Die “Brandpunt” van Suid-Afrika se Ontluikende Kerk
Posted by Thomas on April 6, 2009
Ds. Jannie Pelser, die leierleraar van die Rant en Dal Gemeenskapskerk in Krugersdorp, het in sy program “Brandpunt” op Radio Kansel (3 April 2009 om 06:30) een van die hedendaagse mees besproke onderwerpe onder die loep geneem, nl. die Ontluikende Kerk (“Emerging Church” of “Emergent Church”). Sy drie gesprekgenote was mnr. Sarel van de Merwe, ‘n voormalige New Ager wat die Here sowat drie en dertig jaar gelede gered het en sedertdien navorsing doen oor verskeie strominge in die kerk. Hy is veral betrokke by die maak van hoë kwaliteit DVD’s en die aanbieding van seminare dwarsoor die land. Hy was ook onlangs in die nuus toe Kerkbode ‘n voorbladberig oor een van sy seminare oor die Ontluikende Kerk geplaas het en waarin Dr. Nelus Niemandt, die outeur van “Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede, ‘n striemende aanval op hom gemaak het. Die res van Pelser se paneel het bestaan uit ds. Guillame Smit, predikant van die NG Kerk in Brackenfell-Wes in die Kaap en ds. Cobus van Wyngaard, leraar van die Kameeldrif NG Gemeeente in Pretoria wat die Ontluikende spiritualiteit met oorgawe verkondig.
Byvoeglike naamwoorde kan nogal handig wees wanneer jy die stemming van ‘n gesprek in ‘n sekere rigting wil stuur of wanneer jy op subtiele wyse die gedagtegang van mense subliminaal wil beïnvloed. Ds. Jannie Pelser se inleidende woorde tot sy program “Brandpunt” is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.
“Die afgelope tyd is die sg. Opkomende Kerk, die ‘Emerging Church’ baie in die nuus, en sommige mense is onbeskaamd krities daaroor; andere is weer rasend opgewonde en nou, hoe moet ‘n mens daaroor oordeel.” (Klem bygevoeg)
Sy woordkeuse van “onbeskaamd” en “rasend opgewonde” toon nie net waar sy eie lojaliteite lê nie, maar dit het mnr. Sarel van Merwe onmiddellik in die beskuldigde bank geplaas. Hy kon net sowel gesê het “Mnr van der Merwe, skaam jy jou nie om so krities teenoor die Ontluikende Kerk te wees nie?" Sou dit enigsins ‘n verskil maak indien hy sy program eerder as volg ingelui het?
"Die afgelope tyd is die sg. Opkomende Kerk, die ‘Emerging Church’ baie in die nuus, en sommige mense is onbeskaamd opgewonde daaroor; andere staan weer rasend krities daarteenoor."
Die woordjie “skaam” kom nogal heel dikwels in die Bybel voor en dit kan geweldige implikasies vir die mens inhou, veral wanneer dit betrekking het op die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus. Die enigste Verlosser van die mensdom het juis op ‘n dag gesê:
Mar 8:36-38 . . . wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.(Klem bygevoeg)
Daar is natuurlik verskeie maniere waarop jy jou vir die woorde van Jesus Christus kan skaam. Die ooglopendste hiervan is om stil te bly en nie ‘n
woord te sê nie wanneer jy die geleentheid kry om Christus se Naam voor mense te bely en onbeskaamd vir hulle te vertel dat Hy die enigste Verlosser is. Ek kan talle voorbeelde noem van Ontluikende Kerk-leraars wat wonderlike geleenthede gehad het maar hopeloos versuim het om sy Naam te bely. Verlede jaar het Rob Bell en Doug Pagitt, twee van die mees toonaangewende figure van die Ontluikende Kerk, onbeskaamd hulle solidariteit met die Dalai Lama en sy “Seeds of Compassion” Konferensie in Seattle Amerika getoon toe hulle saam met Desmond Tutu op dieselfde verhoog as Tenzin Gyatso (die 14de geïnkarneerde Dalai Lama van Tibet) verskyn het. So-ook het die NG Kerk hulle solidariteit met die Dalai Lama getoon toe hulle onlangs by monde van hulle Algemene Sekretaris, Dr. J.J. Gerber, in ‘n amptelike persverklaring hulle van die ANC gedistansieer het omdat hulle hom nie wou toelaat om die Vredeskonferensie op die vooraand van die 2010 wêreldbeker sokkertoenooi by te woon nie.
