Warren verwys dikwels in sy openbare optredes en onderhoude op Larry King Live (CNN) na Spreuke 16:18: “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” Nietemin, omdat hy en so baie ander fasiliteerders in die Emerging Church beweging die ego of self van die mens oor die boeg van diensbaarheid, harmonie en eenheid gooi, ignoreer hulle willekeurig of onwillekeurig die werklike doel van die verloëning en die afserwe van die ego of die self. Die primêre doel van die verloëning en die afsterwe van die eie ek is nie diensbaarheid nie (hoewel dit uiters belangrik is) maar om ‘n ware dissipel (volgeling) van die Here Jesus te kan wees. Diensbaarheid is nie uniek aan gelowiges nie. Soos ons reeds hierbo gesien het, lê die besigheidswêreld (wat hoofsaaklik in die hande van ongelowiges gesetel is) geweldig baie klem op diensbaarheid, maar dis ‘n tipe “diensbaarheid” wat gebaseer is op die besigheidsbeginsel van “vraag en aanbod.” Die behoeftes van die massas bepaal die aard en inhoud van die diens wat in hierdie besigheidsgedrewe “diensbaarheid” gewortel is. Dit was hoofsaaklik hierdie besigheidsgedrewe “diensbaarheid” wat Rick Warren aangespoor het om na die sg. “unchurched Harrys and Marys” (ongelowiges) uit te reik en hulle te vra wat hulle van die kerk verwag. Daarom sê hy dan ook:
The first Reformation was about belief; this one’s going to be about behavior,” . . . “The first one was about creeds; this one’s going to be about our deeds . . . The first one divided the church; this time it will unify the church.” (1)
Niemand kan ontken dat diensbaarheid (goeie dade) ‘n pragtige eienskap is nie, maar sonder die kruis van Jesus Christus is dit ‘n nul op ‘n kontrak. Daarom het Christus gesê:
Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. (Joh 15:5).
En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg (Luk 9: 23).
En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie (Luk 14: 27).
Dit is alleenlik maar die kruis van Christus (die sterwe aan die self) wat die gelowige in staat stel om in Christus te bly en om dusdoende ‘n instrument van diensbaarheid te kan wees. Sonder Christus en sy kruis kan ons niks doen wat ewigheidswaarde het nie en alles wat ons in elk geval sonder Hom doen beteken net mooi niks nie. Dit is niks anders nie as hout, hooi en stoppels wat by die Bema troon oordeel tot ‘n hopie as verbrand sal word (1 Kor 3: 12). Selfverloëning sonder die kruis van Jesus Christus pas ewe goed in die kader van enige ander godsdiens en kom eintlik neer op ‘n verheffing van die self eerder as ‘n afsterwe daarvan. Deur die daaglikse werking van die kruis van Christus as die enigste effektiewe instrument vir die afsterwe van die eie “ek” of die “self” uit te skakel, word die klem verskuif van ware dissipelskap (selfverloëning en die opneem van die kruis) na diensbaarheid; van God na die gemeenskap, soveel so dat die uitdrukking “dit gaan nie om jou nie” ‘n algehele humanistiese betekenis kry.
