Wanneer ‘n kind nie sy sin kry nie, val hy gewoonlik soos ‘n sak patats neer en stamp sy voete so hard hy kan teen die vloer. Ek weet, want ek het dit self gedoen toe ek ‘n kind was. Party van hulle het nogal die verwaandheid om bokant hulle stemmetjies uit vir ma of pa te skree “Julle het my nie lief nie.” Ons sê dan gewoonlik: “Die klein vabond gooi nou behoorlik ’n ‘tantrum.’” Sommige ouers, en veral oupas en oumas, skrik so groot dat hulle maar toegee want hulle wil darem nie hê die arme bloedjie moet dink hulle het hom nie lief nie. Dis te wreedaardig. Intussen staar hulle hul so blind teen hulle eie sg. liefde dat hulle die kinders tot in die afgrond bederf. Wie lei skade? — die kind natuurlik want wanneer hy uiteindelik groot word en die samelewing toetree, word dit sy modus operandi om dinge in sy guns te swaai. Dit is die prentjie wat voor my opdoem elke keer as ek die verhaal van Simson en Delila lees. Hoewel sy nie soos ‘n stoue kind op die vloer neergeval en haar voete begin stamp het nie (of miskien het sy), het sy dieselfde ou armdraai taktiek gebruik toe Simson nie die waarheid omtrent sy bonatuurlike krag aan haar bekend wou maak nie. “Hoe kan jy sê: Ek het jou lief! terwyl jou hart nie met my is nie? Drie maal het jy my nou al bedrieg en my nie meegedeel waardeur jou krag so groot is nie.” (Rigters 16:15). En siedaar, Delila kry toe haar sin en sy gee haar “beminde” Simson so wrintie oor in die hande van sy vyande. Simson se hart moes in elk geval by die Here wees en nie by Delila nie, want dit gaan in die eerste plek nie om ‘n soetsappige liefde nie maar oor gehoorsaamheid aan God en sy bevele.
Glo my, dieselfde ou taktiek word vandag nog steeds deur ons post-moderne teoloë gebruik wanneer jy hulle met die waarheid konfronteer. Die enigste verskil is dat Simson die waarheid van Delila weerhou het terwyl die “Delilas” van vandag jou van liefdeloosheid, harteloosheid en venyn beskuldig sodra jy hulle bedag maak op die waarheid en die gif wat skuil in die vleispotte van die hedendaagse Skrifgeleerdes wie se gesigte blink gevryf is met ‘n “liefde” wat nie strook met die Bybel nie. In die loop van die afgelope aantal jare waartydens ek kommentaar op verskeie blogs en webtuistes gelewer het, is ek telkens van liefdeloosheid, arrogansie en hooghartigheid beskuldig. Liberale teoloë en hulle meelopers is waarkynlik nie meer so begaan oor die eer van God nie, maar die eer van hulle kollegas, vriende, familielede, hulle kerke en teologiese fakulteite wat hulle so innig lief het. Intussen gee hulle nie ‘n snars om oor wat met hulle op die geestelike terrein gebeur nie. Soos Delila is hulle besig om almal wat hulle kwansuis so innig lief het aan die vyande van God oor te gee. Moreletapark NG Gemeente en hulle herders is ‘n sprekende voorbeeld hiervan wat eersdaags gaan toelaat dat die godloënaar, Tony Campolo, hulle skape en lammers mislei.
