestelike Israel (die kerk) oorgedra het omdat die Jode Christus verwerp het. Ironies genoeg is dit vandag die sg. Geestelike Israel (die kerk) wat in ’n baie groot mate vir Christus Jesus vewerp en in toenemender mate valse Christusse, ’n ander Evangelie en ’n ander gees aanhang. Selfs baie van die Gereformeerde Kerke hou hulle besig met onbybelse leerstelinge en verdra die valse leermeesters wat in hulle midde is. En tog noem hulle hulself die “Nuwe Israel.” Hoe rym dit?
-
Die vereniging van kerk en staat onder Konstantyn. Keiser Konstantyn het ter wille van sy eie politieke aspirasies die wêreld en sy menings by die kerk ingedra. Overgeset synde is die hedendaagse kerk besig om ter wille van oorlewing presies dieselfde te doen. Die kerk is nie meer langer daarop ingestel om te weet wat die Here sê nie maar wat die samelewing te sê het oor vraagstukke soos homoseksualisme en dies meer. Daarom haal predikante al hoe meer hedendaagse filosowe, sielkindiges en predikers aan (soos M. Scott Peck, Stephen Covey, John de Martini, Brian McLaren, Leonard Sweet, Rob Bell, Doug Pagitt, en Rick Warren) pleks daarvan om met oortuiging te verklaar “So sê die Here.”
Laat ons kortliks kyk na sommige van Augustinus se belangrikste eienskappe.
-
Hy was nie ’n gewone Roomse Katoliek nie maar die beroemdste en invloedrykrykste een in die geskiedenis van die kerk. -
Hy was een van die oorspronklike Roomse Doktors van die Kerk aan wie ’n feesdag op 28 Augustus in die Roomse Katolieke Kerkjaar gewy word.
-
Die ontslape Pous Johannes Paulus II het hom die “algemene vader van ons Christen-samelewing” genoem. In teenstelling met Pous Johannes Paulus II se lofsange, het William P. Grady van hom gesê: “Die misleide Augustinus (354-430) het so ver gegaan om aan die hand van sy boek “Die Stad van God” te verkondig dat Rome die voorreg gehad het om die Millennium (die simboliese 1000 jaar regering van die kerk op aarde) in te lei.
-
Augustinus het die Roomse Kerk gemoduleer in die vorm wat dit vandag nog handhaaf. Die meeste evangeliese kerklui wat ’n letterlike 1000 jaar van vrede op aarde verwerp, het wetend of onwetend onder die betowering van Augustinus gekom ten spyte van sy vaste credo dat “Ek die Evanglie nie sal glo nie tensy ek deur die outoriteit van die Katolike Kerk daartoe beweeg word.” Daar is nouliks ’n enkele dwaalleer wat die Roomse kerk tot vandag toe omarm wat nie by Augustinus ontstaan het nie. Dit sluit die wederbarende kinderdoop in terwyl kinders wat ongedoop doodgaan tot die eiwge hel verdoem word; die noodsaaklikheid van die doop vir die vergewing van sondes; die vagevuur; redding wat alleenlik in die Roomse kerk plaasvind; verlossing deur werke; en vervolging van almal wat die Roomse dogmas werwerp.
-
Hy het die volgende dinge aanvaarbaar gemaak — die Apokriewe boeke wat selfs deur die Jode verwerp is; die allegoriese of simboliese interpretasie van groot gedeeltes van die Skrif, veral met betrekking tot die eindtye asook die allegoriese interpreatasie van die sesdaagse skeppingsverhaal omdat hy gesê het dit nie letterlik verstaan moet word nie.
-
Hy het die persoonlike en letterlike regering van Christus op aarde vir ’n 1000 jaar verwerp en volgehou dat die Kerk (gelowiges) tans regeer en dat Satan gebind is.
-
Hy het benadruk dat Satan tans gebind is op grond van die feit dat “mense self nou en ongetwyfeld tot die einde van die wêreld gerehabiliteer sal word van die geloof dat Satan in die bodemlose put gewerp sal word” (Openbaring 20:1-3). Selfs nog meer verbasend is sy standpunt dat die bodemlose put waarin Satan opgesluit sal word . . . nou alreeds in die dieptes van die blinde harte van die Christus-haters gebind is.
-
Die veragtelike vervolging en dood van miljoene evangeliese Christene en Jode was die gevolg van sy inkwisisie-agtige uitlating: “Waarom moet die Kerk dus nie geweld gebruik om haar velore seuns te dwing om na haar terug te keer nie? Die Here self het gesê ‘Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom . . .’ Daarom is die mag wat die Kerk ontvang het – deur die religieuse karakter en geloof van konings – die instrument waardeur diegene wat in die paaie en lanings gevind word – d.w.s. in die ketterye en divisies – gedwing word om in te kom en laat hullle nie fout vind daarmee om gedwing te word nie.”
Die geskiedskrywer Allis skryf:
He (Augustine) taught that the millennium is to be interpreted spiritually as fulfilled in the Christian Church. He held that the binding of Satan (Revelation 20) took place during the earthly ministry of our Lord (Luke 10:18), that the first resurrection is the new birth of the believer (John 5:25), and that the millennium must correspond, therefore, to the inter-adventual period of the Church age. This involved the interpreting of Revelation 20:1-6 as a “recapitulation” of the preceding chapters instead of as describing a new age following chronologically on the events set forth in chapter 19.
Die geskiedskrywer Peters skryf:
It may be briefly stated as a self-evident fact, that the entire spirit and aim of the papacy is antagonistic to the early church view, being based on coveted ecclesiastical and secular power, on extended jurisdiction lodged in the hands of a Primate . . . when a system was founded which decided that the reign of the saints had already begun – that the Bishop of Rome ruled on earth in Christ’s place; that the deliverance from the curse would only be effected in the third heaven; that in the church as kingdom, there was “an aristocracy” to which unhesitating obedience must be rendered; that the prophetical announcements respecting Messiah’s Kingdom were fulfilling in Romish predominance, splendor, and wealth; that the rewarding and elevation of saints was not dependant upon the Second Advent, but upon the power lodged in the existing Kingdom, etc. etc. – then it was that Chiliasm (belief in a literal 1000 years of Christ’s reign on earth), so distasteful and obnoxious to these claims and doctrines, fell beneath the powerful and world-pervading influence exerted against it.
As die Roomse Kerk die dier uit die see is, soos baie evangeliese Christene van die vorige eeu geglo het, dan kan ons sonder enige redelike twyfel aflei dat die leerstellings van die A-millennialisme sy oorsprong by die dier uit die see gehad het. Hoe kan enigeen ’n eskatologiese leerstelling van ’n man aanvaar wie se leerstellings oor genade en verlossing nie tred hou met dit wat die Bybel ons leer nie?
