In sy ywer om mense wat oorkrities of hiperkrities is ‘n regte pyn in die nek en ‘n groot irritasie te noem, maak Hennie Stander maar eintlik die blaps om homself skuldig te maak aan oordrewe kritiek. Hy skryf:
Ons almal ken mos sulke mense. Hulle wil oor elke ding ’n eiertjie lê. “Elke preek is sleg. Almal is skelm. Alle dominees en alle onderwysers is agterbaks.” Kyk, mense wat so krities is oor alles, jaag my ook teen die mure uit. Ken Hennie werklikwaar sulke mense wat voortdurend sê “elke preek is sleg, almal is skelm, alle dominees en alle onderwysers is agterbaks?”
Kom ons veronderstel hy verwys net na ‘n enkele oorkritiese persoon. Al sou dit net een persoon wees na wie Hennie verwys, moes hy tot nou toe elke woord wat daardie persoon nog ooit geuiter het, gehoor het om met oortuiging te kan sê “hy sê elke preek is sleg, almal is skelm, [en] alle dominees en alle onderwysers is agterbaks.”
Kom ons veronderstel ook dat daardie persoon wel tog net een keer in sy lewe gesê het “dit was darem vir jou ‘n allemintige goeie preek” maar Hennie het hom dit nie hoor sê nie. Kan hy dan nog steeds sê daardie persoon is net altyd oorkrities? Miskien is die persoon nie oorkrities, soos Hennie dit wil hê nie, maar iemand wat alles wat hy van die preekstoel af hoor aan die hand van die Skrif evalueer. So ‘n persoon kan dan beslis nie as ‘n oorkritiese persoon, ‘n pyn en ‘n groot irritasie beskrywe word nie omdat die Here self so ‘n persoon as ‘n geestelik volwasse mens aanprys. Ek haal vir Hennie die Engels uit 2 Korinthiërs 2: 15 aan.
But the spiritual man tries all things [he examines, investigates, inquires into, questions, and discerns all things], yet is himself to be put on trial and judged by no one [he can read the meaning of everything, but no one can properly discern or appraise or get an insight into him]. (Klem bygevoeg).
Die teenoorgestelde hiervan is ‘n kinderagtige gees wat alles as goed en mooi en heilsaam beskou en aanvaar.
Efesiërs 4:14 . . . sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; (Klem bygevoeg).
Om dinge nog meer problematies te maak, verklaar Hennie dat hy sulke mense (meervoud) ken wat sou beteken dat hy hulle almal intensief ken omdat hy elke woord gehoor het wat nog ooit uit hulle monde gekom het. Dis dus nie net ‘n uiters subjektiewe opmerking wat hy met waagmoed maak nie, maar ook ‘n oorkritiese benadering tot die persone wat hy van ‘n oorkritiese gees beskuldig. Hennie sluit sy kommentaar op sy blog af met die volgende woorde.
1 Kor 13:7 sê: “Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Wat beteken die frase “liefde hoop alles?” Waarvoor hoop een wat liefde het? Hoop jy om die lotto te wen? Nee, “hoop alles” beteken dat jy vertrou dat mense altyd net die goeie sal doen. Ek het hierdie frase in die Bybel@kinders vertaal as “Mense wat liefhet, vertrou dat ander mense altyd net mooi dinge sal doen.” Ek weet dit is seker dom en ek weet dit kan gevaarlik wees om so ’n uitgangspunt te handhaaf. Maar iemand wie se lewe regtig deur liefde gekenmerk word, kan nie anders nie as om regtig in die eerste plek mooi dinge van ander mense te verwag, selfs al word jy soms teleurgesteld. Die liefde dwing jou mos om as “default” ’n geneigdheid te hê om eerder die mooie te glo, as om die slegte te verwag.
Natuurlik hoop die liefde dat mense altyd net die goeie sal doen; dit kan nie anders as om in die eerste plek mooi dinge van ander mense te verwag nie; om eerder die mooi dinge oor hulle te glo as die slegte. Maar, ongelukkig werk dit nie altyd so mooi uit nie. Hennie erken self dat dit ‘n dom en selfs ‘n gevaarlike ding is om so ‘n uitgangspunt te handhaaf. Trouens, dit kan so gevaarlik wees dat predikante wat kindertjies en jong mense wat in Jesus glo laat struikel skielik ‘n swaar meulsteen om hulle nek mag voel en ervaar dat hulle in die diepte van die see gewerp word om ‘n blyplekke te vind waar God al die sondes van sy kinders gewerp het (Matteus 18:6; Miga 7:19). Natuurlik hoop die liefde dat sulke predikers hulle van hulle verkeerde weë dal bekeer en weer sal terugkeer na God en sy waarheid, maar as dit nie gebeur nie is dit ons plig, en ook joune Hennie, om die kindertjies (op Bybel@kinders) en jongmense te waarsku teen sulke ooms en tannies wat lyk soos ons prentjie hierbo. Ons kan nie vir ons kinders en ander jongmense sê nie: “Ag hulle is tog sulke goeie mense en ons verwag altyd net die beste van hulle omdat hulle so hard werk om die Woord van God te verdraai. Kyk net hoe mooi lyk hulle in hulle oulike ou skaapskleertjies” Selfs Paulus wat sulke mooi dinge in 1 Korinthiërs 13 oor die liefde geskryf het, moes op ‘n kol waarsku:
Galasiërs 1: 8 “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! (vir ewig weg van die aanngesig van God, m.a.w. in die hel).”
Miskien moet Hennie weer ‘n slag begin onderskei tussen kritiek en onderskeiding. Maak 100% seker dat die pyn in jou nek nie miskien veroorsaak word deur ‘n kritiese houding jeens mense wat in opdrag van die Here alles volgens sy Woord wil onderskei nie. Pyne in die nek word heel dikwels veroorsaak deur ‘n meulsteen om die nek. Kom ons maak dus almal eers seker of ons nie dalk self meulstene om die nek het nie deur in die spieël van God se Woord te kyk.