Judas 1:16 Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel. (Klem bygevoeg)
Kom ons speel oop kaarte en laat my toe om sommer prontuit te sê dat die hele struktuur van die Ontluikende Kerk met sy klem op die vestiging van die Koninkryk van God hier-en-nou, op “liefde” (sonder gesonde leerstellings), op “empatie” (sonder gesonde leerstellings) en op “barmhartigheid” (weer eens sonder gesonde leerstellings) berus wat neerkom op ‘n liefde wat nie uit God nie maar uit die hel aangesteek word. Harde woorde? Ja beslis, maar dit is woorde wat voortspruit uit ‘n liefde vir God en sy waarheid, die enigste waarheid wat mense waarlik vrymaak, en ‘n diepe kommer oor die rigting waarin al die kerke in Suid-Afrika tans beweeg. Ek kom agter dat baie teoloë onnadenkend toegeeflik is jeens die Ontluikende Kerk omdat hulle goed bevriend is met kollegas wat die leerstellings van die Ontluikende Kerk uitdra en verkondig. Ek hoor en sien telkens op verskeie internet “blogs” wat die kontemplatiewe spiritualiteit van die Ontluikende Kerk propageer, mense wat sê: “Ek is baie goed bevriend met Nelus Niemandt” of “Ek ken Stephan Joubert persoonlik” of “Ek eet en drink gereeld koffie saam met dié of daardie bekende teoloog.” (Die hedendaagse volgelinge van Jesus in die Ontluikende kerk is kranige koffiedrinkers. Kyk maar gerus op http://www.thinktoomuch.net). Hierdie mense is gou om te praat oor hulle eie sg. “empatie,” “liefde,” “barmhartigheid”(“compassion”) en “medemenslikheid” maar gee nie ‘n duit om of hulle medemens hel toe gaan al dan nie omdat daar vir hulle geleer word dat die hel ‘n mite is, of dat die hemel en hel hier op aarde is en dit hang maar van jouself af hoedanig jy dit vir jouself hier maak. Ek kry die indruk dat hulle bereid is om God en sy waarheid onder die mat in te vee ter wille van hulle vriendskap met teoloë wat onbeskaamd die Here van die leërskare oneer aandoen wanneer hulle hul solidariteit met mense soos Brian McLaren, Leonard Sweet, Rob Bell, Rick Warren, Tony Campolo, en baie ander sonder blik of bloos bevestig. Wat het geword van Christus se voorwaardes om ‘n dissipel van Hom te kan wees toe HY gesê het?:
Luk 14:26 As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. (Sluit maar gerus ook persone in soos predikante, pastore, professore, toekomskundiges en dies meer wat God se Woord verdraai).
Die post-moderne denkers in die Ontluikende Kerk draai hierdie woorde van die Here Jesus mootjies nek om en verklaar met groot liefde “Ons is volgelinge van Jesus” ten spyte daarvan dat hulle selfs die gruwelikste afvalligheid en dwaalleringe van teoloë wat sê hulle het die Here lief, navolg en ondersteun. Paulus skryf:
Gal 1:10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.
Vleitaal is ‘n onding. Hoor wat sê die Here van mense wat deur ander mense gevlei word.
Luk 6:26 Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.
Paulus was bereid om die prys te betaal vir ware dissipelskap en het selfs op ‘n tydstip man-alleen gestaan omdat almal hom verlaat het (2 Tim 4:16). Hoor nou wat sê Stephan Joubert, in skreiende kontras met Paulus wat die Here Jesus waarlik liefgehad het in sy voorwoord tot Nelus Niemandt se boek “Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede.”
My kop is geswaai. My belewing van hierdie boek.
![]()
Nelus Niemandt is een van die invloedrykste denkers en missionêre Suid-Afrikaanse teoloë aan die begin van millennium drie. Sy insigte in ingewikkelde sosio-religieuse vraagstukke is asemrowend, sy nederigheid aansteeklik en sy vermoë om eietydse kontekste en Bybelse kontekste op verstaanbare maniere aan mekaar te knoop, sonder weerga. Daarom dat ek nie kon wag om hierdie boek te lees nie. Wat ‘n absolute juweel. Nuwe drome vir nuwe werklikhede is kop-oopmaak materiaal. Dis propvol wêreldverskuiwende woorde!