Ds H.P.M. skryf voorts
Aanhangers van dié leer hou verskillende variasies voor en daarom is dit moeilik om presies te sê wat hulle glo. Die Wegraping is in kort ‘n leerstuk wat sê dat Jesus voor sy finale wederkoms skielik eers nog ‘n slag sal kom om die gelowiges te haal. Hy kom die gelowiges haal sodat hulle die tyd van die Groot Verdrukking, wat net voor die finale wederkoms gaan plaasvind, kan vryspring en dit hulle gespaar kan bly.
Die Groot Verdrukking gaan dus net die ongelowiges tref wat op aarde gaan agterbly, want Jesus het sy kerk kom wegraap. Wanneer hierdie tyd verby is, dan gaan Jesus weer kom om te oordeel en dan gaan die ewige lewe aanbreek. In totaal kom Jesus dus drie keer aarde toe – eers met sy geboorte, dan met die Wegraping en dan met die Wederkoms. Dit klink baie troosvol, maar is dit waar? Is dit regtig wat die Bybel sê?
Ja! Dit is regtig wat die Bybel sê. Die Here Jesus self het belowe dat Hy Sy volgelinge (skape) van die Groot Verdrukking sal bewaar sodat hulle dit geheel en al mag vryspring. Dit is algemeen bekend dat die sewe kerke in Openbaring 3 as tipes van die kerk deur die eeue heen gesien word. Wat die Here Jesus toe vir elke afsonderlike gemeente gesê het, sê Hy ook vandag vir elke individuele gemeente wat in die voetstappe van een van die sewe kerke volg. Aan die kerk van Filadelfia het Hy gesê:
Openbaring 3:10 Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.
Dat daar ’n spesifieke tydstip (’n uur) in die geskiedenis van die mensdom gaan kom waarin God die ganse wêreld op die proef gaan stel en oordeel, is nie te betwyfel nie. Daarvan getuig die boeke Daniël en Openbaring baie duidelik. Die bewaring gaan dus nie om ‘n vrymaking uit die hand van die antichris nie, maar vanuit die greep van die oordele van God self wat tydens die sewejarige Groot Verdrukking (die uur van beproewing) oor die hele wêreld uitgestort sal word. In die profetiese rede wat Daniël van die engel Gabriël ontvang het, het God gesê dat Hy ’n dekreet van 70 weke of Joodse “Shabuas” (490 jaar) oor Sy volk Israel en Jerusalem uitgevaardig het sodat Hy Sy doel met hulle kan bereik. Vier honderd drie en tagtig jaar van die 490 is alreeds letterlik vervul. Hierdie tydsverloop behels kortliks die volgende.
Vanaf die dekreet wat Koning Artaxerxes aan Nehemia uitgevaardig het en hom die toesetmming verleen het om Jerusalem te herbou (let wel, nie net die tempel nie) tot en met Jesus se intog op ’n donkie in Jerusalem toe Hy Hom openlik as Israel se Messias geopenbaar het, het presies 483 jaar verloop. As hierdie tydsverloop só letterlik vervul is dan moet die oorblywende 7 jaar netso letterlik vervul word. Dit sou voorwaar onvanpas wees om die 483 jaar as ’n letterlike tydsverloop te interpreteer en die oorblywende sewe jaar te vergeestelik (simboliseer). Dat daar tot dusver meer as 2000 jaar verloop het sonder dat die laaste sewe jaar van die 490 jaar in vervulling gegaan het, is ’n voldonge feit. Waarom vertraag God die aanvang van die laaste 7 jaar van die 490 jaar wat Hy oor Sy volk Israel en Jerusalem uitgevaardig het? Ons vind die antwoord in 2 Petrus 3: 9:
Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
M.a.w. God se lankmoedigheid is besig om die laaste sewe jaar waarin Hy Sy regverdige oordele oor die hele aarde gaan uitgiet, uit te stel. Hy is tans besig om te kyk of daar nie nog mense is wat hulle tot Hom wil bekeer nie. Die vraag is nou net: waanneer gaan God sê “Genoeg is genoeg. Tot hiertoe en nie verder nie.”
Daar is veral twee dinge wat op die oomblik nog moet plaasvind alvorens die laaste sewe jaar van die 490 jaar (70 weke) kan begin aftik. Die een vind ons in Romeine 11: 25 en die ander in 2 Thessalonicense 2: 6.
Romeine 11:25 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;
2 Thessalonicense 2:6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.
Wat die laasgenoede betref is dit nodig om eers te kyk na die Here Jesus se woorde in Johannes 5:43:
Johannes 5:43 Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hom sal julle aanneem.
Dit is ’n onteenseglike feit dat die “hom” nie net na die leerstellings van ’n spesifieke persoon of na ‘n gees of ‘n klomp geeste verwys nie maar na die letterlike persoon self want dit is ook onteenseglik so dat die Jode niemand as hulle Messias sal aanvaar nie, tensy hy die vrede aanbring wat hy belowe het. Ons beleef tans daagliks op TV die oorlog wat in Gaza in die Midde-Ooste woed. Die Jode met wie CNN en Sky News onderhoude voer, sê telkens dat hulle maar net in vrede saam met die sg. Pallestyne (Jordaniese Arabiere) wil saamlewe. Verskeie wêreldleiers se pogings om hierdie vrede te bewerkstellig, het telkens misluk. Maar, daar is iemand wat moontlik tans reeds in die vleuels van die wêreldverhoog wag om hierdie vrede aan te bring. Hy is die antichris van wie Jesus in Johannes 5:43 gepraat het. Hoewel dit ’n valse vrede sal wees, gaan hy daarin slaag om die Jode te oortuig dat hy hulle langverwagte Messias is wat vir hulle die vrede in hulle eie land sal meebring en hulle sal dan ‘n geskrewe verbond van sewe jaar met hom sluit.
Daniël 9:27 En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.
Daniël 8:25 En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.
Ek hou meer van die KJV se vertaling van Daniel 8: 25 want dit bring die wyse waarop hy sy vernietigingswerk gaan doen vir my baie beter na vore.
“ . . . and by peace (prosperity) shall destroy many: he shall also stand up against the Prince of princes; but he shall be broken without hand.”
Die Here Jesus het in Mattheus 24:15, 16 hierna verwys:
Mattheus 24:15, 16 Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet — dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; . . .”