Die vraag is dus: Waarna verwys Warren as hy praat van die “dit” in dié veelbesproke frase “Dit gaan nie om jou nie?” Niemand kan ontken nie dat die hele Evangelie (Goeie Nuus) geskryf is ter wille van jou. Dit is die mooiste, wonderlikste en beste liefdesroman wat nog ooit geskryf is . . . vir jou. Warren het egter op ‘n baie subtiele wyse die klem verskuif vanaf redding, heiligmaking en gelykvormigmaking aan Jesus se lyde, na die nastreef en bereiking van ‘n doelgerigte lewe sodat hy nie net gelowiges nie, maar ook ongelowiges in sy doelgerigte agenda kan akkomodeer. Veral kommerwekkend van sy boek is dat dit deurspek is met teenstrydighede. Hy sê byvoorbeeld dat selfverheffing, selfbehoud en selfgesentreerdheid iets uit die bose is, maar versuim om God se oplossing vir hierdie “self-is-me” helder en duidelik te verklaar, nl. dat ons onself moet verloën, ons kruis opneem en Hom volg (Mat 16:24; Mark 8:34; Luk 9:23). Pleks daarvan, sê hy dat jy ‘n doelgerigte lewe vir God moet lewe. In weerwil van sy afkeur aan alles wat met die self te make het, is hy eintlik maar besig om “self-is-me” te bevorder. Hy doen dus maar presies dieselfde as wat enige ander ongelowige met die sonde van selgesentreerdheid doen. Die Webblad: Inner Frontier, skryf soos volg oor “selfgesentreerdheid” soos Isaac Luria, ‘n 16de-eeuse Kabalistiese okkultis dit beskrryf het:
Tikkun olam encompasses both the outer and the inner, both service to society by helping those in need and service to the Divine by liberating the spark within. (2) As we are, the Divine spark lies hidden beneath our layers of egoistic self-centeredness. That spark is our conscience, through which the promptings of the Divine Will flow toward us. By pursuing spiritual inner work to strengthen our soul and purify our heart, we grow more able to bear that spark without shattering, more willing to act on what we know to be right, less willing to act in harmful or grasping ways, and more able to notice the quiet presence of conscience beneath the din of our chattering minds and reactive emotions. The work of transformation, of building a soul creates a proper vessel for the Divine spark, for our unique share of the Divine Will, returning that spark to the service of the One Who sent it. By working to perfect ourselves, perfect our soul, and serve society, we each contribute in our own unique way to the perfecting of the world. This is our duty and our calling as human beings. (3) (klem bygevoeg)
Waaroor gaan dit dan alles? Gaan dit om die ewigheidswaardes van God se koninkryk wat jy moet nastreef ter wille van Christus en sy Evangelie en nie ‘n tydelike doelgerigte lewe hier op aarde nie, of om hierdie wêreld te transformeer en ‘n beter plek daarvan probeer maak?
Dit is eerder nodig om mensgemaakte harmonieë so ‘n bietjie te skud sodat God se harmonie in ons lewens tot ontplooing kan kom. Daarom het Christus gesê, “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid.”(Luk 12: 51). Harmonie en eenheid word nie onderling teweeg gebring deur gesamentlik ‘n doelgerigte lewe op hierdie aarde na te jaag nie, maar alleenlik wanneer God self sy kinders in sy waarheid heilig (Joh 16: 16, 17). Daar is vandag talle mense wat in die naam van die Christendom baie vroom en mooi voorbeeldige en doelgerigte lewens lei, maar wat nie deur God self in sy waarheid geheilig is nie. Paulus noem hulle mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën (2 Tim 3: 5). Hulle jaag ‘n doelgerigte lewe na sonder die kruis van Jesus Christus. Waarom dink u is daar soveel ongelowige besigheidsinstansies wat doelgerig florerende besigheidsprojekte nastreef met Rick Warren se boek “Die Doelgerigte lewe” styf onder die arm? Selfs die
ongelowige en bekende Amerikaanse motiveringspreker, Anthony (Tony) Robbins, hou deesdae opleidingseminare getiteld “Die Doelgerigte lewe.” (4) Warren se boek het nie net ‘n geweldige invloed op kerke dwarsoor die wêreld nie, maar ook op groot besigheidsinstansies soos Ford, Wal-Mart en Coca-Cola. Hoe rym dit met Christus se woorde dat die wêreld Hom haat? (Joh 15: 18). Dit is ooglopend duidelik dat wanneer die wêreldse besighede ter wille van hulle eie agendas begin belangstel in sg. Christelike boeke, is hulle eintlik maar besig om ‘n ander Jesus na te volg omdat die Jesus van die Bybel nie langs dieselfde vuur as die wêreld kan of sal sit nie. As die wêreld jou begin ophemel en van jou begin goedpraat, is dit ‘n duidelike teken dat jy beslis nie God se doel vir jou in hierdie wêreld uitleef nie.
