Waak en Bid / Watch and Pray

omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie / for ye know not when the time is (Mark 13:33)

Angus Buchan, Benny Hinn en God TV

Posted by Tom Lessing on January 31, 2011

angus-buchanEk het onlangs n artikel deur Prof. Johan Malan gelees waarin hy sy besorgdheid uitspreek oor Angus Buchan. Hy sê ondermeer die volgende in sy artikel, Geetselike Misleiding en Angus Buchan — Prof. Johan Malan, Suid-Afrika (Mei 2010)

Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse herlewingsprediker, Angus Buchan, weliswaar n verhouding het met Jesus Christus en Hom as n lewende werklikheid in sy lewe ervaar. Hy waarsku mense ook om hulle te bekeer en help families om met mekaar versoen te raak, wat prysenswaardig is. Aan die ander kant is daar besorgde stemme wat opklink oor sy groot onkunde m.b.t. verskeie aspekte rondom Bybelse leerstellings—in so ‘n mate dat hy hom begewe het op die terrein van die koninkryksteologie, die ekumeniese beweging en selfs ook die bevordering van twyfelagtige tekens en wonders. Hy het by sekere geleenthede positiewe opmerkings gemaak oor Benny Hinn en Kathryn Kuhlman. Sy opmerklike onkunde oor hierdie sake is kommerwekkend en selfs verbysterend . . . Die ander kwessie het betrekking op die koninkryks-misleidings wat Angus aan die skares opdis. Hoe kan hy, volgens sy eie insigte, mense belowe dat Suid-Afrika en Zimbabwe geheel en al herstel gaan word? In hierdie verband tree hy lynreg tweenstrydig op met Jesus Christus self, wat gesê het daar sal ‘n groot verdrukking op die aarde wees soos nog nooit tevore nie (Matt. 24:21). Iemand wat die Bybelse boodksap omtrent die eindtyd verstaan, sal sy volgelinge waarsku teen ‘n tyd van groot spirituele en morele afvalligheid terwyl hy ook die moontlike vervolging en verwerping van Evangeliese Christene uitlig. Hierdie dinge is nie deel van Angus se boodskap nie. So-ook verkondig hy nie die salige hoop van die Wegraping aan Christene nie, om hulle te bemoedig om vas te staan totdat die Here Jesus ons wegneem na sy hemelse woning (1 Thessalonicense 4:16-18). Die feit dat soveel mense na Angus se byeenkomste stroom, is ‘n bewys van die gebrek aan leierskap wat die blankes in beide die politieke en godsdienstige arenas ervaar. Hulle soek iemand wat die Boere kan lei. Selfs sommige van die Israel- groepe (Britse Israelisme of Wit Teologie ondersteuners) beweer dat Profeet van Rensburg verwys het na ‘n leier wat die Boere na ‘n Boerestaat sal lei waar hulle vry kan wees van swart oorheersing. Kan dit nie miskien die rede wees vir die gewildheid wat Angus geniet nie  . . . Hy kan nie naastenby in dieselfde asem genoem word as die herlewingsprediker Andrew Murray nie. Om die waarheid te sê dit is hoogs twyfelagtig of die beweging wat hy as n herlewing beskryf so genoem kan word.

