Ons land het darem nie ‘n gemis aan goeie raadgewers nie. Dink daaraan: Stephan Joubert moedig Christene aan om by mense van ander geloofsoortuigings te leer; Jannie Pelser vra, Maar kan ons nie maar ook by die New Age dinge leer nie. En nou kom Hennie Stander met een van die briljanste uitsprake vorendag wat gerus maar as die uitspraak van die jaar bestempel kan word. In eergister se uitgawe van sy blog (Sondag, 7 Junie) vertel hy hoedat Pres. Barack Obama op ‘n vredesending na verskillende lande in die wêreld tans besig is om mense te leer dat vrede moeilik en nie goedkoop is nie. In Duitsland het hy die Israeli’s en die Palestyne gewaarku dat hulle baie moeilike stappe sal moet doen om vrede te bewerkstellig. ‘n Mens kan net raai wat daardie stappe moet wees; Israel sal maar net nog meer grondgebied aan die Palestyne moet afstaan; Jerusalem sal in twee verdeel moet word; die veiligheidsmuur wat Israel tussen hulle en die Palestyne gebou het, sal gesloop moet word; en die Palestyne sal hulle eie soewereine staat met ‘n gedeelte van Jerusalem as hulle hoofstad moet kry. Moeilik en nie goedkoop nie? . . . Vir wie nogal? En siedaar! Vrede, vrede skree hulle wanneer ‘n skielike verderf hulle oorval (1 Thessalonicense 5:3).
Om sy aanname dat vrede nie maklik of goedkoop is nie nog beter te verduidelik, vertel Hennie van ‘n werker in Johannesburg wat hierdie afgelope week sy werkgewer se huis in ‘n gegoede woonbuurt afgebrand het omdat hy gedink het hy word benadeel. Dan sê Hennie met die wysheid soos dié van ‘n Delphi-orakel: “Dit is ‘n natuurlike reaksie om so op te tree.” Moet ons hieruit aflei dat die Tweede Wêreldoorlog waarin Hitler miljoene Jode uitgeroei het ‘n natuurlike reaksie was? Was die destydse grusame vermoording van miljoene mense in Rwanda ‘n natuurlike reaksie?
Ek nooi u om gou-gou saam met my ‘n hofsaak by te woon waarin ‘n man aangekla word van brandstigting en waartydens verskeie mense dood is. Hy word verteenwooordig deur adv. Hennie Stander, een van die briljantste advokate in ons land.
Regter: Hoe pleit u?
Advokaat Stander: Onskuldig! u edelagbare. Dit was ‘n natuurlike reaksie van die man om so op te tree.
Die regter loer met groot bewondering oor sy dik brilraam na adv. Stander, slaan met sy houthamertjie op die regbank en skree: “Onskuldig! Die saak is gesluit!” Die brandstigter glimlag breed, omhels Stander met groot dankbaarheid en stap as ‘n vry-man uit die hof om voort te gaan met sy natuurlike reaksies.
Blykbaar is Hennie Stander salig onbewus van Jannie Pelser se “Nuwe Hartstigting” wat ons hele gemeenskap wil omdolwe met sy “nuwe waardes en norme.” Moontlik het hy ook nog nie gehoor van Graham Power se projek genaamd “Onbeskaamd Eties” nie. Pelser en Power is tot die dood toe bekommerd oor die misdaad, geweld, korrupsie en onetiese optredes onder ons mense, maar Stander sê: Ag nee wat, dis tog nie so ‘n groot probleem nie. Dit is alles maar net natuurlike reaksies om so op te tree. Jannie! ek het ‘n uiters belangrike werk vir jou om te doen ter wille van ons land en sy mense. Skakel tog asseblief vir Hennie en tik hom so ‘n bietjie oor die vingers omdat hy julle werk in die wiele ry. Terwyl julle swoeg en sweet om nuwe waardes en norme en etiese optrede onder ons mense in te burger, breek Hennie alles af deur te sê dat “dit meer gewoon of natuurlik is om wraak te neem . . . Dit is ‘n natuurlike reaksie om so op te tree.” Veronderstel ons plaas vir julle (Jannie en Graham) in die een hoek van ‘n bokskryt en Hennie in die ander. Vir wie dink julle gaan die skare misdadigers, geweldenaars, en korrupte politici toejuig en ondersteun?
Die soort vrede wat Hennie Stander bepleit wanneer hy sê: “Dit is nogal iets wat ’n mens moet onthou, naamlik dat vrede nie maklik of goedkoop is nie. Dit vra altyd groot opoffering en ’n duur prys. Die rede is doodgewoon omdat vrede ’n onnatuurlike reaksie is. Dit is meer gewoon of natuurlik om byvoorbeeld wraak te neem”,” is ‘n vrede wat die wêreld jou gee. Die Here Jesus het juis na hierdie wêreldse vrede verwys toe hy gesê het:
Johannes 14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie.
Die vrede wat die Here Jesus sy volgelinge gee is ook nie goedkoop nie. Hy het ‘n geweldige hoë prys daarvoor bepaal toe Hy sy lewe aan ‘n vloekhout, die kruis, vir ons sondes afgelê het. Dit is ‘n vrede wat nie net alle verstand te bowe gaan nie maar jou ook ‘n goddelike liefde gee vir ander mense, en ja selfs ook jou vyande, sodat jy geen wraakgedagtes of onmin jeens hulle koester nie. Troens, jy streef om die evangelie aan hulle te bring sodat hulle waaragtig tot bekering kan kom en sodoende ook die vrede van Christus kan smaak. Die wêreld kan jou vrede gee (die Here Jesus het diit nie betwis nie) maar dis ‘n vrede wat beslis nie vrede kan bewerk tussen jou en God nie. Trouens, die vrede wat die wêreld jou gee kan nooit die stigma van onvrede wat aan ‘n ongelowige kleef, afskud nie. Daarom sê die Here dat daar eintlik nooit werklike vrede in die hart van die ongelowige kan wees nie.
Jesaja 57:20-21 Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op. Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!
Iemand het eenmaal gesê: “Man is restless until he finds rest in God through Jesus Christ.” Dis ‘n vrede waaraan jyself nie nodig het om te werk nie. Dis nie ‘n vrede wat jyself kan skep nie en nog minder is dit ‘n vrede wat jy in eie krag, geloof, energie, wilskrag, simpatie, geregtigheid, verbeelding en deur die triomf van beginselvastheid kan meebing. Dis ‘n vrede wat aan jou geskenk word dié dag wanneer jy na Christus kom om jou saak met Hom reg te maak, tot bekering te kom en jou hele lewe aan Hom oor te gee sodat Hy jou kan gebruik soos Hy wil. Dis ware vrede en nie soos Hennie Stander dit omskryf in die woorde van iemand anders wat sou gesê het nie:
“Peace has to be created, in order to be maintained. It is the product of Faith, Strength, Energy, Will, Sympathy, Justice, Imagination, and the triumph of principle. It will never be achieved by passivity and quietism.”
Hennie sluit sy kort artikel op sy blog af met hierdie woorde.
Maar dit is die moeite werd om vrede te soek. Immers, God vra dit van ons.
Nee Hennie, die Here verwag nie van ons om vrede te soek soos die wêreld dit aan ons wil gee nie—deur ons eie skeppingsvermoë, geloof, krag, energie, wilskrag, simpatie, geregtigheid, verbeelding en die triomf van ons eie beginselvastheid nie—en jy as belydende Christen behoort dit te weet.
1Thessalonicense 5:3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.