Ds, H.P.M. van Ryn skryf voorts:
Begronding? Die woord “wegraping” staan nêrens in die Bybel nie. In die Ou Vertaling staan die woord “wegraap” net drie keer en dit net in die Ou Testament (Jer 8:13; Sef 1, 2 en 3). By aldrie hierdie tekste gaan dit oor God wat ongehoorsames gaan bymekaar maak om hulle te oordeel. Hier is dus nie sprake van ‘n wegraping soos wat hierdie leer bedoel nie.
Dit is ondenkbaar, om nie eens te praat van die onvanpastheid daarvan nie, dat geleerde mense voortdurend een van die swakste en naïefste eksegetiese argumente gebruik wanneer hulle met soveel oortuiging sê “Dié of daardie woord kom gladnie in die Bybel vooor nie.” Dit is darem ’n bietjie te dik vir ’n daalder om aanvanklik te sê dat die woord “wegraping” nêrens in die Bybel voorkom nie en dan onmiddellik te erken dat dit wel in die Ou Testament (ou vertaling) verskyn. Daarby gesê is die “nêrens-in-die-Bybel-te-vinde-strategie” nie baie oortuigend nie. Die woord “drie-eenheid” (“Trinity”) is ook nêrens in die Bybel te vinde nie. Beteken dit dan dat die Drie-eenheid ’n mite is? Die meeste apologete wat versuim om hulle standpunte vanuit die Woord van God te verantwoord of om dit op soliede eksegese te baseer, kap gewoonlik baie gou terug met die teenaanval “Maar dié of daai woord kom nie eens in die Bybel voor nie.” Dit is hierdie soort van subjektiewe argumente wat Bybelse waarhede in ’n baie slegte lig bring by mense wat werklik soek na die waarheid.
Ds. H.P.M. van Ryn skryf dan as volg:
Waarop word die leer van die sogenaamde Wegraping dan begrond? Dit word begrond op gedeeltes soos 1 Tessalonisense 4 :17. Kyk, daar staan dit dan in die Bybel, sal aanhangers van dié leer sê: “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug: en so sal ons altyd by die Here wees.” Daar staan dit mos. Die Here gaan ons kom wegraap! En kyk maar na Matteus 24: 40, 41: “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.” Skielik sal al die gelowiges van die aarde weggeneem word en dan sal die groot verdrukking aanbreek onder die ongelowiges.
Daar is net een manier om 1 Thessalonicense 4: 17 se woorde “saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug” as die wegraping te weerlê en dit is om dit te vergeeestelik. Dit sou natuurlik ’n hele aantal ernstige tameletjies tot gevolg hé. In die eerste plek sou dit moes beteken dat die Here Jesus se wederkoms self ook vergeestelik (allegoriseer) moet word. Verskeie kerkleiers in die NG Kerk is alreeds besig om die wederkoms van Jesus Christus te vergeestelik of om dit heeltemal te ontken, en so-ook met sy opstanding uit die dood.
Soos ek reeds in my inleiding gesê het, gee die opponente van die Pre-Groot Verdrukking Wegraping toe dat daar wel so iets soos ’n opraping in hierdie geedeelte moet plaasvind. Daar staan tog immers baie duidelik geskrywe dat die uit-die-dood-opgestane-heiliges en die lewend-oorgeblewe-heiliges die Here in die lug sal ontmoet. Kom hulle deur hulle eie toedoen en krag daar bo in die lug by die Here uit of gaan hulle deur die bonatuurlike krag van die Here daarheen opgeraap (weggeraap) word? Let daarop dat daar hoegenaamd niks in hierdie gedeeltes van die ongelowiges gepraat word nie. Volgens Openaring 20 sal alle ongelowiges eers na die 1000-jarige vrederyk uit die dood opgewek word om by die Wit-troon oordeel geoordeel en daarna in die ewige vuurpoel gewerp te word (Openbaring 20: 5, 6, 11-15). Die vurigste teenstanders van die Wegraping sal moet erken dat daar ’n letterlike opraping (harpazo) vanaf die aarde na die lug (aer — atmosferiese ruimte bokant die aarde) sal plaasvind. Gevolglik gaan dit nie daarom of daar ’n wegraping gaan plaasvind nie maar wanneer dit gaan gebeur. Ek praat nie van ’n presiese datumbepaling nie, maar of dit voor, midde of na die sewejarige verdrukking gaan plaasvind. Dit maak dus nie saak hoe hard en hoe vurig die teenstaanders probeer om die Wegraping as ’n letterlike en toekomstige gebeurtenis te weerlê nie, hulle kan nie ontken dat 1 Thessalonicense 4:17 se woorde “weggevoer word die Here tegemoet in die lug” ’n letterlike opraping (harpazo) sal wees nie.
Ds. H.P. M van Ryn vervolg:
Weerlegging
Is dit regtig wat daar staan? Dat Jesus die gelowiges van die aarde gaan wegneem sodat hulle die groot verdrukking gespaar kan bly? Staan daar regtig iewers in die Bybel dat Jesus nog twee keer gaan kom? Nee, dit staan nêrens nie. Inteendeel, Matteus 24 waarsku gelowiges juis om gereed te wees vir die volgende en finale koms van die Here – die wederkoms. Daar staan niks van ‘n wegraping voor die wederkoms nie.
Die Skrifgedeeltes waarna die aanhangers van die wegraping verwys, het gewoonlik op Jesus se finale wederkoms betrekking. Die wederkoms self word in hierdie gedeeltes beskryf. Die twee wat op die land werk en waarvan een saamgeneem word en die ander agtergelaat word, is ‘n manier om die oordeel van God te verduidelik. Gelowiges en ongelowiges woon en werk nou nog saam hier op die aarde, maar wanneer die wederkoms aanbreek, dan vind die oordeel plaas en dan word die gelowiges en ongelowiges vir altyd van mekaar geskei – een word saamgeneem na die ewige lewe en die ander word agtergelaat vir die ewige dood. Dit wat in Matt 24: 40, 41 gesê word, word dus herhaal in Matteus 25: 31-33. Hier is definitief geen sprake van ‘n eerste en ‘n tweede wederkoms nie. Alleen maar een enkele wederkoms wat met verlossing en oordeel gepaard gaan.
Dieselfde met 1 Tessalonisense 4: 17. As daar staan: “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug”, dan troos die Here ons met hierdie gedagte: Wanneer die wederkoms plaasvind, dan kom Jesus en Hy bring die siele van die gelowiges wat reeds gesterf het, saam. Hulle liggame sal dan opgewek word, met hulle siele verenig word en daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so, saam met ons geliefdes wat reeds gesterf het, sal ons vir altyd by die Here wees.