As ‘n menigte mans na Angus Buchan se byeenkomste stroom omdat hulle hunker na ‘n leier wat hulle na hulle “Beloofde Land” kan lei, dan moet ek onomwonde byvoeg dat hulle byeenkomste, in die geestelike sin van die woord, van meet af ‘n volslae mislukking was, ten spyte van die feit dat honderde duisende mans dit in die afgelope paar jare begewoon het. Motief speel ‘n ontsettende belangrike rol in God se ekonomie van herlewings. ‘n Verkeerde motief sal nooit God se hand beweeg om ‘n herlewing te stuur nie. Ek twyfel baie sterk of Hy ‘n herlewing sal stuur wanneer dit die motief is om ‘n leier te vind wat in staat is om die Suid-Afrikaanse Boere na hulle “Beloofde Land” van hoop en glorie en vrede en voorspoed te neem net om die swart gevaar te ontsnap. In baie gevalle in die verlede het herlewings gedy toe omstandighede baie gevaarlik en lewensdreigend was. Die motief van die Christene wat vir hierdie herlewings gebid het, was nie dat God hulle lyding moet versag nie of om hulle na ‘n plek van veiligheid te neem nie. Hulle enigste motief was dat God mans, vrouens en kinders oortuig van hulle sondes en verlore toestand en om hulle op te roep tot ‘n Bybelgefundeerde bekering en ‘n ferm geloof in die Evangelie van Jesus Christus (Markus 1:15). Maar is dit nie Angus Buchan se hoofdoel nie, om die sondes van sy Mighty Men en van ons mede landsburgers op die naam te noem nie? Dit mag miiskien so wees maar wat is sy motief? Om ‘n wortel van hoop, liefde, vrede en ‘n voorspoedige toekoms (God se Koninkryk in hierdie lewe, hier en nou) voor die neuse van sy Mighty Men te hou en aan hulle te vertel dat dit ‘n belofte van God is as hulle sou ophou om met hulle sekretaresses te slaap en om die Ontvanger van Inkomste te verneuk, om op hulle knieë voor hulle vrouens te gaan en hulle om verskoning te smeek, is nie herlewing nie. So-ook is dit nie wanneer hy hulle leer dat hulle die gemanifesteerde seuns (en dogters) van God is in Romeine 8:19. Dit is nie eens die Evangelie volgens Jesus Christus nie. Bekering met die doel om jou materiële en fisiese welvaart in hierdie wêreld te verbeter, neig jou daartoe om jou oë op jouself en jou selfsugtige behoeftes te fokus.

alt

Rory en Wendy Alec van God TV wat al baie van Angus Buchan se Mighty Men Konferensies uitgesaai het, is ook alewig besig om ‘n wortel vanRory and Wendy Alec voorspoed voor hulle kykers se neuse te hou. Op die oomblik flikker die rooiligte vir hulle omdat hulle desperaat is vir ‘n deurbraak in hulle finansies en om die kettings van hulle ontsaglike groot begrotingstekorte te breek. Om dit te kan doen, pleit hulle by hulle kykers om hulle geld in oorgawe (offervaardiglik) te gee. Ten einde hulle so ver te kry om hulle hande nog dieper in hulle sakke te steek, gebruik hulle wêreldbekende predikers soos Benny Hinn, Steve Munsey en Cindy Jacobs om hulle kykers te vertel dat hulle eie deurbrake alleenlik sal kom wanneer hulle hul geld offervaardiglik gee. Dieselfde ou boodskap is op hulle lippe elke keer wanneer jy inskakel op God TV: “God sal jou eer en voorspoedig maak NET wanneer jy jou saad offervaardiglik saai.” Benny Hin het met groot bravade verklaar dat God se beloftes vir jou SLEGS vrug sal dra wanneer jy jou saad in die geloof saai. Dit is ‘n infame leuen uit die onderste dele van die hel. Jou geloof is nie afhanklik van hoe jy gee nie. Jou offers bepaal nie hoe groot of hoe klein jou geloof is nie. want God sê: “. . . Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons. (2 Korinthiërs 1:20). Hierdie belofte het nie betrekking op tydelike goeters soos gesondheid, rykdom, voorspoed en ‘n land vry van misdaad, korrupsie en armoede nie. Die beloftes van God wat deur Christus gemaak word, het betrekking op die vergewing van sondes, die heiligmaking van sy kinders, onderskraging in versoekinge en beproewinge, leiding in moeilike omstandighede, vrede in die dood en ‘n ewige heerlikheid anderkant die graf. Al hierdie dinge word moontlik gemaak deur ‘n Groot Verlosser en nie een van hulle sal faal nie (Albert Barnes se Notas opde Bybel)