Dit is opvallend dat Boeddhisme en ook die New Age beweging ‘n magnetiese trekkrag het vir baie mense wat hulleself Christene noem, veral ook in die geledere van die Ontluikende Kerk. Die rede hiervoor is dat die Dalai Lama, die 14de geïnkarneerde Boeddha van barmahartigheid (“Bodhisattva of compassion”), beskou word as ‘n besondere en geëerde geestelike leier wat vrede, verdraagsamheid, nie-geweldadigheid, en onderlinge respek predik en bevorder waar hy ookal as spreker optree. Die hele wêreld smag na vrede maar die tragedie is dat die meeste mense, en selfs ook baie Christene, vrede wil hê sonder die kruis van Jesus Christus. Sy vrede kan alleenlik via sy kruis geskied maar dit het vir baie ‘n struikelblok in die weg na hulle siening van vrede geword en hulle is selfs bereid om die Evangelie van die kruis ter wille van ‘n mensgemaakte vrede te kompromiteer en selfs ook te verwerp. Daarom sê die Skrif ook baie duidelik:
Jes 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
1Kor 1:18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
Die ironie is dat baie Christene, ook hier ons eie land, nooit sal ontken dat die kruis van Jesus Christus die vrede aanbring nie, maar terselfdertyd onbesonne dinge sê oor die vredesinisiatiewe van ander godsdienste en die beweerde waarhede wat kwansuis in godsdienste soos die Boeddhisme en selfs die ateïsme opgesluit lê. Stephan Joubert, een van die voorste bevorderaars van die Ontluikende Kerk in Suid-Afrika het in een van sy onlangse preke (Sondag, 1 Maart 2009) gesê:
Hy (Rob Bell) sê jy moet die kultuur “engage.” Jy moet gaan luister na die Boeddhiste. Jy moet gaan hoor wat sê daai ouens. Dan skrik Christene hulle dood, want hulle hoor nie wat Rob Bell mooi sê nie. Hy sê nie word soos hulle nie, hy sê maar gaan lees hulle goeters, gaan hoor hoekom hulle so belangrik is. Hulle het ook dalk waarheid. Waarheid is nie net in die Christendom nie. Waarheid vind jy by Judaïsme. Jy kan waarheid vind by ateïsme. Jy kan waarheid vind by wie ook al. God se algemene openbaring is ‘n bietjie wyer, maar jy sê Jesus is die Here. Dis waarnatoe jy op pad is met hulle met so ’n beweging.
My vraag aan Stephan is nog steeds: Kan jy ook by die Satanskerk van Anton la Vey waarheid vind? Hy sê
mos "jy kan waarheid vind by wie ookal." Stephan sal hierdie vraag natuurlik as verregaande beskou, maar hy vergeet gerieflikheidshalwe Paulus se waarkuwing dat die afgodiese godsdienste aan duiwels offer en nie aan God nie – 1 Kor 10:20. Jy kan dus maar kers opsteek by ander godsdienste wat aan die duiwels hulle lofoffers bring, netso lank jy sê "Jesus is die Here." Die Naam "Jesus’ word dan ‘n soort towerwoord wat jou vrywaar van jou soeke na waarheid in ander godsdienste en die New Age. Wat sê die Here self? "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?" Deesdae word die duiwels nie uitgedryf nie; daar word eerder vir die mense gesê om by die duiwelofferaars [in weerwil van Paulus van Tarsus se waarskuwing] heerlike, kopoopmakende waarhede te soek. Natuurllik sal baie Christene skrik wanneer hulle hoor wat Rob Bell oor die Boeddhisme en ander godsdienste sê. Skrik is ‘n goeie ding en dikwels ‘n bedekte seën want dit weerhou jou van dinge wat jy miskien sou wou doen, omdat die vrees van die Here die begin van die wysheid is. Maar dan is daar ook baie jong Christene (die lammertjies wat spesifiek deur die Ontluikende Kerk geteiken word) wat deesdae so oorweldig word deur die leierfigure in die Ontluikende Kerk dat hulle geredelik makliker gehoor gee aan hulle ghoeroes se mooi Christelike aanbevelings, en daadwerklik in ander godsdienste begin soek na waarhede wat die waarhede in God se Woord kwansuis sou aanvul. Wat sê die Woord:
Mar 9:42 En elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom as ‘n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word (M.a.w. daar waar God, metafories gesproke, die sondes van bekeerde mense gooi – Miga 7:19)
