Sondag, 21 September 2008, was volgens Ds. Jannie Pelser van die Rant en Dal Gemeenskapskerk, wat die oggendpreek op RSG waargeneem het, ’n geskiedkundige dag. Die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief van Suid-Afrika het ’n projek geloods waarby predikante, dominees, priesters, biskoppe en profete van al die hoofstroomkerke regoor ons land betrek is en versoek is om spesifiek oor norme en waardes in die samelewing te preek.
In die aanhef tot sy preek sê Ds. Pelser n.a.v. Galasiërs 5:22 tereg dat die Heilige Gees ons gedrag in die lewe moet bepaal. Dan maak hy ’n baie subtiele en groot sprong deur te sê dat ons die vrugte van die Gees ook maar norme en waardes kan noem waarvolgens elke Christen dan sy lewe behoort in te rig. Dan sê hy ’n skokkende ding. Hou asseblief in gedagte dat hy reeds gesê het dat die vrugte van die Gees ook maar norme en waardes genoem kan word, maar dan dra hy hierdie norme en waardes ewe niksvermoedend oor en maak dit van toepassing op die samelewing wanneer hy die inhoudelike van Galasiërs 5:22 opsom in vier essensiële norme en waardes en sê dan dat dit – spits u ore hiervoor – universeel is — dit is dus nie net Christene wat hierdie norme en waardes onderskryf nie, maar voeg dan onmiddellik by, dit is in die besonder Bybelse norme en waarhede. Hy sê daar is ’n skreiende tekort aan hierdie waardes in ons samelewing. Waarom het Ds. Jannie Pelser nie die Bybelse norme en waardes soos dit in Galasiërs 5:22 beskrywe word net so geneem en daaroor gepreek nie? Waarom het hy doelbewus ’n sprong gemaak vanaf die vrugte van die Gees na die volgende vier norme en waardes?
-
Eerlikheid
-
Medemenslikheid
-
Selfbeheersing
-
Verantwoordelikheid
En so reduseer Ds. Jannie, met ’n vlugtige draai van die tong, die vrug van die Heilige Gees wat HY alleen deur die wedergeboorte en heiligmaking in mense se lewens kan inwerk tot vier norme en waardes waarvoor selfs ’n menslike instansie soos die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief veranwoordelikheid kan neem om mense te bemagtig om hierdie waardes en die integrering daarvan in die samelewing te bewerkstellig. Volgens Ds. Jannie kan hierdie vier norme en waardes egter nie sommer goedsmoeds van bo af beskrywe en voorgeskryf word nie, en dan maar hoop dat mense gaan inkoop op hierdie norme en waardes nie. Nee op ’n manier moet jy die inkoop van mense op grondvlak kry sodat hulle met jou gaan saamleef en daarop gaan reageer.
Dis darem nou vir jou interessant. Ons hoef nou nie meer vir mense te leer dat hulle hul heelhartig tot God moet bekeer nie; dat dit God alleen is wat vir hulle ’n nuwe hart kan gee op voorwaarde dat hulle hul tot Hom bekeer en toelaat dat die kruis van Jesus Christus die nodige werk van ware transformasie in hulle lewens meebring nie (2 Korinthiës 5:17); dat ons dissipels van hulle moet maak en hulle leer om alles te onderhou wat God ons beveel het nie. Nee! Al wat ons nou moet doen, is om die gemeenskap te kry om in te koop op die vier norme en waardes wat Ds. Jannie so mooitjies in sy preek genoem het. Wat bedooel hy in elk geval wanneer hy sê ons kan hierdie norme en waardes nie van bo-af beskryf en voorskryf nie. Dit klink darem alte veel na die post-moderne siening dat ons nie meer langer van die post-moderne mens, wat alles as relatief en niks meer as abslouut aanvaar nie, te verwag om die gesag van God en sy Woord te onderskryf nie. Ons moet ander metodes gebruik, soos dié van die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief, om mense so ver te kry om in te koop op hierdie norme en waardes.
Ds. Jannie verdeel die samelewing dan in vyf onderdele nl. skole (opvoedkundige inrigtings), kerke (geloofsgemeenskap), besighede, media en die plaaslike owerheid. Dis dan juis op hierdie vlakke van die gemeenskap waar die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief ’n verskil wil maak deur hulle so ver te kry om WEER in te koop op die bg. vier norme en waardes. Let op na die woordjie WEER so asof daar ’n tyd was in die geskiedenis van Suid-Afrika waar al hierdie norme en waardes konsekwent deur die gemeenskap nagekom is. Hierdie norme en waardes was netso min aanwesig in die gemeenskap gedurende die apartheidsjare, maar die gebrek daaraan in daardie era was baie beter verbloem as nou se dae. Ek wil dus weet hoe ons hierdie vier norme en waardes WEER in die samelewing gaan integreer met behulp van die Nuwe Hart Stigting en -Inisiatief as dit nog nooit daar was nie? Trouens, die Here sê vir ons baie duidelik in sy woord dat “die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,” (Genesis 6:5). Ds. Pelser, hoe ver moet ons in die geskiedenis van die mens teruggaan om darem ‘n sweempie van hierdie vier norme en waardes te vind waarna ons WEER kan terugkeer en die mense so ver te kry om daarop in te koop? Hoe dink u gaan ons hierdie norme en waades in die harte van mense ingeburger kry as die mens se hart bedrieglik en verdorwe is bo alle dinge? (Jeremia 17:9). Kom ons sê dit sommer reguit vir mekaar. Ons bedrieg ons self as ons dink dat God sommer so uit die bloute nuwe harte vir mense sal gee terwyl hulle die kruis en die bloed van Christus onder hulle voete vertrap. Paulus sê juis in 1 Kor. 1:23 dat die kruis dwaasheid is by die mense en ek kan u verseker dat God nooit in der ewigheid ’n nuwe hart aan enigeen sal gee terwyl hy of sy die kruis as dwaasheid beskou nie. Vergeet dit! (1 Kor. 1:18). Die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief, predikante, dominees, pastore, priesters, profete van elke denkbare denominasie of kerk en wie ookal sal ooit ’n greintjie verandering in die harte van mense kan berwerk nie, tensy God self hulle harte by wyse van grondige bekerings verander. U onthou tog seker dat Jesus eenmaal gesê het “Sonder my kan julle niks doen nie.” Dit beteken ook dat enigiets wat ons sonder hom doen of aanpak gewoonlik op ’n ronde nul uitloop. Dit beteken net mooi niks nie.
