Waak en Bid / Watch and Pray

omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie / for ye know not when the time is (Mark 13:33)

Archive for August 7th, 2009

Om uitverkies te wees of nie uitverkies te wees nie

Posted by Tom Lessing on August 7, 2009

BurningHeretics Sodra die uiters moeilike onderwerp van die UITVERKIESINGSLEER ter sprake kom, is dit gebiedend noodsaaklik om dit vanuit twee lewenssfere of bestaanssfere te beskou — die een vanuit die bestaanssfeer waarin God lewe (buite tyd en ruimte) en die ander vanuit die bestaansfeer waarin die mens lewe (binne tyd en ruimte). Omdat die mens op aarde binne tyd en ruimte vasgevang is, moet die Bybel noodwendig terme gebruik wat vir die mens verstaanbaar is. Daarom word begrippe soos “voor die grondlegging van die wêreld” in die Skrif gebruik omdat dit vanuit die mens se perspektief êrens in die verlede plaasgevind het en gevolglik nie in ons onmiddellike gesigsveld sigbaar is en natuurlik ook nooit in ons onmiddellike gesigsveld kan wees nie. Alleenlik die onmiddellike hede binne die onmiddellike omvang van ons individuele lewensruimtes is vir ons sigbaar en tasbaar. Vir God wat buite tyd en ruimte lewe is daar nie so-iets soos verlede, hede en toekoms nie. Om hierdie rede kan Hy en Hy alleen sê “EK IS.” Terwyl ons alleenlik maar kan sê “ek was gister,” “ek is nou” en “ek sal more wees,” sê God deurentyd “EK IS.” Streng gesproke is dit dus verkeerd om te sê: God weet alles omdat Hy in die toekoms kan sien. Nee! God is alwetend omdat Hy ons verlede, hede en toekoms (ja! die ganse geskiedenis en toekoms van die mens) met een oogopslag alles gelyktydig sien en hoor. Daarom kon Dawid met oorweldigende verwondering en bewondering sê: “Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al” (Ps 139:4). Dit wat ek gister, verlede week, verlede jaar of miskien selfs tagtig jaar of meer gelede gesê, gedink en gedoen het, en ook in die toekoms mag sê en dink en doen, is oop en bloot voor God en Hy sien en hoor dit alles asof ek besig is om dit nou te doen. Daarom sê Paulus: “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Heb 4:13). Om hierdie rede is dit alleenlik die bloed van Christus wat alle dade wat ons in die verlede gedoen het, in die hede doen en nog in die toekoms sal doen en wat God as “nou-dade” sien en hoor, kan wegwas en versoen (toedek) sodat God nie meer daaraan dink nie.

In die lig van die bogenoemde is die begrip “voor die grondlegging van die wêreld” dus vir God nie iets wat Hy in sy lewenssfeer as die verlede aansien nie. Dit is en bly nog steeds vir Hom ’n “nou-gebeurtenis.” Wanneer die Bybel dus praat van “voor die grondlegging van die wêreld” word dit spesifiek gedoen om ’n moeilik verstaanbare begrip binne ons lewenssfeer van denke te bring en is ons genoop om dit vanuit ons persektief van tyd en ruimte te beskrywe en te verstaan.

Omdat God reeds voor die grondlegging van die aarde geweet het wie almal deur die geloof in sy Seun (Wie natuurlik ook in God se lewenssfeer reeds vóór die grondlegging van die wêreld gekruisig is) op sy Evangelie sou reageer, glo en tot bekering kom, het HY besluit om hulle vóór die grondlegging van die wêreld in sy Seun uit te verkies. God het dus op grond van SY onwankelbare alwetendheid besluit om hulle (almal wie se bekering, hetsy in die verlede, hede of toekoms, Hy as ’n “nou-bekering” sien en hoor) vóór die grondlegging van die wêreld in sy eie lewenssfeer in sy Seun uit te verkies. Dit beteken egter nie dat die mens in sy eie lewenssfeer nie nodig het om deur die geloof op die prediking van die Evangelie te reageer en tot bekering te kom nie. Paulus se bekering kan as voorbeeld gebruik word. Hoewel God hom reeds van die skoot van sy moeder afgesonder het (uitverkies het vir ’n spesifieke doel), moes Paulus nog steeds tot bekering kom. Hy moes nog steeds die Naam van die Here aanroep vir sy redding. Hoe kon God iemand van die skoot van sy moeder afsonder nog voordat hy tot bekering gekom het? Omdat God in sy lewenssfeer reeds voor die grondlegging van die wêreld geweet het dat Paulus Hom in die gebed sou aanroep om redding en deur sy geloof in die volbragte werk van Christus tot bekering sou kom. In hierdie naratief van Paulus se afsondering van die skoot van sy moeder en sy eie bekering vind ons ’n samevloei van God se lewenssfeer en dié van die mens — nl. God se wete in SY lewenssfeer van wie tot bekering sal kom en wie nie, en Paulus se bekering in DIE MENS se lewenssfeer.

