Vrae en antwoorde is sekerlik dié belangrikste meningspeilers. Dit bepaal nie net ‘n persoon se kennis van sekere onderwerpe nie maar kan selfs ook die uiteindelike eindbestemming van ‘n persoon na sy dood aandui. Neem ‘n oomblik die volgende uiters belangrike vraag en die onderskeie antwoorde in reaksie daarop in aanmerking.
Matteus 16:13-17 En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.
Hoewel die meeste antwoorde volkome verkeerd was, het sommige van hulle ten minste binne die omvang van die Bybelse geskiedenis gebly, en dis iets waarop sommige van die hedendaagse vername navorsers nie aanspraak kan maak nie omdat hulle die geskiedenis nie as ‘n sekwensiële opeenvolging van gebeure wat op bewysbare historiese feite gebaseer is, definieer nie maar as die subjektiewe persepsies van mense wat deur hulle eie persoonlike wêreldbeeld geformuleer word. Vandaar Prof. Jurie le Roux[1] se misplaasde opmerkings: “…my rede vorm die werklikheid. Ek maak die werklikheid, ek ken sin aan die geskiedenis toe, ek maak betekenis .. Elke eksegeet ‘maak’ die Skrif betekenisryk .. ‘n Mens het nie die vermoë om absoluut te dink nie .. Om dus absolute uitsprake oor God te maak .. is ‘n onmoontlikheid.”[2]“ “Vir die eerste eeuse Christene het Jesus opgestaan omdat dit deel van hul wêreldbeeld was, vandag kan ons dit nie meer so verstaan nie”[3] (Klem bygevoeg)
As die mens nie die vermoë het om absoluut te dink nie is hy nie net volkome magteloos om absolute uitsprake oor God te maak nie maar ook oor die resente geskiedenis soos bevoorbeeld die moordadige dade van Hitler wat 6 000 000 Jode uitgewis het. Beteken dit dat ons die postmoderne denkers kan koppel aan die sinneloosheid van die Neo-Nazis wat nie absoluut kan dink nie en dusdoende die feitelike gesiedenis van die slagting onder die Jode ontken? Verkeerde en onwetenskaplike uitsprake soos hierbo het ‘n spesifieke doel voor oë en dit is om die wêreldse geskiedenis en in die besonder Bybelse geskiedenis te “mayalogiseer”. Die woord “mayalogiseer” is my eie skepping en is afgelei van die ou Sanskrit term “maya,” ‘n woord wat hoofsaaklik in die Hindoeïsme gebruik word om te sê dat alles ‘n illusie is. “Mayalogisering” het ‘n handige manier geword om die feitelike bewysplasings in die Skrif van Jesus se woorde, sy wonderwerke, sy dood en opstanding as blote shamanistiese ervarings wat aangebring is deur veranderde bewussynstoestande en buite-liggaamlike ervarings, weg te redeneer. Dit moet ten alle koste gedoen word sodat ander religieuse mitologieë, stories en gesegdes op ‘n gelyke vlak met die Bybel gebring kan word.
Martin Debelius (1883-1947) en Rudolph Bultmann (1884-1976), twee Duitse teoloë en professore van die Nuwe Testament, het twee soorte
geskiedenisse gedefinieer — “Historie” en “Geschichte.” “Historie” is feitelike, objektiewe en verifieerbare gebeure wat bewysbaar is deur wetenskaplike hulpbronne soos argeologiese opgrawings. “Geschichte” daarteenoor, is gebeure wat die waarnemer in sy hart en denke opeis as die waarheid; dit is dus intern en onverifieerbaar en berus op “geloof” of subjektiewe geskiedenis. “Hierdie onderskeid veroorloof die aanname dat iets (soos die opstanding van Jesus) die ‘waarheid’ is [d.w.s. ‘Geschichte’ is] [maar] wat nie die ‘waarheid’ is nie in die sin van ‘n historiese feit [d.w.s. ‘Hiistorie’ is nie].[4]
“Formgeschichte” wat ‘n integrale deel uitmaak van hierdie dualistiese en uiteenlopende sienings van die geskiedenis, beweer dat die onderskeie narratiewe van die lewe, werke en woorde van Jesus Christus gewysig, vergroot en selfs deur die vroeë Christengemeenskap versin is om in hulle eie behoeftes te voorsien. Dibelius en Bultmann het hierdie narratiewe as legendes en mities geklassifiseer. Dit het aanleiding gee tot die nimmereindigende soeke na die ware Jesus – ‘n de-gemitologiseerde Jesus, d.w.s ‘n “Geschichtige Jesus” na ‘n “Historie Jesus” wat gestroop is van al die versierings, mities en legendes wat die vroeë Christene na bewering in hulle harte en gemoedere ervaar het d.m.v. buite-sintuigllike bewussynstoestande en buite-liggaamlike ervarings (astrale projeksies). Die soeke na die ware Jesus het sedertdien ontwikkel in ‘n modderpoel van nagevorsde “bevindinge” waarvan die mees onlangse blatante godslasterlikhede is – i.e. die opvatting dat Jesus genesings en duiweluitdrywing gedoen het, die geesteswêreld beheer het, en as ‘n profeet, leermeester en middelaar van goddelike wysheid opgetree het in die hoedanigheid van ‘n Galilese shamanistiese figuur.
