God sê ons gedagtes is spieëlbeelde van dit wat ons werklik in ons diepste innerlike is.
Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie (Spreuke 23:7).
My gedates het onmiddellik na hierdie vers gegaan toe ek een van Stephan Joubert se nuutste bydraes DO THE GRACE WALK op echurch se webblad gelees het. Hy skryf:
Moet nooit eers wag voordat jy voel om mooi dinge vir gemene mense te doen nie, want om die waarheid te sê, jy sal nooit nie! Jesus het nooit gesê dat jy moet wag totdat jou vyande jou vriende word voordat jy hulle begin liefkry nie. Nee, wees lief vir hulle terwyl jy kwaad is vir hulle! Met ander woorde: doen goed aan hulle en bou ‘n verhouding met hulle terwyl jy eintlik voel jy will hulle koppe van hulle skouers afskeur. Vergeld hulle met liefde. Loop ‘n tweede myl deur ‘n glas koue water aan hulle te gee terwyl jy eerder ‘n groot dosis arseen vir hulle wil gee. Hoe langer jy mooi dinge doen vir slegte mense en hoe meer jy die aanvanklike boustene vir nuwe verhoudings lê, hoe meer sal jy God se voetstappe voor jou kan ontsyfer. Jy sal meer en meer soos jou hemelse Vader word.
O so, om meer en meer soos jou hemelse Vader te word moet jy die kuns aanleer om iemand lief te hê terwyl jy hier diep in jou hart voel jy wil hom liewer vermoor. Is dit wat die Engelse bedoel wanneer hulle sê: “love him to death?” Volgens Stephan Joubert is dit ook die manier om God se voetstappe wat voor jou lê, duideliker te onderskei. Ons sal die Here Jesus Christus deifintief moet aantree en Hom voor stok moet kry omdat Hy iets heel anders as Stephan Joubert vir mense geleer het. Dink daaraan, Hy het so wrintie die vermeteheid gehad om vir ons te te sê:
As iemand agter My aan wil kom [in my voetstappe wil loop], moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. (Mattheus 16:24).
Nee, nee, nee, nee Jesus. Dis darem nou nie reg nie. Jy moet ‘n slag aan Stephan Joubert en sy ontluikende boetjies se voete kom sit sodat jy kan leer hoe om slegte mense lief te hê terwyl jy hulle hier diep in jou hart haat en eintlik maar wil vermoor. Glo my, dis die nuwe post-moderne manier om Jesus-volgelinge te wees. Hou dus maar gerus jou kruis en jou selfverloëning vir jouself. SKOKKEND? Beslis ja! Maar dit is presies wat hierdie mense besig is om vir Jesus Christus te sê terwyl hulle daarrop aanspraak maak dat hulle Hom volg.
As daar ooit ‘n praktiese voorbeeld was van wat Salomo in Spreuke 23:7 bedoel het, dan is dit hierdie uitbarsting van Stephan Joubert. Dit omskrywe op ‘n volmaakte wyse die gevaarlike dubbelhartigheid tussen jou gedagtes en jou dade. Laat my toe om met ‘n voorbeeld so ‘n bietjie uit te brei op Stephan Joubert se GRACE WALK. Die meeste mense is bewus dat hy die ONTLUIKENDE KERK voortreflik, geesdriftig, met passie en uitgelate in Suid-Afrika bevorder. Sy mees gebruikte strategie is om die geïnstitusionaliseerde kerk aan te val, te slaan, te kritiseer en te verkleineer. Julle sou miskien belangstel om sy jongste aanslag in die Rapport uitgawe van 3 Februarie te lees.
Terwyl ek die artikel en die onderskeie kommentare daarop gelees het, het my gedagtes gegaan na ‘n ander Skrifgedeelte in die Bybel:
Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is. (Mattheus 5:44-48)
Let asseblief op: Jesus het nooit gesê jy moet jou vyande liefhê terwyl jy diep in jou binneste (jou hart) voel om hulle te vermoor (hulle koppe van hulle skouers af te skeur) nie. Hy het ook nie gesê dat jy ‘n verhouding met hulle moet kweek of ‘n glas koue water aan hulle gee terwyl jy heimelik (weer eens in jou hart) eerder ‘n groot dosis arseen aan hulle sou wou gee nie. Stephan Joubert klink presies nes Benny Hinn van die geïnstitusionaleerde Word of Faith beweging wat een maal gesê het hy wens hy het ‘n Heilige Gees geweer gehad het om sy vyande se koppe weg te blaas. (So tussen hakies: Dis die man van wie Angus Buchan met groot lof en waardering praat.)
WAT! Het die ONTLUIKENDE KERK en in die besonder die E-CHURCH gekies om in die voetspore te volg van God se klein Messias en sy geïnstitusionaleerde kerk wat bekend staan as THE WORD OF FAITH MOVEMENT? Wat is die verskil tussen Benny Hinn se godslasterlike opmerking “Ek wens God gee my ‘n Heilige Gees masjiengeweer, ek sal julle koppe wegblaas” en Stephan Joubert se ewe godslasterlike opmerking “ . . . terwyl jy eerder ‘n groot dosis arseen vir hulle wil gee. Stephan Joubert is baie lief om Jesus se Naam te gebruik om sy eie onbybelse leerstellings te beklemtoon. Hy gebruik dikwels Jesus se woorde in Mattheus 10:42 om sy gesuikerde haat jeens almal wat nie met hom saamstem nie en sy leuens in die openbaar blootlê. Jesus het nog nooit gesê dat jy ‘n glas koue water aan elke Tom, Dick en Harry moet geen nie. Hy het na sy “kleintjies,” sy dissiples verwys wat die onvervalste Woord van God verkondig het.
Kom ons erken dit nou maar ronduit. Stephan Joubert is ‘n enigma wat kwalik deur ons ou menslike verstandjies verstaan kan word. Dink daaraan! Terwyl hy almal wat bekommerd is oor die geestelike pelgrimstog waarop hy hom begewe het sy vyande noem en wie se koppe hy met liefde wil afskeur, is hy voortdurend besig om God se vyande goed te praat, te omarm en hoog aan te prys. Kyk maar weer na die webblad waarop hy gereeld kommentaar lewer. As dit nie Eckhart Tolle is wat hulle promoveer nie, dan is dit Brian McLaren wat openlik met mense soos Steve Chalke en Alan Jones dit eens is dat die kruisdood van Jesus ‘n vorm van kosmiese kindermishandeling en ‘n laakbare leerstelling is. (Kyk hier).
Suid-Afrika, hoe lank gaan julle luister na mense soos Stephan Joubert, Johan Geyser en hulle vriende by die Mosaïek Kerk in Fairlands, Johannesburg en die INVIA Kerk van Theo Geyser in Stellenbosch?