Ds Jannie sê in die verloop van sy preek dat ons die moed van ons oortuiging moet kan hê om vir die wêreld te sê: “So sê die Here.” Maar, ai toggie, Ds. Jannie “does not practice what he preaches.” Pleks daarvan om vir die hele Suid-Afrika oor RSG se oggendgosdiens op 21 Sept 2008 te sê “So sê die Here,” het hy telkens vir ons vertel wat ander mense sê. Mense soos Annie Coetzee, ’n motiveringspreker, Dr. Isak du Plessis, die Moderator van die AGS Kerk, Eben Mclaren, ’n deskundige op die gebied van misdaadvoorkoming, Ds Richard Verreyne, Prof Linda van Rooyen en Leon Wessels van die Menseregte Kommissie.
Hy skop af met Annie Coetzee, ‘n motiveringspreker wat gesê het “People can take away everything from us accept what we value and what we believe to be true in our hearts. The truth is the most powerful message we can release.” Let asseblief op na die woordjie “release” (vrylaat”). Dit is ’n ’n begrip waarvoor die New Agers besonder lief is en beteken om positiewe energie of denke in jou omgewing uit te straal of af te gee. Waarheid het niks te make met “uitstraal” of “release” nie. Dit moet met woord en daad verkondig word. Annie se opmerking oor waardes en dit wat elkeen maar in sy eie hart kan glo wat die waarheid is “opens up a whole can of worms” soos die Engelse sê. Dit wat ek in my eie hart as die waarheid, goeie norme en waardes glo en handhaaf, is nie noodwendig dieselfde waarheid, norme en waardes wat ander persone in hulle harte glo en handhaaf nie. Hoe nou gemaak? Ah! Dit is waarom die mens so slim geword het om Bybelse norme en waardes (vrugte van die Gees) te reduseer tot vier norme en waardes wat kwansuis universeel is en wat nou in vier kategorieë verdeel word — eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid. Hierdie vier waardes en norme is so universeel dat selfs die gehardste tronkvoëls hulle ook nou kan toepas en uitleef. Waarom moet die vrugte van die Gees gereduseer word tot hierdie vier waardes en norme? Omdat die ware vrugte van die Gees soos dit in Galasiërs 5 verwoord word slegs deur die Gees van God in mense se harte ingebruger kan word, en dit eers wanneer hulle waarlik tot bekering gekom het en die kruis van Jesus Christus heelhartig omarm het. Dit is ‘n bomenslike werk van die Heilie Gees en nie dié van mense nie en enigeen wat probeer om die werk van die Heilige Gees oor te neem is arrogant, verwaand en hovaardig. Maar dit wil die gemeenskap darem nou werklik ook nie hê nie. Hoekom nie . . . ? Omdat die Here uitdruklik sê dat die wêreldse gemeenskap nie die Gees van die Waarheid kan ontvang nie omdat hulle Hom nie sien nie (verstaan nie) en ook nie ken nie. (Johannes 14:15, 17). Blykbaar weet baie van ons predikante nie meer wat om te sê nie en gebruik dus maar die “wysheid” wat ander mense dikwels kwystraak. Ds. Pelser het vroeër gesê dat ons die gemeenskap so ver moet kry om in te koop op die vier goue norme en waardes, maar dit lyk eerder of hy die Christene so ver wil kry om in te koop op die een wêreld godsdiens waarvan selfs mense soos Mikhael Gorbachev en sy State of the World Forum die volgende doelwitte gestel het:
-
“Encourage commitment to core values… and strengthen the sense of common responsibility for the global neighborhood.”
-
“Express these values through a global ethic of specific rights and responsibilities….”
-
“Embody this ethic in the evolving system of international norms, adapting, where necessary existing norms of sovereignty… “
Gorbachev en sy kamerade dink waarskynlik ook dat hierdie norme en waardes universeel is en dat dit WEER in die gemeenskap geïntegreer kan word. Het u Ds Jannie se “norme” “kernwaardes” en “gemeenskaplike verantwoordelikheid” in die bg. etiese kodes van Gorbachev se State of the World Forum raakgesien? Ds. Pelser se vier waardes en norme is so wyd en universeel dat selfs die vyande van die Evangelie van Jesus Christus en die fasiliteerders vir ’n een wêreld regering en godsdiens daarop ingekoop het. Dit wil lyk of baie van die Suid-Afrikaanse kerke reeds ingekoop het op die wonderlike nuwe Utopia van vrede, vryheid en broederskap tussen alle gosdienste.
Maar kom ons kyk nou eers wie is Annie Coetzee. Sy stel haarself soos volg bekend op haar webtuiste:

Annie Coetzee is currently one of South Africa’s leading speakers on Self-Empowerment with the focus on emotional intelligence, and passionately speaks about the latest research on this evergreen and ever-important subject of Human Development.
She is the owner of Creative Brain Management – and specializes in the training of Human Intelligence – throughout a person’s life. Annie gained excellent training experience, both nationally and internationally and her absorbing interest in matters of the mind, body and spirit, has influenced a number of medical and scientific experts to assist her with advice, confirmation and the follow-up of her real-life case studies.