Tydens n openbare debat wat gehou is op 16 Oktober vanjaar aan die Universteit van Pretoria, het drie uitgelese sprekers in hulle onderskeie vakgebiede referate gelewer oor de onderwerp “Wie is die ware Jesus – Shamaan, Vaderloos in Galiléa, of Meer.” Hulle was proff. Pieter Craffert, Andries van Aarde en R. Zimmermamnn.
Prof. Craffert, n lid van die Nuwe Hervromers en personneellid van UNISA, het onlangs ‘n boek gepubliseer met die tiitel “The Life of a Galilean
Shaman: Jesus of Nazareth in Anthropological-Historical Perspective.” Verskeie postmoderne toeloë praat met goot lof daarvan.
Christopher Rowland van Queens College, Oxford, apploudiseer die boek as volg:
“Dr. Pieter Craffert’s book is a timely contribution to the debate about Jesus, which deserves to be read widely and pondered by the scholarly community, as it enables a better grasp of Jesus of Nazareth in his historical context. Those who have discussed the political problem posed by Jesus have never taken seriously enough the power wielded by the charismatic, miracle-worker, and seer in an ancient society. The careful exploration of the way in which Pieter Craffert has explored how shamanism might inform the understanding of the Jesus tradition sheds much light on the religion and politics of the Jesus of history which will set future discussion on a firmer historical footing.” (Emphasis added).
Bruce J. Malina, Creighton Universiteit, Omaha, is oorstelp met shamanistiese ekstase wanneer hy in vrolike lewenslustigheid sê:
“In this book, Craffert uses the metaphor of traveling to describe the task he has undertaken. Given the existence of the two prevailing pathways leading into contemporary ‘historical Jesus’ study, Craffert leaves the century-and-a-half old Schweitzer Street (Schweitzerstrasse) and Wrede Road (Wredebahn) to do some ‘bundubashing’ (South African: to travel off road through remote and rough terrain) to get to the social personage of Jesus the Galilean. His critique of prevailing historical Jesus study is insightful and incisive, while his description of Jesus as first-century Galilean shaman is masterful and accomplished. His rationale for and realization of a work of anthropological history is quite on the mark, enabling a reader to have an encounter with a first-century, Galilean shamanic Jesus that should produce an appropriate culture shock in those unused to the radically different cultural and social landscape of Mediterranean antiquity.” (Emphasis added)
“Bundubashing?” . . . Inderdaad! Die postmoderne intellentsia volg “bundubashing” weë en paaie wat die Woord van God beskrywe as weë en paaie wat vir die mens reg lyk maar die gevolge daarvan lei na die ewige dood.
Spreuke 14:12 Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
John J. Pilch van Georgetown Universiteit, Washington skryf:
“Craffert’s groundbreaking study lifts contemporary historical Jesus research out of frustrating dead ends to move it in a new and richly rewarding direction. According to him, Jesus is best understood as a shamanic figure who lived in first century Galilee. Everything the New Testament reports about Jesus, his teaching and his activities, fits the model of a shamanic complex. This model offers the most culturally plausible interpretation of biblical evidence that others have judged to be purely literary compositions with no basis in reality contrived to teach a ‘theological’ or ’spiritual’ lesson. Craffert’s new view of Jesus makes him as intelligible as other universally documented holy persons who have appeared in all cultures throughout the millennia of human existence.” [6] (Emphasis added).