Weer eens, hier is geen sprake van Jesus wat nog twee keer moet kom nie. Dit is baie duidelik ‘n beskrywing van Jesus se finale wederkoms.
Dit is so dat hoofstukke 24 en 25 van Mattheus nie die Wegraping beskrywe nie maar wel die Tweede Koms van die Here Jesus na die aarde om die nasies te oordeel. Dit opsigself is maar een van die hoofverskille tussen die Wegraping en die Tweede Koms. By die Wegraping is dit slegs die opgestane en oorgeblewe lewende heilges wat die Here in die lug tegemoet sal gaan wanneer Hy kom soos ’n dief in die nag. M.a.w. in 1 Thessalonicense 4: 17 is Sy koms (die Wegraping) nie na die aarde nie. By Sy Tweede Koms, lees ons in Sagaria 14: 4, sal Sy voete op die Olyfberg staan en die berg sal van die Ooste na die Weste middeldeur gesplyt word sodat die een kant na die Noorde en die anderkant na die Suide wegwyk. Om hierdie betrokke verskil te akkomodeer, sê die anti-Wegraping groep dat die heiliges (soos beskrywe in 1 Tthessalonicense 4: 17) Hom in die lug tegemoet sal gaan net om Hom onmmiddellik terug te begelei na die aarde om die nasies te oordeel. Dit sou beteken dat daar hoegenaamd geen tyd ingeruim sal kan word vir die Bema-troon oordeel en die Bruilof van die Lam nie, en dat daar dus ook geen sewejarige verdrukking sal wees nie. Hierop sal die a-millenialiste waarskynlik antwoord dat daar net ’n enkele oordeel sal wees van beide die gelowiges en die ongelowiges (Wit-troon oordeel) en dat die uitdeel van lone en krone en die bruilof van die Lam onmiddellik na die Wit-troon oordeel sal geskied. Dit is nie wat die Bybel ons leer nie. In Lukas 12: 35 en 36 waarsku die Here Jesus “En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.” (Lees maar gerus weer die gelykenis van die vyf wyse en die vyf dwase maagde in Mattheus 25). Dit as sodanig spreek boekdele wat ons sal help om ’n paar dinge te onderskei. As die vyf wyse en vyf dwase maagde ’n beskrywing was van die Wegraping dan sou die onverwagse en enige-oomblik element van Sy koms daarmee heen wees omdat beide die gereddes (wyse maagde) en die ongereddes (dwase maagde) hulle self gereed maak om die Bruidegom te ontmoet. As die meeste gelowiges nie eens vandag glo dat die Here enige oomblik soos ’n dief by die Wegraping in die nag kan terugkeer nie hoe op dees aarde kan ’n mens verwag dat die ongelowiges besig is om hulle gereed te maak vir sy koms en die Bruidegom tegemoet te gaan? Die vyf dwase maagde is nie gelowiges nie maar ongelowiges (naam-Christene).
Wanneer die Here Jesus terugkeer met Sy tweede koms, sal die bruilof van die Lam en Sy bruid (alle gelowiges) reeds ’n gedane en afgehandelde saak wees. In my inleiding het ek reeds daarop gewys dat die woord “erchomai” (“het gekom” — Openbaring 19:7), in die geval waar mense betrokke is, nie beteken dat iets op daardie spesifieke oomblik aangebreek het nie, maar dat ’n reeds voldane gebeurtenis van een plek na ’n ander gekom het. In hierdie geval beteken dit dat die “paartjie” (Bruidegom en bruid) na die reeds voldane huwelik van die Lam wat in die hemel voltrek is (ná die Wegraping), by Sy Tweede Koms na die aarde sal terugkeer om die huweliksmaal te geniet. Die Christene se huwelikseremonie is ‘n toonbeeld hiervan. Die huwelik self word in die kerk voor die kansel voltrek waarna die bruilofspaar en hulle gaste na ‘n ander lokaal gaan om die huweliksmaal te nuttig. Die Jode en baie van die heidene wat die sewejarige verdrukking oorlewe, sal dan as gaste na die bruilofsmaal genooi word en die enigste voorwaarde om toegang tot die bruilofsmaal te verkry, sal wees om met ’n bruilofskleed oorklee te wees — om gered te wees (Mattheus 25: 12, 13; Jesaja 61: 10).
Mattheus 22:9-13 Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
Baie Jode en heidene wat nie tydens die Wegraping die Here in die lug tegemoet gaan nie, sal gedurende die Groot Verdrukking tot bekering kom en met hulle natuurlike liggame toegang verleen word tot die Bruilofsmaal van die Lam op aarde wanneer Jesus met sy Tweede Koms terugeer na die aarde, mits hulle oorklee is met ‘n bruilofskleed. A-millennialiste verkla die Wegraper-gelowiges van drie wederkomste – die eerste koms van Jesus as mens om gekruisig te word, die Wegraping en sy koms soos dit in Sagaria 14 beskrywe word. Daar is egter net twee komste van Hom na die aarde — sy eerste koms as mens en sy tweede koms in Sagaria 14. Sy koms by die Wegraping is nie na die aarde nie maar in die lug om soos ‘n dief in die nag sy Bruid te kom haal vir die huwelik in die hemel.
Indien die volgende stelling van Ds. Van Ryn waar sou wees: “Wanneer die wederkoms plaasvind, dan kom Jesus en Hy bring die siele van die gelowiges wat reeds gesterf het, saam. Hulle liggame sal dan opgewek word, met hulle siele verenig word en daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so, saam met ons geliefdes wat reeds gesterf het, sal ons vir altyd by die Here wees,” sou dit beteken dat slegs die gestorwe heiliges wat saam met Hom terugkeer by Sy Tweede Koms om met hulle liggame verenig te word, deel sal wees van die bruilof van die Lam in die hemel. Gaan net ’n deel van die Bruid van die Lam langs Hom staan wanneer Sy huwelik in die hemel voltrek word? Onthou, volgens Lukas 12: 35, 36, wanneer die Here trugkom, sal Hy terugkom as die Bruidegom wat reeds Sy huwelik met Sy bruid in die hemel voltrek het: “En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom . . .” Dit beteken dat die volle getal heidene en Jode wat tot redding gekom het in die tyd waarin ons tans lewe, teenwoordig moet en sal wees by die bruilof van die Lam. Inderdaad, Paulus beaam dit wanneer hy sê:
Romeine 11: 25 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het”
Dit staan onwrikbaar vas dat die verharding wat tans nog oor die grootste deel van Israel heers deur die Here self uit die weggeruim gaan word sodat Hy weer eens tot hulle harte kan spreek. Dit sal gebeur nie voordat die heel laaste persoon onder die heidene van wie God reeds voor die grondlegging van die wêreld geweet het hom/haar tot Hom sal bekeer en tot redding gekom het nie. M.a.w God het reeds voor die grondlegging van die wêreld geweet wanneer niemand meer onder die heidene hulle tot Hom sal bekeer nie, en alleenlik wanneer die heel laaste persoon ingegaan het, sal God weer met sy volk Israel begin werk. Dit gaan die Here inderdaad ook doen wanneer die sewejarige verdrukking net ná die Wegraping (“totdat die volheid van die heidene ingegaan het”) ’n aanvang sal neem. Die hoofdoel van die Groot Vedrukking is om die volk Israel vir die koms van hulle Messias voor te berei vóór die aanvang van die Millennium Vredeskoninkryk op aarde. Dat die sewejarige verdrukking primêr ’n Joodse aangeleentheid is, word onderstreep deur Jeremia 30:7:
Jeremia 30:7 Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.