Nelus se verstaan van “Christenheid” en die bedreiging wat dit inhou vir die evangelie, saam met ‘n indringende profiel van die post-modernisme en huidige kerklike gestaltes het my ure se genoegdoening verskaf. Nelus vra egter nie net kritiese vrae terwyl hy uitgediende kerklike maskers op meesterlike wyse rondom ons almal afhaal nie. Hy praat juis hooptaal deur nege vars nuwe geloofspraktyke vir ontluikende kerke op ons etenstafel neer te sit. Ewe aangrypend, oog-oopmakend en uitdagend is sy insigte in missionêre gemeentes in die laaste hoofstuk van die boek.
Nuwe drome vir nuwe werklikhede is sonder twyfel die belangrikste boek op die Suid-Afrikaanse kerklike toneel oor die
afgelope klompie jare. Dit is horisonverskuiwend en kontekstueel. Dit is deurdag, simpatiek, ontblotend, gevaarlik, maar altyd goeie medisyne! Terselfdertyd bied hierdie boek fantastiese hulpmiddels tot eksperimentering vir alle oopkop, saamdinkende gelowiges, met stylvolle visuele toepassings en roerende verhale oor ontluikende kerke.
Nuwe drome vir nuwe werklikhede het my kop van voor af geswaai. Dit is goed, groot en groots! Nelus het goed daarin geslaag om die insigte van die mees invloedryke eietydse denkers oor kerkwees in homself te internaliseer en op vars maniere te verwoord! Hiermee saam het hy ‘n klompie radikale nuwe insigte op ons elkeen se kerklike voorstoep kom neersit. Lees dit … en droom saam oor die kerk van die Here in die nuwe werklikhede wat voor ons staan.
Nouja, ‘n mens moet onmiddellik vra of daar nie ‘n skroef los is nie as jou kop geswaai en oopgemaak word deur iemand wat met ’n aansteeklike nederigheid Harry Potter en ontluikende teoloë omhels wat die Here Jesus in die openbaar verloën, soos o.a. Brian McLaren, Leonard Sweet, Rob Bell Tony Jones, Doug Pagitt en ook ander persoonlikhede van die Ontluikende Kerk. Beide Rob Bell en
Doug Pagitt na wie Nelus Niemandt in sy boek verwys, het teen die wil van God se opdrag in 2 Kor 6:14 verlede jaar tussen 11 en 15 April tydens die “Seeds of Compassion” konferensie in Seattle, Amerika, saam met die 14de geïnkarneerde
Dalai Lama van Tibet (wat as ‘n god beskou word), en Boedhiste, Mohammedane, Hindoes, Jode en ander gelowe op dieselfde verhoog verskyn om te besin oor nuwe wyses waarop barmhartigheid wêreldwyd verspei kan word. En ja, ek het amper vergeet, die immergroen grappiesmaker van die Anglikaanse Kerk, Biskop Desmond Tutu, was ook daar. Hy het langs die Dalai Lama op ’n erestoel gesit. Hulle het deurentyd met mekaar gewedywer om te kyk wie nou eintlik die nederigste was. Desmond het na Lama verwys as “your holiness” en Lama het op ’n keer na Demond verwys as “my boss.” Die Evangelie wentel lank nie meer om die kruis van Jesus Christus en wat Hy as plaasvervangende slagoffer met ons sondige natuur aan die kruis gedoen het nie, maar om ander se pyn en seerkry jou eie te maak. Sprekers asook konferensiegangers by die konferensie het telkens van hulle eie en ander se stories van pyn, lyding en seerkry vertel en hoedat hierdie beginsel in alle godsdienste vooropgestel word en dus as ‘n eenheid kan saamwerk om barmhartigheid (“compassion”) in die wêreld te verspei. Die konferensie was
hoofsaaklik op die jeug gerig. Nelus sê op bladsy 102 van sy boek “Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede”
Die waarheid is natuurlik dat dit nie so maklik is om by ander mense betrokke te raak nie. Die indiwidualisme van ons tyd het ons hard gemaak. Dit vat moed om ander se pyn, seerkry en nood jou eie te maak. Maar dit is die evangelie. Een van die beste maniere om ander se pyn en seerkry jou eie te maak, is om te luister na die stories van ander. Stories is die beste medisyne teen alleenheid en indiwidualisme. Dit is eers wanneer ons aan mekaar gebind is en genoeg vertroue het om ons verhale van seerkry met mekaar te deel, dat lewensveranderende genesing kan begin. (Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede, p. 102)
Die Dalai Lama en Desmond Tutu kon hierdie woorde netso as ‘n inleiding tot hulle “Seeds of Compassion” Konferensie gebruik het.