Die laaste sin onderstreep wat ek vroeër gesê het, en dit is dat die vyande van God alles in hulle vermoë doen om God se Seun, Jesus Christus, op gelyke vlak te bring met al die ander sg. heilige persone wat prominensie geniet in elke denkbare godsdiens. In wese kom dit daarop neer dat Jesus Christus nie God is nie maar ‘n persoon soos enige ander wat gebruik gemaak het van shamanistiese kunste om die mense ‘n rat voor die oë te draai. Prof Zimmermann het sy aanbieding begin deur te verwys na Matteus 16 maar het doelbewus die kerngedeelte daarvan weggelaat, nl. “Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.” God die Vader se getuienis aangaande sy Seun word dus verwerp om plek te maak vir mensgemaakte idees en versinsels oor Jesus Chrisus en wie Hy kwansuis werklik was.
In sy referaat het Craffert gesê dat Shamanisme ‘n manier is om te verduidelik hoe Jesus van Nasaret wonderwerke gedoen het, gesterwe en uit die dood opgewek is. Ek kon aanvanklik nie verstaan hoe hy die unieke wonderwerk van Christus se opstanding, wat deur die Heilige Gees bewerk is, met die demonies geïnspireerde praktyke van shamanisme verbind nie, totdat ek die volgende woorde in ‘n artikel op die internet gelees het.
Die Pad van die Shamaan
Daar word dikwels na die shamaan verwys as “die gewonde heler.” Dit beteken dat die shamaan een of ander verskriklike siekte of krisis deurgemaak het, of in die land van die dooies was en toe oorleef het, maar nie net oorleef het nie: hy het ook teruggekom, sterker en wyser, met die hulp van die geeste.[6]
Dit is onomwonde ‘n demonies geïnspireerde nabootsing van Jesus Christus se dood en opstanding wat God se verskriklike oordele in Matteus en Markus provokeer:
Matteus 12:32 En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.
Markus 3:29-30 maar wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel—omdat hulle gesê het: Hy het ‘n onreine gees.
Enigeen wat aan die Heilige Gees toeskryf wat van die duiwel en sy demone afkomstig is en soos die Farisieërs sê dat Jesus sy wonderwerke deur die krag van Beëlsebul gedoen is, loop die gevaar om vir ewig verlore te gaan.
Matteus 12:24 Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.
Wat is die verskil tussen die bogaande Fariseese beskuldiging en Craffert se aanname dat “Jesus as ‘n Galilese shamanistiese figuur sinnebeeldige genesings en duiweluitdrywing gedoen en die geeste gekontroleer het, terwyl hy ook as profeet, leermeester and middelaar van goddelike wysheid opgetree het” (klem bygevoeg). Ten einde hierdie grondelose verklaring uit die bodemlose put te verstaan, is dit nodig om die essensiële kenmerke van ‘n shamaan in oënskou te neem.
Luidens ‘n artikel op Wikipedia (http://en.wikipedia.org/wiki/Shamanism) is die belangrikste funksie van ‘n shamaan om ‘n oorvloedige klomp take te verrig, afhangende van die gemeenskap waarin hulle hul kunste beoefen: i.e. genesing, die aanvoer van ‘n offer; die bewaring van die tradisies deur strorievertellings en liedere; voorspellings; en om op te tree as ‘n “psychopomp” (letterlik beteken dit “sielegids” of geestegids”). In sommige kulture kan al hierdie take in een shamaan funksioneer. Die geestebesweerder in die Griekse mitologie kan as ‘n shamaan bestempel word omdat hy die geeste kon oproep en die dooies opwek om hulle as slawe, soldate en instrumente vir waarsêery te gebruik. Gewoonlik reis die shamaan na die middelpunt van die aarde en betree die geesteswêreld by wyse van ‘n verandering van bewussyn en gaan in ‘n ekstatiese transtoestand wat of outohipnoties en/of deur die gebruik van plant-entheogene (verdowingsmiddels) aangebring word. Die metodes wissel en word dikwels gelyktydig aangewend. Sommige van die metodes wat gebruik word om transtoestande aan te bring, is die volgende:
-
Tabak (bevorder konsentrasie maar is nie psigotropies nie (m.a.w. dit werk nie op die sentrale senuweestelsel in nie).