Sommige van die gevaarlikste uitsprake wat al amper ‘n spreekwoord in die geledere van die Ontluikende Kerk geword het, is dat “God se algemene openbaring ‘n bietjie wyer is” en dat “God se openbaring groter is as net die Christendom en sy geopenbaarde woord.” In sy boek “Velvet Elvis” begin Rob Bell te vertel hoedat hy op ‘n dag ‘n skildery van Elvis Presley langs die pad gekoop het. Die beste deel van hierdie skildery, sê Rob, is heel links-onder aan die skildery waar die kunstenaar net sy voorletter “R” geverf het want, as jy so goed is, is dit nie nodig om jou volle naam te onderteken nie. Veronderstel, sê hy voorts, die ondergetekende kunsteaar “R” sou dan ‘n verklaring uitreik dat sy skildery die allerlaaste en beslissende meesterstuk is en dat niemand dus voortaan meer nodig het om ‘n verfkwas in die hand te neem om te skilder nie. Hulle sou m.a.w. geen nuwe bydrae tot sy allerbeste meesterstuk kon lewer nie. Dan skryf Rob Bell, wat sommiges as die opvolger van Billy Graham beskou, die volgende op bls. 10 van sy boek "Velvet Elvis."
"We would say that R had lost his mind. We say this because we instinctively understand that art has to, in some way, keep going. Keep exploring, keep arranging,, keep shaping, and forming and bringing in new perspectives. For thousands of years followers of Jesus, like artists have understood that we have to keep going, exploring what it means to live in harmony with God and each other. The Christian faith tradition is filled with change and growth and transformation. Jesus took part in this process by calling people to rethink faith and the Bible and hope and love and everything else and by inviting them into the endless process of working out how to live as God created us to live." (Klem bygevoeg)
Volgens Rob Bell het die fundamentaliste hulle verstand verloor omdat hulle die Woord van God as ‘n geslote kanon (of as die volledig geskilderde meesterstuk van God) beskou en glo dat die Here se “goddelike krag ons alles geskenk [het] wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug” (2 Petrus 1:3). Hulle is, volgens Rob Bell, totaal buite hulle sinne. Werklik? Die woord vir “goddelike” (“theias”) in hierdie gedeelte is afgelei van “theos” (God) en word slegs drie keer in die Nuwe Testament gebruik (hier en in Handelinge 17:29 en 2 Petrus 1:4). “Krag: (“dynameos” – die woord waarvan ons woord “dinamiet” afgelei is) is een van Petrus se geliefkoosde woorde (1 Petrus 1:5; 3:22; 2 Petrus 1:16; 2: 11). Die enigste ding wat alle gelowiges nodig het om in die regte verhouding met God en hulle medemens te lewe, is verkrygbaar deur hulle kennis van Christus wat hulle tussen die bladsye van Genesis tot Openbaring vind. Dit is hoofsaaklik hulle kennis van hulle posisie in Christus Jesus waar Hy tans aan die regterhand van God sit, en die inwonende Gees van God wat hulle in staat stel om ‘n goddelike lewe te lei en daagliks in die regte verhouding met God en hulle medemens te lewe. Die Drie-enige God wat hemel en aarde gemaak het en alles wat daarin is, wat van ewigheid tot ewigheid dieselfde is, wat geen man is dat Hy sou lieg nie, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie, en wie in ondeurdringbare lig lewe, sê: “My Enigste Seun het aan die Kruis namens julle uitgeroep ‘Dit is volbring;’ Ek het my Heilige Gees na julle gestuur om in julle diepste binneste te woon sodat HY julle in die HELE waarheid kan lei; sodat julle heilig kan lewe omdat Ekself heilig is; sodat julle my getuienisse kan wees tot aan die uiteindes van die aarde; sodat julle niks kortkom in heerlikheid, deugsaamheid en goddelike krag nie.” Maar nee! ons spiksplinternuwe Billy Graham, Rob Bell, wat soos ons almal eendag in die graf gaan beland en tot stof toe sal terugkeer, weet beter as die ewig onveranderlike God. Hy sê:
"Jesus took part in this proces by calling people to rethink faith and the Bible and hope and love and everything else and by inviting them into the endless process of working out how to live as God created us to live." (Velvet Elvis, p. 10)
"As part of this tradition [the Reformation] I embrace the need to keep painting, to keep reforming. By this I do not mean cosmetic, superficial changes like better lights and music, sharper graphics and new methods with easy-to-follow steps. I mean theology: the beliefs about God, Jesus, the Bible, salvation, the future. We must keep reforming the way teh Christian faith is defined,, lived and explained." (Velvet Elvis, p. 12) (Klem bygevoeg).