Die goeie nuus dat die Koning se wederkoms op hande is, sal durende die sewejarige Groot Verdrukking gepredik word soos in die dae van Johannes die Doper en die twaalf dissipels (Mattheus 24: 14). Hierdie keer sal daar in plaas van twaalf, 12 x 12,000 (144, 000) wees wat die goeie nuus sal verkondig.
Nêrens in hierdie gedeelte word die geringste aanduiding gegee dat die gestorwe siele van die heliges eerste opgewek sal word en dat die oorblewende lewende heiliges in ’n oogwink verander sal word om die Here in die lug tegemoet te gaan nie. Die opstanding in Openbaring sal die opstanding wees van die heilges wat gedurende die Groot verdrukking onthoof is vir hulle standvastige geloof in Jesus Christus (Openbaring 6: 9). Dit is nie ’n opstanding tot ’n opraping of ‘n wegraping in die lug nie, maar alleenlik ’n opstanding om die Millennium koninkryk van Christus binne te gaan.
Openbaring 20:4 . . . en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. (Openbaring 20: 4).
Terloops, indien die tyd waarin ons nou lewe simbolies is van die 1000-jarige Vrederyk op aarde, wanneer het die heiliges wat gedurende die verdrukking onthoof is oor hulle getuienis van Jesus en geweier het om die merk van die dier op hulle hande of voorhoofde te neem, uit die dood opgestaan? Indien die eerste opstanding, soos Augustinus dit aan die Roomse Kerk en die Gereformeerde Protestantse kerke oorgedra het, die bekering en redding van sondaars is, dan moet hulle “opstanding” (berkering en redding) onafwendbaar gekoppel word aan die merk van die bees omdat hulle juis gedood word omdat hulle weier om die merk van die bees te neem. Waar’s die merk van die bees? Openbaring 20: 4 sê tog immers baie duidelik dat hulle ná die Groot verdrukking en vóór die aanvang van die Millennium Vrederyk op aarde uit die dood opgewek sal word. Waar regeer hulle tans as konings saam met Jesus Christus, soos Oopenbaring 20 sê sal gebeur? A-millenialiste sê hulle regeer tans in die hemel oor die simboliese 1000 jaar wat tans aan die gang is op die aarde. As hulle vanuit die hemel saam met Christus regeer, wat het dan van hulle opstanding geword (. . . en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank)? As die opstanding beteken dat dooies soos Jesus Christus liggaamlik uit die dood moet opstaan, dan beteken dit dat die heiliges wat onthoof is alreeds liggaamlik opgestaan het en met hulle nuwe verheerlikte liggame saam met Christus in die hemel regeer. Kan dit waar wees?
Baie Christene interpreteer Mattheus 24: 40, 41 as die Wegraping. Indien dit waar sou wees dan kan groot gedeeltes van hoofstuk 24 nie streng chronologies hanteer word nie. Ons moet in gedagte hou dat die hele hoofstuk die Here Jesus se antwoord is op die dissipels se vraag “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? Die eerste gedeelte van hulle vraag slaan terug op Sy beskrywing van die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur Flavius Vespasianus Titus en die Romeinse magte in 70 NC. Sy opvolgende beskrywing van die sewejarige verdrukking bereik ’n hoogtepunt wanneer die ongelowiges wat gedurende die verdrukking geweier het om hulle tot die Here te bekeer netsoos die ongelowiges in die dae van Noag skielik weggeneem (gedood) sal word om in Hades in bewaring gehou te word tot en met die Wit-troon oordeel na die voleinding van die 1000-jarige Vrederyk op aarde. Die oorblywende gelowiges (diegene wat nie gedood is nie) wat gedurende die Groot Verdrukking tot bekering gekom het onder die prediking van die 144 000 Joodse evangeliste sal met hulle natuurlike liggame toegang tot die 1000-jarige Vrederyk op aarde verleen word (Jesaja 65: 17-25; Mattheus 24: 37-47).
Ds. H.P.M van Ryn skryf voorts:
Onnodige troos?
As dit dan so was dat daar eers ‘n wegraping van die gelowiges sal wees voordat die groot verdrukking aanbreek, dan is groot dele van die Bybel onnodig geskryf, dele wat juis geskryf is om die gelowiges in die verdrukking te versterk en te bemoedig.
Matteus 24: 21, 22 sê byvoorbeeld: “… Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” Die uitverkorenes word dus nie weggeraap om daardie tyd vry te spring nie, maar God kort die tyd in om hulle tegemoet te kom. Die hele Bybel is ook vol aanmoedigings om tot die einde toe te volhard, soos byvoorbeeld Matteus 24: 13. Waarom sou dit nodig wees as ons dan weggeraap sou word om die verdrukking vry te spring?
Onnodige troos? Paulus moes dan verkeerd gewees het toe hy sy relaas oor die Wegraping in 1 Thessalonicense 4: 13-18 afgesluit het met die woorde:
Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal voor wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.
Op verskeie plekke in die Nuwe Testament word die koms van die Here vir Sy volgelinge by die Wegraping telkens as hulle “hoop” beskryf. Hoop, in hierdie opsig, is nie ’n mog-het-troffe tipe hoop nie. Dit is ’n vaste wete en vertroue dat God sal doen wat Hy belowe het. (Johannes 14).
1 Johannes 2:2, 3 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (Klem bygevoeg).
Daar is veral twee redes wat aangevoer kan word vir die verkeerdelike interpretasie of die algehele verwerping van die Wegraping:
-
Die onbybelse aanname dat die kerk Israel as volk vervang het (die sg “Verplasings Teologie”). Die gevolg is dat die Groot Verdrukking nie gesien word as ’n tydvak met hoofsaaklik Joodse kenmerke nie, maar as ’n tyd waarin alle gelowiges se geloof beproef en gesuiwer sal word. Die gevolg is ook dat alleenlik die gelowiges gesien word as die uitverkorenes van God en nie die Jode as God se volk nie.