-
Tromslaan
-
Transdanse
-
Dreunsang
-
Icaros / Medisinale liedere
-
Nagwake
-
Vas
-
Seremoniële sauna
-
Najaag van visoene
-
Mariri
-
Swaardgevegte / Swaardsmeding
-
“Krag” of “meester” plante wat gebruik word as wierook of geëet word om veranderde bewussynstoestande te bereik.
-
Psigideliese sampioene – waarna die Mazatec shamaans eufimisties verwys as heilige kinders soos Maria Sabina.
-
Cannabis (Dagga)
-
San Pedro Kaktus – deur die Andiese mense vernoem na St. Petrus wat die sleutels tot die hekke van die hemel hou; Quechua naam: Huachuma.
-
Peyote
-
Ayahuasca – Quechua vir wingerd van die Dood; ook genoem yage.
-
Cedar
-
Datura
-
Dodelike nagskaduwee
-
“Fly agaric” ook genoem “Fly amanita” is n giftige fungus
-
Iboga
-
Morning glory
-
Soetgras
-
Sage
(Klem deurgaans bygevoeg)
Suggereer Prof. Craffert dat Jesus soortgelyke verdowingsmiddels en metodes gebruik het om sy beweerde shamanistiese veranderde bewussynstoestande aan te bring? Indien wel dan is hy of baie na-aan die onvergeeflike sonde van die lastering van die Heilige Gees wat Jesus bemagtig het om wonderwerke te doen en Hom uit die dood opgewek het, of hy het al so baie kere gelaster dat Craffert geen gewetenswroeging hoegenaamd ervaar nie.
Die gehoor het die geleentheid gekry om vrae te stel wat in ‘n bondel geneem en beantwoord is. Die drie hoogs gedistingeerde sprekers het almal se vrae beantwoord behalwe myne wat ek soos volg gefraseer het:
Wie het hierdie diepsinnige woorde geuiter, en hulle was inderdaad baie diepsinnig - “Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe?” Was dit ‘n shamaan soos julle beweer en indien wel, sou u sê dat u en my sondes blote shamanistiese ervarings is?
Dit herinner my aan Paulus se ernstige waarskuwing in Romeine 1:18 en 19:
Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.
Hulle ken die waarheid maar is doelbewus besig om dit in hulle eie ongeregtigheid te onderdruk. Hulle weerstaan die leerstellings van God omdat hulle weet hulle daardie leerstellings nie kan nahou nie en terselfdertyd ook aan hulle sondes van afvalligheid kan bly vashou nie. Was dit miskien die rede waarom hulle geweier het om my vraag te beantwoord?
My opregte pleidooi is dat die drie geëerde sprekers wie se misinterpretasie van Jesus Christus hulleself en ook andere op ‘n dwaalspoor lei, hulle heelhartig van hulle bose weë sal bekeer en die waarheid van God se Evangelie sal ontvang sodat hulle gered kan word, want dit is nie die wil van God dat hulle verlore gaan nie.
2 Petrus 3:9 Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom (Klem bygevoeg)
Die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria was deur die jare heen die gasheer vir baie sprekers wat bygedra het tot hulle eie afvalligheid en ook dié van die NG Kerk. Hulle is toenemend besig om die fundamentaliste te spot en te beswadder wat met ontsag die fundamentele waarhede van die Skrif wil onderhou en weier om daardie waarhede ter wille van ‘n “eenheid-in-diversiteit” paradigma te kompromiteer. ‘n Persoon wat telkens met die fundamentalisme spot, is Prof Piet Naudé.[7] Hy het tydens die jaarlikse Lentefeesviering van die Teologiese Fakulteit op 8 Oktober vanjaar gesê dat die kerk diverse spiritualiteite moet inkorporeer en propageer, met ‘n enkele uitsondering – en dit is om die fundamentaliste soos die plaag te vermy want dit is onmoontlik om oor enige gemeenskaplike middelgrond met hulle te onderhandel. Hulle is mal, het hy gesê. ‘n Groot gehoor van hoofsaaklik mans (?) het met oorgawe vir Naudé se ou grappies en sy spottery met die fundamentaliste gelag. Die enigste ding wat jy vir ‘n fundamentalis kan sê, is “Sien jou in die hemel . . . of nie,” het hy gespot. Die mans (?) het weer geskaterlag. Sinneloosheid is egter nie eie aan die fundamentaliste nie maar eerder die liberaliste wat voorgee dat hulle wys is maar dwaas geword het in hulle eie oorlegginge. Wat sê die Skrif van hulle? – Romeine 1: 22
Claiming to be wise, they became fools [professing to be smart, they made simpletons of themselves]. (Amplified Bybel) (Klem bygevoeg).