By nadere ondersoek kom jy agter dat sy dikwels gebruik maak van “New Age” terminologie soos “positiewe denke,” “positiewe energie,” “mind, body and spirit” en “The Power of Being” ens. In ’n onderhoud op RSG in die program “Oggend op RSG” met Amanda Olivier het sy vertel dat positiewe denke nie voldoende is om jou te bemagtig nie, maar dat jy ook moet let op jou taalgebruik. In een van haar nuutste boek “The Power of the Creative Life” waarin sy, soos sy dit stel, oor alle grense gegaan het, fokus sy nie net op positiewe denke nie, wat in alle bemagtingsboeke die belangrikste fokuspunt is, maar ook op die taal wat jy praat. As voorbeeld verwys sy na die sinnetjie wat mense dikwels opper: “Hopelik gaan ek volgende week klaarkry” en net daardie woordjie hopelik is onnodig omdat dit ’n negatiwiteit in jou taal en jou psige meebring. Nouja, blykbaar het Annie nog nooit ernstig siek geword nie en kon dus alles tot dusver klaarkry sonder om die woordjie “hopelik” in haar woordeskat te gebruik. Wat sê die Skrif?:
Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd (Jakobus 4:13-16).
Volgens die Skrif is dit pure grootpratery om te sê: “Ek gaan dit of dat volgende week klaarhê, en daarom gebruik ek nooit sulke negatiewe woorde soos “hopelik” in my alledaagse taal nie.”Sy sê dan ook in die verloop van die onderhoud dat jou woorde geweldig baie skeppingskrag het. Hier’s ons maar weer terug by die ketterse “positive confession” van die “Word of Faith” beweging wat glo dat jou woorde vir jou ’n seëninge of vloeke kan bewerk, afhangende van jou positiewe en negatiewe woorde en denke respektiewelik.
Positiewe denke is nie iets nuuts nie. Norman Vincent Peale, wat reeds in 1937 met sy positiewe denke program begin het, word beskou as die voortreflikste motiverinspreker van die 20ste eeu. Hy het 46 boeke geskryf waarvan “The Power of Positive Thinking” die bekendste is. Daar is reeds meer as 20 miljoen kopieë daarvan verkoop en in 42 tale vertaal. Hy is veral ook bekend daarvoor dat hy die sg “Christen-sielkunde die kerk ingedra het. Op hierdie wyse het Freudiaanse en Jungiaanse sielkunde die kerk besoedel. Robert Schuller, een van die hedendaagse navolgers van Norman Vincent Peale, het onlangs op TBN in een van sy “on-eredienste” vanuit sy Chrystal Cathedral gesê: “Possibility thinking is the ultimate need of every single person.” En ek het nog altyd gedink Jesus Christus en sy verlosssingswerk aan die kruis is die enkele belangrikste nood in elke mens se lewe is. Wel! As die mens in staat is om sy toekoms vas te knoop deur slegs negatiewe woorde uit sy woordeskat te weer en negatiewe gedagtes uit te sny, dan het hy Christus hoegenaamd nie meer nodig nie en hoef dan maar net Ds. Jannie Pelser se vier norme en waardes te implementeer. So ’n persoon is dan self ’n godjie.
Annie Coetzee verwys ook in die onderhoud na “visie-krag” (“vision power”) waarin jou positiewe denke en hartkrag saamgespan word om jouself suksesvol te sien in jou besigheid en jou verhouding met mense. Dit is niks anders as een van die gevaarlikste okkulte praktyke, bekend as visualisering, om jou drome, visies en toekomsverwagtinge te verwesentlik nie. En dan gooi sy nogal ’n stukkie Bybel ook tussenin — dié een wat vandag se motiveringsprekers en sg. Christen sielkundiges so graag aanhaal om die Christene te paai en so ver te kry om in te koop op die okkulte sonder dat hulle dit agterkom — “Where there is no vision, the people perish.” (Spreuke 29:18). Die mens het nog altyd die vermetelheid gehad om sekere Bybelversies aan te haal met die doel om hulle eie agendas te bevorder en dan het hulle boonop die arrogansie om nie die hele vers aan te haal nie. Die res van die vers lui as volg “ . . . but he that keepeth the law, happy is he.” Die wet verwys hier na die Woord van God, m.a.w. elkeen wat in onderdanigheid aan die Here gehoorsaam is aan sy Woord, is geluksalig. Die welbekende KJV vertaling wat ek hier aangehaal het, is misleidend. Die woord vir visie in hierdie gedeelte is die woord “hazon” en verwys na die “visies” of “openbaringe” wat God self deur ’n gekose profeet aan die volk Israel gegee het. God moes dit op hierdie manier doen omdat ’n baie klein gedeelte van die Bybel in daardie dae opgeteken was. Die woord vir “perish hier is “para” en beteken om selfbeheersing oor boord te gooi of om jouself oor te gee aan jou eie begeertes. Dit kom dus neer op bandeloosheid en rebellie. In kort wil die vers dus vir ons sê dat enigeen wat die Woord van God nie in sy of haar hart dra en dit gehoorsaam nie, homself en haarself oorgee aan bandeloosheid en rebellie. Dit het niks te make met ’n droom wat jy vir jouself en jou toekomsverwagtinge het nie en ook nie hoe om daardie visies, drome en toekomsverwagtinge d.m.v. positiewe denke, hartkrag of wat ookal te verwesentlik nie. Sy sê ook dat jou hart die sterkste energiegewer van jou liggaam is en ’n mens kan nou ook verstaan waarom Ds. Jannie Pelser haar aanhaal om die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief se pogings om norme en waardes in die gemeenskap te bevorder. Haar heel nuutse boek “Are you connected” word soos volg op die internet gereklameer”
Moenie vir my sê hierdie is NIE “New Age” nie.