-
Die doel van die sewejarige vedrukking is nie om gelowiges se geloof te toets nie, maar om die Joodse volk tot bekering te lei en om die nasies wat hulle nog altyd so sleg behandel en verdruk het, te oordeel. Die eg Joodse karakter van die Groot verdrukking word duidelik omlyn deur die volgende feite in ag te neem.
Ou Testamentiese geskrifte getuig daarvan (Deuteronomium 4:30, 31; Jeremia 30:7; Esegiël 20: 37; Daniël 12: 1; Sagaria 13: 8, 9), die Olyfberg diskussie van Chrsitus getuig daarvan (Mattheus 24: 9-26) en die hele boek van Openbaring getuig daarvan. Dit behels:
-
Daniël se mense.
-
Die koms van die valse Messias wat met die Jode ’n sewejarige vredesverbond gaan sluit.
-
Die verkondiging van die koninkryk.
-
Die vlug op die Sabbat.
-
Die tempel en die heilige plek.
-
Die land van Judea.
-
Die heilige stad Jerusalem.
-
Die twaalf stamme van die kinders van Israel.
-
Die seun van Moses.
-
Tekens in die hemel.
-
Die verbond met die dier (Antichris).
-
Die allerheiligste, die offerande.
Al hierdie dinge spreek van Israel en bewys dat die verdrukking hoofsaaklik ’n tyd is waarin God met Sy antieke mense gaan handel voordat baie van hulle (die oorblyfsel) die beloofde koninkryk op aarde binne sal gaan. (Deuteronomium 30:1-6; Jeremia 30: 8-10).
Dit is waar dat God dikwels verdrukkinge toelaat en gebruik om die geloof van Sy kinders te suiwer en te toets, maar dit is nie die doel van die Groot verdrukking nie. Die aard van die Groot verdrukking word in die volgende skrifgedeeltes uitgespel.
-
GRIMMIGHEID (Sefanja 1: 15, 18; 1 Thessalonicense 1: 10; 5: 9; Openbaring 6: 16, 17; 11: 18; 14: 10, 19; 15: 1, 7; 16; 1)
-
OORDEEL (Openbaring 14; 7; 15: 4; 16: 5, 7; 19: 2)
-
TOORN (Jesaja 26: 20, 21; 34: 1-3)
-
BENOUDHEID (Jeremia 30: 7; Sef. 1: 14, 15; Daniël 12: 1).
-
VERWOESTING (Joel 1: 15; 1 Thessalonicense 5: 3).
-
DUISTERNIS EN DONKERHEID (Joel 2; 2; Amos 5: 18; Sefanja 1: 14-18).
Ds. H.P.M. van Ryn skryf vervolgens:
Die hele Openbaringboek is dan ook eintlik onnodig, want Openbaring is juis geskryf om gelowiges te bemoedig, ook en veral in die tyd van die groot verdrukking. Hoor maar wat sê Jesus in Openbaring 3: 10, 11: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.” In hoofstuk 7 word die gelowiges beskryf wat in die groot verdrukking enduit getrou gebly het. Hulle het dit deurgemaak en met God se genade getrou gebly! Hulle is nie voor die tyd weggeraap nie! In hoofstuk 13: 7 lees ons van die antichris dat: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en om hulle te oorwin … .” En dan in vers 10: “Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges.” As die wegraping wel bestaan, sal die antichris nie teen die gelowiges kan oorlog maak nie en sal hulle nie die volharding en die geloof nodig hê nie.
Openbaring 3: 10 is ’n sleutelvers in die voortslepende polimiek oor die Wegraping. Die teenstanders wil dit hê dat “in die uur van beproewing” beteken dat die Here Sy heiliges midde in die Groot Verdrukking gaan bewaar netsoos Hy sy volk Israel midde in Egipte bewaar het terwyl Hy Sy tien plae oor die land uitgegiet het. M.a.w hulle staan ’n INTERNE beskerming of bewaring voor waar daar hoegenaamd geen sprake is van ’n uittog (opraping of wegraping) nie. Dit is ironies dat Ds. van Ryn ook vers 7 van hoofstuk 13 aanhaal wat baie duidelik sê dat die Here die Antichris gaan toelaat om oorlog te voer teen die heliges en hulle te oorwin. So-ook getuig Openaring 6:9-10; 7-9, 13, 14; 13:15; 14:13; 16:6; 18:24 en 20:4 dat die heiliges ongekende vervolging en marteling sal ervaar. Hoe rym hierdie gedeeltes met Opebaring 3:10 waar die Here belowe dat Hy Sy getroue volgelinge “in die uur van beproewing” sal bewaar. Eers sê Hy, Hy sal hulle bewaar en dan sê die boek van Openbaring dat Hy hulle gaan oorgee aan die verwoestende haat van die Antichris om hulle te oorwin, te martel en dood te maak. Het die Here Hom weerspreek toe Hy dit in Openbaring 3: 10 gesê het”? Ds. Van Ryn protesteer dat “As die wegraping wel bestaan, sal die antichris nie teen die gelowiges kan oorlog maak nie en sal hulle nie die volharding en die geloof nodig hê nie.” Daarmee wil hy voorgee dat, indien daar wel ’n Wegraping is, daar geen gelowiges meer op die aarde sal oorbly nie. Gevolglik sal daar geen gelowiges wees wat die Here in Sy toelatende wil aan die wrede en oorlugsugtige Antichris sal kan oorgee nie. Dit opsigself impliseer dat die reddende genade van God geheel en al gedurende die sewejarige verdrukking skielik gaan opdroog en dat niemand tot redding sal kan kom nie. Openbaring 20: 4 skilder vir ons ’n heel ander prentjie:
Openbaring 20:4 . . . en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.
‘n Menigte Jode en heidene sal gedurende die sewejarige verdrukking onder die kragtige prediking van die 144, 000 Joodse evangeliste tot bekering kom en die meeste van hulle gaan deur die swaard van die Antichris omkom. Hulle gaan hulle koppe verloor. Hoe rym dit met Openbaring 3: 10?
