’n Kritiek deur Tom Lessing op “Ek staan in verwondering voor God” geskryf deur Prof Sakkie Spangenberg van die Departement Ou Testament aan Unisa (Die kerkbode, 20 September 2002)
Ek het met verwondering Prof. Sakkie Spangenberg se brief onder die opskrif “Ek staan in verwondering voor God.” (Die Kerkbode van 20 September 2002) gelees. Wat my veral verbyster, is sy uitspraak:
“dat ons verwaand en arrogant is om te dink dat ons God met woorde kan omskryf. God is ‘n misterie oor wie ons ten beste maar moet swyg. Dis wanneer ons uitsprake begin maak oor presies wie en hoe God is dat krisisse ontstaan. Wanneer ons die misterie van God met tong en tand verpulp tot ‘n braaksel van stellings en dekrete (apologie aan Elisabeth Eybers) begin ons verby Hom leef.”
Dit is mos gans onmoontlik om “in verwondering voor God te staan” as Hy vir jou ’n misterie is en jy nie weet “wie of hoe” Hy is nie. Die emosie van verwondering oor iemand kan alleenlik in ’n mens se binneste opwel wanneer jy daardie persoon leer ken het; wanneer die intrinsieke karaktereienskappe van daardie persoon vir jou kenbaar geword het. Hoe kan ’n man bevoorbeeld met verwondering praat oor die skoonheid van sy aanstaande vrou as hy haar nog nie gesien het nie, en hoe kan hy haar innerlike skoonheid (persoonlikheid) bewonder as hy nog nie met haar kennis gemaak het nie?
Om sy “verwondering voor God” verder te omskryf haal Prof. Spangenberg met groot nederigheid vir Job aan om sy vlietende lewensbestaan te midde van die ewigheid van die kosmos te omskryf, “Volgens hoorsê het ek van U te wete gekom." Let baie fyn daarop dat Prof. Spangenberg slegs die eerste gedeelte van Job se uitroep van verwondering aanhaal. Ag! dit is tog so ooglopend kenmerkend van iemand wat ander mense minag wat “Bybelse uitsprake begin omvorm tot ewige waarhede,” maar sy eie uitsprake met groot bravade tot ewige waarhede verklaar wanneer hy lustig uit dieselfde Bybel aanhaal. Maar wag so ’n bietjie, om sy eie standpunt rotsvas in die gemoedere van mense te sementeer, onderskryf hy slegs ’n halwe waarheid deur net die eerste helfte van Job se uitroep aan te haal. Dit is darem nie mooi van hom nie. Om die waarheid te sê, hy is “downright” oneerlik.
Kom ons wend ons eerder tot Job om te sien wat hy gesê het. As Prof. Spangenberg die eerste gedeelte van Job se uitroep van verwondering as die waarheid beskou, dan moet die tweede helfte daarvan tog sekerlik ook waar wees. Wat het Job dan werklik gesê? Dié is seker! Hy het een van die merkwaardigste dinge gesê wat nog ooit uit die mond van ’n Ou Testamentiese figuur gekom het, “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.” Gesien! Job het God GESIEN?
In hierdie paar eenvoudige dog manjefieke woorde, vind ons die hart van wat dit beteken om God te kan ken. Dit is duidelik dat God Sy heerlikheid, Sy almag en Sy onaanvegbare soewereinteit aan die hand van Sy skepping aan Job geopenbaar het (Job 38, 39 en 40). Niemand kan God werklik “sien” nie (ken nie), tensy Hy Homself openbaar (Romeine 1:18-20). Is dit nie vreemd nie?—Job het nog altyd midde in die natuur gelewe; leeus, kraaie, steenbokke, takbokke, lammertjies, wilde-esels, buffels, krokodille, seekoeie ens. was vir hom alledaags gewees en tog kon hy op daardie stadium net bely dat “hy op hoorsê van God gehoor het.” Eers toe die Here self Sy majesteit, heerlikheid, almag, soewereiniteit en heiligheid aan hom geopenbaar het en hy self tot ’n gemoed van absolute nederigheid gebring is, kon Job met verwondering uitroep, “nou het my oog U gesien.” Is dit nie maar wat die meeste mense vandag nog doen nie. Hulle is letterlik omring deur God se wonderlike skepping, maar hulle ken Hom nie, — en waarom dan nie? Dit is eenvoudig! — hulle weier om hulle onder Sy magtige hand te verneder en Sy openbaringe in die natuur, in Sy Woord en deur Sy Seun, Jesus Christus te aanvaar. “Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.” (1 Johannes 5:10).
Knap vóór God Sy majesteit in die natuur aan Job geopenbaar het, het Hy hom aangeraai om sy heupe soos ’n man te omgord (38:3). In die antieke tye het twee opponente in ’n stoeiwedstryd probeer om mekaar se gordels (lyfbande) af te ruk. Die verloorder moes dan gewoonlik in skaamte die aftog blaas omdat sy onderkleed afgeval en hy naak was. Naaktheid in die Bybel simboliseer dikwels die sonde, m.a.w. Job het eers tot sy sinne gekom toe sy sonde aan hom geopenbaar is; eers toe hy homself (sy eie naaktheid) in God se lig gesien het.
Wat was hierdie sonde waaraan Job skuldig was? Vers 2 van hoofstuk 38 sê dit baie duidelik, “Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis?” Dit sluit ook baie mooi aan by wat Paulus in Romeine 1:18 sê:-
”Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, . . .”
Job het sy dwaashede herroep en in stof en as berou gehad. Is die hedendaagse redetwisters bereid om hulle heupe soos mans te omgord en te erken dat hulle nog altyd verkeerd was, liederlik mislei is en besig is om ander mense te mislei? Nee wat Prof., u stelling dat u in verwondering voor God staan, is ongeloofwaardig omdat u self ruiterlik erken dat HY ’n misterie is wat u nie ken nie, en waarskynlik ken u Hom nie omdat u Sy openbaringe in die natuur, Sy Woord en deur Sy enigste Seun verwerp. ’n Mens kan alleenlik in verwondering voor God staan wanneer jy Hom en Sy werke ken, veral Sy verlossingswerk deur Sy Seun, Jesus Christus. Die Here openbaar hom net aan diegene wat Sy gebooie (Woord) liefhet (Johannes 14:21).
Jesus Christus het gesê:-
Johannes 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.