Dit is hoegenaamd nie ‘n vreemde verskynsel om te sien hoedat daar op die vooraand van die wederkoms van
Christus Jesus oral nuwe Paulusse en Petrusse soos paddastoele opduik nie. Daar is egter ‘n hemeslbreë verskil tussen die Paulus en die Petrus van die Bybel en die hedendaagse Paulusse en Petrusse wat dinge sê en verkondig wat lynreg in stryd is met wat Paulus van Tarsus en Petrus in die Woord van God ons leer. Ag, kom ek noem sommer dadelik een van hierdie nuwe gesalfde Paulusse en Petrusse van ons geheiligde post-moderne era op sy naam — Hennie Stander, professor in Grieks in die Departement Antieke Tale aan die Universiteit van Pretoria en ook ’n jarelange medewerker by FINESSE tydskrif, en die redakteur van finesse MAN. Kom ek verseker my lesers sommer wansuit dat ek hoegenaamd niks persoonliks teen Prof. Hennie koester nie, maar ek het ‘n kleintjie dood aan sy verwaandheid om die Woord van God met ‘n enkele oogknip te verdraai. Ja! glo dit as julle wil, Hennie het dit weer gedoen, maar voordat ek my wend tot sy mees onlangse Bybelse verdraaiing moet ek u baie ernstig daaraan herinner dat Petrus en Paulus (dis nou die Paulus van die Bybel) die evangelie en alles wat daarmee gepaard gaan regstreeks van Jesus Christus ontvang het. Onthou dus asseblief, as julle met Petrus of Paulus ‘n appeltjie te skil het oor wat hulle alles in hulle sendbriewe kwytgeraak het, moet julle weet dat julle nie teen hulle nie maar teen Jesus Christus sigselwers stry. Paulus skryf:
Galasiërs 1:1—12 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie. Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus.
‘n Mens kan nie altyd agterkom wat agter die kap van Hennie se byl sit om dié dinge te sê wat hy so manhaftig kwytraak nie, maar dit lyk of hy in hierdie geval doelbewus die guns van die skonere geslag in ons land soek en wil wen. Nouja! dit alleen is al klaar ‘n wanklankige doelwit veral as ‘n mens in ag neem dat die guns van mense vir Paulus van Tarsus ‘n nul op ‘n kontrak was. Om ‘n ware dienskneg van Christus te kan wees, moet jy die evangelie vreesloos en kompromieloos verkondig al sou jou eie familielede jou soos ‘n stuk weggooilap behandel. Kom ons kyk dan nou eers wat Hennie gesê het en vergelyk dit met wat Paulus in die verkondiging van Jesus se evangelie gesê het. Dit gaan kortom oor die debakel rondom die rol wat die vrou in die kerk en die samelewing moet speel. Hennie, jy’s aan die woord:
Laat ek sommer dadelik reg aan die begin sê dat ek baie ongemaklik is met die idee dat die vrou onderdanig aan die man moet wees. My ongemaklikheid word selfs nog groter wanneer ek in die praktyk sien hoe baie mans hulle vroue hanteer (lees “mishandel”). Dan lyk dit vir my amper soos ’n vrou wat op ’n motor se agtersitplek sit terwyl die man alleen voor sit en onverskillig bestuur en roekeloos jaag, terwyl hy verwag dat die vrou haar mond moet hou en moet stilbly. Dit is presies dieselfde wat gebeur wanneer ’n man sy vrou en sy gesin roekeloos “bestuur” terwyl hy verwag dat sy haar mond moet hou en die man moet toelaat om alleen aan die hoof van die gesin te staan.
Hennie, miskien sal jy geskok wees om dit te hoor, maar die Here wil juis hê dat die vrou haar mond moet hou in ‘n huwelik met ‘n man wat hom soos ‘n skarmunkel gedra. Maar, dan moet ek onmiddellik byvoeg dat dit alleenlik heilige vroue wat in Christus is (waarlik gered is) wat so ‘n uiters moeilike opdrag kan uitvoer. So ‘n vrou volg haar Meester na “wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23). ‘n Vrou wat die Here nie ken nie (nie gered is nie) kan gerus maar soos ‘n tiewyfie terugbaklei omdat sy nie die Heilige Gees het om haar in sulke moeilike omstandighede die krag en die wysheid te gee om stil te bly nie. Waarom verwag die Here van ‘n vrou om stil te bly in selfs die allermoeilikste omstandighede in haar huwelik? Indien jy nog nie weet nie, is dit miskien nou die geleentheid om weer ‘n slag te kyk na wat Petrus in sy eerste brief hieroor sê. Ek haal uit die Amplified Bible aan omdat dit vir my die saak baie duideliker omskrywe:
1 Peter 3:1-2 IN LIKE manner, you married women, be submissive to your own husbands [subordinate yourselves as being secondary to and dependent on them, and adapt yourselves to them], so that even if any do not obey the Word [of God], they may be won over not by discussion but by the [godly] lives of their wives, When they observe the pure and modest way in which you conduct yourselves, together with your reverence [for your husband; you are to feel for him all that reverence includes: to respect, defer to, revere him—to honor, esteem, appreciate, prize, and, in the human sense, to adore him, that is, to admire, praise, be devoted to, deeply love, and enjoy your husband].
Die Ou Afrikaanse 1953 lui as volg:
Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word
En die nuwer Afrikaanse vertaling van 1983 sê dit as volg:
Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ‘n woord te sê nie.
A nee a, Hennie, skaam jy jou nie om Petrus se goeie raad in die wind te slaan met jou aweregse uitlating nie: “Laat ek sommer dadelik reg aan die begin sê dat ek baie ongemaklik is met die idee dat die vrou onderdanig aan die man moet wees.” Jy sien, Hennie, sodra Jesus Christus en sy evangelie jou hoogste pririoteit in hierdie lewe word en dit jou hoogste doel is om jou geliefdes vir Christus te win, sal jy bereid wees om SY opdragte uit te voer, al is en klink dit hoe moeilik ookal. Lyk my die vroue wat alles ter wille van Christus wil doen — ja! selfs om haar mond te hou in ‘n ongelukkige huwelik — weet skynbaar beter as die mans wat die volgende skrifgedeelte beteken>
Sagaria 4: 6 Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.
(Belangrike naskrif: Hennie Stander het die formaat van sy blog geheel en al verander. Toe ek weer daarop wou ingaan om die res van sy artikels oor die rol van die vrou te lees, het die volgende onaardse kennisgewing my in die gesig gestaar “Jy moet in teken om hierdie inskrywing te sien.” My doppie is dus geklink want ek is hoeka al deur hom aangesê om my ry te kry. Die man hou eenvoudig net nie van my kommentare nie).
(Nog ‘n belangrike naskrif: Ek sien Hennie is vanoggend weer terug en almal kan sy blog lees sonder om in te teken).