1 Joh 4:5 Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle.
Luk 6:26 Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen.
Waar in die Bybel vind ons dat die Here Jesus vir sy dissipels of enigiemand anders gesê het “Dit gaan nie om jou . . . of om my nie.” Om die waarheid te sê die uitdrukking “Dit gaan nie om jou nie” en “Dit gaan nie oor my nie” is uit en uit ‘n humanistiese siening van die self. Pleks daarvan om die self op sy regte plek te sit, is dit eintlik besig om die self op te blaas en te pamperlang tot iets wat naderhand so groot is dat dit op die ou ent net om jouself gaan en nie om God nie. Hou in gedagte dat Warren se leserskring uit ‘n baie groot kontingent van ongelowiges bestaan en om vir hulle te sê dit gaan nie om jou nie sonder om die werking van die kruis daarin duidelik te maak, sal telkemale uitloop op ‘n opgeblaasde verheerliking van die self. Rick Warren verwys nie ‘n enkele keer in sy boek na die noodsaaklikheid van Jesus Christus se kruis in die hantering van die “self” nie. Sodra iemand geestelike waarhede wil oordra sonder om die kruis van Jesus Christus dié ereplek in hulle lering te gee, is hulle besig om ‘n wêreldse wysheid kwyt te raak. Die kruis van Christus Jesus is die krag en die wysheid van God (1 Kor 1: 20-24) en predikers van die woord het ‘n plig teenoor God se skape om sy wysheid helder en duidelik aan hulle oor te dra. Daarom het Paulus gesê: “Ek wil niks onder julle weet as Jesus Christus en Hom as gekruisigde.”
As Christus nie vir Homself aan die vloekhout van Golgota vasgespyker was nie, vir wie en namens wie het Hy dan gesterwe? As die Gees van God deur wie die hele Skrif ingegee is en deur manne van God opgeteken is baie duidelik en onomwonde sê dat Sy kruisdood nie vir Homself was nie, dan beteken dit tog sekerlik dat dit wel om jou en om my gaan. Inderdaad, die volledige openbaring van God, vanaf Genesis tot Openbaring, is om jou en om my ontwil geskrywe. Trouens, nog voor die grondlegging van die wêreld het die drie Persone in die Drie-Eenheid in hulle alwetendheid vooraf geweet dat die mens in die sonde sou val en ooreengekom dat Christus vlees en bloed deelagtig sou word sodat Hy die hoogste prys vir die sondes en die verlorenheid van die mensdom kon betaal. Die mens was nog nie eens dáár nie toe God die Drie-eenheid besluit het om ter wille van jou en my en die hele wêreld sy lewe aan ‘n vloekhout af te lê sodat ons gered kan word.
Julle moet weet (besef) dat julle gered is (vrygekoop is) vanuit julle nuttelose (vrugtelose) lewenswandel wat julle tradisioneel van julle voorvaders oorgeërf het, nie met verganklike dinge [soos] silwer en goud nie, Maar [julle is vrygekoop] met die kosbare bloed van Christus, die Messias, soos dié van ‘n [geslagde en offervaardige] lam sonder vlek of rimpel. Dit is ‘n betroubare woord dat Hy gekies en voorbestem is vóór die grondlegging van die wêreld, maar Hy is in die laaste dae in die publieke oog gebring (geopenbaar) — aan die einde van die tye — vir julle onthalwe (‘n Vrye vertaling van 1 Pet 1: 20 uit die Amplified Bible)
Hy is vir ons onthalwe voor die grondlegging van die wêreld gekruisig. Die oomblik toe die Drie-Eenheid in hulle ondeurgrondelike liefde vir die mensdom besluit het dat Christus vir die ganse wêreld aan ‘n vloekhout sou sterwe, was dit in God se hart alreeds ‘n gedane en voldonge saak — alreeds voor die grondlegging van die wêreld. Dit is onteenseglik waar dat alles deur Hom en vir Hom geskep is en dat Hy dit alles vir Sy verheerliking gedoen het (Kol 1: 16). Die vraag bly egter . . . het God alles geskape sodat die gevalle mensdom met asembenewende bewondering net daarna kan kyk en uitroep Ag hoe wonderlik!? . . . of het Hy dit geskep sodat Hy ‘n vervloekte kruishout op ‘n heuwel net buitekant Jerusalem kon inplant sodat Sy Eniggebore Seun vir die sondes van die hele wêreld daaraan vasgespyker kon word? (Jes 53:10).