alt

Een van hulle grooste geldinsamelingsfoefies om jou te por om £1,000 (+- R10,000), €1,000 (+-1 R11,000), or $1,500 (+- R11,000) te gee, is om jou vrygewigheid te beloon deur jou naam op ’n fondasiesteen in hulle uitsaaisentrum in Jerusalem te grafeer. Wanneeer jy £30,000 (+- R330,000) €30,000 (+- R280,000), $50,000 (+- R380,000) of meer skenk, plaas hulle jou naam op ‘n Mezuzah in een van die sewe inange in hulle uitsaaisentrum. Wee jou egter as jy ‘n Suid-Afrikner is; jou Europese, Amerikaanse en Engelse “God TV” families het ‘n baie beter kans as jy om hulle name geplaas te kry op ‘n Mezuzah in een van die sewe ingange na God TV se uitsaaisentrum. Hulle geldeenhede is baie sterker as jou rand. Maar wees gerus, as jou naam geskryf is in die Boek van die Lewe omdat jy jou heelhartig en met oorgawe van jou sondes bekeer het en in Jesus Christus en sy Evangelie glo (soos die Skrif sê en nie soos God TV sê nie) dan het jy sekerheid oor jou ewige lewe. Jy het nie nodig dat jou naam gegrafeer word op ‘n plaat of fondasiesteen in Rory en Wendy Allen se uitsaaisentrum nie omdat jy hulle R300, 000 of meer gegee het sodat die evangelie na bewering oor die hele aarde versprei kan word nie. Bowendien hoef jy nie ‘n enkele sent te betaal om jou naam opgeteken te kry in die Boek van die Lewe nie omdat God se verlossing gratis is. Dit is ‘n geskenk aan elkeen wat dit deur die geloof in Jesus Christus wat die volle prys vir ons sondes en oortredinge betaal het, ontvang. As iemand jou enigsins iets anders wysmaak en sê dat jy iets moet gee of betaal om God se seëninge te ontvang, is hulle besig om die Roomse ketter, Johann Tetzel se leuen voort te sit. Hy het gesê:

As soon as the gold in the casket rings; the rescued soul to heaven springs [So wie die das Geld im Kasten klingt, die Seele aus dem Fegfeuer springt].

Hoeveel mense is daar nie wat na God TV kyk en die verkeerde indruk van die Evangelie van Jesus Christus kry? Patti Roberts, die eks-vrou van Richard Roberts, het baie ontnugterd geword het met haar skoonpa, Oral Roberts se “saad van geloof” evangelie. Sy het Al Bush, die President van die Oral Roberts Evangeliese Assosiasie gebel om haar diepe kommer daaroor uit te spreek. Die gesprek het so gelui:

Al, in die veertig optredes wat ons verlede jaar opgeneem het, hoeveel keer het ons vir mense die plan van verlossing gegee?

Die plan van verlossiing? Sjoe Patti, ek weet nie. Ek is seker ons moes dit ten minste een keer gegee het.

En hoeveel keer het ons die Saad-Geloof beginsel vir hulle gegee?

Hy het gelag. Patti, jy weet wat die antwoord daarop is. Ons gee die Saad-geloof beginsels by elke optrede. Waaroor gaan dit alles?

Al, in die briewe wat jy van kykers ontvang het, hoeveel van hulle het gedink dat miskien as hulle geld gee hulle ‘n plekkie in die Koninkryk gekoop het? Hoeveel van hulle het gedink dat dit God se mening oor hulle ewige bestemming verander het?

Hy het vir al lang ruk nie geantwoord nie. Toe hy uiteindelik antwoord, het hy sy stem laat sak en meer besadigd en huiwerig gesê: ‘n Hele klomp van hulle het, Patti.1  (klem bygevoeg).

By die aanhoor weer en weer en weer van die leuen dat die offervaardige gee van jou geld of die oordadige saai van jou saad die deur na God se seëninge oopmaak, is baie van God TV se kykers reeds aan die neus gelei om te glo dat hulle finansiële gawes die deur na God se verlssoing en sy ewige heerlikheid oopmaak. Baie donateurs mag miskien alreeds hulle name op die fondasiesteen of ‘n Mezuzah in God TV se Uitsaaisentrum gegraveer hê, maar hoeveel van hulle se name is in die Boek van die Lewe opgeskrywe? Nietemin, ek was verbaas toe ek sien dat Jesus (‘n valse Jesus) sy dissipels uitgestuur het om die evangelie te verkondig dat hy presies dieselfde dinge gesê het wat mense op God TV hoor. Jesus het gesê:

Wanneer julle ‘n stad binnegaan, is die eerste ding wat julle moet doen om mense te oortuig dat hulle ‘n wonderbaarlike deurbraak in hulle lewens nodig het. Sommiges benodig ‘n deurbraak in hulle families; hulle het nodig dat hulle huwelike gered word en dat hulle eiesinnige en rebelse kinders wat van hulle huise af weggehardloop het na pa en ma toe terugkeer. Ander het ‘n deurbraak nodig in hulle kwynende besighede en finansies en om van die Satan terug te neem waarvan hy hulle beroof het. Nog andere het n desperate deurbraak nodig in hulle gesondheid. Moenie vergeet om die shofar soos Steve Munsey op God TV te blaas nie want ‘n shofar, soos julle weet, maak die hemelse vensters wyd oop wanneer dit deur ‘n ekspert geblaas word. Moenie sleg voel as julle nie ‘n ekspert is nie en nie weet hoe om die shofar te blaas nie. Hier’s vir julle ‘n opname van iemand wat ‘n professionele shofarblaser is. Al wat nodig is, is om die shofar teen julle lippe te druk en te maak of julle blaas terwyl julle die opname speel. Maar hier’s die punchline Sê vir hulle ek sal ALEENLIK, ek herhaal ALLEENLIK, ‘n deurbraak in die areas van hulle gesondheid, familielewe en besighede bewerk wanneer hulle enorme bedrae geld aan julle skenk sodat julle die evangelie kan verkondig. Maak dood seker om hulle te vertel dat elkeen wat nie offervaardiglik skenk nie salzilch, nada, geen deurbraak hoegenaamd van my ontvang nie. Sê ook vir hulle dat hulle name op ‘n fondasiesteen gegraveer sal word as hulle 30 000 denarii / shekels of meer skenk.

Ek kan nie presies onthou waar ek die bogenoemde gelees het nie maar wat ek wel weet is die volgende:

Hy sê toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur. Gaan dan; kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe. Moenie ‘n beurs of ‘n reissak of skoene dra nie, en groet niemand op die pad nie. En in watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis! En as dáár ‘n man van vrede is, sal julle vrede op hom rus; anders sal dit tot julle terugkeer. Bly dan in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle het, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis gaan nie. En in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul ontvang, eet wat aan julle voorgesit word. (Lukas 10:2-8).

En Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie. (Lukas 22:35)

In die volgende vers het Jesus inderdaad vir hulle die opdrag gegee om ‘n beurs en ‘n swaard saam te neem sodat hulle hulself kon verdedig en selfversorgend kon wees op hulle lang evangeliese reise. Maar Hy het hulle nooit geleer om geld te vra in ruil vir hulle gebede of die blaas van die shofar nie sodat die donatuers ‘n sg. deurbraak in hulle lewens kon ontvang. Dink maar aan die weduwee wat twee geldstukkies in the tempel se skatkis gegooi het en vir wie Jesus as die grootste gewer vereer het.

En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi. En Hy het ook ‘n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi. En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het. Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe. (Lukas 21:1-4)

Sou die groot eer haar te beurt val om haar naam gesrkyf te kry op ‘n Mezuzah of op ‘n fondasiesteen in een van die sewe ingange na Rory en Wendy Allen se GOD TV Uitsaaisentrum? Watwou, haar naam sou waarskynlik nie eens genoem word nie, wat nog van ‘n Mezuzah-verering. Sy het nie alles wat sy besit het in die skatkis gegooi om ‘n seëning of ‘n deurbraak in haar armoede te ontvang nie, of om ‘n tienvoudige of hondervoudige teruggawe of watter ander leuens die Word of Faith valse profete ookal mag opdis, te ontvang nie. Sy het God net eenvoudig gehoorsaam omdat sy Hom liefhet. Wat het geword van Jesus se ernstige waarskuwing in Mattheus 6:3-5?

Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde. En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. (Mattheus 6:3-5)

Maar kom ons keer nou vireers weer terug na Angus Buchan wat dikwels op God TV verskyn en onomwonde verklaar dat ‘n magtige herlewing reeds in ons midde is. Natuurlik kan God ons land herstel tot ‘n geluksalige en vreedsame plek maar dan is dit nog lank nie ‘n motief vir ‘n herlewing nie. Die enigste motief vir ‘n herlewing is om versoen te word met ‘n eindlose heilige God wat nooit sy regverdige oordele oor diegene wat weier om hulle te bekeer en te glo soos die Skrifte sê, sal herroep nie. Soos Prof. Malan aangedui het, is Angus Buchan se evangeliese aanslag geheel en al gefokus op die bevordering van die koninkryksteologie wat die idee uitdra dat elke posisie van hoë aansien in die politiek, die ekonomie, gesondheid, onderwys, die media en kuns deur Christne beheers moet word alvorencs Christus kan terugkom. Dit is beslis nie wat Jesus geleer het nie. Jesus het alreeds sy hoop, vrede en blydskap aan sy volgelinge gegee maar dit is ‘n blydkskap wat die Heilige Gees in hulle diepste binneste ingeburger het en niks kan dit wegneem nie, nie eens die moeilikste omstandighede en vervolginge nie. Aan die anderkant is die vrede wat die wêreld gee, wat soos Jesus gesê het HY nie vir ons gee nie, afhanklik van vredesverdrae, koompromieë en niksbeduidende beloftes en ons weet baie goed hoedat hierdie sg. vredesverdrae gebreek word. Ja, dit is ook waar dat iets wat soos ‘n herleweing lyk mag plaasvind maar die vraag is: waarvandaan kom dit — van God of die verleier wat homself in ‘n engel van die lig kan verander (2 Korinthiërs 11:13 en 14). Die Here eer selgs ’n enkele motief wanneer gelowiges vir ‘n herlewing bid en dit is“om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang. (Handelinge 26:18). Die woord “herlewing” impliseer dat daar eens op ‘n tyd geestelike lewe, groei en dinamisme was maar dat dit weggekwyn het tot ‘n lewelose liggaam wat weer nodig het om opgewek te word tot ‘n dinamiese lewe in Christus.

En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood. (Openb. 3:1). (Klem bygevoeeg). Benny Hinn

Prof. Malan vind Angus Buchan se positiewe kommentare oor valse profete soos Benny Hinn en Kathryn Kuhlman sorgwekkend en self sverwarrend. Ek dink weer dat die Word of Faith voorspoedkulte Angus Buchan soos ‘n handskoen pas. Hy mag miskien aangedui het dat hy geen aspirasies het om geld te maak nie, maar hy is bereid om met hoë agting te praat van Benny Hin en Rory en Wendy Alec wie se verlossingsleer geskoei is op die voorspoedkultus. Angus Buchan mag ook miskien ‘n verhouding met Jesus Christus as sy Verlosser hê en Hom as ‘n lewende werklikheid en mense vermaan om hulle te bekeer maar dan moet ons onthou dat Benny Hinn en Rory en Wendy Alec daarop aanspraak maak dat hulle dieselfde verhouding met Jesus Christus het en dat hulle ook biljoene mense met die Evangelie van Jesus Christus bereik. As Angus Buchan so begaan was oor verlore siiele sou hy ten minste ‘n poging aanwend om Benny Hinn oor sy valse leerstellings te waarsku en Rory en Wendy Alec oor die promovering van sy valse leerstellinge op hulle God TV aan te spreek. Angus Buchan sou ten minste diep bekommerd wees oor die biljoene kykers wat deur God TV mislei word. Kom ons kyk nou eers na sommige van die ketterse dinge wat Benny Hinn verkondig.

“Ek is ‘n klein Messias wat op die aarde wandel.”2

As Angus Buchan positiewe opmerkings oor Benny gemaak het, soos Prof. Malan sê, dan is hy besig om ‘n valse Messias te prys en te vereer. Na my mening behoort Angus Buchan sy positiewe getuienis oor Benny Hinn in die openbaar terug te trek want sy verfoelike aanspraak is nie net ‘n belediging van Jesus Christus nie maar hy (Buchan) is besig om baie mense te mislei deurdat hy hulle aanmoedig om ‘n valse Messias na te volg. Die Moreleta Park NGK volg dieselfde soort beleid om hulle Hinn-volgelinge te paai pleks daarvan om hulle ten hom te waarsku, en dit net omdat hulle nie die bootjie wil laat omtuimel nie. Die eer van mense is mos vir hulle veel belangriker as die eer van Jesus Cehristus. Hier’s nog ‘n paar van Benny Hin se“claim to fame” uitbarstings.