Hierdie uitverkiesing beteken hoegenaamd nie dat God voor die grondlegging van die wêreld besluit het om slegs ’n sekere groepie gekose uitverkorenes soewerein en arbitrêr (monergisties) te red en die res tot die ewige hel te verdoem nie. Dit sou beteken dat die mens — wat geskape is na die beeld van God — nie ’n wil van sy eie het nie en dus nie in staat is om by die aanhoor van die Evangelie in geloof daarop te reageer en tot bekering te kom nie. Om hierdie rede maak die Calvinisme onbybelse uitsprake soos dat die mens totaal verdorwe is en nie in staat is om die Evangelie te verstaan of daarin te glo nie en daarom moet God soewerein en arbitrêr (monergisites) ingryp om slegs die uitverkorenes te wederbaar, waarna geloof dan as ’n geskenk aan hulle gegee word. Ten diepste lê hierdie beskouing ingebed in die Calvinisme se vertolking van God se alwetendheid. Die Calvinisme glo nie dat God alwetend is nie, altans nie soos die Skrif dit vir ons verklaar nie. Calvyn het gesê:

. . . maar aangesien Hy die dinge wat gaan gebeur, vooruitsien, enkel alleen omdat Hy dit vooraf verorden het om so te gebeur, is dit vrugteloos [verwaand] om oor voorafkennis te debateer terwyl dit duidelik is dat alle gebeurtenisse plaasvind op grond van sy soewereine beskikking.[1]

Gover Gunn, ’n geharde Calvinis, stel dit so:

Die idee dat God die toekoms ken sonder dat Hy dit beplan en gekontroleer het, is heeltemal vreemd aan die Skrif.[2]

In kort kom hierdie siening daarop neer dat God reeds voor die grondlegging van die wêreld geweet het wie gered sou word en wie nie omdat HY toé al besluit het wie HY soewerein en arbitrêr (monergisites) gaan red en wie nie. Sy soewereine beskikking van alle dinge (selfs die sonde, soos die Calviniste glo) maak Hom aldus “alwetend.” Hier sien ons weer eens dat hierdie siening die mens nie net van sy goddelike gawe om keuses te kan maak, ontneem nie maar hom inderdaad reduseer tot ’n willose “zombie” wat nie kan verstaan nie en ook nie kan glo nie.

Calviniste kyk jou maar bra skeef aan wanneer jy vir hulle sê dat God se uitverkiesing (wat Hy binne die terrein van sy lewenssfeer maak/gemaak het) gepaard gaan met die indiwidu se persoonlike verantwoordelikheid om (binne die terrein van sy lewensssfeer) die Evangelie te glo en in gehoorsaamheid aan die eise van dié Evangelie tot bekering te kom. Die rede hiervoor is omdat hulle God se lewenssfeer, en veral ook sy karaktereienskap van alwetendheid, afwentel na die vlak van die mens se lewenssfeer van tyd en ruimte. Indien alle dinge plaasvind op grond van God se soewereine beskikking en dat Hy vooruitsien, enkel alleen omdat Hy dit vooraf verorden het om so te gebeur, plaas dit Hom onmiddellik op die vlak van die mens. Wat verhoed die mens om te sê: “Ek voorspel dat ek volgende week ’n nuwe kar gaan ry” en wanneer die tyd aanbreek die kar te koop net om dan te sê: “Ek het mos vooruit gesê ek gaan ’n nuwe kar ry”? Op die terrein van die okkulte en in die besonder die sg. gawe van heldersiendheid is dit presies wat die duiwel en sy demone doen. Hulle sê byvoorbeeld d.m.v. hulle mediums dat dit of dat met ’n persoon gaan gebeur, net om alles wat hulle “voorspel” het op die bestemde tyd te laat gebeur sodat die persoon wat die mediums geraadpleeg het moet glo dat hulle die vermoë of gawe het om in die toekoms te kan sien en voorspel.