Brian McLaren, nog een van die toonaangewende leierfigure in die Ontluikende Kerk, stem heelhartig met Rob Bell saam dat ons eindeloos moet voortgaan om die geloof oor God, Jesus, die Bybel, verlossing en die toekoms te oordink, te herverwoord en met nuwe skakeringe te beskilder. Brian, wat volgens ons eie ontluikende kerk se opkomende meesterskilders (Stephan Joubert, Nelus Niemandt en so baie ander NG predikante), navolgingswaardig is, het gesê:
“I’d have to say that we probably have a couple of things right, but a lot of things wrong, and even more spreads before us unseen and unimagined. But at least our eyes are open! To be a Christian in a generously orthodox way is not to claim to have the truth captured, stuffed, and mounted on the wall.” (Brian McLaren, The Emergent Mystique, Christianity Today, 2004) (Jesus sê: "Joh 9:41 As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! ["at least our eyes are open") Daarom bly julle sonde." Stephan Joubert, Nelus Niemandt, Dr. Johan van den Heever, ds. Guillaume Smit, ds. Jannie Pelser, ds. Cobus van Wyngaard en al die ander Ontluikende leraars in ons land behoort eintlik so vinnig en so hard hulle kan soos Josef weg te hardloop van die hedendaagse Potifar-vrouens; maar nee, hulle verkies om hulle te skaar aan die kant van 'n klomp geestelike hoereerders en gemeenskap ["conversations"] met hulle te hou).
I don’t think we’ve got the gospel right yet. "What does it mean to be “saved?”
“I must add, though, that I don’t believe making disciples must equal making adherents to the Christian religion. It may be advisable in many circumstances to help people become followers of Jesus and remain within their Buddhist, Hindu, or Jewish contexts.” (A Generous Orthodoxy, p. 260)
Wat sê die Skrif van persone wat nie tevrede is met God se finale en geopenbaarde “meesterstuk” nie en die vermetelheid het om hulle verfkwas in die palette van ander gosdienste te doop sodat hulle kwansuis by hulle kan leer. Ek haal aan uit die Amplified Bybel.
2 John 9 Anyone who runs on ahead [of God] and does not abide in the doctrine of Christ [who is not content with what He taught] does not have God; but he who continues to live in the doctrine (teaching) of Christ [does have God], he has both the Father and the Son. (Klem bygevoeg)
Enigeen, en dit maak nie saak wie dit is of watter hoë aansien hy in die samelewing en die kerk geniet nie, wat nie tevrede en vergenoeg is met Christus se leerstellings en sy openabaring (en enigste meesterwerk) soos ons dit in sy Woord teëkom nie, is nie gered nie. Dis nie ek wat so sê nie maar die einste apostel van liefde. Moet my dus asseblief nie van liefdeloosheid, verwaandheid en arrogansie beskuldig nie. Daarom is dit ook ‘n skreiende skande en skokkend dat ds. Jannie Pelser tydens die onderhoud wat hy in sy program Brandpunt met Sarel van der Merwe en ds. Guillaume Smit en ds. Cobus van Wyngaard gevoer het, gesê het:
"Is God se openbaring, God se werk, nie groter as net die Christendom nie? Sou daar nie ook elemente wees, sou ons nie by mekaar kon leer [nie], selfs al moet dit nou die New Age wees. Maar as ek dink rondom die kontemplatiewe . . . ‘n stil word voor God, ‘n oopstel voor God. is dit nie ‘n winsmoment nie?"