Hoe moet ons Openbaring 3: 10 dan interperteer sodat die bewaring van die heiliges nie met die res van Openbaring bots nie? ’n Mens sou kon redeneer dat die bewaring slegs betrekking het op die geloof van die volhardende heiliges, ma.w. dat God hullle sodanig sal omvou met Sy beskermende genade dat hulle nie hulle geloof verloor nie al sou hulle hul lewens verloor. Maar, dit is nie wat openbaring 3: 10 sê nie. Let noukeurrig daarop dat die vers nie net sê dat die Here Sy heliges van beproewinge en verdrukking sal bewaar nie, maar spesifiek van die “uur van beproewing,” m.a.w. van ’n spesifieke tydsverloop wat oor die hele aarde gaan kom. Volgens die standaard lexikons en grammatika beteken die voorsetsel “ek” in “se tērēō ek tēs hōras peirasmou” (sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing) nie bewaring midde in of binne-in ’n situasie nie. Indien dit so sou wees, sou die begrip “tērēō ek” normaalweg deur “en” of ”para” in die plek van “ek” gebruik moes gewees het. Die voorsetsel “ek” beteken “van binne na buite,” m.a.w dit dui op beweging heeltemal vanuit die “uur van beproewing” wat oor die hele wêreld gaan kom. Dit kan alleenlik plaasvind met die Wegraping. Dit is dus ‘n EKSTERNE en nie ‘n INTERNE bewaring soos die a-millennialiste suggereer nie.
Ds. H.P.M. van Ryn sê voorts:
Ons belydenis
Die leer oor die wegraping word daarom ook in geeneen van ons belydenisskrifte gevind nie. Ons belydenisskrifte (byvoorbeeld Sondag 19 van die Heidelbergse Kategismus en artikel 37 van die Nederlandse Geloofsbelydenis) bely alleen maar die troosvolle finale wederkoms van Jesus Christus.
Nie nodig nie
Ons het nie die leer van die wegraping nodig nie. Nee, ons het die vaste troos dat God in beheer is en ook sal wees tydens die groot verdrukking. Hy sal sy kinders daardeur dra. En daarna sal ons Here Jesus Christus, Hy wat bereid was om vir ons sondes te sterf, weer kom om ons in hemelse blydskap en heerlikheid vir ewig by Hom te neem!
Gereformeerde predikante heg geweldig baie waarde aan die belydenisskrifte (t.w. die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Hedelbergse Kategismes en die Dordtse Leerreëls) asof dit gelykstaande is aan die Woord van God. Hoewel daar heelwat waarhede daarin opgesluit lê, is daar ook baie dinge wat regstreeks van Augsutinus en dus uit die Roomse tradisie oorgeneem is.
Dit is opvallend hoe maklik die uitdrukking “God is in beheer” gebruik word wanneer die Bybelse leerstellings soos die Wegraping, die Groot Verdrukking en die 1000 Vrederyk op aarde te berde kom. Wat bedoel diegene was so lief is om te sê dat God in beheer is met die woord “beheer.” Beheersing of heerskappy beteken tog sekerlik dat die persoon wat in beheer is as koning en regeerder absoluut heers en dat almal doen wat hy sê en beveel. Is God in beheer? As God hier op aarde in beheer was, sou die Here Jesus ons nooit geleer het om te bid nie “Laat U wil geskied soos in die hemel netso ook op die aarde.” Dit alleen bewys onteenseglik dat God se wil tans nie op hierdie ou gebroke aarde van ons geskied nie. Selfs nie eens die kinders van God is almal honderd persent onder Sy beheer nie en doen nie Sy wil honderd persent nie. Daarvan getuig die Here Jesus se woorde in Romeine 6: 12 “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.” As God self oor ons sterflike liggame geheers het, sou die Here nooit die opdrag gegee het dat ons daaroor moet heers nie. Daar waar God in beheer is, doen almal Sy wil honderd persent uit ‘n rein hart met liefde wat heilige ontsag vir Hom het. Dit is presies soos Sy wil tans in the hemel gedoen word. Hy het nog nooit en sal ook nooit Sy wil of Sy heerskappy op enigiemand afdwing nie. Sy heerskappy is gegrond op ’n wedersydse rein liefde. Daarom het die Here Jesus eenmaal gesê “As julle my liefhet, bewaar my gebooie,” (Johannes 14:15); “Wie my gebooie het en die bewaar, dit is hy wat My liefhet, hom sal my Vader liefhê en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar” (Johannes 14:21); “As julle my gebooie bewaar, sal julle in My liefde bly, net soos Ek die gebooie van My Vader bewaar en in Sy liefde bly” (Johannes 15:10). As God werklik in beheer was oor die ganse mensdom in so ’n mate dat almal honderd persent sy wil gedoen het, sou dit nooit vir Hom nodig wees om die mensdom te oordeel nie. Dit is juis omdat die mensdom nie onder sy totale heerksappy (beheer) wil staan nie dat hy hulle moet oordeel.
Die aanname dat God reeds oor alles op hierdie gebroke wêreld in beheer is, kom van die Calvinistiese seining dat Hy alles voor die grondlegging van die wêreld bepaal, voorsien en beplan het — selfs ook die sondeval en die sondes wat die wêreld tans teister. Om dit enigsins anders te interpreter, sou ‘n flagrante aantasting wees van God se soewereiniteit. Dit is altans wat die Calvinisme glo en predik. As God in beheer was sou die apostel Johannes nooit kon sê dat die hele wêreld in die mag van die bose lê nie (1 Johannes 5:19). Die aanname dat God alreeds in beheer is, is ‘n valse troos want dit wek die indruk dat Sy kinders nie meer nodig het om te waak en te bid nie; dat ons nie nodig het om die duiwel te weerstaan nie; en dat ons hoegenaamd nie meer langer self oor ons sterflike liggame hoef te heers nie.
Ds. H.P.M. van Ryn en die oorgrote meerderheid gereformeerde predikante sê “Ons het nie die leer van die wegraping nodig nie. Nee, ons het die vaste troos dat God in beheer is en ook sal wees tydens die groot verdrukking. Hy sal Sy kinders daardeur dra.” Is dit werklik wat die Here Jesus en Sy Woord ons leer? Allermins, want Christus Jesus self het gesê “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openb. 13:7). Dat God, soos in die geval met Sy Seun, Jesus Christus, Satan by monde van Pilatus die mag gegee het om Hom om die lewe te bring, so sal Satan deur die Antichris die mag gegee word om die meeste van die Jode en heidene wat gedurende die Groot Verdrukking tot bekering kom, om die lewe te bring. En tog sê die gereformeerde predikante dat God Sy kinders daardeur sal dra. Hoe rym dit?
Paulus noem die wegraping in 1 Thessalonicense 4 ’n troos en ’n bemoediging. Dieselfde woord wat hier gebruik word verskyn ook in Johannes 15: 26 nl. “parakaleo.” As die gereformeerde predikante nie die troos (“parakaleo”) van die wegraping nodig het nie, ontstaan die vraag of hulle die Trooster (“Parakleto”) enigsins nodig het. Dit is juis die Heilige Gees in die kinders van God wat hulle aanmoedig om mekaar te troos en te bemoedig met die wete dat die Wegraping enige oomblik kan plaasvind (1 Thessalonicense 4:18). Hoe op dees aarde kan die gereformeerde predikante dan sê dat hulle die leer van die Wegraping nie nodig het nie omdat God altoos in beheer is?
Paulus het die leer van die Wegraping, soos die res van die leer van die Evangelie, regstreeks van ons Heiland ontvang (Galasiërs 1:12). Die gevolg is dat die gereformeerde predikante op uiters gevaarlike grond staan as hulle sê dat hulle die leer van die Wegraping nie nodig het nie. As die verlossing (redding) van die siel ’n primêr belangrike deel van die Evangelie is dan moet die Wegraping ook ewe belangrik wees omdat dit die leer van die finale verlossing van ons totale menswees insluit. Luister na wat Paulus vir ons in 1 Thessalonicense 5: 8-10 sê:
1 Thessalonicense 5:8-10 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe. Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.
Paulus verwys nie hier na die redding van ’n sondaar se siel wanneer hy hom onder die oortuiging van die Heilige Gees na die Here wend vir die vergifnis van sy sondes nie. Paulus praat hier met mense wat alreeds tot redding gekom het. Die “saligheid” (verlossing) waarna Paulus in vers 9 verwys, kan dus hoegenaamd nie op die saligheid van ’n sondaar wanneer hy tot bekering kom van toepassing gemaak word nie. Inderdaad, die saligheid in hierdie verband verwys na die finale beslag van ons verlossing (gees, siel en liggaam) by die Wegraping wat Paulus in hoofstuk 4 van 1 Thessalonicense beskrywe. So intens heerlik is hierdie finale verlossing dat selfs die hele skepping met reikhalsende verlange daarna uitsien.
Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van god. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.
Amanda said
Ek het hierdie artikel gelees en toe na RSG se potgooi gaan luister, menende dat dit oor dieselfde onderwerp sal gaan. Iewers mis ek iets, want ek sien nie raakpunte nie. O wag, dis die punt?
Oop Gesprek Sondag, 11 Januarie 2009 19:30-20:00
Hoeveel tyd is daar nog vir die wêreld oor?
In ‘n wêreld waar die natuur vernietig word, die ekonomie knyp, politieke onstabiliteit heers en nuwe gedagtes oor die ware Bybelse inhoud gedebatteer word, word die vraag toenemend gevra: Waarheen is ons op pad? Meer spesifiek: hoeveel tyd is daar nog vir die wêreld oor as dit so gaan?
Flip Loots se gaste is dr. Piet Muller, toekomskundige, dr. Lemmer du Plessis, reisende leraar van die AGS en kenner van die Bybelse einddinge, en prof. Adrio König, dogmatikus van Unisa.
J said
Kom ons neem nog ‘twee stellings van Jesus, wat gerieflik stilgehou word:
Mat 24:37-39 En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,
en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Luk 17:26-30 En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens:
hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het.
Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou.
Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig.
Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.
(AOV)
Dan kyk ‘n mens na Op. 3:7-11:
En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie:
Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.
Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.
Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.
Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.
(AOV)
Die Heilige Gees verklaar wat mense oor redeneer; en wat mense oor redeneer, sonder om God se Gees te raadpleeg, sal noodwendig op menslike foutiewe ideologieë uitloop.
Jesus sê duidelik dat dit aan die einde sal wees, soos in die dae van Noag en die dae van Lot. Vir diegene wat nog aan God se Woord glo, en Genesis se Sondvloed aanvaar as ‘n vloed oor die hele aarde, as gevolg van mense se sonde (‘n term wat die moderne geenvangelie stil hou); en bereid is om te glo dat God werklik vier stede met brandende swael vernietig het, as gevolg van hul sonde (gaan lees watter een word spesifiek genoem):
Die heiliges was tot aan die einde, totdat die oordeel gekom het, tussen die Wêreldlinge. En eers toe God vir Noag sê om uit die Wêreld uit te gaan in die Ark in; en eers toe God se engele, Sy mense uit die stede van die Wêreld uitgehaal het (Mat. 24:28-31:
Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.
En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.
En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.
En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.), het Sy OORDEEL oor die Wêreld gekom.
Enige opregte Christen sal waarlik bly wees om verdrukking vry te spring, en reguit na sy Heer toe te gaan; maar Jesus het ook beloof, dat almal wat Hom aanneem en die Wêreld aflê, vervolging sal ondervind (Mar. 10:29-30:
En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie,
of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe).
Hy het ook genoem, dat die geloof deur die minderheid sal behou word (Mat. 24:9-13:
Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.
En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word).
Let wel, dat Hy in Op. 3 aan Laodicea noem, dat Hy die gemeente sal uitspoeg, omdat hulle nie warm of koud is nie, maar lou.
Sy Woord aan Filadelfia, is nie dat Hy hulle uit die Verdrukking uit sal wegneem nie; Hy sê dat Hy die gemeente sal bewaar. Hulle sal sien hoe die Verdrukking die Wêreld om hulle tref, maar hulle sal deur Hom daarteen bewaar word. Hou in gedagte, dat hulle reeds vooraf Sy Woord bewaar het: dit dui daarop, dat hulle reeds deur vervolgings is, nog voor die Verdrukking.
In Mat.24:31 noem Jesus duidelik, sodat enigeen wat lees of hoor, dit kan verstaan: die Wegraping, wanneer Hy sy engele stuur om Sy uitverkorenes te gaan haal, is na die Groot Verdrukking.
Die voor-Verdrukking teorie is egter nodig vir die moderne kerke, wat leer van God se seën en rykdom, God se liefde, en die leringe van geregtigheid en bekering stil hou; God is nie meer die Soewereine Skepper nie, Hy word afgetrek tot die leraar se maat. Jesus word al minder, indien enigsins nog, geleer as die Verlosser; Hy word nou geleer as ‘n lewensverbetering. God se straf op sonde word stilgehou om menslike gevoelens te spaar, en miljoene siele word in “liefde” hel toe gestuur – sou die lering van die Verderf nog geleer word (die Bybel het geen tekort daaraan nie).
En hoofsaak: met die Personal Locator Device (PLD) wat stadig maar seker ingebring word om humanitêre redes, moet die voor-Verdrukking Wegraping geleer word. Enigiets anders, mag mense laat sien dat dit ooreenstem met die Merk van Op. 13.