Wat! Ons moet na mekaar se stories luister en mekaar se hartseer, lyding en pyn met mekaar deel sodat daar genesing kan kom? Dit is niks anders as ‘n klap in die gesig van die Here Jesus wat gesê het:
Mat 11:28 en 29 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.
Suid-Afrika, en in die besonder die Suid-Afrikaanse kerke, hoe lank gaan julle hierdie valse leraars en profete verduur? Hoe lank gaan julle nog toelaat dat hulle die Here Jesus se gesig met hulle spuug, hoon, smaad en hulle sg. liefde skend, sy heilige Naam beswadder en oneer aandoen?
Die Evangelie is om ander se pyn, seerkry en nood jou eie te maak? Werklik . . .? Indien dit so was, sou dit beteken dat elke Jan Rap en sy maat in enige ander godsdiens die Evangelie (Goeie Booskap) sou kon uitdra en verkondig omdat, soos die “Seeds of Comapassion” Konferensie aangetoon het, alle godsdienste daarop aanspraak maak dat dit hulle doel is om ander mense se pyn, seerkry en nood hulle eie te maak. Is dit die soort kop-swaaiende leuens wat Dr. Stepan Joubert met die aansteeklike nederigheid van Dr. Nelus Niemandt ten hemele besing en aanprys? Waarom kry so baie mense in ons gebroke wêreld so seer; waarom ly hulle en is hulle nood soms so groot? Statistieke toon dat die gulsige gierigheid, korrupsie en inhaligheid van wêreldleiers, en veral in Afrika, een van die grootste oorsake is van die ellendige armoede en hongersnood waarin miljoene mense hulle tans bevind. Ook hier in Suid-Afrika, is daar byna daagliks berigte in die media van leiersfigure wat die
grootste belhamels is ten aansien van die verarming van die grootste deel van die land se bevolking. Carel Niehaus en die groot kerkman, Alan Boesak, is sprekende voorbeelde van leiersfigure wat hulle eie mense se seer, nood en pyn met hulle korrupsie
vererger en vergroot het. G’n wonder die Bybel sê dat die hele wêreld in die mag van die bose lê nie. Die Here waarsku ons in sy Woord dat daar ‘n tyd sal kom wanneer wetteloosheid, anargie en chaos hoogty sal vier omdat die gees van die antichris en sy wetteloosheid die hele samelewing sal deursuur.
Met in agneming van die hoëlui se korrupsie in Suid-Afrika word die oproep om die pyn, seerkry en nood van die mense jou eie te maak ‘n belaglikheid omdat die sg. geestelikes weinig of ooit die werklike oorsake van hierdie lyding en nood aanspreek. Pleks van om dit te doen, begogel die postmoderne geestelikes ons jeug deur hulle aandag af te trek van die werklike probleme in die land en hulle gewoond te maak aan God-onterende boeke en films soos Harry Potter, The Matrix, Lord of the Rings, The Golden Compass, en ander okkultiese media. Nog meer, om hulle verstand te benewel met mistieke praktyke soos Lectio Continua, Lectio Divina, Labarinte wandelings ens. ens.
Stephan besing die lof van Nelus se verstaan van die bedreiging wat die “Christenheid” vir die Evangelie van Jesus Chistus inhou, maar is klaarblyklik heeltemal blind vir die gevare wat Harry Potter en die ontluikende teoloë daarvoor inhou. Nelus skryf soos volg oor die belang wat antieke geloofspraktyke, insluitende towery (wat oorvloediglik in die Harry Potter reeks beoefen word) op ons jeug het.