Die New Age is ten diepste ‘n afgodiese beweging wat die leuen verkondig dat die mens self God kan word. Wil ds. Jannie Pelser werklikwaar by hulle kers opsteek om die groter openbaringe van God te ontdek en te verkondig? Miskien is hy alreeds besig om dit te doen, veral as ‘n mens in oënskou neem dat hy verlede jaar op 21 November in ‘n preek die motiveringspreker en New Age aanhanger, Annie Coetzee, met waardering aangehaal het. Ds. Jannie, ek het jou reeds by vorige geleenthede dringend versoek om jou te bekeer van die pad waarop jy jou tans begewe en ek wil dit nou weer doen. Jy speel met vuur.
In antwoord op ds Jannie se simpatieke benadering tot die New Age en veral ook die kontemplatiewe spiritualiteit, het ds. Gullaume Smit as volg gereageer:
Ongetwyfeld is dit ‘n winsmoment. Die Bybel self sê vir ons, in Romeine nogal, dat waar die mense nie die wet van Moses het nie, gaan God in hulle harte kyk want hulle skryf hulle eie wet in hulle harte neer en die konteks daar is baie duidelik dat dit gaan oor mense wat nie die openbaring van die Jode gekry het voordat hulle Christene geword het nie, of dan nou selfs doodgegaan het sonder blootstelling aan die Joodse geloof of die Christelike geloof nie. ‘n Mens kry die idee dat die Bybel self die uitspraak lewer dat God met die hele wêreld besig is, ook buite om die Christendom. Daarmee sê ek nie almal gaan hemel toe nie. Daarom sê ek ons moet daai vraag op die tafel sit dat God besig is met alles en met almal en dat ons die draers van die openbaring is, as gelowige Christene, maar spesifiek wil ek dan ook sê, die winsmoment is die feit dat ons die geleentheid het om in gesprek te tree met kultuuruitinge wat ons in staat stel om tot stilstand te kom sodat ons weer op ‘n vars manier kan hoor wat God vir ons wil sê. Jy het na die kontemplatiewe verwys. Die kontemplatiewe lê toevallig in die vroeë kerk . . . en kom uit die kloosterera uit en as ‘n mens daarop sou ingaan dan dink ek nie ‘n mens moet die baba met die badwater uitgooi nie. En ‘n mens moet veral ook bereid wees om, wanneer ‘n mens mense wil beoordeel, in gesprek met hulle te tree en na hulle te luister want om ‘n ding krities te ondersoek beteken nie dat jy net foute uitlig nie maar dat jy ook na die persoon se hart gaan kyk en na sy integriteit gaan kyk. (Klem bygevoeg).
Waar ds. Guillaume Smit sy idees vandaan kry weet nugter, maar dit is baie duidelik dat hyself ook reeds deur die Ontluikende Kerk beïmvloed is. Ons lees nêrens in die Skrif dat Christene in gesprek moet tree met ander klultuuruitinge (godsdienste) om ons in staat te stel om op nuwe en vars maniere te hoor wat God vir ons wil sê nie. Die Here sê mos baie duidelik dat Hy sy finale Woord deur sy eniggebore Seun, Jesus Christus, met en tot ons gespreek het. Vergun my die geleentheid om ons drie hooggeëerde en hooggeleerde predikante te herinner aan sy woorde in Hebreërs 1:
Hebr. 1:1-2 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.