Energy Crisis!!
Explore your own POWER SYSTEM.
Get connected. Discover the POWER of heart and mind becoming ONE solid force of energy to make your dreams come true.
FEELING energy from the heart is 5000 times stronger than THINKING energy from the brain. Think again! This paradigm-shattering workshop will free you from negative forces that could’ve blocked your way to living an empowered and healthy life.
You have no idea what you are capable of!
Ek sal baie graag wil weet hoe sy tot die gevolgtrekking gekom het dat gevoelsenergie uit die hart 5000 keer kragtiger is as denkenergie? Met watter soort instrument het sy dit gemeet? En waarmee moet jy “connect” — met jou “Higher Self” (“Hoër Self”) of die God binne-in jou? Watter metodes moet die vrouens gebruik om in aanraking te kom met hulle “Higer Self” – meditasie, stilte? Nee wat Ds. Pelser ek wil u aanraai om liewer te hou by jou vermaning dat ons vir die mense moet sê “So sê die Here” en ophou om mense aan te haal wat God se Woord teëpraat.
Dis opvallend dat Ds. Jannie Pelser wat Annie Coetzee so flussies aangehaal het, nie haar goeie raad om te let op jou taalgebruik en om nooit negatiewe denke of energie in jou hart te koester nie, navolg nie. Dis darem te negatief en afbrekend om te sê:
Ons staan voor verskriklike uitdagings. Dis ’n wonderlike land. Laat ons dit nie vir een oomblik weglaat nie. Dit is ’n uitnemende land met wonderlike moontlikhede; pragtige mense, wat ’n voorreg om in hierdie sonskynland te mag lewe, maar kom ons sê dit vir mekaar vandag, daar’s baie uitdagings Ek wil so ver gaan om te sê, in ’n sekere sin is die Skrif aan die muur . . . . ons sal weer moet begin praat oor die konteks waarin ons norme en waardes moet gaan uitlewe. (Klem bygevoeg).
Ds. Pelser begin heel positief maar vorder vinng van minder negatief na sommer baie negatief. Kom ons volg nou maar almal Annie se raad en begin almal om die waarheid d.m.v. hartkrag en positiewe denke in die samelewing uit te straal, en siedaar! – alles is sommer gou-gou honkie-dorie.
Ds. Pelser haal ook vir Eben McLaren aan, ’n man wat baie te make het met misdaad. Hy sê:
Die toenemende krisis in korrupsie wat op ’n menigte wyses gepleeg word, is een van die duidelikste tekens dat ons onself in ’n ERNSTIGE krisis bevind vanuit ’n morele oogpunt beskou. Gemeenksappe moet besef dat die regering nie waardes bepaal nie. Dit word deur die mense van die land bepaal. (Klem bygevoeg).
Moontlik het Ds. Jannie nie agtergekom dat hy homself dikwels weerspreek nie. ’n Bietjie later in sy preek sê hy dat God se Woord ons standaard is, m.a.w. die Woord bepaal ons norme en waardes. Hy het dan selfs in sy openingsgebed beaam dat die Woord van God lewend en kragtig is, maar nou soos handomkeer stem hy saam met Eben McLaren dat die mense van die land ons gemeenskaplike norme en waardes bepaal. Dit is juis omdat die mens elkeen sy eie norme en waardes bepaal en aan sy eie kultuur koppel dat hierdie pragtige land van ons in so ’n diep gemors is, sodat Ds Jannie met hande in die hare moet erken dat die “die skrif is aan die muur.” As dit, volgens Eben Mclaren, die mense self is wat norme en waardes bepaal, waarom is dit dan nodig om die mense oor te haal om in te koop op die vier norme en waardes wat kwansuis van Galasiërs 5:22 afgelei is? Indien dit wel daarvan afgelei is, dan is dit mos nie die mense wat die norme en waardes bepaal nie. Sê die Skrif dan nie vir ons in daardie gedeelte dat dit die vrug van die Heilige Gees is nie? Ds. Jannie moet darem nou besluit wie hy ondersteun — God se Woord of die klakkelose woorde van die mense wat hy aanhaal. Inderdaad, God sê onomwonde dat enigeen wat sy eie norme en waardes navolg uiteindelik in ’n toestand van ewige verlorenheid sal eindig, tensy hulle hul heelhartig bekeer en Jesus Christus as hulle Saligmaker ontvang.
Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. (Jesaja 53:6)
Het ons werklik iemand soos Eben McLaren nodig om vir ons te vertel dat ons ons vanuit ’n morele oogpunt in ’n ernstige krisis bevind? Is dit nie maar alreeds algemene kennis nie? Nee! wat ons werklik nodig het, is dat predikante ophou om die “wyshede” van mense in hulle eredienste aan te haal en eerder met vaste oortuiging sê “So sê die Here: Bekeer julle want die koninkryk van God het naby gekom.” (Let op dat hierdie Koninkryk nie die valse een is wat deur die navolgers van die Domeinisme, “Latter Rain,” Transformasies, die Herlewingspredikers ens. verkondig word nie). Ons praat so maklik van die hart so asof God sommer so goedmoeds en onvoorwaardelik nuwe harte aan mense gee, en dit nogal terwyl dit die gemeenskap self is wat die land se norms en waardes bepaal. Dis eenvoudig nie waar nie. God sal om die dood nie ’n nuwe hart aan iemand gee nie, tensy hulle hul heelhartig tot Hom bekeer en bely dat hulle teen Hom en Hom alleen gesondig het (Ps 51:4).