In die Harry Potter‑reeks illustreer die films die belang van antieke waarhede vir nuwe geslagte. Let op hoeveel boeke daar in die klaskamers en kantore van die skool is waar die verhaal afspeel. Die kinders moet ou-ou waarhede leer. Die kinders moet ook antieke spreuke en lewensreëls aanleer. So word die films (en boeke) ‘n les in die belang van antieke waarhede vir toekomstige geslagte. (Nelus Niemandt: Drome vir Nuwe Werklikhede, p. 138)
Ek sal nie graag eendag in die oordeelsdag in enigeen se skoene wil staan wat ons jongmense op so ‘n gruwelike wyse mislei nie. Daar staan tog immers geskrywe: “ . . . maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.” (Mat 18:6). En tog is Stephan Joubert in ekstase oor die kop-swaaiende goeie, groot, grootse en horisonverskuiwende boek van Dr. Nelus Niemandt.
Voordat ek Nelus Niemandt verder aan die woord stel, wil ek die leser graag net weer herinner aan wat Alice Bailey jare gelede oor die ou antieke leerstellings gesê het:
. . . daar sal ‘n Universele kerk verskyn, en die definitiewe hooftrekke daarvan sal teen die einde van hierdie eeu verskyn . . . Hierdie kerk sal
tot aksie aangespoor word deur die Christus en sy dissipels wanneer die uitstorting van die Christus-beginsel, die WARE tweede Koms volbring is . . . die Christenkerk in sy veelvuldige vertakkinge kan as die nukleus dien om wêreldverligting te bereik . . . die kerk as ‘n leerfaktor behoort die groot basiese leerstellings te neem en hulle ware en innerlike spirituele betekenis openbaar. Die belangrikste werk van die kerk is om te onderrig, en onophoudelik te onderrig, en om die uiterlike gedaante te bewaar met die doel om die menigtes wat gewoond is aan kerkgebruike, te bereik. Leiers moet opgelei word; Bybelkennis moet versprei word; die sakramente moet misties vertolk word, en die kerk se krag om te genees moet gedemonstreer word. – Alice Bailey (2) (Uit die Engels vertaal) (Klem bygevoeg). Alice Bailey, The Externalization of the Hierarchy, 1957, Lucis Publishing.) Lucis Trust het aanvanklik bekend gestaan as Lucifer (Satan) Trust.
As dit nie ‘n bloudruk is vir die Ontluikende Kerk nie dan weet ek darem nie so mooi nie. Sy lê klem op presies dieselfde dinge as die leiersfigure in die Ontluikende Kerk.
-
Gebruik die ou basiese leerstellings en herverwoord hulle net so bietjie sodat die menigte kerkgangers wat aan die slaap is met ‘n slap riem gevang kan word.
-
Keer terug na die mistiek van die vroeë kerk (en in besonder die Rooms Katolieke Kerk).