2 Peter 3:1-3 Dit is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan julle skrywe. In albei wil ek deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek, sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser. Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel (Klem bygevoeg).
Die ironie is dat terwyl Piet Naudé met die fundamentaliste gespot het, hy voor die kansel van die Universiteitsoord NG gemeente in Pretoria gestaan het, waarop geskrywe staan “So stuur Ek julle,” die woorde wat Christus aan sy dissipels gesê het nadat HY uit die dood opgestaan het (Johannes 20:21). Hy het hulle in die wêreld uitgestuur om die mees fundamentele waarheid wat die mens nog ooit gekonfronteer het, te verkondig: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Hoe kan Piet Naudé, die Teologiese Fakulteit en die mans (?) wat so lekker saam met hom gegiggel en gelag het, Christus se opdrag uitvoer om in die hele wêreld in te gaan en dissipels te maak van al die nasies as hulle Jesus se suiwer fundamentalistiese uitsprake bespot? Watter soort boodskap kan hulle aan ‘n wêreld wat gek geword het, bring as hulle met die fundamentele uitsprake wat Jesus Christus gedurende sy aardse verblyf gemaak het, die spot dryf?
Broer Petrus het waarskynlik by voorbaat geweet van die onbesonne byeenkomste aan die Teologiese Fakulteit van UP soos dié een wat plaasgevind het op 8 Oktober 2008. Inderdaad, hy was doodreg toe hy gesê het daar sal in die laaste dae spotters wees.
Vir hulle wil ek die Psalmis graag aanhaal:
Psalm 2:1-4 Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik (klem bygevoeg).
Jesus het Simon Petrus ‘n geseënde man genoem omdat sy Vader in die hemel aan hom die ewige en onveranderlike waarheid oor Hom geopenbaar het. Wie het aan Prof. Pieter Craffert geopenbaar dat Jesus ‘n shamaan moes gewees het – die god van hierdie wêreld?
2 Korinthiërs 4: 3-4 Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie (klem bygevoeg).
[1] Prof le Roux is verbonde aan die Departement Ou Testemant van die Teologiese Fakulteit van Pretoria
[2] Le Roux JH 2001. Geskiedenis van die Pentateugnavorsing. Deprt. Ou Testament. Universiteit van Pretoria. p 36-38)
[3] Jurie le Roux 2004. Na OTW Pentateugkritiek vraestel aan Ferdie Mulder gesê. 19/06/2004; GW 1:12; 11 h30. Universiteit van Pretoria.
[4] Richard Soulen: Handbook of Biblical Criticism,” p. 79
[5] http://www.unisa.ac.za/Default.asp?Cmd=ViewContent&ContentID=20742
[6] http://www.shamanism.dk/Artikel%20-%20All%20life%20is%20connected.htm
[7] Prof. Naudé het ‘n meesters in filosofie, ‘n doktoraat in teologie en is ‘n geordineerde predikant. Hy het talryke toekennings vir sy navorsing gewen, veral op die gebied van die teologie en etiek. Hy het twee akademiese boeke gepubliseer, meer as 50 artikels geskryf en meer as 100 referate by nasionale en internasionale konferensies gelewer. Hy is onlangs aangestel as die direkteur van die Nelson Mandela Metropool Universiteit se Besigheidskool terwyl hy aan die hoof staan van dié universiteit se Etiek Akademie.