Die probleem met ons “ontluikende” of “opkomende kerk”-vriende is dat hulle nie wil hoor nie en ook nie sal hoor nie, nie tensy hulle hul van hul ketterse uitsprake en leerstellings bekeer nie. Smit se “winsmoment” soos hierbo aangehaal, is niks anders as ‘n dwarsklap na die gesig van Jesus Christus nie. Wat hy entlik sê, soos ds. Jannie Pelser ook in sy vraag gesuggereer het, is dat God se openbaring deur sy Seun nie voldoende is nie en dat ons in gesprek moet tree met ander kultuuruitinge (godsdiense) sodat ons met nuwe insigte en op vars maniere kan hoor wat God vir ons wil sê. Op die koop toe moet ons hulle nie aanspreek net om hulle foute uit te lig nie, maar ons moet na hulle harte gaan kyk (so asof Smit die vermoë het om mense se harte te sien. Lees gerus maar weer Jeremia 17:9, ds. Smit). Dit is juis die hele probleem. Hierdie valse leraars se integriteit en harte word so geweldig hoog aangerprys deur die samelewing en die kerk dat hulle maar kan sê net wat hulle wil; die arme skape en lammertjies loop nog steeds soos verlore skape agter hulle aan. Gn wonder Paulus het op ‘n kol gesê nie:
Hand 20: 29, 30 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.
Weer eens, die Heilige Skrif moedig ons nie aan om in gesprek te tree met ander kultuuruitinge (godsdienste) nie. Paulus vermaan sy jonger boetie in die Here:
2 Tim 4:2-4 . . . verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. (Klem bygevoeg).
Die woord vir verkondig, is κηρύσσω [kerusso /kay·roos·so/] en beteken om die Woord heraldies uit te roep, altyd met die voorneme om dit formeel en met groot erns en outoriteit uit te dra want daar MOET daarna geluister word en dit MOET gehoorsaam word. Daarom sê Paulus:
1Kor 9:16 Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!
Waarom MOET almal gehoorsaam wees aan die heraldiese roep van die Evanglie?
Joh 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. (Klem bygevoeg).
Let tog asseblief noukeurig op, Jannie, Guillaume en Cobus, Paulus het nie gesê “tree in gesprek met ander kultuuruitinge sodat julle God se stem nuut en vars kan hoor nie.” Soos Paulus, wil ek ook vir julle sê “Wee julle as julle die evangelie nie verkondig nie,” en moet asseblief nie vir my sê dat julle wel deeglik die evangelie verkondig nie want as julle dit reeds doen, sou julle nooit sulke onbesonne dinge sê soos “maar spesifiek wil ek dan ook sê, die winsmoment is die feit dat ons die geleentheid het om in gesprek te tree met kultuuruitinge wat ons in staat stel om tot stilstand te kom sodat ons weer op ‘n vars manier kan hoor wat God vir ons wil sê.”
Ek wou ook baie graag kommentaar op ds. Guillaume Smit se eienaardige eksegese oor Romeine 1 lewer, maar ek sal dit liewer oorlaat tot ‘n volgende keer.
Ek sluit af met Jesus se woorde in Johannes 21.
Joh 21:15-17 Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei. Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op. Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.
Indien Jannie, Guillaume en Cobus die Here Jesus waarlik liefhet, sal hulle sorg dat God se skape en lammertjies die regte geestelike weiding en voedsel kry en glo my hulle sal dit nimmer as’t nooit in ander weivelde (kultuuruitinge of godsdienste) vind nie. Julle speel met vuur.
Hy (Rob Bell) sê jy moet die kultuur “engage.” Jy moet gaan luister na die Boeddhiste. Jy moet gaan hoor wat sê daai ouens. Dan skrik Christene hulle dood, want hulle hoor nie wat Rob Bell mooi sê nie. Hy sê nie word soos hulle nie, hy sê maar gaan lees hulle goeters, gaan hoor hoekom hulle so belangrik is. Hulle het ook dalk waarheid. Waarheid is nie net in die Christendom nie. Waarheid vind jy by Judaïsme. Jy kan waarheid vind by ateïsme. Jy kan waarheid vind by wie ook al. God se algemene openbaring is ‘n bietjie wyer, maar jy sê Jesus is die Here. Dis waarnatoe jy op pad is met hulle met so ’n beweging.
Magda Kopp said
Ek lees onder E-kerk Stephan Jouber se hulle aanvaar die Bybel as die unieke en gesagvolle woord van God. Maar dan se hy ook quote:
“People should not return to the bible or to the church but advance towards God” Dit maak nie vir my sin nie.