God het uit die hemel gekom, mens geword, die mense in klein gode verander, teruggekeer na die hemel as ‘n mens. Hy staan voor God as ‘n mens. Ek staan voor duiwels as die seun van God . . . Hou op met jou nonsens! Wat anders is jy? As jy sê “Ek” is” sê jy ek is deel van Hom, nie waar nie? Is Hy God? Is jy sy kind? Is julle sy kinders? Julle kan nie mense wees nie! julle kan nie! God het nie geboorte gegee aan vlees nie . . . Julle sê, “Wel, dit is kettery.” Nee, dis julle gekke breins wat so sê.3

Ek begin wonder wie nou eintlik die een is met die gekke brein. Drie raaiskote sal genoeg wees. Miskien sal Angus Buchan en Rory en Wendy Alec ons graag wil vertel of hulle met Benny Hinn saamstem (vir wie hulle tog so lief is) wanneer hy Jesus Christus op godslasterlike wyse demoveer tot ‘n sondaar (wat impliseer dat Hy soos enige ander sondaar verlore was en nodig gehad het om gered te word).

En laat my ook byvoeg: As die Heilige Gees nie met Jesus was nie, sou Hy gesondig het. Dis reg, die Heilige Gees was die krag wat Hom rein gehou het. Hy was nie net uit die hemel gestuur nie maar Hy was die Seun van die Mens genoem en as sodanig was Hy in staat om te sondig . . . Sonder die Heilige Gees, sou Jesus dit nooit kon maak nie . . .  Kan julle Christus op pad na die graf vir julleself voorstel, wetende dat Hy vir ewig daar sou wees, as die Heilige Gees sy siening oor sy opstanding uit die dood verander het?4

My, julle weet, whoosh! Die Heilige Gees het nou net vir my dinge gewys. Ek word duiselig! Ek vertel julle die waarheid — dit rus hierdie oomblik swaar op my  . . . Hy’s nou in die onderwêreld. God is nie daar nie, die Heilige Gees in nie daar nie, en die Bybel sê Hy was “begotten.” Weet julle wat die woord “begotten” beteken? Dit beteken wedergebore. Wil julle nog ‘n skok hê? Is jy wedergebore? So was HY. Moenie laat enigeen julle mislei nie. Jesus was wedergebore. Jy sê, “Waarvan praat jy?”  . . . Hy was wedergebore. Hy moes wedergebore word . . . As Hy nie wedergebore was nie, kon ek nie wedergebore wees nie. Jesus was wedergebore  . . . As Hy nie wedergebore was nie, sou ek nie wedergebore wees nie. Hoe kan ek Jesus in die gesig kyk en sê: “Jesus, U het alles derugemaak wat ek deurgemaak het, behalwe die wedergeboorte?”5 (Klem bygevoeg).

Jesus het geweet die enigste manier om Satan te stuit, was om een te word met hom in sy wese . . . Hy het een geword met die Satan in sy natuur sodat almal wat die natuur van Satan gehad het God se natuur deelagtig kon word.6

Is Benny Hin ‘n Vrymesselaar? Ek wonder maar net . . . omdat die Vrymesselaars dieselfde soort godslasterilike nonsens glo. Oom Angus, is jy bereid om hierdie soort godslasterlikhede in die openbaar te repudieer. As jy Jesus van Nasaret regtig liefhet soos jy by verskeie geelenthede in die verlede al gesê het, sal jy nie nog ‘n sekonde wag om ‘n man soos Benny Hinn in die openbaar te weerlê nie OF is sy godslasterlikhede maar net nog ‘n onbeduidende leerstelling wat jy bereid is om opsy te skuif ter wille van vrede en liefde en voorspoed? Sit vir jou ‘n nuwe hoed op en wys vir ons dat jy ‘n ware MIGHTY MAN is, een wat nie bang is om die ketters op GOD TV wat miljoene niksvermoedende mense mislei, aan te speek nie.

