READ THE ENGLISH VERSION OF MY COMMENTARY HERE
Iemand vra my onlangs “Hoe is dit moontlik dat enigeen wat eens op ‘n tyd ‘n vaste geloof in Jesus Christus bely het skielik van dié geloof afvallig kan word en ‘n ander Jesus begin navolg terwyl hulle vas oortuig is dat hulle die regte Jesus volg?” Eers daarna het ek besef my antwoord was toe nie so oortuigend nie en ek het gevoel om my eie bas te skop omdat ek nie ‘n beter antwoord op ons postmoderne siekte van kroniese geestelike afval kon gee nie. Ek moet erken ek het baie beter gevoel toe ek besef dat toe Paulus met die fenomeen van afvalligheid geworstel het, hy maar ook net sy verbasing oor die ernstige en baie gevaarlike ontrouheid aan gesonde Bybelse leerstellings in die kerk in Galasië kon uitspreek sonder om enige goeie redes te gee. Die skokkendste ding van hulle afvalligheid was dat dit so skielik gebeur het. Dit het sedert Paulus se laaste sendingbesoek aan hulle en kort na die valse leraars se dreigende dwaalleerstellige infiltrasie van hulle kerk teen ‘n geweldige vinnige tempo toegeneem. Dit dui daarop dat wanneer dwaalleerstellings nie dadelik in die kiem gesmoor word nie en toegelaat word om sy gang te gaan dat dit baie vinnig soos ‘n kanker van liggaamsel tot liggaamsel versprei totdat die hele liggaam besmet word en uiteindelik doodgaan (2 Timotheus 2:13-19). Terloops, ds. Attie Nel van die NG Gemeente, Bergsig het op Sondag 10 Mei 2009 oor hierdie teksgedeelte gepreek, maar pleks daarvan om sy gemeentelede teen die menigvuldige dwaalleraars van ons tyd te waarsku, het hy die “whistle-blowers” as die sondebokke en kankerdraers uitgesonder en sy gemeentelede aanbeveel om eerder die webtuiste www.bible.org te lees indien hulle soliede Bybelmentors of leermeesters nodig het om hulle op hulle geestelike reis te begelei. Hy het gesê:
“Vandag is daar drie persone wat ‘n baie groot invloed op my lewe het: N.T. Wright, SCOT McKNIGHT Eugene Peterson. In Suid Afrika: Stephan Joubert en Jan van der Watt en selfs Adrio König. Elkeen van ons behoort in ons lewe ‘n leermeester te hê, of twee, verkieslik meer as een [en] sê: ‘ek sal graag by jou wil leer.’ Maar mense leer op verskillende maniere. Sommige leer deur te lees; ander leer deur te luister; ander leer deur te praat, te gesels. Ek hou nie van die gesels ding nie want ek dink te stadig. Maar, ek lees graag en ek luister graag. Nou! ek gaan vir jou ‘n webwerf se naam gee waar al drie hierdie goed gaan gebeur. Daar’s baie leesstof; dis baie goeie leesstof en behoudende teoloë; hulle publiseer elke dag op daardie webwerf en dan’s daar ook preke waarna jy kan luister en dan’s daar ‘n plek waar jy in gesprek kan gaan met ander ouens. Die adres is baie eenvoudig, www.bible.org. Gaan kyk daar; jy kan daardie persone maar ook jou leermeesters maak.”
Teen die einde van sy preek sê ds. Nel.
Maak God die eerste liefde, die enigste liefde in jou lewe. As ek dit alles gesê het, dan wonder mens nou maar, maar hoe leef ek dit uit? En juis een van die manne na wie ek in dié week geluister het hieroor, die Engels sê dit so maklik, hy sê “Just love Jesus.” Dis al. Wees net lief vir die Here. As jy die Here liefhet en as jy Hom meer liefhet as enigiets anders dan val die ander goed in plek. ‘Just love Jesus.” So maklik. So makklik. Dis nie ‘n emosie nie. Ek kies nie om iets te voel nie. Ek kies om iets te wees. Hoe voel dit om jou vrou life te hê? Ek weet nie. . . . Al wat ek weet, is ek wil niks doen wat haar seermaak nie. Hoe voel dit om jou vrou lief te hê? Ek weet nie. . . . Ek weet nie hoe voel dit nie. Al wat ek weet, is dat as ek ons kinders veilig kan hou; dis wat my vrou wil hê . . . ‘Just love Jesus.’”