Dit is uiters jammer dat Rick Warren nie vanuit die staanspoor die Evangelie van Jesus Christus helder en duidelik vir sy lesers afskilder nie (Gal 3: 1). Om vir enigeen te probeer wysmaak dat die klem op onsself . . . “nooit ons lewensdoel duidelik maak nie,” en “jy [gaan] nie jou lewensdoel raaksien deur binne-in jouself te kyk nie” sonder dat hulle ten diepste en ten nouste begryp waarom Christus reeds voor die grondlegging van die wêreld vir ons gekruisig is, sal die ongelowiges maar net aanspoor om hulle ingebore en selfsugtige selfgesenstreerdheid nog verder te pamperlang. Hou in gedagte dat Warren sy boek so ingeklee het dat beide gelowiges en ongelowiges in sy Doelgerigte Lewe betrek kan word. Ongelowiges sal nooit die gruwel van hulle eie ingebore selfsugtige selfgesentreerdheid kan raaksien nie, tensy die bloed van die kruis hulle verlore siele aanraak en reinig. Het die Here Jesus dan nie eenkeer self gesê dat ons niks sonder Hom kan doen nie? (Joh 15: 5). Niks sluit ook jou onvermoë in om jou selfsugtige selfgesentreerdheid af te skud . . . want dit is alleenlik deur die kruis van Christus en nie jou doel nie dat enigeen die klem op homself kan afsterf. As die kruis van Christus nie sentraal in die lewe van ‘n persoon ingeplant is nie, kan hy nie God se doel met sy lewe raaksien en uitleef nie, want dit is alleen die kruis wat jou kan bring tot ‘n plek van swakheid sodat God se opstandingskrag in jou ‘n werklikheid kan word. Warren hoef maar net Joh 15: 8 aangehaal het om God se doel met Sy dissipels duidelik te maak — meer as dit (40 hoofstukke) is heeltemal oorbodig.
Om sy uitspraak “Dit gaan nie om jou nie” te onderskryf, gebruik Warren ‘n voorbeeld wat so effe aan die vedwaalde kant is. Op bladsy 16 begin hy deur die te sê Ek het op ‘n slag in die berge verdwaal. Toe ek stop en iemand vra om die pad na die kamp te verduidelik, hoor ek ‘Jy kan nie van hier af daar kom nie. Jy moet anderkant die berg begin!’ Net so kan jy jou lewensdoel nie verstaan as jy begin deur op jouself te konsentreer nie. Ek kan my nogal hiermee vereenselwig omdat ek baie maklik verdwaal, maar as iemand vir my sê ek moet aan die anderkant van die berg begin terwyl ek aan die verkeerde kant van die berg verdwaal het, is daar tog sekerlik net een van ‘n paar maniere waarop ek by die anderkant van die berg kan uitkom. Ek kan nie anders nie as om by die verkeerde kant waar ek aanvanklik begin het óf oor die te berg gaan óf links óf regs om die berg te gaan om by die anderkant uit te kom, en in dié proses sal ek in elk geval die kamp vind wat óf langs óf op die berg geleë is. Warren is korrek wanneer hy sê “Jy moet met God jou Skepper begin” maar dit is uiters tragies dat hy nie vir sy lesers vertel waar God te vinde is sodat jy met Hom kan begin nie. Interessant genoeg was dit ‘n berg (Sinaï) waarop God Hom aan Moses en die volk Israel geopenbaar en Sy tien gebooie aan hulle gegee het. Ook ons kan God alleenlik op ‘n berg (‘n heuwel) wat soos ‘n hoofskedel (in Hebreeus Golgota) gevorm is, vind. Nog meer, hierdie heuwel staan nie in die kamp nie maar buitekant die kamp.
Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer (kamp) en sy smaad dra. (Heb 13: 12, 13).
Dit is dus nie aan die duskant of die anderkant van die berg waar God te vinde is nie, maar op die hoofskedel-heuwel wat buitekant die kamp geleë is. Dit is uiters kommerwekkend en tragies dat Warren sy lesers nie vertel waar hulle God kan vind nie alvorens hulle met Hom kan begin. Ek kan maar net raai waarom hy dit nie doen nie. As herder van sy mega-kerk (Saddleback Valley Gemeenskapskerk) moet hy terdeë bewus wees van 1 Kor 1: 18 & 19 wat baie uitgesproke is oor die kruis van Christus.
Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.
Warren kan dit waarkynlik nie bekostig om sulke diep-snydende tekse aan te haal nie omdat hy sy ongelowige lesersgehoor onmiddellik sou moes prysgee. Dit is opvallend dat die reuse sukses van sy boek nie te danke is aan gelowiges nie, maar hoofsaaklik aan ongelowiges en in die besonder die besigheidsektor wat gulsig van sy boeke gebruik maak om hulle besondere doelgerigte mylpale te bereik. Om sy ongelowige lesersgehoor te betrek, haal hy eerder godloënaars soos Bertrand Russel (‘n uitgesproke ateïs) aan. Myns insiens grens dit aan godslastering om
Bertrand Russel se spreuk “Tensy jy ‘n God versonderstel, is dit sinneloos om te vra wat die doel van die lewe is” naas Paulus se Heilie Gees-geïnspireerde teks in Kol 1: 16 te plaas. Dit herinner my aan ‘n groep Christene wat onlangs die ewe godslasterlike spreuk van Benjamin Franklin (‘n 13de graad Vrymesselaar) gebruik het om hulle drinkgewoontes te verdedig, “Beer is proof that God loves us and wants us to be happy.” Toe ek die godslasterlike en God-onterende spreuk aan hulle uitwys, het hulle my eenvoudig geïgnoreer en my lidmaatskap van hulle webwerf summier beëindig. Dit gaan my verstand te bowe dat God se kinders sulke blatante leuens soos dié van Bertrand Russel gelate kan aanvaar en met ‘n gejubel uitbasuin dat Warren se boek ‘n meesterstuk is. Het ons al so ver van die waarheid afgedwaal dat ons nie meer onderskeid kan maak tussen die heilige en die onheilige en die verskil tussen die onreine en die reine kan uitken nie? (Eseg 22: 26).