As ons werklik erns wil maak met die feit dat God (binne sy bestaanssfeer) diegene in Christus kon/kan uitverkies wat HY reeds voor die grondlegging van die wêreld geweet het hulle deur die prediking van die Evangelie (binne ons bestaanssfeer) en in geloofsgehoorsaamheid tot Hom sou bekeer, sal dit nie so moeilik wees om baie van die sg komplekse verse waarin die woord “uitverkiesing” voorkom, te verstaan nie. Kom ons neem as voorbeeld Mattheus 22: 14:

“Want baie is geroep, maar min uitverkies.”

Hier is dit opvallend dat die twee bestaanssfere van God en mens as’t ware harmonieus saamvloei. Die “roeping” vind plaas in ons lewenssfeer van tyd en ruimte terwyl die “uitverkiesing” reeds plaasgevind het in God se lewenssfeer waarin Hy alles as “nou-gebeurtenisse” sien en hoor. ’n Mens sou soos ’n opregte Calvinis kon argumenteer dat die oorgrote meerderheid mense wat genooi word na die huweliksmaal hulle rug daarop keer omdat hulle nie uitverkies is nie . . . of is dit nie miskien net andersom nie? Kan dit nie miskien wees dat God hulle in sy lewenssfeer (waarin Hy alles as “nou-gebeurtenisse” sien en hoor) nie uitverkies het nie omdat Hy reeds voor die grondlegging van die wêreld geweet het hulle sal sy uitnodiging na die huweliksmaal van die Bruid in ons lewenssfeer onder hulle voete vertrap?

Die beste kommentare verklaar dat die genooides wat na die bruilof geroep is die huis van Israel (Jode) is van wie Jesus gesê het: “Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 10:5 en 6). Die eerste genooides na die bruilofsmaal was die huis van Israel aan wie die Evangelie eerste verkondig is en die mense wat op die lane en kruispaaie gevind is, die heidene. Die vraag is: Het die eerste genooides (huis van Israel) die roep na die bruilof geminag omdat hulle nie uitverkies is nie? Indien dit die waarheid sou wees beteken dit dat die Heilige Gees ’n lelike blaps begaan het in al die ander plekke in die Bybel waar Israel God se uitverkore volk genoem word. Die Here sê byvoorbeeld in Romeine 11:28 dat die Jode ter wille van die heidene nog steeds vyande van die Evanglie is maar volgens die uitverkiesing God se bemindes ter wille van die vaders is. Hoe bring ’n mens die kloutjie by die oor? Die feit dat die meeste gekies het om eerder hulle aandag te wy aan hulle plase en besighede en hulle bevoorregte posisie as eerste genooides versmaai het, toon baie duidelik dat die mens in staat is om ’n berekende wilsbesluit te maak en nie, soos die Calvinisme glo nie, geen wil van sy eie het nie. Die Calvinisme omseil hierdie tameletjie deur te sê dat die mens nie in staat is om die goeie te kies nie maar voortdurend net die slegte kan kies. Was die keuse van die heidene wat uit goeies en slegtes bestaan het en die diensknegte op die lane en kruispaaie moes gaan soek om die bruilofsmaal by te woon, ’n slegte wilsbesluit?

Die gelykenis bereik sy ontknoping wanneer daar ’n persoon (waarkynlik uit die heidendom) onder die gaste gevind word wat nie ’n bruilofskleed aangehad het nie. Hoe het hy ingekom? Skynbaar het die diensknegte hom as iemand met ’n bruilofskleed beskou omdat hy moontlik die gedaante van godsaligheid gehad het maar die krag daarvan verloën het. Niemand is gedwing om ’n bruilofskleed aan te trek nie. Daarvan getuig die persoon wat ingekom het sonder ’n bruilofskleed. Hoe dit ookal sy, dit was na aanleiding van hierdie persoon se wederegtelike toegang tot die bruilofsmaal dat die Koning gesê het: “Want baie is geroep, maar min uitverkies.” Daar sal in vergelyking met die geweldige hoeveelheid mense wat sedert die begin op aarde geleef het plus die hoeveelheid wat nog tot die einde hier op aarde sal lewe, baie min mense gered word. Die oproep of uitnodiging tot bekering word (in die mens se lewenssfeer) aan alle mense gerig maar die uitverkiesing (in God se lewenssfeer waar Hy alles as “nou-gebeurtenisse” sien en hoor) kom die meeste mense nie toe nie omdat hulle (in hulle eie lewenssfeer van tyd en ruimte) weier om hulle tot God te bekeer. In kort: God het hulle reeds voor die grondlegging van die wêreld nie IN CHRISTUS uitverkies nie omdat Hy toé reeds geweet het dat hulle sy Evangelie nooit sal glo nie en hulle dus nooit tot Hom sal bekeer nie. Moet ons dit toeskryf aan die Calvinistiese leer dat slegs ’n klein hoeveelheid spesiale uitverkorenes uitverkies is of dat die meeste mense nie die nou poort en die smal weg vind nie? (Matteus 7:14)