Selfs Dr. Isak Burger, Moderator van die AGS Kerk, wat Ds. Pelser ook in sy preek aanhaal, skryf die krisis in ons land toe aan die droewige gebrek aan norme en waardes en nie aan die skreiende afvalligheid van ons kerke vanaf die Woord van God na ’n ander evangelie wat die sielkunde en New Age praktyke vooropstel nie. God self sê in sy Woord:
The wicked shall be turned into hell, and all te nations that forget God. (Ps 9:17) (Klem bygevoeg).
Ds. Pelser gaan voort om verskeie ander baie belangrike persone aan te haal, o.a Prof Linda van Rooyen en Leon Wessels van die Menseregte Kommissie en hulle almal sê dat die samelewing op goeie norme en waardes gebou moet word alvorens die krisis in ons land te bowe gekom kan word. Is dit werklik die waarheid? Het die Here nie aan die regering die swardmag gegee om wet en orde te handhaaf nie maar misluk treurig vanweë die blatante wetteloosheid en ’n ontoereiikende resgtelsel? Ds. Pelser sê dat die Grondwet nooit die harte van mense kan verander nie.
Ons het nodig dat die eise van God se woord in ons harte geskrywe word en dat dit hier van binne af uitgelewe word, maar die grondwet sal Suid-Afrika nooit verander nie, hoe gewaardeerd daardie dokument ookal is.”
Hiermee stem ek heelhartig saam. Dit is God se woord en sy ewige onveranderlike waarheid wat harte verander wanneer daardie harte hulle heelhartig tot Hom bekeer. Maar dan moet die kerke die onvervalste Evangelie van Jesus Christus verkondig. Maar nie net dit alleen nie; die kerk moet ook kragtig stry vir die Evangelie wat eenmaal deur die apostels aan ons oorgelewer is en nie saam sit en saam eet met mense wat besig is om hierdie evangelie te rysmier nie; nie leraars soos Henry Blackaby, Rob Bell, Leonard Sweet, Erwin McManus, Max Lucado, Brian McLaren, Richard Foster, Tony Campolo, Eugene Peterson, Dan Kimball, Doug Pagitt, Rick Warren en nog baie ander soos ware helde omarm en navolg nie; nie mense soos Dominic Crossan as ’n “erudite scholar” aanprys nie terwyl hy die kruisdood van Jesus Christus as “transendentale kindermoord” beskryf. God se oordele begin by die huis van God en nie die samelewing nie (1 Petrus 4:17). Die fout lê nie in die samelewing nie maar in die kerk wat veronderstel is om die onvervalste Woord van God te verkondig. Jeremia ween en sê
“Dit was oor die sondes van haar profete, die ongeregtighede van haar priesters wat daar binne-in die bloed van die regverdiges vergiet het.” (Klaagliedere 4:13). (Klem bygevoeg).
Ds. Jannie Pelser haal ook vir Ds. Richard Verreyne aan wat gesê het:
As ons dan in ’n nuwe Suid-Afrika met die Madiba-faktor, met die wêreldkampioen bokspan vol Christene en met die bekroonde Soweto Gospelkoor steeds gebuk gaan onder ’n vlaag van korrupsie en misdaad, growwe geweld en skokkende seksuele vergrype, skoolpornografie en tiener swangerskappe, en ’n kultuur van . . . oneerlikheid, moet ons vra wat fout is in ons reënboognasie. Kan ons redes vind vir die stygende rioolwaters van immoraliteit?
As die Suid-Afrikaanse grondwet nie nuwe harte kan gee nie en die norme en waardes wat die samelewing gesond kan maak, nie kan inburger nie, hoe gaan die Madiba-faktor, ’n wêreldkampioenspan vol Christene en die bekroonde Soweto Gospelkoor dit ooit regkry? Weet u, selfs die Here Jesus kon die Romeinse samelewing nie met gesonde morele norme en waardes deurweek nie. Trouens, Hy het ook nie na die aarde gekom om norme en waardes in enige gemeenskap te bewerkstellig nie. Dit was nog nooit sy doel om so-iets te doen nie. Hy het hierheen gekom om as God-mens uit ’n maagd gebore te word, te ly en gekruisig te word sodat Hy mense VANUIT, ek herhaal, VANUIT die koninkryk van satan (hierdie wêreldsisteem waarvan hy die god is) oor te plaas in die Koninkryk van sy geliefde Seun (Kolossense 1:13). Die kruis van Christus is die krag en wysheid van God en nie die prestasies van mense soos die wêreldkampioen bokspan of die Madiba-faktor of die Soweto Gospelkoor wat mense uit hulle ellende kan red nie. God se Weg is die KRUISWEG en enigeen wat dit verwerp sal in ellende gedompel word om die eenvoudige rede dat daar vir die goddelose geen rus is nie: “Julle is die leraars van die volk en julle weet hierdie dinge nie?” (Johannes 3:10).
Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op. Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie! (Jeremia 57:21) (Klem bygevoeg).
Die ironie is dat ons vir die goddelose vrede wil gee deur hulle oor te haal om in te koop op die vier normes en waardes wat hulle, volgens Eben McLaren, in elk geval self bepaal — eerlikheid, medemenslikheid, selfberheersing en verantwoordelikheid. As hulle tog maar net wil inkoop op hierdie waardes (wat hulleself bepaal) — nee, hulle hoef hulle nie voor die Allerhoogste God te verneder en te erken dat hulle verlore sondaars is wat nodig het om hulle te bekeer nie — dan sal daar vrede in ons land kom. Watter oppperste nonsens!
Die aanhangers en navolgers van die Transformasie Beweging, die Alpha Kursus, die “Latter Rain” Beweging, die Domeinisme, die Ontluikende Kerk en ook die predikers wat voortdurend preek dat ons midde-in ’n groot herlewing is, is baie lief om die teks aan te haal wat sê:
[as] my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. (2 Kronieke 7:14).