Waarom gebruik Rick Warren aanhalings uit die geledere van Godloënaars? In sy biografie oor Rick Warren het Richard Abanes ‘n hoofstuk onder die titel “A New Kind of Spirituality” ingesluit waarin hy poog om te bewys dat Rick Warren gekant is teen ‘n diverse universele waarheid. In hierdie hoofstuk verdedig hy Warren se neiging om die wysneusige spreuke van ongelowiges asook van ander godsdientige oortuigings aan te haal. Abanes toon aan dat hy dit doen nie omdat Warren saamstem oor wat hulle sê nie en nie omdat hy hulle as voorbeelde van ware Christene voorhou nie, maar omdat hy wil bewys dat alle waarheid — uit watter oord die ookal mag kom — God se waarheid is. (5) Daarmee plaas Warren hom solied in die kraal van okkultiste en Teosofiste soos Helena P Blavatsky, Alice Ann
Bailey en Annie Besant. Blavatsky sê in haar boek “To the Readers of Lucifer” die volgende:
Our motto was from the first, and ever shall be: ‘THERE IS NO RELIGION HIGHER THAN–TRUTH.’ Truth we -search for, and, once found, we bring it forward before the world, whencesoever it comes.…
“There is, and can be, but one absolute truth in Kosmos. And … if it is absolute it must also be omnipresent and universal; and that in such case, it must be underlying every world-religion — the product of the thought and knowledge of numberless generations of thinking men. Therefore, that a portion of truth, great or small, is found in every religious and philosophical system, and that if we would find it, we have to search for it at the origin and source of every such system, at its roots and first growth, not in its later overgrowth of sects and dogmatism.
Our object is not to destroy any religion but rather to help to filter each, thus ridding them of their respective impurities. In this we are opposed by all those who maintain, against evidence, that their particular pitcher alone contains the whole ocean. (Klem bygevoeg; hoofletters in die oorspronklike) (6)
In ‘n onderhoud op Larry King Live (CNN, 22 November 2004) het Rick Warren hom soos volg oor ander godsdienste uitgelaat:
And by the way, there’s truth in every religion. Christians believe that there’s truth in every religion. But we just believe that there’s one savior. We believe we can learn truth — I’ve learned a lot of truth from different religions. Because they all have a portion of the truth. I just believe there is one savior, Jesus Christ.—Rick Warren (klem bygevoeg) (7)
As die Here Jesus die enigste Waarheid, die enigste Weg en die enigste lewegewende Verlosser is, dan kan daar geen saliggewende waarheid in enige van die ander godsdienste wees nie, juis omdat alle ander godsdienste Hom as die enigste Waarheid verwerp. Hierdie verwerping van Christus bring mee dat enige waarheid van watter aard ookal wat daar moontlik in enige ander godsdiens mag voorkom totaal van nul en gener waarde vir die mens is. Enige waarheid kry eers werklik betekenis wanneer Jesus Christus as die enigste Waarheid daardie besondere waarheid onderskryf. Toe die Satan vir Christus in die woestyn versoek het, het hy baie dinge uit die Skrif aangehaal wat die suiwere waarheid is en tog moes die Here Jesus hom met die waarheid teenstaan en verwerp. Die waarheid uit die mond van Christus Jesus se vyande is nutteloos. Die jong meisie wat Paulus dae lank gevolg en uitgeroep het “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing” het die waarheid gepraat en tog moes Paulus die waarsêende gees in haar uitdryf (Hand 16: 16-18). Hoewel Warren in die verloop van die onderhoud pertinent sê dat Jesus die Waarheid, die Weg en die Lewe is en dat niemand na die Vader kom behalwe deur Hom nie, kan sy stelling dat daar waarheid in al die ander godsdienste opgesluit lê ‘n gevaarlike wanindruk oor die Evangelie by mense tuisbring. Daarmee skep hy die indruk dat — al sou die Christene Jesus Christus as die enigste Verlosser beskou — die waarhede in ander godsdienste ook ‘n belangrike bydrae lewer om sy agenda van ‘n doelgerigte lewe aan te vul. Trouens, dit is juis hierdie geloofwaardigheid wat hy aan die sogenaamde waarheid in ander godsdienste gee wat Warren die stukrag gee om die reusagtige probleme in die wêreld aan te pak en te probeer oplos.
Kyk gerus na hierdie video op YouTube: Rick Warren answers the Davos question.
Veronderstel die Here Jesus het vir die Satan gesê toe hy Hom in die woetyn versoek het: Ek is die enigste Verlosser van die wêreld maar jy het ook sekere waarhede in pag. Hy sou met so ‘n stelling geloofwaardigheid gee aan die Satan wat van die begin af die vader van die leuen is (Joh 8: 44), en sodoende sy aanspraak dat Hy die alleenreg op God se waarheid het, kompromiteer? Indien Hy dit sou doen, sou Hyself skuldig wees aan ‘n oortreding van God se waarskuwing in Jes 5: 20 en Homself as die Seun van God diskrediteer en selfs verloën.
Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.
Skynbaar glo Warren dat die Here Jesus die enigste Verlosser is maar dat Hy ook mense van ander geloofsoortuigings kan red sonder om hulle betrokke godsdienste prys te gee omdat daar ook sekere waarhede in hulle godsdienste opgesluit is. Trouens Warren het al by geleentheid gesê:
…You may be Catholic or Protestant or Buddhist or Baptist or Muslim or Mormon or Jewish or Jain, or you have no religion at all. I’m not interested in your religious background. Because God did not create the universe for us to have religion. He came for us to have a relationship with him.”—(klem bygevoeg) (8)
“I have known many people who believe in the Messiah of Jesus, regardless of what religion they are, because they believe in him. It’s about a relationship, not a religion. You’ve heard this many times.” —(klem bygevoeg) (9)
“I happen to know people who are followers of Christ in other religions. (klem bygevoeg)” (10)
“I don’t see many people interested in Christendom. But I see a lot of people interested in God.” (11)
Tony Campolo, ‘n voobanker in die Emergent Church beweging en skrywer van die boek “Speaking My Mind” waarin hy sê dat mistisisme (kontemplatiewe gebed) die “algemene raakpunt” is tussen die Christendom en Islam, huldig dieselfde mening as Warren. Howel hy erken dat Jesus Christus die enigste Verlosser is, glo hy dat dit nie nodig is om ‘n Christen te wees nie en dat dit onnodig is vir mense van ander gelowe om hulle tot Christus te bekeer. Hy sê:
I think there are Muslim brothers and sisters who are willing to say, “You live up to the truth as you understand it. I will live up to the truth as I understand it, and we will leave it up to God on judgment day. (12)
Die bogenoemde aanhalings pas netjies in by die missiologie van die post-moderne denkers. Hier volg ‘n paar van hulle:
For me, the beginning of sharing my faith with people began by throwing out Christianity and embracing Christian spirituality, a nonpolitical mysterious system that can be experienced but not explained — Donald Miller. (13) (klem byhgevoeg).
I must add, though, that I don’t believe making disciples must equal making adherents to the Christian religion. It may be advisable in many (not all!) circumstances to help people become followers of Jesus and remain within their Buddhist, Hindu, or Jewish contexts — Brian McLaren. (14) (klem bygevoeg).
YWAM (“Youth With a Mission”) is een van ander sendingaksies wat ‘n nuwe strategie gebruik om mense vir Christus te bereik in lande waar die Christendom verbied word en strafbaar is met die dood.
Messianic Muslims who continue to read the Koran, visit the mosque and say their daily prayers but accept Christ as their Savior are the products of the strategy, which is being tried in several countries, according to Youth With a Mission (YWAM), one of the organizations involved. (15)
Indien Warren se stelling “And by the way, there’s truth in every religion” (17) waar is, dan moet die Satanskerk van Anton La Vey sekerlik ook iets van die waarheid beet hê. Kan u sien hoe absurd dit word wanneer sulke stellings tot hulle normale konsekwensies deurgetrek word?
Ten spyte van die inligting oor Rick Warren wat enigeen met toegang tot die internet tot hulle beskikking het (insluitende die predikante in ons land) het die meeste kerke in Suid-Afrika reeds Warren se boek “Die Doelgerigte Lewe” behandel? Dit is uiters kommerwekkend om te aanskou hoedat kinders van die Here wat reeds jarelank ‘n pad met Christus wandel, deur Warren en ander Ontluikende Kerk fasiliteerders begogel word.
2Kor 11:2 Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.
