Ons het seker van die vindingrykste akademici in die hele ganse wêreld. Neem nou maar net vir Prof. Hennie Stander wat die kuns ontdek het om vergelykings te tref tussen onetiese dinge wat mense sê en die dinge wat Jesus Christus in sy Woord vir ons sê. Luister bietjie hierna:
Dreig of nooi? President Zuma het vandeesweek tydens ’n werwingsveldtog van die ANC in die Kam-hlushwa-stadion in Tonga gesê dat mense wat lid is van die ANC en dit waag om die party te verlaat, sal deur die voorvaders gestraf word. Hy het bygevoeg dat hulle siek sal word. Zuma se toespraak laat my amper aan sekere preke dink wat ek in my jongdae gehoor het. Dit was regte swael en vuur preke: die dominee het jou dan gewaarsku dat as jy nie die nou weg bewandel nie, die helse vuur op jou wag. . . . Ek het jare terug my voorgeneem dat ek mense nie gaan bangpraat as ek preek nie. Ek gaan hulle nie probeer “wen” deur hulle bang te maak vir die hel nie. Ek gaan eerder mense van God se genade en liefde vertel, en hoop dat mense self graag ’n besluit sal neem om in ’n verhouding met God te staan.
Nou vra ek met trane in my “navy blue eyes” (nie regtig nie) hoe op deeske aarde gaan jy iemand vertel van God se genade en liefde as jy hulle nie ook vertel van sy regverdige oordele, toorn en grimmigheid nie? Daar is geen genade sonder toorn en grimmigheid nie. Hoe gaan jy ooit weet God is genadig wanneer jy nie besef sy toorn rus op jou as jy jou nie bekeer nie? (Johannes 3:36). Ons hedendaagse predikers is lief om net vir mense te sê: “God het jou lief.” “So what” my pa en my ma het my ook lief, so lief dat hulle met my hele tienerlewe van rebellie opgeskeep moes sit. Waarom is God so genadig en waarom het hy elkeen van ons so lief? Sodat ons lekker kan voel oor onsself en omdat ons kwansuis so waardevol is in God se oë? Kom ons neem die bekendste gedeelte in die Bybel en kyk of ons God se genade en liefde kan losskeur van sy oordele en die hel.
Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. (Joh 3:16-18 AOV)
Ons haal baie graag net die verse wat oor God se liefde handel aan en versuim om dié gedeeltes oor God se regverdige toorn te beklemtoon.
Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. (Joh 3:36 AOV)
Kan ons God se liefde in hierdie gedeelte losmaak van sy oordele? Indien ons die vermetelheid sou hê om onsself so iets te veroorloof, sou ons vir mense kon sê: “God het jou lief, so innig lief, dat Hy jou nooit sal veroordeel nie, selfs nie eens wanneer jy nie in sy Seun glo nie. Hy het jou so lief dat Hy jou nooit in ‘n verskriklike plek soos die hel sal gooi nie” Maar, wag so ‘n bietjie, God se liefde is nie maar sommer net so ‘n hier-jy liefde nie. Sy liefde het dit ten doel dat jy en ek en Hennie Stander en die hele wêreld nie verlore gaan nie. En dis ook nie maar net ‘n sê-liefde nie. God se liefde is ‘n doen-liefde. Hy het sy Seun gegee om die straf en die oordeel vir ons sondes aan die kruis te dra, en die voorwaarde wat Hy vir jou en my stel om die voordele van sy liefde te smaak, is om in sy Seun te glo. Wat behels die veroordeling waarvan Johannes hier praat?
En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel. (Mat 10:28 AOV)
Hennie het hom voorgeneem dat hy mense nie gaan bangpraat as hy preek nie. Hy gaan hulle nie probeer “wen” deur hulle bang te maak vir die hel nie. Sou dit beteken dat hy ook nie vir die Here Jesus sou nooi om in die gemeentes waar hy optree, te praat nie indien Hy vandag nog op aarde was? Waarkynlik nie want Jesus het meer oor die hel gepreek as enigiets anders. Wanneer die Here Jesus ookal oor die hel gepreek en gewaarsku het, het Hy nie doekies omgedraai nie; Hy het in groot detail die ontsettende afskuwelikhede van die hel geskilder. Jesus het gesê die hel is ‘n plek waar: – ongelowiges ewig gestraf word (Matteus 25:46). – die wurm nie sterf nie en die vuur nie uitgeblus word nie (Markus 9:48). – waar daar ‘n geween en gekners van tande is (Matteus 24:51). – waar ongelowiges vir ewig weg van die aangesig van God is (2 Thessalonicense 1:9) – waar ongelowiges smarte ly (Lukas 16:23).
Ek wil graag vir Hennie Stander vra: Was Jesus se preke oor die hel dreigemente of ‘n manier om mense uit te nooi om na Hom te kom om God se regverdige oordele in die hel vry te spring? Jesus se preke oor die hel kan tog sekerlik nie met President Zuma se dreigement vergelyk word nie. En tog is dit waarop Hennie Stander waarskynlik sinspeel.
Kan ons Hennie Stander se ondeurdagte vergelyking soos volg opsom? Hennie Stander suggereer:- Jesus Christus se preke oor die hel en President Jacob Zuma se dreigemente dat die voorvadergeeste die drosters uit die ANC sal straf, is maar net bangmaak stories.
Sies! Skaam jou Hennie. Jy behoort beter te weet om NIE Jesus se sêgoed oor die hel met Jacob Zuma se sêgoed oor die voorvadergeeste te vergelyk nie. Jy behoort jou onbesonne uitlatings in die openbaar te bely en om verskoning te vra.