Hoe moet ons die uitverkiesing in die lig van Matteus 7:14 vertolk? Miskien moet ons eerder vra of die eerste genooides (die huis van Israel) gered kon gewees het as hulle die roeping om die bruilofsmaal by te woon nie versmaai het nie. Of miskien ook vra, as die persoon wat sonder ’n bruilofskleed betrap is tog wel vóór sy toegang tot die bruilofsmaal ’n bruilofskleed aangetrek het, ook gered kon gewees het. Dit is hipotetiese vrae wat deur baie mense gevra word en dus ’n antwoord vereis.

Uit hoofde van die feit dat die eerste genooides geroep is om die bruilofsmaal by te woon en die persoon sonder ’n bruilofskleed ook deur die uitgestuurde diensknegte (binne ons lewenssfeer) genooi is, kan mens met sekerheid aanvaar dat hulle wel almal gered kon gewees het. Ja! Natuurlik het God in sy lewenssfeer buite tyd en ruimte gesien en geweet dat hulle die uitnodiging onder hulle voete sou vertrap, maar dit beteken nie dat hulle binne ons lewenssfeer van tyd en ruimte nie tot bekering kon kom nie. Waarom sou die koning sy diensknegte uitstuur om die eerste genooides en die persoon sonder ’n bruilofskleed te roep as Hy by die ingang na die bruilof moontlik vir hulle sou sê: “Jammer mense, julle kan nie inkom nie want julle is nie uitverkies nie. My Vader het reeds voor die grondlegging van die aarde besluit om julle hel toe te stuur” Veronderstel die inwoners van Jerusalem, van wie Jesus gesê het “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” het tog besluit om onder SY “vlerke” skuiling te neem, net om dan deur Hom weggewys te word omdat Hy hulle nie uitverkies het nie. Dink daaraan, God het reeds voor die grondlegging van die wêreld geweet dat die inwoners van Jerusalem hulle nie tot Christus sou bekeer nie — omdat hulle nie wou nie (en nie soos die Calviniste glo omdat hulle nie uitverkies is nie), en tog het Jesus nog steeds die uitnodiging aan die kinders van Jerusalem (binne ons lewesnsfeer) gerig om onder sy vlerke skuiling te neem. Dit dui onomwonde daarop dat hulle almal wel deeglik tot bekering kon kom maar hulle wou nie.

Dit blyk dus baie duidelik dat slegs diegene wat ’n bruilofskleed, God se vereiste vir ’n nuwe gewederbaarde lewe, met ’n berekende wilsbesluit ontvang en aantek (d.w.s. deur die geloof in hierdie lewenssfeer tot bekering kom), in God se bestaanssfeer van tydloosheid (voor die grondlegging van hierdie wêreld) IN CHRISTUS uitverkies is. Dit pas in by wat ek vroeër gesê het, en dit is dat God se uitverkiesing (wat Hy binne SY bestaanssfeer maak/gemaak het, ’n sfeer waar alles en almal gelyktydig oop en bloot voor sy aangesig is) gepaard gaan met die indiwidu se persoonlike verantwoordelikheid om (binne sy eie bestaansfeer) die Evangelie te glo en in gehoorsaamheid aan die eise van dié Evangelie hom tot God te bekeer.