————————————————————————————————————————————————–
VOETNOTAS
1 http://www.pastors.com/RWMT/?ID=207&artid=8280&expand=1
2 WARREN DENIES ANY CONNECTION WITH THE NEW AGE, YET HE SOMETIMES AFFILIATES WITH NEW AGE PROPONENTS AND THEIR TEACHINGS. It has been documented that Warren recently joined with the John Templeton Foundation, an organization which promotes spiritual humanism, to be a judge in their “Power of Purpose” Essay Contest. The winning essay, for which Warren cast his vote, was written by August Turak, a false teacher in New Age “Self Knowledge” who claims a “divine spark” within every person. http://www.apologeticsindex.org/214-why-rick-warren-has-critics.
3 http://www.innerfrontier.org/Practices/TikkunOlam.htm.
4 http://www.crossroad.to/News/Church/Klenck1.html.
5 Richard Abanes, Rick Warren and the Purpose that Drives Him, Harvest House p. 88.
6. To the Readers of “‘Lucifer’” by H. P. Blavatsky, Lucifer, January, 1888, http://www.blavatsky.net/blavatsky/arts/ToTheReadersOfLucifer.htm. http://inthenameofpurpose.org/chp17.htm.
7 Onderhoud met Rick Warren, CNN Larry King Live, Uitgesaai op November 22, 2004, Transkripsie. http://transcripts.cnn.com/TRANSCRIPTS/0411/22/lkl.01.html.
8 United Nations, Interfaith Prayer Breakfast, September 2005, transcribed from the audio of Rick Warren’s message available at Lighthouse Trails Research Project, “The New Missiology—Keep Your Own Religion, Just Add Jesus” at http://www.lighthousetrailsresearch.com/newmissiology.htm; below Rick Warren’s quote — “Listen to entire transcript.”
9 Onderhoud met Rick Warren, CNN Larry King Live, Uitggesaai op December 2, 2005, Transkripsie, http://transcripts.cnn.com/TRANSCRIPTS/0512/02/lkl.01.html.
10 Aspen Ideas Festival, The Aspen Institute, July 6, 2005, “Discussion: Religion and Leadership,” with David Gergen and Rick Warren, http://www.aspeninstitute.org/site/c.huLWJeMRKpH/b.901097/k.C0C7/Agenda.htm. Transcribed from the audio available at Lighthouse Trails Research Project, http://www.lighthousetrailsresearch.com/newsletternovember05.htm.
11 As quoted in “Rick Warren: Global Baptists ‘are all in this together’” by Trennis Henderson, Western Recorder, Baptist Congress Today, July 30, 2005, http://www.bwanet.org/Congress/congresstoday29f.htm.
12 In ‘n onderhoud met Tony Campolo deur Shane Claiborne. http://findarticles.com/p/articles/mi_m2096/is_1_55/ai_n13798048/pg_1
13 Donald Miller, Blue Like Jazz: Nonreligious Thoughts on Christian Spirituallity, p. 115
14 Brian DF Mclaren: A Generous Orthodoxy: Why I Am a Missional, Evangelical, Post/Protestant, Liberal/Conservative, Mystical/Poetic, Biblical, Charismatic/Contemplative, Fundamentalist/Calvinist, Anabaptist/Anglican, Methodist, Catholic, Green, Incarnational, Depressed-yet-Hopeful, Emergent, Unfinished CHRISTIAN,
15 http://www.deceptioninthechurch.com/youthwithamission.html; http://www.deceptioninthechurch.com/messianicmuslimsletter.html
16 Onderhoud met Rick Warren, CNN Larry King Live, Uitgesaai op November 22, 2004, Transkripsie. http://transcripts.cnn.com/TRANSCRIPTS/0411/22/lkl.01.html
17 Onderhoud met Rick Warren, CNN Larry King Live, Uitgesaai op November 22, 2004, Transkripsie. http://transcripts.cnn.com/TRANSCRIPTS/0411/22/lkl.01.html.