Dit is inderdaad voortreflike woorde, maar voortreflike woorde skilder ongelukkig nie altyd vir ons die volledige prentjie nie. Jesus Christus wil ook hê dat ds. Attie Nel en al die ander herders in die NG Kerkfamilie God se kinders veilig moet hou, netsoos sy vrou wil hê hy hulle kinders veilig moet hou. Het Jesus dan nie juis gesê dat ons liefde vir Hom gespieëlbeeld word in die wyse waarop ons sy skape en lammers voed en oppas nie? (Johannes 21:15-17). Om Hom lief te hê is dus veel meer as net die versugting “just love Jesus.” Trouens, die Skrif sê nêrens dat ons net lief moet wees vir die Here nie. Liefde vir God vind neerslag in die wyse waarop jy sy Woord (leerstellings) hanteer en beoefen (Joh 14:21; 2 Joh 9) en ook in die wyse waarop jy sy kinders voed en oppas. Om God se kinders veilig te hou beteken in die eerste plek om hulle binne die omvang en parameters van sy Woord te voed en te bewaar sodat hulle geestelik mag groei en om hulle te beskerm teen die gewetenlose aanvalle van valse leraars. Doen ons herders dit? Nee, sê ek, want hulle is besig om die skape en die lammertjies oor die te gee aan leermeesters wat geheel en al ander dinge sê en doen as ons groot Leermeester, Jesus Christus. Hulle lei die skape en veral die lammers langs weë wat reg lyk maar in werklikheid weë van die dood is (Spreuke 14:12)
N.T. Wright, een van ds. Attie Nel se invloedryke leermeesters, is ‘n biskop in The Church of England wat Christene die war instuur met sy boek “What Saint Paul Really Said.” Hy is ook een van die medeskrywers van ‘n boek wat opslae maak in die kerk, genaamd “Stricken By God, Nonviolent Identification & the Victory of Christ deur Brad Jersak en Michael Hardin. Verskeie toonaangewende leiersfigure in die Ontluikende Kerk, o.a. Brian Mclaren, is gaande daaroor. Biskop Wright geniet hoë aansien in die geledere van die ontluikende kerk. Op bladsy 119 van sy boek “What Saint Paul Really Said” skryf hy die volgende oor die leerstelling van “regverdigmaking.”
“‘Regverdigmaking’ in die erste eeu het nie gegaan oor hoe iemand in die regte verhouding met God kom nie. Dit het gegaan oor God se eskatalogiese definisie van wie, beide toekomstig en teenswoordig, ‘n lid was van sy volk.”