Die vraag is: Waarom moet die Universele (ontluikende Kerk) dan juis bekend staan as ‘n kerk van Jesus- of Christus-volgelinge? Waarom moet die gedaante van godsaligheid behou word? (2 Tim 3:5). Opvallend van hierdie Jesus-volgelinge is dat hulle baie selektief is in hulle keuse van Bybeltekste en veral dié tekste wat nie so lekker verteerbaar is nie gerieflikheishalwe vermy of selfs verwerp. Paulus se uitspraak dat die hele Skrif deur God ingegee is en nuttig is tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, en tot onderwysing in die geregtigheid, is vir hulle onbelangrik omdat dit hulle muilband in hulle vrye keuse om slegs dié tekse te neem wat hulle volgelingskap (dissipelskap) van Jesus beklemtoon. Tekse waarin woorde soos “barmharigheid,” “liefde,” “vrede,” “ontferming,” “goedertierenheid,” “nederigheid,” en “sagmoedigheid” voorkom is hulle kos maar sodra woorde soos “toorn,” “geween en gekners van tande,” “oordeel,” en “poel van vuur” voorkom dan vermy hulle dit soos die dood. Waarom moet die Ontluikende Kerk mense voortbring wat as volgelinge van Jesus bekend staan? Ek dink die antwoord moet gesoek word in die feit dat die Antichris, wanneer hy uiteindelik op die toneel verskyn, sal sê “Ek is die Christus.” Die woord “Antichris” het tegelykertyd twee aanvullende betekenisse – “teen Christus” maar ook “in die plek van Christus.” Die voor die handliggende betekenis hiervan is dat sy volgelinge ook as Christus- of Jesus-volgelinge bekend moet en sal staan. Indien die Antichris ‘n namaaksels is van die werklike Christus, dan moet sy volgelinge dus ook namaaksels wees van die werklike volgelinge van Jesus. Laat my toe om u te vra: “Volg jy die werklike Jesus van die Bybel of ‘n namaaksel van Hom?” G’n wonder die Here Jesus het gewaarsku nie: “Pas op dat julle nie mislei word nie.”
Die kerk moet dus nie afgeskryf word nie; dit moet net in ou-nuwe (ancient-future) gedaantes waarvan die mistiek ‘n oorkoepelende rol speel, ingebed word om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Die kerk is inderdaad reeds deur die post-moderne fasiliteerders (change-agents) gekaap en hulle is besig om Alice Bailey se aanbevelings vir die kerk baie getrou na te volg, of hulle dit wil erken of nie. Kom ons kyk nou wat sê Nelus Niemandt wat daarin geslaag het om Stephan Joubert se kop te swaai (en ek weet nie hoeveel ander predikante se koppe ook nie. Ek kan jou verseker, daar is reeds baie predikante wat Sondae vanaf hulle preekstoele die Ontluikende Kerk aan hulle lidmate opdis, en ook diegene wat nie daarmee wil saamgaan nie, uit hulle kerke ban.
Antieke spiritualiteit
Ontluikende kerke het ‘n voorliefde vir die antieke spiritualiteit en gebruike wat in die vroeë kerk teenwoordig was . . . Ewin McManus praat van die Christelike lewe as The Barbarian Way om daarmee aan te dui dat dit ‘n lewe van dissipelskap is wat op die gebruike van die vroegste Christene gebou is. Hy sê dat dit ‘n tragedie is dat so baie Christene Jesus as Here bely, maar onder die invloed van Christenheid mak geword het en so die krag van hulle antieke spiritualiteit verloor het.
Die geloofwaardigheid van jou dissipelskap word dus nie meer langer getoets aan jou gehoorsaamheid aan Christus se vereistes vir dissipelskap nie (Matt 16:24; Luk 16:24), maar die gebruike (tradisies) van die vroegste Christene en die krag van hulle antieke spiritualiteit. Paulus het gewaarsku: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand 20:29, 30)
Geestelike dissiplines
Daar is besondere waardering vir die ou gebruike en geestelike dissiplines wat vir baie eeue ‘n groot rol in die Christelike kerk gespeel het. Ontluikende kerke wil ‘n mens juis help om hierdie antieke geloofspraktyke nuut te ontdek en te waardeer. In sekere kerke word sover moontlik by die klassieke gebedsure gehou, terwyl baie van hulle ryklik van die Lectio Continua gebruik maak. Dit is nogal verrassend om te ervaar hoe Tony Jones, een van die leiers in die ontluikende kerke, jongmense leer om antieke geloofsdissiplines te beoefen. Sy boekie “Read, Think, Pray, Live” kon netsowel gedien het as ‘n gids vir gelowiges in antieke tye. Hy bespreek lectio continua, oratio en contemplatio met die grootste gemak en verryk jongmense se geloof deur hierdie antieke dissiplines. Sy uitgangspunt is om weg te beweeg van die modernistiese benadering waar die teks beskou word as ‘n probleem wat opgelos moet word. Dit is nie asof die Here ‘n raaisel, toegedraai in poësie of prosa, geskiedenis of apokaliptiek, brief of Evangelie, aan die mensdom gegee het wat ten alle koste opgelos moet word nie. Dit is nie die mens wat bo-oor die Bybel staan om dit te interpreteer nie — die antieke gewoontes is eerder om jouself onder die Bybel te plaas en toe te laat dat die Bybel jou interpreteer. Len Sweet speel met die Engelse woord understand. “To understand the Bible, you must stand under it!”
In kort kom dit daarop neer dat jy nie meer nodig het om die Bybel met sy poësie of prosa, geskiedenis of apokaliptiek, of selfs die sendbriewe van Paulus en die ander apostels te verstaan nie. Daar is nou ‘n veel makliker en vinniger manier om in die teenwoordigheid van God te kom en te lewe — die beoefening van die antieke
kontemplatiewe spiritualiteite wat jou leer hoe om jouself nederig onder die gesag van die Bybel te plaas. Len Sweet beïndruk mense met “sweet” woordespel “To understand the Bible, you must stand under it” maar as jy so ‘n bietjie dieper delf in sy en die ander ontluikende gurus se mening oor Bybelse leerstellings, dan word dit gou duidelik dat hulle hul juis nie onder die gesag van die Bybel plaas nie. Sweet skryf op bladsy 249 van sy boek “Quantum Spirituality” as volg oor die Evangelie van Jesus Christus.
The gospel is a story that is only partially completed. (D.w.s. die Here Jesus se triomfantelike uitroep aan die kruis “Dit is volbring” is betekenisloos). Openess to the mysterious suprises of the Spirit working through Logos, Pathos, Ethos, and Theos must affect our understanding of truth if we are to walk where the concret ends. Old things need to be said in new ways. New things can only be said in new ways. When they get corseted into old concepts, they get distorted and damaged. (Klem byegevoeg).
Volgens die ontluikende teoloë moet jy dus in jou soeke na die waarheid die Evanglie nie in konkrete, klaar-afgebakende grense inperk nie maar met die hulp van ou waarhede nuwe konsepte daaroor ontdek. Is dit miskien die rede waarom Brian McLaren in samewerking met Leonard Sweet ‘n nuwe korrupte vertaling van die Bybel, genaamd The Voice die lig laat sien het?
Leonard Sweet se “sweet” beeldspraak “To understand the Bible, you must stand under it!” kry ’n geweldige lelike wanklank wanneer jy die voorwoord tot sy boek “Quantum Spirituality” waarin hy erkenning verleen aan die “New Light Leaders” lees. Daarin gee hy o.a. erkenning aan Matthew Fox, die bekende Episkopaalse priester wat die boek “The Coming of the Cosmic Christ” geskryf het. Hierin skryf hy soos volg:
I foresee a renaissance, “a rebirth based on a spiritual initiative” … This new birth will cut through all cultures and all religions and indeed will draw forth the wisdom common to all vital mystical traditions in a global religious awakening I call “deep ecumenism.” [Matthew Fox, The Coming of the Cosmic Christ (San Francisco, CA: HarperCollins, 1988), p. 5.
Daar word gesê dat Stephan Joubert vandag een van die stemme is wat die duidelikste vir die Here in Suid-Afrika opklink. Kom ons toets hierdie lofuiting aan die sg. reëls van assosiasie.
-
Stephan praat met groot lof van Nelus Niemandt.
-
Nelus Niemand besing die lof van Leonard Sweet.
-
Leonard Sweet gee erkenning aan een van die ”New Light leaders,” Matthew Fox.
-
Matthew Fox verkondig die weergeboorte van ‘n spirituele inisiatief wat deur die koms van die Kosmiese Christus in alle kulture en godsdienste ingeadem sal word.
So terloops, Max Lucado het ‘n boek geskryf met die titel “A Cosmic Christmas” waarin hy op lasterlike wyse die vleeswording van Christus beskrywe. Die engel
Gabriël ontvang ‘n flesse van die Vader wat aanvanklik leeg is maar wanneer hy weer kyk, sien hy dat dit gevul is met die essensie van Christus.
He [God the Father] motioned toward me, and I responded, kneeling again before Him. Handing me the necklace, he explained, “This vial will contain the essence of Myself; a Seed to be placed in the womb of a young girl. Her name is Mary. She lives among My chosen people. The fruit of the Seed is the Son of God.
Take it to her.”
“But how will I know her?” I asked.
“Don’t worry. You will.”
I could not comprehend God’s plan, but my understanding was not essential. My obedience was. I lowered my head, and He draped the chain around my neck. Amazingly, the vial was no longer empty. It glowed with Light. (Klem bygevoeg)
Het jy opgemerk hoe subtiel jy geleer word om die Bybel nie te verstaan nie maar om soos ‘n zombie maar net gehoorsaam te wees? “I could not comprehend God’s plan, but my understanding was not essential. My obedience was.” Die Here sê dan juis dat sy volk (kinders) te gronde gaan weens ‘n gebrek aan kennis (Hosea 4:6).
En ek was nog altyd onder die indruk dat die Here Jesus uit die maagd Maria gebore is deur die Heilige Gees. Nou hoor ek die engel Gabriël was ook daarby betrokke. Ja, natuurlik het die engel Gabriël as boodskapper van die geboorte van Jesus aan Maria verskyn, maar ek lees nêrens dat hy ‘n fles met die essensie van Jesus in haar moedrskoot moes inplant nie.
Dit is maar weer eens die ou afgesaagde storie van die Julian Mullers van hierdie wêreld dat die Evangelie herverwoord moet word om aan te pas by die post-moderne mens se denke en leefwêreld. Kyk maar weer ‘n slag wat Alice Bailey hierbo gesê het en lees sommer ook wat sy oor die Koninkryk van God hier op aarde gesê het:
Your spiritual goal is the establishing of the Kingdom of God. One of the first steps towards this is to prepare men’s minds to accept the fact that the reappearance of the CHRIST is imminent. You must tell them everywhere that the Masters and Their groups of disciples are actively working to bring order out of chaos. You must tell them that there IS a Plan, and that nothing can possibly arrest the working out of that Plan. You must tell them that the Hierarchy stands, and that it has stood for thousands of years, and is the expression of the accumulated wisdom of the ages. You must tell them above all else that God is love, that the Hierarchy is love, and that Christ is coming because He loves humanity.
“It is time that the church woke up to its true mission, which is to materialize the kingdom of God on earth, today, here and now.… People are no longer interested in a possible heavenly state or a probable hell. They need to learn that the kingdom is here, and must express itself on earth … The way into that kingdom is the way that Christ trod. It involves the sacrifice of the personal self for the good of the world, and the service of humanity…” — Alice Bailey (Cited in chapter 15 of “In The Name of Purpose”).
Ek sluit hierdie eerste deel van my besinning oor die liefde af met hierdie vraag. As Dr. Stephan Joubert so ‘n belangrike stem is wat vir die Naam van Jesus in Suid-Afrika opklink, waarom vereenselwig hy hom met mense wat Jesus Christus se Naam oneer aandoen en verloën? Waarom repudieer hy hulle nie in die openbaar nie? Waarom kies hy nie om gehoorsaam te bly aan die Here wat hy sê hy navolg nie? Waarom doen hy nie wat Paulus gesê het “om hard te stry vir die geloof wat eenmaal deur die apostels aan ons oorgelwer is” nie? Ek wil hom uit die diepte van my hart aanmoedig om hom van sy verkeerde weë te bekeer en daadwerklik te begin om hard te stry vir die Evangelie van Jesus Christus en nie ‘n klomp valse profete se leuens die lof te besing nie. Ware liefde is om God se kudde teen valse leraars en hulle dwaalleringe te beskerm. Doen dit asseblief.