Prof. Hennie Stander, hoe lees jy die Bybel? In sy jongste aflewring (deel 3) van sy reeks “Moet ‘n vrou onderdanig wees?, sê hy die volgende:
Efesiërs 5:22 sê: Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.” Die meeste Bybellesers sal seker sê: “Daar het jy dit! Wat soek jy meer? Die antwoord is tog duidelik!” Daar is egter ’n hele paar probleme met so ’n uitleg. In die eerste plek sê die vers dat “vroue aan hulle mans” onderdanig moet wees. Die vers praat dus oor getroude vroue. Dit is nie ’n opdrag vir ALLE vroue nie. Ek kan nie op grond van hierdie vers verwag dat ook die ongetroude vroue in my werksomgewing (of selfs in my gemeente) aan my onderdanig moet wees nie.
Verder, mans vergeet natuurlik gerieflikheidshalwe dat daar ’n ander versie is direk vóór vers 22 wat sê: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” ’n Man en vrou moet natuurlik wedersyds aan mekaar onderdanig wees.
Nêrens in die gedeeltes waarin Petrus en Paulus praat van “onderdanigheid” het dit enigsins betrekking op ‘n gesindheid van oorheersing of dominansie nie. Dis nie waaroor dit gaan nie. Dit gaan oor ‘n ordeningsreëling waarin iemand die leiding moet neem, leiding gee en die koers aandui. Kan u dink watter chaos dit sou afgee as ‘n generaal of ‘n admiraal van ‘n leërmag en vloot ‘n wedersydse onderdanigheidreëling met hulle manskappe sou aangaan? Ek is nie besig om die huwelik met ‘n oorlog te vergelyk nie (hoewel die meeste huwelike deesdae ‘n slagveld geword het) en nog minder is ek besig om die man van ‘n huisgesin te sien in die rol van ‘n generaal. Ek is bloot besig om ‘n voorbeeld te gee van hoe uiters belangrik dit is vir iemand om die leiding te neem, en dit is nou maar eenmaal so dat die Here die man gekies het om hierdie rol in die huisgesin en die kerk te vervul. Waarom? Omdat God beslis het dat sy eniggebore Seun, Jesus Christus, die Hoof van die kerk moet wees en dat die man as Sy verteenwordiger die rol van ‘n leier in sy huisgesin moet speel. Die huwellik moet dus as’t ware ‘n afbeelding wees (netsoos Christus die volmaakte afbeelding van sy Vader is) van Christus se verhouding met sy kerk (die “ekklesia” waarin almal onderdanig is aan Christus). Die huwelik moet inderwaarheid die kerk in die kleine wees. Hoe moet dit as kerk in die kleine funksioneer? Die man moet sy vrou liefhê soos Christus die gemeente liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het en die vrou moet onderdanig wees aan haar man. Sy is veronderstel om haar man in sy rol as hoof (leier) van die huis in alles te ondersteun en aan te moedig, en as hy te papbroekig is om sy rol as leier van sy gesin te vervul, dan moet sy in opdrag van die Here nog steeds aan hom onderdanig wees met die doel om hom vir Christus te wen sodat hy gered en vervul kan word met die Heilige Gees wat hom in staat sal stel om sy rol as verteenwoordiger van Christus in die huis te kan begin nakom. God is ‘n God van orde en nie wanorde nie.
Hennie is blitsvinnig om uit te wys dat die man en die vrou wedersyds aan mekaar onderdanig moet wees en haal die gedeelte voor vers 21 uit die 1983 Afrikaanse vertaling aan om sy standpunt te rugsteun. Die gedeelte wat volg op vers 21 verwys nie net na die verhouding tussen man en vrou nie, maar ook tussen ouers en kinders en werkgewers en werknemers. Indien dit, soos prof. Hennie dit verklaar, sou beteken dat man en vrou wedersyds aan mekaar onderdanig moet wees, dan sou dit ook beteken dat die ouers onderdanig moet wees aan hulle kinders en die werkgewers aan hulle werknemers. Dit beteken gewoon dat die verskillende Godgegwe ordeningsreëlings in die samelewing gehandhaaf moet word. Elkeen van hierdie groepe persone moet binne hulle eie ordeningsreëling onderdanig wees aan die persone wat oor hulle aangestel is — d.i. die vrou aan haar man, die kinders aan hulle ouers en die werknemers aan hulle werkgewers.
Die hele debakel wat tans nog steeds woed rondom die vrou se rol in die kerk en die groeiende aandrang dat die vrou ook ‘n leiersposisie in die huisgesin en die kerk moet speel, is niks anders as ‘n ontkenning en ‘n verwerping van Jesus Christus as Hoof van die sy kerk nie. Dis niks anders as openlike rebellie teen God en sy verordeninge nie.