Met hierdie konkoksie word van die leser verwag om nuut te dink oor die konsep van regverdigmaking. Volgens Wright word “regverdigmaking” nie meer omskryf in terme van God wat sondaars deur die toegesegde regverdigheid van sy Seun red nie, maar bloot as ‘n uitdrukking of spreekwyse (metafoor) van God se getrougheid t.o.v. sy verbond om Israel in die aangesig van die nasies te verdedig. G’n wonder Paulus het gesê nie:
Galasiërs 1: 6:7 Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. (Klem bygevoeg)
Die apostel Johannes was netso verbaas toe hy in ‘n visoen die apokaliptiese VERBORGENHEID, DIE GROOT BABILON, DIE MOEDER VAN DIE HOERE EN VAN DIE GRUWELS VAN DIE AARDE gesien het:
Openbaring 17:6 En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien. (Klem bygevoeg)
Om die waarheid te sê, dieselfde woord vir “verwondering,” “thaumazo { thou-mad’-zo},” word in albei hierdie teksgedeeltes gebruik. Ongelukkig het verbasing (verstomming, verbystering en skok) plek gemaak vir bewondering en waardering, in so ‘n mate dat die eens ontoelaatbare en afkeurenswaardige leerstellings van die Rooms Katolieke Kerk met toenemende ywer en verwondering in Protestantse kringe geassimileer word. Diegene wat nie die globaal georkestreerde en onverbiddelike pogings van sommige van die mees gerespekteerde geestelike leiers in die Rooms Katolieke en Protestantse kerke om die Reformasie om te keer, raaksien nie, hoef net vir ‘n uur lank op die internet rond te snuffel om agter te kom hoe ver hulle gevorder het om die skeidslyn tussen die twee uit die weg te ruim. Tydens my navorsing op die internet het ek op ‘n webuiste met die naam PBS afgekom wat via hulle televisiestasies en internet-beriggewing op die voorpunt staan in die verskaffing van nuus en menings. Hulle maak aanspraak op ‘n gehoor van oor die 65 miljoen kykers en luisteraars wat die wêrelde van die wetenskap, geskiedenis, die natuur en openbare aangeleenthede in hulle binnekamers kan ervaar; diverse menings hoor en die voorste sitplek aanbiedinge van wêreldklas dramas en opvoerings kan geniet. Ek het veral belanggestel in hulle blad genaamd RELIGION AND ETHICS en hulle voorbladberig onder die titel “Protestant Mary” wat op 17 Desember 2004 verskyn het. Kim Lawton, Hoofredakteur/Korrespondent en bekroonde verslaggewer en skrywer wat al amper 20 jaar lank in die uitsaai- en drukkersbedryf werk en aangeleenthede rondom die godsdiens, die etiek en die kultuur aanraak, het onderhoude met verskeie bekende kerklui en akademici gevoer. Sy het Prof. Timothy George, “Southern Baptist” en deken van die Evangelical Divinity School in Birmingham, Alabama, voorgestel as ‘n voorbeeld van een van die toenemende aantal teoloë en skrywers wat evangeliese Christene en ander Protestante dringend versoek om op te hou om Maria te ignoreer. Sy het ook ‘n onderhoud gevoer met Professor BEVERLEY ROBERTS GAVENTA (Princeton Teologiese Kweekskool) wat aandring op ‘n nuwe Protestantse beskouing van Maria. Sy sê:
So even in order to understand fully what those Gospels are about, which is so much what Protestants prize, we have to pay more attention to her. We can’t just bring her out for Christmas Eve and put her back away on the 26th.
Kan u agterkom hoedat die postmoderne obessie met die herverwoording, herinkleding, herinterpretasie vaan die Rvanelie besig is om elke faset van die kerk te deursuur en te verkanker? Ons moet nou kwansuis meer aandag aan moeder Maria skenk sodat ons die vier evangelies en natuurlik ook die boek Handelinge volledig te kan verstaan. Watse nonsens is dit? . . . en tog nooi die NG Kerk sulke mense om ons te kom leer hoe om die boek Handelinge te gebruik vir die vestiging van n missionale strategie in die Suid-Afrikaanse konteks.