Vrymessalary verklaar:

Jesus van Nasaret het ‘n vlak van bewussyn bereik, van volmaaktheid, wat onder verskillende name bekend is: kosmiese bewussyn, siel-regenerasie [wedergeboorte], filsofiese inisiasie, geestelike verligting, Brahmaanse glansrykheid, Christus-bewussyn.7 (Klem bygevoeg).

Benny Hinn se “whoosh-shy” buite-aardse openbaringe is nie net blatante godslastering nie maar ‘n regstreekse verwerping van die hele Levitiese offferande sisteem in die Ou Testament wat onomwonde bewys dat in die sondoffer en in al die ander offers die diere vlekkeloos moes wees, wat aandui dat die EEN wie se “eens-vir-altyd-offer” uiteindelik aan die kruis bekragtig is, sondeloos moes wees en inderdaad sondeloos was.

as die gesalfde priester sondig, sodat die volk daardeur skuldig word, moet hy vir die sonde wat hy gedoen het, ‘n jong bul sonder gebrek aan die HERE as sondoffer bring; (Levitikus 4:3)

Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. (Hebreërs 4:15) (Klem bygevoeg).

As jy sondesloos is, beteken dit dat jy ook nie kan sondig nie.

God TV Upper RoomAs Jesus se reinheid (sondeloosheid) toegeskryf was aan die Heilige Gees en nie sy eie rein en sondelose natuur nie, volg dit dat elke gelowige wat die inwonende Heilige Gees in sy/haar binneste het ook sondeloos is. (1 Johannes 1:8). Die titel Seun van die Mens beteken nie dat Jesus in staat was om te sondig nie. Was HY in die geringste in staat om te sondig, sou Hy nooit die straf vir ons sondes op Hom kon neem nie. Die Seun van die Mens  beteken eenvoudig dat Hy hom tot die uiterste met die mens vereenselwig het, selfs tot die mate dat sy Vader “Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak [het], sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Korinthiërs 5:21). Sommiges vertolk dit as dat Hy letterlik ‘n sondaar vir ons gemaak is, maar weer eens is dit nie die betekenis nie. Dit beteken gewoon dat God sy Seun ‘n sondoffer, waarin die Vader Hom soos ‘n sondaar behandel het, vir ons gemaak het.

Dis nie net mighty men soos Angus Buchan wat in ‘n noue verwantskap met Benny Hinn en sy godslasterike leerstellings is nie. Wat van Chuck Missler? Het ook ook die boot “ge-miss-ler?” Sy offersaad aan God TV was so belangrik dat Rory en Wendy Alec ‘n spesiale aankondiging gemaak het toe hulle sy offer vir die verspreiding van die Evengelie volgens Benny Hinn, Crefo Dollar, Kenneth en Gloria Copeland, Joyse Meyer, Billy Graham, Peter Wagner, John Hagee, Joel Osteen en ‘n menigte ander geestelike VIP’s ontvang het. (Oeps! wat het geword van Jesus se waarswkuwing in Mattheus 6:1-4). God TV se kykers is skynbaar so begogel deur die valse beloftes dat daar deurbrake sal kom op die terrein van hulle finansies, besighede en families wanneer hulle hul geld offervaardiglik gee, dat hulle nie ‘n snars omgee oor gesonde Bybelse leerstellings nie. Net solank hulle vleeslike behoeftes versadig word, is hulle hoogs tevrede.

In God TV se hoofkantoor in Jerusalem het Rory en Wendy Alec ‘n sg. bo-kamer en ‘n allerheiligste kamer met ‘n klipaltaar ingerig waarop hulle elke saadofffer wat hulle van hulle kykers ontvang in die vorm van ‘n rooierig gekleurde stuk papier plaas. Die “altaar” is die fokuspunt van hulle “gebede” wat dikwels in ‘n vreemde taal gebesig word. Niemand lê ooit hierdie sg. tale uit nie wat natuurlik net nog ‘n ander daad van ongehoorsaamheid aan die kant van God TV is. (1 Korinthiërs 14:27). Wat is die regte betekenis van die sg. “altaar” in God TV se hoofkantoor in Jerusalem? Dit kan onmoontlik nie ‘n replika wees van ‘n Ou Testamentiese altaar nie omdat God die Israelitete verbied het om ‘n altaar te maak waarvan die klippe uitgekap was.

Maar as jy vir My ‘n klipaltaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie; want as jy jou ystergereedskap daaroor swaai, dan ontheilig jy dit. (Exodus 20:25)

Die sg. altaar in God TV se hoofkantoor is nie ‘n gebede-altaar nie maar ‘n okkultiese “kontakpunt.” Die “kontakpunt” se toebehoorsels (gebededoekies, sakdoeke, kiekies, gebede papier, some van klere, heilige olie, shofars) word aangewend om die krag wat rykdom en deurbrake bewerkstellig, vry te stel. Oral Roberts het daarop aanspraak gemaak dat die “kontakpunt” sy “grootste uitvindsel” was.8 Met die instuur van hulle gebede papiere (in hierdie geval n gedrukte rooierig gekleurde A4 vel papier), vestig die kykers ‘n kontakpunt wanneer elke vel papier op die “altaar” geplaas word en wanneer Rory en Wendy Alec en andere hulle hande op die hoop papiervelle lê om die krag van weelde vry te stel. Dave Hunt skryf:

Rituals are of no value. Rituals work in magic and magic [is] demonic; witch doctors have certain rituals they go through, sacramentalism is related to the rituals. The idea that a ritual has some spiritual value and power just is contrary both to common sense and to the Word of God.  For example, it’s closely related to scapulars and medals. I have a scapular that I keep in the Bible to show people, on one end of it, it says, whosoever dies wearing this scapular shall not suffer eternal fire.  Well, two problems, 1) if you believe Christ paid the penalty for your sins, you don’t need a scapular. What kind of a God delivers you from eternal fire because you wear a scapular.  It’s like the fetishes and so forth in the pagan world.  So, a ritual to exorcise demons is the same.  What is this, impress demons?  Are they impressed that you go through some ritual, or does God’s power depend upon you going through some ritual?  Where in the Bible does it say that God’s power can be released by some ritual?  Now you have the same idea with many of the so-called faith teachers, you know, touch my hand, this is a point of contact and even Oral Roberts had people light candles, you know, he lit the red candle while they lit the green candle, and this starts miracles flowing.  What kind of a God releases his power because you go through some ritual?  So we know, first of all, that the ritual isn’t right. (Emphasis added).

Miljoene mense word deur God TV mislei. Is jy een van die misleides?

Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry. (Handelinge 8:20)


1Patti Roberts, Ashes to Gold (Word Books, 1985), p. 122

2Benny Hinn, “Praise-a-Thon” program on TBN, 6 November 1990.

3Benny Hinn, “Our Position in Christ # 2 — The Word Made Flesh (Orlando: Orlando Christian Center 1991) videotape # 2555, emphasis added. See also Hinn’s claim that believers are “little messiahs” or “little gods” on the “Praise-a-Thon” program on TBN (6 November 1990).

4Benny Hinn, Good Morning, Holy Spirit (Nashville: Thomas Nelson, 1990), 135-36, emphasis added. In the seventh printing, certain unannounced changes were made in the text in response to criticism from CRI so that the passage now reads (changes emphasized): “And let me add this: Had the Holy Spirit not been with Jesus, He may have likely sinned. That’s right. It was the Holy Spirit who was the power that kept Him pure. He was not only sent from heaven, but He was called the Son of Man—and as such He was capable of sinning. . . . Without the Holy Ghost, Jesus may have never made it.” The “Can you imagine.. .” sentence was deleted entirely. But even with the changes, Christ is still made out to depend on the Holy Spirit to keep Him from sinning, thus denying Christ the sinlessness that is an essential attribute of God.

5Benny Hinn, “Our Position ‘In Christ,’ Part 1” (Orlando, FL: Orlando Christian Center, 1991), videotape.

6Benny Hinn, TBN, 15th December 1990).

7Lynn F. Perkins, The Meaning of Masonry (CSA Press, 1971), p. 32

8Oral Roberts Best Sermons and Stories (Tulsa, OK: Oral Roberts, 1956), 46: 101

Sorry, the comment form is closed at this time.

 
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.