Om op te som: God, in sy bestaanssfeer, sien en hoor eensklaps en gelyktydig almal se dade, woorde en denke en weet dus vooraf wie in ons bestaanssfeer tot bekering kom en Hy kan/kon op grond daarvan elkeen van hulle in Christus uitverkies — selfs, soos ons dit volgens die Bybelse term leer ken, “voor die grondlegging van die wêreld.” Die anderkant van die munt is ewe waar. God, in sy bestaanssfeer, sien en hoor eensklaps en gelyktydig almal se dade, woorde en denke wat nie op sy uitnodiging tot bekering en saligheid reageer nie en kan/kon hulle dus NIE voor die grondllegging in Christus uitverkies nie. Hierdie uitverkiesing is NIE geskoei op die Calvinistiese siiening van die uitverkiesing nie, nl. dat God reeds voor die grondlegging van die wêreld slegs ‘n uitgesoeke klompie uitverkorenes uitverkies het tot saligheid en die res tot die ewige vuurpoel verdoem het omdat dit sy welbehae was en is.

Die onderstaande diagram is ’n poging om die twee bestaanssfere waarin God en die mens lewe te omskrywe

en na aanleiding daarvan ‘n Bybelse verklaring te voorsien van die uitverkiesingsleer

Uitverkiesing

Dit is uiters tragies dat die Calviniste voortdurend sekere tekse voorhou as Skrifgeldige bewysstukke vir hulle uitverkieslingsleer sonder om die betekenis daarvan binne die konteks waarin dit voorkom in oënskou te neem. Die frase “baie is geroep, maar min uitverkies” kom twee keer in die Nuwe Testament voor (Mattheus 20:16 en 22:14). Die uitverkiesing in hoofstuk 20 vers 14 is ‘n uitverkiesing tot spesiale dienswerk en handel spesifiek oor die “Heer van die Wingerd” se prerogatief om die arbeiders te beloon soos Hy wil, ongeag die hoeveelheid ure, dae, weke of jare wat hulle in die wingerd werk. Sy beloning is nie geskoei op arbeidsintensiwiteit nie maar op sy soewereine besluit om elkeen te beloon soos Hy wil. Daarom sal hulle wat eerste was, laaste wees en die laastes sal eerste wees. Hier sien ons baie duidelik weer eens dat daar geen aanneming van die persoon by God is nie. Dit gaan dus oor die GOEDHEID van die Meester en nie om die verdienste van die arbeiders nie. God se ewige GOEDHEID is ewe voldoende en regverdig vir elke arbeider wat Hy roep om in sy wingerd te werk. In  elk geval, die arbeiders is veronderstel om in sy wingerd te werk omdat hulle Hom bo alles liefhet en dankbaar is vir sy geweldige groot verlossing en nie om te kyk wat hulle uit Hom kan kry nie. As hy sou besluit om jou iets te gee, is dit GOED en al sou Hy ook besluit om jou niks te gee nie, is dit ook GOED want HY IS GOED. Alles wat Hy doen is GOED en Hy en is jou beloning (Psalm 73:25). Kom ons keer nou terug na ons twee tekse in Matteus.

Die woord KLĒTOS (κλητός) word in albei die tekse gebruik vir “roep” en het twee betekenisse, afhangende van die konteks waarin dit gebruik word, nl.:

Om geroep of uitgenooi te word (na ‘n banketete).

1a) — uitgenooi (deur God in die verkondiging van die Evangelie) om die ewige lewe deur Christus in die Koninkryk van God te verwerf.

1b) — uitgenooi om een of ander dienswerk te verrig.

Hierdie uitnodiging (roeping) word aan alle mense gerig (Titus 2:11) maar dis nie almal wat volgens die eise van die evangelie daarop reageer nie (Matteus 7: 13, 14). Die evangeliese eise is “geloof,” (in die volmaakte en volbragte werk van Jesus Christus as jou Plaasvervanger aan die kruis) en “bekering” (‘n heelhartige ekenning en belydenis van jou sondige verlorenheid teenoor God en ‘n wegdraai van jou selfgesentreerde lewe na God) SODAT Hy jou kan red. God se uitverkiesing wat Hy voor die grondlegging van die wêreld binne sy lewenssfeer gemaak het, berus op SY vooruitwete of voorafwete van elke indiwidu se persoonlike reaksie op die uitnodiging wat die Here deur die prediking van sy evangelie (binne ons lewenssfeer) maak. HY het nie vooruit of vooraf besluit wie HY wil red en wie HY wil verdoem nie.


[1] Johannes Calvyn: Institute van die Christelike Godsdiens, III, 23, 6

[2] Grover E Gunn, The Doctrine of Grace, p. 13

Posted in Calvinisme | Tagged: , , | 41 Comments »

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.