Waarom moet ons meer aandag gee aan Maria terwyl sy nouliks of ooit bygedra het tot die bevordering of beligting van die Evangelie? Daardie taak is aan die twaalf apostels opgedra van wie Jesus eenmaal gesê het: “Dáár is my moeder en my broers. Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.” Ons durf nie partydig wees nie terwyl Christus self elke persoon wat die wil van sy Vader in die hemel doen, uitgesonder het as sy broer en suster en moeder. Maria wat haarself aan God oorgegee het sodat Hy sy wil t.o.v. die vleeswording van God die Seun kon bereik, was inderdaad geseënd maar so-ook is die armes van gees, hulle wat treur oor hulle sondes en oortredinge, die sagmoediges, die wat honger en dors na God se geregtigheid, die barmhartiges, die wat rein van hart is, die vredemakers en hulle wat ter wille van die geregtigheid vervolg word. Niemand kan ontken dat Maria die geseënde verkose instrument van God was, want as Hy dit nie gedoen het nie sou ons geseënde Heer en Verlosser nooit vlees en bloed deelagtig kon word nie en sou ons sondes en oortredinge nooit in sy geslane en bebloede liggaam aan die kruis geoordeel kon word nie. Die maagdelike en uitverkore instrument was voorwaar geseënd maar nie meer as enige ander man, vrou en kind wat die wil van sy Vader in die hemel doen nie. Sodra ons Maria op ‘n troontjie plaas om haar vir spesiale aandag bo alle ander mense wat God se wil doen, uit te sonder, is ons gevaarlik na-aan die Maria-verering van die Rooms Katolieke kerk. Maria-verering in die Rooms Katolieke tradisie gaan nie maar net daarom om Maria op ou-Kersaand en kersfees tevoorskyn te haal nie en om haar betekenis te re-evalueer sodat ons die Evangelies beter en vollediger kan verstaan nie. Die uiteindelike doel van Maria-verering is om Maria as Mede-verlosser saam met en gelyk aan Jesus Christus te verklaar. Die volgende definisie van die woord “Mede-verlosser” verskyn in Wikipedia.
Mede-verlosser in Rooms Katolieke Maria-verering verwys na die rol van die Geseënde Maagd Maria in die verslossingsproses. Dit is ‘n ander konsep as Bemiddelaarster [Mediatrix]. Die konsep van Mede-verlosser verwys na ‘n indirekte of ongelyke maar belangrike deelname deur die Geseënde Maagd Maria in die verlossing. Sy het vryelik ingewillig om die lewe te skenk aan die verlosser, om sy lewe te deel, om saam met hom onder die kruis te ly en om hom vir die doel van die redding van die mensdom te offer. Mede-verlosser is nog nie formeel as ‘n dogma geformuleer nie, hoewel petisies vir die verklaring daarvan (tesame met Bemiddelaarster [Mediatrix]) tot dogma deur verskeie Kardinale aan die Pous oorhandig is. Dit sal ‘n Vyfde Maria-dogma word as dit deur die Heilige Stoel goedgekeur word.
Miljoene Rooms Katolieke het reeds ‘n petisie opgetrek en dit aan die Pous oorhandig waarin hulle by hom pleit om Maria tot Mede-verlosser, Bemiddelaarster en Advokaat vir alle Christene te verklaar. Op 9 April 1997 het die afgestorwe Pous Johannes Paulus II tyens een van sy oudiënsies
verwys na die rol van Maria in die kruisiging.
“Maria . . . het in die rol van moeder in die gebeurtenis self deelgeneem; dus omhels haar deelname die totaliteit van Christus se reddingswerk. Sy alleen was op hierdie wyse geassosieer met die verlossingsoffer wat die redding van die mensdom verdien het. In harmonie met Christus en in oorgawe aan hom, het sy meegewerk in die verkryging van die genade van verlossing vir alle mense. . . . In God se plan is Maria die ‘vrou’ (cf. Johannes 2:4; Johannes 19:26), die Nuwe Eva wat verenig is met die Nuwe Adam om die mensdom tot sy oorspronklike staat van waardigheid te herstel. Haar samewerking met haar Seun word vir alle tye voortgesit in die universele moederskap wat sy in die rang van genade geniet. Deur te vertrou op hierdie maternale samewerking , laat ons ons tot Maria wend, terwyl ons haar smeek om ons te help in al ons node (Klem bygevoeg).