Ten spyte daarvan dat die kerk (ekklesia) soos dit vandag daaruit sien — nl. die gemeenskap van gelowiges wat bestaan uit Jode en nie-Jode omdat die middelmuur van skeiding deur Jesus Christus afgebreek is) — in die Ou Testament nog ’n geheimenis of verborgenheid (“musterion”) was (Efesiërs 3:1-8), hou die kerkleiers nog steeds vol dat 2 Kronieke 7:14 betrekking het op die kerk soos dit tans daaruitsien. Dit is niks anders as die vervangingsteologie van Augustinus en Calvyn wat verkondig dat Israel as volk van God deur die kerk vervang is en dat al die beloftes wat God aan Israel gegee het nou op die kerk oorgedra is. Indien al die gelowiges regoor die wêreld as volk van God bestempel word — en die Bybel praat inderdaad van al die gelowiges uit elke nasie, volk en taal as God se heilige volk (1 Petrus 2:9) — dan maak die gelowiges in Suid-Afrika slegs ’n baie klein deel uit van hierdie volk van God regoor die wêreld. Verwys 2 Kronieke 7:14 na die hele heilige volk van God wat regoor die wêreld in verskillende lande woonagtig is of net na die klein gedeelte van God se heilige volk in Suid-Afrika? As dit net na die gelowiges in Suid-Afrika verwys (wat toe nog nie eens bestaan het nie), dan kon die profeet nie praat van ’n volk nie maar slegs ’n gedeelte van ’n volk. Aangesien die hele heilige volk van God regoor die hele wêreld verspei is en in verskillende lande woon, kan ’n mens tereg vra watter land die Here gaan genees as hulle hul heerlhartig to Hom bekeer? Het die hewig vervolgde Christene in Sjina nodig om hulle heelhartig tot God te bekeer alvorens Hy hulle land van die sataniese vervolging en die kommnistiese juk moet bevry? Nee! Die profeet verwys in 2 Kronieke na God se volk Israel wat HY uit alle lande terug gaan bring na hulle eie land in die Midde-Ooste waar die oorblyfsel van dié volk hulle heelhartig tot Christus sal bekeer by sy wederkoms. Paulus praat hiervan in Romeine 11:25-27 en die profeet Sagaria in sy boek met dieselfde naam in hoofstukke 12, 13 en 14.
Ek het begin moed skep toe Ds. Jannie Pelser so teen die einde van sy preek onomwonde gesê het dat God se Woord ons standaard is (Galasiërs 5:22) en dat daar nie meer tyd is om traak-my-nie-agtig te wees oor die tye waarin ons leef nie. Hy het tereg gesê dat elke Christen ’n rol het om te speel in die verkondiging van die Evangelie en van Sy kruis. Maar, o wee, my moed het maar weer teruggesak in my skoene toe hy sê dat Christene betrokke moet raak om van hierdie wêreld ’n beter plek te maak. Nee! Dominee, die Here het ons nie gestuur om van hierdie wêreldsisteem waarvan die duiwel die god is ’n beter plek te maak nie. Hy het ons aangestel en uitgestuur om vanuit al die nasies individuele dissipels te maak en om hulle te leer om alles te onderhou wat HY ons beveel het, al kos dit ook ons lewens. Die Bybel sê uitdruklik vir ons dat die wêreld in die laaste dae van erg tot erger sal gaan en dat selfs jou familielede en jou eie kinders jou sal haat omdat jy vir Christus volg. Die Here Jesus het dan so duidelik gesê dat hierdie wêreldsisteem of gemeenskap Hom eerste gehaat het en daarom sal dit sy volgelinge ook haat. Hoe kan ons van ’n wêreld wat Christus haat ’n beter plek wil maak — om Christus nog meer te haat? Nee dominee, jou taak en my taak is om die Evangelie van Jesus Christus kompromieloos en onvervals te verkondig en hard te stry vir die geloof wat eenmaal deur die apostels aan ons oorgelewer is. Alleenlik mense wat van en in hierdie wêreld is, wil van die wêreld ’n beter plek maak. Die Koninkryk van God sal op hierdie aarde gegrondves word EERS wanneer Jesus Christus terugkeer. Enige poging om hier en nou ’n beter plek van hierdie wêreld te maak, sal telkens op ’n misrabele mislukking uitloop. Ek sê dit op grond van wat die apostel van liefde in 1 Johannes 5:19 gesê het: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.”
Hier so teen die einde van sy preek raak Ds. Jannie Pelser so ’n bietjie driftig wanneer hy praat oor die mense wat nie saam wil gaan met die projek om die samelewing te transformeer nie. Hy sê:
Die tyd het gekom vir die skeiding en suiwering in die kerk; die tyd het gekom dat lidmaatsregisters gesuiwer word en dat die dooie hout uitgegooi en afgegooi word sodat ons kan besig raak met die kerk en sy rooeping wat God ons gegee het, nl. om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk en ons moet ophou om tyd te mors met mense wat nie wil nie.
Nouja, dis ’n hele mondvol en dit laat ’n mens wonder waar Ds. Pelser sy mandaat kry om die lidmaatsregister van kerke te suiwer van dooie hout en mense wat nie wil “saamwerk” nie. Miskien moet Ds. Jannie liewer voorstel dat die NG Kerk se Teologiese fakulteit in Pretoria gesuiwer word van professore wat nie langer glo in die maagdelike geboorte en die fisieke opstanding van Jesus Christus nie. Ek weet van baie mense oorsee en ook hier in ons eie land wat uiters bekommerd is oor die rigting wat die kerk besig is om in te slaan, veral ten opsigte van die invloed van die Ontluikende Kerk, die “Latter Rain” Beweging, die Domeinisme (“Dominionsm”) (’n beweging wat glo dat die hele gemeenskap verchristelik en deurweek moet word met gesonde waardes en norme voordat Christus kan terugkeer), Transformasies ens. Dis juis hierdie mense wat Christus waarlik liefhet, wil volg en wil gehoorsaam wat nie meer onder die klank van die dwaalleer van die Ontluiklende Kerk wil sit nie, en wanneer hulle in opregte liefde ’n woord van waarskuwing rig, word hulle aangesê om maar liefs pad te gee. Dis darem nie vir jou so mooi Christelik – nie waar nie? Nie eens Paulus, die grootste prediker en sendeling van alle tye, het sy broeders en susters aangespoor om ontslae te raak van die dooie hout nie. Hy het dan selfs gesê dat n man wat met sy skoonma gehoereer het weer teruggeneem word in die geloofsgemeenskap nadat hy hom heelhartig bekeer het van sy verkeerde weë. Let op Ds. Jannie Pelser en leer van Paulus. Ek haal aan uit die Amplified Bybel:
But if someone [the one among you who committed incest] has caused [all this] grief and pain, he has caused it not to me, but in some measure, not to put it too severely, [he has distressed] all of you. For such a one this censure by the majority [which he has received is] sufficient [punishment]. So [instead of further rebuke, now] you should rather turn and [graciously] forgive and comfort and encourage [him], to keep him from being overwhelmed by excessive sorrow and despair. I therefore beg you to reinstate him in your affections and assure him of your love for him; For this was my purpose in writing you, to test your attitude and see if you would stand the test, whether you are obedient and altogether agreeable [to following my orders] in everything. (2 Korinthiërs 2:5-9)
Ai toggie, dit wil vir my lyk of die Rant en Dal Gemeenskapskerk Paulus se opdragte in alles nie gehoorsaam nie, maar sommer so huppelend en singend ontslae wil raak van al die “u hout” wat nie saamstem met die righting waarin die kerke beweg nie.
Ds Jannie Pelser sê voorts:
Dit beteken nie dat ons hulle nie as ’n voorwerp van evangelisering moet sien nie, maar die kerk spandeer die grootste deel van sy tyd waain hy probeer om die grootste deel van die gemeente wat nie betrokke is nie aan boord te kry terwyl daar mense is wat smag na toerusting sodat hulle hierdie wêreld aan die voete van die lewende Christus kan kry. Die tyd het gekom dat profete opstaan en sê: ‘So sê die Here.’ Die tyd het gekom dat ons ophou om verskonig te vra vir die standaarde en norme van God se Woord, ongeag van wat mense sê en dat ons terugkeer na die ononderhandelbare Woord vir ons geestelike lewe. Die tyd het gekom om te besluit of God se Woord, God se Woord is.
Dit klink alles so mooi en so goed maar die ironie is dat daar wel baie wagters op die mure en profete is wat hulle kommer uitspreek oor predikante, pastore, en profete wat die dwaleringe van T.B Joshua, Erwin McManus, Rick Warren, Brian Mclaren, Rob Bell, Leonard Sweet, Michael Cassidy en nog vele ander aanhang. Watwou, ten spye van hierdie profete se “So sê die Here” help dit net mooi niks nie en die predikante wat met oortuiging almal bemoedig om te sê “So sê die Here” ploeter nog steeds voort in hulle ondersteuning van hierdie valse profete en oortree hulle eie opdrag om te sê “So sê die Here.”
Die volgende advertensie oor Ds Jannie Pelser se “Jesus Projek” verskyn saam met baie ander organisasies op Tranformations Africa se webtuiste. [1]
The “Jesus Project” addresses the abuse of the Name of God in die media. It has been a grateful and proud partner with “Transformation Africa” for the last five years. The “Jesus Project” wholeheartedly endorses the objectives of “Transformation Africa” and joins in fervent prayer for the nations of this continent and the world. – Jannie Pelser.
Ek het nog nooit werklik geglo dat Christene vir ongelowiges kan sê: “Hou op om die Naam van God en sy Seun ydelik te gebruik nie.” Hoe meer jy vir hulle sê om dit nie te doen nie, hoe meer doen hulle dit. Paulus verduidelik dit vir ons so mooi in Efesiërs 2:1 en 2:
En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, (Klem bygevoeg).
Hoe kan jy vir ellendige mense wat volgens die loop van die wêreld en volgens die owerste van die mag van die lug (die duiwel) en van die gees (die duiwel) wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, verwag om hulle denke, hulle spraak en hulle hele lewenswyse eenklaps te verander? Dis mos totaal onmoontlik! Geen projek van watter aard gaan die ongelowige oorreed om op te hou om die Naam van die Here ydelik te gebruik nie want dis die owerste van die lug wat hulle aanspoor om dit te doen. Dit beteken nie dat ons die duiwel vir alles moet blameer nie. Dit beteken maar net dat die ongelowige vasgevang is in die duiwel se lewenssfeer van sonde en die dood. Hulle het nodig om uit hierdie lewenssfeer van misdade en die dood lewend gemaak te word. As ons dit kon reg kry om mense so ver te kry om nie meer te sondig nie, soos om nie meer die Naam van God ydelik te gebruik nie, dan sou dit nie vir Christus nodig wees om aan die kruis te sterf nie. Ons hoef dan maar net vir hulle te sê: “Hou op . . .” en hulle hou onmiddellik op. Nee! hierdie mense moet waaragtig tot bekering kom en vanuit hulle misdade lewend gemaak word alvorens hulle deur die Gees van God in staat gestel kan word om nie meer te sondig en die heilige Naam van God ydelik te gebruik nie.
Ds Pelser sê voorts in sy preek:
Die tyd het gekom dat Christene opstaan. Meer as 80% van ons mense sê hulle is Christene, en dan het die tyd gekom dat hulle opstaan teenoor korrupsie, teenoor wat verkeerd is in die samelewing, die wapen van die Gees opneem, die stryd begin stry, begin praat oor die sake van die dag, betrokke raak by politieke en sosiale aangeleenthede. Die tyd het gekom dat die Christen uit hulle gemaksones kom en hierdie wêreld . . . impakteer.
Weer eens is dit mooi woorde, maar is dit Bybels? Ek sien nêrens in die Skrif dat die Here Jesus sy dissipels beveel het om betrokke te raak by die Romeinse politek of sosiale aangeleenthede nie. Het hulle dit tog maar gedoen, dan sou hulle waarkynlik nie so baie in die tronk beland en gemartel word nie. Paulus het op ’n keer gesê (en ek gebruik die Amplified Bybel omdat dit die gedeelte soveel beter omskrywe).
What [business] of mine is it and what right have I to judge outsiders? Is it not those inside [the church] upon whom you are to pass disciplinary judgment [passing censuring sentence on them as the facts require]? God alone sits in judgment on those who are outside. (1 Korinthiërs 5:12, 13)
Paulus het ook nie betrokke geraak by die Romeinse politiek of sosiale aangeleenthede nie. Hy het hom ook nie die reg toegeëien om die Romeinse samelewing aan te spreek oor hulle korrupsie, geweld, misdaad ens. nie. Om die samelewing te ordeel, sê hy, is God se mandaat en nie die Christene s’n nie.
Ds Jannie sê ook:
“Die tyd het geklom om nie te stry oor goed wat nie belangrik is nie.”
Eers sê hy dat die Christene die stryd moet aansê, maar hier dat hulle nie oor onbelangrike goed moet stry nie. Wat is die belangrikste? — om hard te stry vir die geloof wat eenmaal deur die apostels aan ons oorgelewer is (Judas 1:3) of om te stry vir gesonde waardes en norme in die samelewing? As ons in gedagte hou dat hy heel aan die begin van sy preek gesê het dat die vier waardes en norme, eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid universele waardes is en nie net uniek is aan die Christendom nie, blyk dit dat hy nie bedoel dat ons hard moet stry vir ons geloof nie maar vir hierdie vier universele waardes. Kom ons neem Ds. Pelser se vier norms en waardes ter harte en onderneem om ’n slag EERLIK te wees en vra onsself of die volgende dinge onbelangrik is en of ons dit maar eenkant kan skuif ter wille van die inburgering van gemeenskaplike en universele norme en waardes.
-
Die growwe dwaalleringe wat nog steeds aan die Teologiese Fakulteit in Pretoria gehandhaaf word deur sommige vooraanstaande professore, nl. leringe soos die panenteïsme, en die ontkenning dat Christus uit ’n maagd gebore en fisiek uit die dood opgestaan het, om nie eens te praat van die heftige ontkennings dat die duiwel bestaan en ‘n werklike persoon is nie? Kan u glo dat hierdie mense ons jong voornemende predikante oplei?
-
Die persoonlike endossement van die leringe van Brian McLaren, Leonard Sweet, Rob Bell, Doug Pagitt, Erwin Mc Manus en nog baie ander deur mense soos Dr. Nelus Niemandt (wat onlangs ’n boek oor die Ontluikende Kerk met die titel “Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede” vrygestel het) en Stephan Joubert van die e-kerk en Mosaïek. Ek het my kommer op Stephan Joubert se webtuiste uitgespreek oor hulle assosiasie met Erwin McManus. Hulle het nie eens die Christelike ordentlikheid gehad om my te antwoord nie en summier vebied om ooit weer op hulle webblad kommentaar te lewer. Dr Hennie Stander het my kommer oor sy endossement van Rick Warren ook in die wind geslaan. Ek is ook nie meer welkom op sy blog nie.
-
Die growwe dwaalleringe van die Transformasie Beweging, The Manifest Sons of God, die Latter Rain Beweging, die Alpha Kurus en van mense soos C. Peter Wagner, George Otis, Graham Power, Rick Joyner en nog baie ander.
Blykbaar mag ons nie hieroor met mekaar stry nie want dit bring verdeeldheid in die geledere van die Christene. Paulus het gesê:
Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word. (1 Korinthiërs 11:19).
Ten slotte wil ek sê ek merk dat die belangrikste ding in Ds. Pelser se lys van vier waardes en norme ontbreek en dit is “Liefde.” Volgens Jesus, is daar een besondere ding wat bepaal of ons Hom en sy waarheid werklik liefhet, en dit is om sy skape en lammers die regte voeding en sorg te gee (Johannes 21:15-17). Hoe kan predikante, pastore en ander leiers in die kerk die skape die regte voeding en sorg gee as hulle versuim om hard te stry vir die geloof wat eenmaal deur die apostels aan ons oorgelewer is en elke lering en dwaling wat ons land oorspoel, ignoreer. Waar is die manne van God in ons kerke wat in die krag van God die waarkuwingsligte laat flikker? Waar is die wagters op ons mure wat besef dat as hulle nie waasrsku nie hulle die bloed van baie mense op hulle hande sal hê in die oordeelsdag? Die Skrif is NIE aan die muur omdat die ongelowige gemeenskap versuim om die vier normes en waardes van die Nuwe Hartstiging en – Inisiatief en Ds. Jannie Pelser te onderskryf en uit te lewe nie; die skrif is aan die muur omdat die geloofsgemeenskap in Suid-Afrika hulle rug op God gekeer het en allerhande valse leringe, valse profete en valse apostels navolg en omarm.
Jesus staan vandag buitekant die kerke en klop aan hulle deure om in te kom, maar daar is niemand wat Hom innooi nie. Wat hulle wel doen, is om valse Christusse en profete in hulle kerke en gemeetes toe te laat. Ds. Pelser sê tereg dat God se oordele by die huis van God begin en ek is bevrees om dit te sê maar hierdie oordele het reeds begin.