Die onheilspellende realiteit van die groeiende en wêreldwye versoek om Maria tot Mede-verlosser, Bemiddelaarster [Mediatrix] en Advokaat vir alle Christene te verklaar is dat dit ‘n toenemend bonatuurlike dimensie met die talle Maria-verskynings dwarsoor die wêreld aangeneem het. In baie van hierdie Maria-verskynings maak sy daarop aanspraak dat sy inderdaad die Mede-verlosser, Bemiddelaarster, Advokaat, Verlosser (Vredesark) en alomteenwoordige is; alles titels wat aan God alleen toegedig kan word. Haar mees ontstellende aanspraak is dat sy die Mede-verlosser van die wêreld is. Die volgende aanhalings kom regstreeks uit die mond van die “Maria” wat baie mense oor die wêreld heen gesien het.
“Ek staan hier as Mede-verlosser en Advokaat. Alles moet daarop gekonsentreer word. Sê agter my aan: Die nuwe dogma sal die dogma van die Mede-verlosser wees. Ek sal nie in staat wees om my mag in die ewige werk van Mede-verlosser en in die universele bemidddeling van genades te kan doen nie, nie voordat erkenning aan my verleen word nie, dáár waar die allerheiligste Drie-eenheid my wil hê.”
Sy maak daarop aanspraak dat sy saam met Christus vir die sondes van die wêreld gely het.
Ek het julle lief al is jy ver van my en my seun. Ek vra julle om nie toe te laat nie dat my hart trane van bloed stort vir die siele wat vanweë hulle sondes verlore gaan.
Ek het vir ‘n lang tyd vir julle gely. Ek word gedwing om self sonder ophou tot hom te bid omdat ek nie wil hê hy moet julle verlaat nie. Julle gee nie ag nie. Wat julle ookal doen, julle kan nooit die pyn wat ek namens julle verdra het, vergoed nie.
Ek verklaar met oortuiging dat sy lyding my lyding geword het omdat sy hart myne was. En net soos Adam en Eva die wêreld vir ‘n appel verkoop het, so het ek en my seun in ‘n sekere sin die wêreld met een hart verlos.
Ek is sy wat verwant is aan die goddelike Drie-eenheid. Ek is die maagd van Openbaring.
My kinders, ek is die Deur van die hemel en ‘n hulp op aarde.
Sy moedig haar kinders aan om haar beelde te vereer.
As moeder wil ek julle vertel dat ek hier met julle is in die beelde wat wat julle hier het. Elkeen van my beelde is ‘n teken van my teenwoordigheid en herinner julle aan julle hemelse moeder. Daarom moet dit vereer word en in plekke van groot eerbied geplaas word. Julle moet met liefde na elke beeld van julle hemelse moeder kyk.
Sy moedig haar volgelinge ook aan om heilige plekke en tempels in haar eer te bou.
Ek begeer vuriglik dat ‘n tempel vir my gebou word waar ek al my liefde, barmhartigheid, hulp en beskerming kan toon en offer want ek is julle genadige moeder.
In 1999 is sy nie net as die Mede-verlosser in Amsterdam vereer nie maaar ook vir die eerste keer as die Die Vrou van al die Nasies.
In een van haar verskynings het sy die volgende gesê:
Wanneer die dogma, die laaste dogma in Maria se geskiedenis aangekondig is, sal Die Vrou van al die Nasies vrede, ware vrede op aarde gee. Die nasies moet ewewel my gebed in eenheid met die kerk opsê. Hulle moet weet dat Die Vrou van al die Nasies gekom het as Mede-verlosser, Mediatrix en Advokaat.
Die Maria-verskynings maak nou dus ook daarop aanspraak dat sy nie meer net die Moeder van God is nie maar ook die Vrou van al die nasies en sodra die Pous haar amptelik tot die Mede-verlosser saam met Christus verklaar, sal sy die nuwe era van vrede inlei.
Praat van die moeder van die eucharistie want die moeder van die eucharistie sluit die geskiedenis af. Al die boodskappe kom van God en oral waar ek verskyn, praat ek oor dieselfde dinge. Vanweë die triomf van die eucharistie, wil die moeder hê dat al die kerke verenig word sodat daar net een kerk vir alle mense moes wees.
Miskien het julle al begin wonder waarom ek u hierdie dinge meedeel en hoedat hulle inpas by die NG Kerk se
afwaartse spiraal van afvalligheid. Die kerk is nie net besig om stormderhand oorgeneem te word deur die mistieke spirituatliteit van die Desert Fathers en ander persoonlikhede in die Roomse tradisie nie (o.a. kontemplatiewe gebed, sentreergebede, lectio divina, lectio continua, enneagramme, labirinte, afsondering, die stilte, meditasie, asemgebede, die Jesusgebed, kontemplatiewe retraits, twaalf kruisstasies, Jesuskerse, ikone, Ignatius kontemplasie, ens.) maar is ook besig om haar ware kleure en doelstellings te toon, nl. Om die Protestante terug te lei na die Rooms Katolieke Kerk.
Die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch en Communitas bied gesamentlik ‘n driedaagse konferensie aan van 18 tot 20 Mei 2009 met die tema “Wat kan ons uit die boek Handelinge oor Missionêre Gemeente-wees leer?” Die konferensie sal navorsgroepe op dreef kry om sewe temas in die boek Handelinge oor ‘n periode van drie jaar te bestudeer. Die projek het dit ten doel om twee hoof diskussies binne die konteks van die teologie en kerkpraktyk te versoen. BEVERLY GAVENTA (Princeton Teologiese Kweekskool) wie ek reeds flussies aan julle bekend gestel het as iemand wat ‘n nuwe Protestantse navorsing oor Maria aanmoedig en SCOT McKNIGHT (North Park Universiteit, Chicago) is die hoofsprekers op die konferensie. Soos Prof. Gaventa, moedig McKnight Protestantse kerke aan om Maria te vereer. Die volgende uittreksel het in een die webtuiste Lighthouse Trails Research se Nuusbriewe verskyn.
In die ontluikende kerkleier, Scot McKnight, se boek, “The Real Mary: Why Evangelical Christians Can Embrace the Mother of Jesus, sê McKnight dat die Protestantse Christene die enigste Christene is wat Maria nie eer nie. Hy stel voor dat Protestantse kerke almal ‘n “Dag van Maria-verering” (p144) vier en sê dat sy “lei ons na Jesus wat verlossing bring . . . Om na Maria te luister is om die boodskap van Jesus se dood en opstanding as ‘n mega-gebeurtenis te hoor waardeur God ‘n nuwe soort krag, ‘n nuwe soort familie en ‘n nuwe soort koninkryk (p.145) gevestig het. McKnight beskryf hierdie groot gebeurtenis as’n tyd waarop die wêreld bymekaar sal kom om Maria te aanbid.
McKnight wat reeds ‘n groot impak het op die ontluikende kerk is ook hartstogtelik besig om die Eucharisiese Jesus in Protestantse kringe te bevorder. Hy sê dat “die Eucharistie dit moontlik maak om die genade van God met al sy glories en seëninge te ontvang.” (Scot McKnight, Turning to Jesus, Louisville, KY Westminister Johh Knox Press, 2002, p. 7).
Dit is duidelik dat die NG Kerk se drie-daagse konferense met die tema “Wat kan ons uit die boek Handelinge oor Missionêre Gemeente-wees leer?” niks anders as ‘n baie goed-gekamofleerde poging is om die Roomse Katolieke Kerk se Nuwe Evanglisasie program te bevorder. Baie jong NG kerk predikante is besig om hulle toenemend vir ‘n missionale stategie om die koninkryk van God op aarde te bring te beywer en om hulle lidmate aan te moedig om volgelinge van Jesus te word. Die Jesus wat hulle volg is stadig maar seker besig om in die Eucharistiese Jesus te verander wat herhaaldelik op die altare van Rooms Katolieke katedrale dwarsoor die wêreld geoffer word. Vir meer inligting hioeroor lees gerus hier.
Jeremia 44:15-25 Die mans, wat almal geweet het dat hulle vrouens vir ander gode offer, en al die vrouens wat teenwoordig was, ‘n hele menigte, trouens, almal wat daar in Egipte in Patros gewoon het, het toe vir Jeremia gesê: “Ons gaan nie luister na wat jy vir ons sê in die Naam van die Here nie. Ons sal bly doen wat ons beloof het: ons sal vir die hemelkoningin wierookoffers bring en drankoffers uitgiet net soos ons, ons voorvaders, ons konings en ons amptenare in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gedoen het. Ons het daardie tyd genoeg te eet gehad, ons was voorspoedig, en geen ramp het ons getref nie. Dit is vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin wierookoffers te bring en drankoffers uit te giet dat ons aan alles gebrek het en dat ons sterf deur oorlog en deur hongersnood.” Die vrouens het bygevoeg: “Dink jy ons het sonder die medewete van ons mans vir die hemelkoningin wierookoffers gebring en drankoffers uitgegiet en vir haar offerkoekies gebak wat soos sy lyk?” Toe sê Jeremia vir al die mense, vir die mans en die vrouens, vir almal wat hom so geantwoord het: “Het die Here nie juis gedink aan die wierookoffers wat julle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gebring het nie, julle en julle voorvaders, julle konings en julle amptenare, het Hy nie juis dít in ag geneem nie? Hy kon julle gruweldade, die afskuwelike dinge wat julle gedoen het, nie langer verdra nie. Daarom het julle land ‘n puinhoop geword, iets wat mense met afgryse vervul en wat as voorbeeld genoem word wanneer mense ander iets slegs toewens, ‘n land sonder inwoner, soos dit vandag is. Dit is omdat julle die wierookoffers gebring het en teen die Here gesondig het, omdat julle ongehoorsaam was aan die Here en nie geleef het volgens sy wet, sy voorskrifte en sy verordeninge nie, dat die ramp julle getref het soos dit vandag is!” Jeremia het verder vir al die mense, ook vir al die vrouens, gesê: Hoor die woord van die Here, alle Judeërs in Egipte! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Julle en julle vrouens het gedoen wat julle beloof het. Julle het gesê julle sal bly by julle belofte om vir die hemelkoningin wierookoffers en drankoffers te bring. Hou by julle belofte, hou daarby, doen wat julle beloof het, doen dit!
Wanneer ‘n kerk, sy leiers, hulle landgenote en hulle land weier om te luister na God se waarskuwings in sy Woord, gee Hy hulle oor aan hulle eie begeertes en laat hulle begaan om selfs dieper in hulle selfopgelegde, afvalligheid en afgodiese leefstyle te versink. Soos Israel van ouds het hulle ook hulle redes vir hulle ongehoorsaamheid. Ons land is reeds lank in die greep van misdaad en geweld verstrengel en ten spyte van die baie waarskuwing uit verskeie oorde dwarsoor die land, gaan kerkleiers en in die besonder ons jonger geslag kerklui onverpoos en verbete voort om hulle eie “nuwe-hart” en “labirinte” weë te volg om vrede en versoening in die hand te werk. Ook hulle sê: “Ons en ons vaders, ons konings en ons amptenare — in al die stede van Suid-Afrika — sal vrede, voorspoed en geluk bewerkstellig deur ons eie pogings en metodes. Ons het die ou weë beproef, maar dit het nie gewerk nie. Laat ons die Evangelie herbedink en konteksualiseer; laat ons luister na die volgelinge van ander geloofsoortuigings en in eenheid en harmonie met hulle saamwerk om ons geliefde land te red.” God sê vir hulle nes Hy vir Israel gesê het: “Bly by julle beloftes om vrede en kwansuis My Koninkryk op aarde met julle verfoeilike metodes in te bring; bring eer aan die hemelkoningin soos my volk dit in die ou dae gedoen het — bevestig dan nou maar julle geloftes, ja, hou nou maar julle geloftes!”
1 Korinthiërs 9:10-11 Laat ons Christus nie uittart nie, soos sommige van hulle Hom uitgetart het, en hulle het deur slange omgekom. En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die dood omgekom. Hierdie dinge het oor hulle gekom as ‘n voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ‘n waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef.