Is Christene Veronderstel om Agting en Respek te Toon vir Ander Mense se Geloofsoortuigings?
In Flip Loots se onderhoud (Oop Gesprek, 23 November 2008) met Ds. Jannie Pelser van die Rant en Dal Gemeenskapskerk, wat ook die stigter is van die Jesus Projek en die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief, het daar dinge na vore gekom wat baie mooi en verblydend is maar tog ook dinge wat kommerwekkend is. Soos in baie vorige radioprogramme was die tema die skreiende misdaad, korrupsie en rassewrywing wat ons land in ‘n soort Irakese oorlogsone verander het.
Ek wil graag met die verblydende deel van die program begin omdat dit vir my die belangrikste aanknopingspunt behoort te wees in die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief se pogings om die Evangelie van Jesus Christus aan alle bevolkingsgroepe en mense van ander geloofsoortuigings in ons samelewing te bring. Ek neem aan dat die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus wel hulle hoofdoel is omdat hulle praat van nuwe harte vir alle Suid Afrikaners. Flip Loots het ter inleiding gesê:
Misdaad, korrupsie en ook rassespanning is iets waarmee Suid-Afrikaners byna elke dag te doen het maar tegelyk is dit ‘n situasie waarmee niemand tevrede is nie. Hoe dan gemaak om dit te verander? Is daar hoegenaamd ‘n oplossing? Ja! Sê die Nuwe Hartstigting maar net as alle Suid-Afrikaners nuwe harte kry.
Ek het so teen die einde van die program ingebel en Ds. Jannie Pelser gevra of die Here sommer goedsmoeds nuwe harte aan mense gee – of is daar ‘n voorwaarde? Hy het my soos volg geantwoord en sommer ook kortliks sy getuienis gegee.
Uit die aard van die saak, ek het vroeër gesê dat ons kom na die Here toe en ons sê, Here ek kan nie lewe na die eise van u Woord nie. Ek is diep afhanklik, ek ken myself, ek is korrup in my mensheid. Dit is tog wat die Bybel ons leer. Daar’s ‘n teks in Romeine wat sê die mense se kele is ’n oop graf, dit wat daar uitkom is eenvoudig net verskriklik, nê, en so ken ek myself maar, Flip. Laat ons nie vingers wys nie, dis maar ekself en daarom 26 Januarie 1977 nege uur die aand, die wind het buite gewaai, het ek gesê, ‘Here ek kan nie sonder U nie. As U nie kom in my hart om [dit te] transformeer en [te] kom verander of my ’n nuwe hart kom gee nie, maak nie saak wat jy vir die Here sê nie, Hy stel nie belang in mooi woorde nie, al wat jy hoef te doen of hoef sê is, Here, hierdie pad, hierdie manier van lewe gaan my in die hel laat beland, ek het nodig dat U ingryp in my lewe, asseblief Here, transformeer my lewe en dan oombliklik, bonatuurlik kom doen HY dit deur die Heilige Gees en kom plaas Hy vir mens op ’n nuwe baan maar die lewe van die geloof is ‘n lewe van dissipline en eerlikheid en medemenslikheid vloei nie sommer natuurlikerwys voort nie, jy maak ’n keuse om nou te gaan lewe uit dankbaarheid vir hierdie nuwe lewe en hart wat jy van die Here ontvang het.
Myns insien behoort dit, jou persoonlike getuienis van hoe die Here jou siel gered en ‘n nuwe hart gegee het, die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief se uitgangspunt te wees in julle uitreik na mense. Die vraag is: Doen die Nuwe Hartstigting en -Inisiatief dit? Is hulle besig om volgens Skriftuurlike voorwaardes dissipels te maak van mense in die Suid-Afrikaanse samelewing? Die opdrag is tog seer sekerlik “Maak dissipels van al die nasies . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.“ Die onmiddelike antwoord hierop sou waarskynlik wees: “Maar dit is presies wat die Nuwe Hartstigtng en -Inisiatief doen wanneer ons die wonderlike norme en waardes van eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid by mense wil inburger.” Ek wonder net hoe hulle dit gaan regkry as Paulus, die grootste “hart-inisiatiewer” van alle tye, ruiterlik erken het dat hy altyd die slegte dinge gedoen het terwyl hy so hard probeer het om die goeie te doen (d.w.s. om Jannie se norme en waardes van eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid uit te lewe).
Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!
Paulus sê in werklikheid hier, Man! julle kan so hard probeer as julle wil om die norme en waardes van eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid uit te lewe; julle gaan netsoos ek telkens in die doldrums van onbeholpenheid, mislukkings en wanhoop verval. Moenie dink dat ‘n nuwe hart genoeg is nie. Ek het reeds ‘n nuwe hart ontvang, maar nou kom ek agter dat daar nog steeds ‘n ander beginsel in my woel en werskaf en dit is my ou Adamnatuur, daardie lelike ding wat voortdurend sê ‘ek wil dit en dat doen, ek wil sus en so maak, ek, ek, ek . . .’ Dis juis hierdie lelike ding in my wat Jesus verhinder om sy lewe van nederigheid en sagmoedigheid waarin Jannie se waardes soos eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid ingebed is, in en deur my uit te lewe. Maar, dank die Here, die Heilige Gees het my oortuig dat Jesus en Jesus alleen my kan verlos van hierdie liggaam van die dood (die ou Adamnatuur) wat hoegenaamd nie in staat is om Jannie se mooi norme en waardes uit te lewe nie. Al wat Hy van my verwag is om te reken dat ek dood is vir die sonde en lewend gemaak is vir God. Daarom kan ek met vaste oortuiging sê ‘Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.’
Dit bring my by die gedeeltes in Flip Loots se onderhoud met Ds. Jannie Pelser wat my diep bekommer. Ds Jannie sê heel aan die begin:
Ek dink luisteraars is bekend met die Jesus Projek wat die misbruik van die Here se Naam in die media wil aanspreek, en natuurlik as daar nie respek is en agting is vir God [nie], wat ookal mens se persepsie van hom is, in ‘n samelewing, dan kan ‘n mens ook nie verwag dat mense se gedrag dienooreenkomstig reg en positief sal wees nie.
As jy apel wil maak rondom mense se gedrag en optrede dan begin jy onafwendbaar by God. Daar’s nie ‘n ander beginpunt nie en as jy nie vir hom respek en agting het nie, nouja, dan het jy eintlik die stryd klaar verloor. (Klem bygevoeg).
Ons het sopas by broeder Paulus verneem dat dit net Jesus Christus is wat mense in staat kan stel om Jannie se norme en waardes van eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid te kan uitlewe en dat daar terselfdertyd ‘n voorwaarde is, nl. dat ek moet met Christus gekruisig wees sodat Hy sy lewe (norme en waardes) in en deur my kan uitlewe. In weerwil hiervan sê Ds. Jannie dat elkeen respek en agting moet hê vir God maar dat dit nie juis saak maak wat mense se persepsie van hom ookal mag wees nie. Ek kan maar netsoos Jesus vra “Jy is ‘n leraar . . . en jy weet hierdie dinge nie?”
Ds. Jannie Pelser het ook met groot dankbaarheid op Flip Loots se vraag: “Dit is nie net Christene wat sekerlik met moraliteit moet lewe en kerke wat daardie oproep moet doen nie. Hoe voel julle van die Nuwe Hartstigting oor die, kom ek sê, die volledige samelewing van Suid-Afrika, soos volg geantwoord.
Ek is so bly jy vra daardie vraag. Maar natuurlik, daar’s baie ander samelewingsverbande en geloofsgroeperinge in Suid-Afrika en as Christene het ons respek en agting vir ander mense en vir hulle oortuigings en as mens begin praat oor eerlikheid, en selfbeheersing, verantwoordelikheid en medemenslikheid, dan sal mense wat in ander groeperinge as die Christelike geloof behoort ook sê, weet jy, daardie goed is vir ons ook baie belangrik. In ’n sekere sin is hierdie universele waardes . . . (Klem bygevoeg)
Dat elke persoon onafwendbaar by God moet begin, is nie altemit nie maar die vraag is, watter god – die god wat elkeen maar vir homself kan voorstel soos hy dink Hy moet wees en wat ookal sy eie persepsie van hom mag wees? Ds Jannie weet tog sekerlik dat mense van ander geloofsoortuigings dikwels sê dat hulle Jesus as ‘n profeet soos enige ander profeet respekteer maar dat hulle sy lyding, kruisiging, opstanding en hemelvaart minag en verwerp. Kan Ds. Jannie met sy nuwe hart en lewe wat hy op 26 Januarie 1977 van die Here ontvang het met liefdevolle oortuiging verklaar dat hy hierdie besondere geloofsoortuiging hoog ag en respekteer? Natuurlik moet Christene ander mense met agting en respek bejeen – ja, Christene is veronderstel om hulle nie net hoog te ag en te respekteer nie maar selfs ook hulle vyande lief te hê. Maar, sodra Christene agting en repsek het vir ander mense se geloofsoortuigings wat Jesus Christus se dood, opstanding en hemelvaart minag en verwerp, is daar ‘n groot skroef los. So iemand moet dan maar gerus seker maak of sy eie nuwe lewegewende nuwe hartervaring werklik van die God en Vader van Jesus Christus afkomstig is.
Daarom is dit miskien nodig om op hierdie stadium weer ‘n slag te kyk na Esegiël 36 vers 26 in die konteks waarin dit geskryf is, want dit lyk nie vir my of ds. Jannie die konteks in ag neem nie. Hy pas dit sommer goedsmoeds op enigeen toe want dit maak waarskynlik nie saak of die mense van ander geloofsoortuigings ‘n ander persepsie van God het nie; al wat vir hom saak maak is dat almal in Suid-Afrika voetstoots ‘n nuwe hart moet kry. Onthou asseblief dat Ds. Jannie reeds laat blyk het dat dit net God is wat nuwe harte kan gee, maar dit is ‘n god wat in elkeen se besondere en persoonlike godsbegrip of -persepsie inpas. Die Here praat in die eerste plek hier met Israel wat Hy vanweë hulle afgodery en die verwerping van sy Seun, Jesus Christus, oor die hele wêreld in ballingskap gestuur het. Maar, God het reeds op verskeie plekke in die Ou Testament belowe dat Hy ‘n oorblyfsel van Israel in die eindtye na hulle beloofde land sal terugbring. Hy is tans besig om dit te doen, maar let baie noukeurig op dat Hy hulle nie terugbring om nuwe norme en waardes in hulle harte in te burger nie. Nee! Hy en Hy alleen sal vir hulle ‘n nuwe hart (enkelvoud) en nie nuwe harte (meervoud) gee nie. Dit beteken gewoon dat die hele Israel soos een man met een hart dieselfde Godgegewe lewensbeginsels sal uitleef. En wat is die grondslag van hierdie Godgegewe lewensbeginsels? Die antwoord is in vers 25 “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.” Dit gaan dus in die eerste plek nie oor die inburgering van nuwe waardes en norme in die Israelse samelewing waar almal maar ‘n god kan aanbid soos hy/sy hom vir hulleself voorstel nie, maar oor die verering, aanbidding, respektering van, en die heilige vrees vir, en diensbaarheid aan die enige ware God, die God van Abraham, Isak en Jakob omdat daar geen ander God is nie. Maar nee, Ds. Jannie en sy meelopers gee werklik nie om om Esegiël 36 vers 26 behoorlik nek om te draai nie. Hulle bely met die mond dat dit net God is wat nuwe harte kan gee, maar wil Hom darem so ‘n bietjie aanhelp deur met ander inisiatiewe en geloofsoortuigings saam te werk omdat hulle nie die enigste inisiatief in hierdie verband is nie. Ds Jannie pleit dat ons darem nie die baba met die badwater moet uitgooi nie. Ag nee wat dominee, as die badwater net so ‘n klein bietjie besoedel is, dan moet dit vervang word met die rein water wat God alleen (soos in Esegiël 36:25) kan toedien — en dit is die badwater van die wedergeboorte (Titus 3:5). Ek het reeds in ‘n vorige skrywe van my op hierdie blog vir jou en jou hulppredikers aangeraai om liewer die suiwer Evangelie te verkondig wat soos volg lui “Bekeer julle want die Koninkryk van God het naby gekom” eerder as om nuwe norme en waardes in die samelewing te probeer inburger. Maar nouja, “bekering” is ‘n woordjie wat deesdae ‘n vloekwoord in die NG Kerk geword het.
Ds. Jannie het met groot lof gepraat van Elia, die uitnemende profeet en man van God:
Ek het vanoggend gepreek daar by Randfontein na aanleiding van Elia se pragtige gedeelte, ek is so mal oor Elia want hy’s ’n profeet, ’n man van God by uitnemendheid, en dan staan hy daar voor die volk en hy sê: ‘Here stuur weer die vlam uit die hemel uit,’ ag die mense ken daai geskiedenis, en dan kom die vlam, en dan kom dit uit die hart van die volk – die HERE is God, die Here is God.
Blykbaar ken Ds. Jannie nie daai geskiedenis nie. Respek vir ander mense is sekerlik in orde maar om hulle geloofsoortuigings met agting te bejeen, is ‘n klap in die gesig van Jesus Christus wat vir hulle gesterwe het. Jannie mag miskien mal wees oor Elia en die gedeelte in die Skrif waar hy die Baälprofete op die berg Karmel aangedurf het, maar ek is nie so seker of Elia so mal sou wees oor Jannie nie. Ek kan maar net raai wat Elia vir hom sou antwoord as hy vir die uitnemende profeet en man van God sou sê: “Ag nee wat Elia, jy gaan darem nou heeltemal “overboard” om die Baälprofete so stief te behandel. Hoewel ek nie met hulle saamstem nie, kan ons hulle met broederlike liefde en geduld opvoed om die universele waardes en norme van eerlikheid, medemenslikheid, verantwoordelikheid en selfbeheersing in hulle daaglikse lewens te beoefen. En waarom nie? Ek respekteer hulle geloofsoortuigings.” Die ironie is dat Jannie se uitnemende profeet en man van God waaroor hy so mal is met die Baälprofete die spot gedryf het en nie, soos Jannie, hulle godsdiens met respek en agting bejeen het nie.
1 Konings 18:27 Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos ‘n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”
Is God in Beheer?
In die verloop van hulle gesprek het Ds. Jannie Pelser telkens gesê dat God in beheer is; dat Hy op sy troon sit en ‘n besonderse plan vir elkeen afsonderlik en hierdie wêreld het.
. . . nuwe harte wil vir ons sê dat die tyd gekom het waarin elke Suid-Afrikaner, dit maak nie saak wie jy is en binne watter samelewingsverband jy jouself bevind nie, beginnende binne in mens se eie huishouding, uitkringende tot op elke terrein waarop ‘n mens jou self bevind, dat ons nodig het om anders te begin dink oor die lewe, oor ons verhouding teenoor ons medemens, oor ons verhouding teenoor die omgewing, wat natuurlik eweneens ‘n verskriklike krisis is, en daai nuwe manier van dink, daai nuwe manier van doen is ‘n uitdrukking van ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe hart, ’n nuwe ingesteldheid, ‘n nuwe visie, ‘n nuwe lewensetiek, ’n nuwe lewensfilosofie. Dit beteken eintlik vir ons as gelowiges, want ons is Christene, dat ons opnuut weer ’n Christelike lewens en wêreldbeskouing [uitlewe], m.a.w. God is in beheer, Hy’s op die troon, Hy’t ’n plan met my; Hy’t ’n plan met hierdie wêreld, HY wil hê dat ek ’n eksponent moet wees van sy Koninkryk wat in hierdie wêreld gekom het, dat ek dit sigbaar weer sal begin voor lewe.
Ek het in my gesprekke op die internet en ook in my persoonlike lewe met heelwat mense te make gekry wat ontnugter, kwaad, en telleugesteld is met dié God wat die Christene aan hulle voorhou en verkondig. Daar word voortdurend vir hulle gesê “God is op die troon,”Hy is in beheer,” Hy’t ’n wonderlike plan met my en jou lewe, en ook met hierdie wêreld. ” Die eerste ding wat hulle vir jou vra is: “Hoe kan ’n God van liefde wat op sy troon sit en in beheer is, toelaat dat babatjies en vrouens so gruwelik verkrag word, dat kosbare mense so moet ly en doodgaan aan VIGS, dat terroriste derduisende mense met een slag vermoor wanneer hulle in ’n gebou vasvlieg, dat Amerika in Irak moet ingryp om oorlog te maak teen daardie terroriste en in die proses ook miskien baie onskuldige mense doodmaak, waarom, waarom, waarom? Hou maar gerus julle God wat kwansuis in beheer is, want ek wil niks te make hê met ’n God wat so wreed is nie.” Waar kom hierdie idee vandaan dat God in beheer is terwyl Jesus Christus self gesê het dat Satan die god van hierdie wêreld is en dat hy die oë en sinne van mense verblind sodat die heerlike boodskap van verlossing hulle harte nie kan bereik nie? (2 Korinthiërs 4: 4) Ons hoef nie ver te gaan soek nie. Calvyn en sy navolgers glo dat God verantwoordelik is vir die sondes van alle mense omdat Hy dit reeds voor die skepping van die wêreld so verordineer het.
Calvyn het gesê:
Vir baie is dit waarskynlik ’n ingewikkelde onderwerp, omdat hulle dit as uiters inkonsekwent beskou dat uit die groot massa van die mensdom sommiges tot redding en andere tot verdoeming bestem is.[1]
Die dekreet, moet ek erken, is verskriklik; en tog is dit onmoontlik om te ontken dat God vooruit geweet het wat die einde van die mens sou wees voordat Hy hom gemaak het, en [Hy] het vooruit geweet omdat Hy dit deur sy dekreet so verordineer het.[2] (Klem bygevoeg)
Laat hom . . . altyd onthou dat daar geen . . . mag of aksie of beweging in skepsels is wat nie deur God se geheime plan beheer word nie, op so ’n wyse dat niks gebeur nie behalwe wat Hy willens en wetens verorden het.[3] (Klem bygevoeg).
Het u die woordjie “beheer” raakgesien? Dit is veral ateïste wat na so ‘n onbybelse uitspraak kyk en sê: “Sien julle! julle God is ‘n wrede God want Hy maak dat kindermolesteerders klein babatjies, en seuntjies en dogtertjies verkrag want Hy, sê julle mos, is in beheer. As Hy in beheer was, soos julle sê, dan kon Hy mos al lankal verhoed het dat klein babatjies en kindertjies so verskriklik gemolesteer word.” Die Calviniste, soos ek reeds aangedui het, glo vas dat God die sondes van die mens verordineer het maar dat Hy hulle nog steeds verantwoordelik hou vir daardie sondes.
R.C. Sproul, ‘n geharde Calvinis, skryf:
Dit was God se begeerte dat die mens in sonde val. Ek beskuldig God nie van sonde nie. Ek suggereer dat God sonde geskep het.[4]
. . . En dit terwyl God self baie duidelik vir ons sê:
Jak 1:13, 14 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.
Hoewel Ds. Jannie teen die einde van die program op ‘n vraag van ‘n inbeller, wat die afleiding maak dat God die mens so gemaak het omdat hy in sonde ontvang en gebore word, baie duidelik gesê het dat die Here ons nog nooit gedwing het om te sondig nie, laat sy credo van “God is in beheer” die deur wawyd oop vir ongelowiges om Hom te belaster. Dit suggereer aan ongelowiges dat Hy in staat is om die gemors in ons land op te klaar maar dit nie wil doen nie.
Die dieperliggende probleem met mense wat God altyd die skuld gee vir alles lê in hulle minagting vir en verwerping van die kruis van Jesus Christus. Dit het God behaag om sy handelinge met die mens via die kruis van sy Seun te doen. Die kruis van Jesus Christus is die krag en wysheid van God en nie die powere pogings van mense om deur een of ander stigting of projek mense se harte te probeer verander nie.
1 Korinthiërs 1:21-24 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.
Nie Jannie Pelser of Flip Loots het ‘n enkele keer na die kruis van Jesus Christus verwys nie. Jannie het gesê dat ons anders moet “begin dink oor die lewe, oor ons verhouding teenoor ons medemens, oor ons verhouding teenoor die omgewing, wat natuurlik eweneens ‘n verskriklike krisis is,” maar nie ‘n enkele keer melding gemaak van die noodsaaklikheid van ons verhouding met die God van Abraham, Isak en Jakob nie. Hy het ook gesê dat ons eksponente moet wees van God se Koninkryk wat in hierdie wêreld gekom het. Dit is suiwer domeinistiese taal wat in die kraal van mense soos Graham Power, Angus Buchan en die Transformasiebeweging inpas. Die Koninkryk van God het nog nie in hierdie wêreld gekom nie en dit sal ook nie in hierdie wêreld kom nie, nie voordat Jesus Christus teruggekeer het om sy Koninkryk hier op te rig nie. Indien sy Koninkryk alreeds in hierdie wêreld gekom het, dan sou dit nie meer vir ons nodig wees om te bid nie “Laat U Koninkryk kom, laat U wil geskied soos in diie hemel netso ook op die aarde.”
Die wêreld tree vandag op netsoos die owerpriesters en die twee misdadigers wat aan weerskante van Hom gekruisig is.
Markus 15: 32 Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.
Die post-moderne mens soek uitkoms maar hulle wil ’n Jesus hê wat hulle kan verlos van die verskriklike omstandighede waarin hulle hul bevind—sonder die kruis. Hulle soek inderwaarheid ‘n kruislose Jesus en ‘n bloedlose Evangelie wat in almal se geloofsoortuigings inpas, ‘n Jesus wat vir almal sommer goedsmoeds nuwe harte gee (soos Flip Loots heel aan die program gesê het: “Is daar hoegenaamd ‘n oplossing? Ja! Sê die Nuwe Hartstigting maar net as alle Suid-Afrikaners nuwe harte kry”). (Lees gerus maar weer Mattheus 7: 13 en 14)
Ds. Jannie Pelser se Nuwe Hartstigting en -Inisiatief is niks anders as ‘n verlengstuk van Rick Warren se PEACE PLAN nie. Hulle wil ‘n utopia (God se Koninkryk) op aarde vestig waarin almal met “nuwe harte” ’n god (om ds. Pelser se eie woorde te gebruik “wat ookal mens se persepsie van hom is”) kan aanbid. G’n wonder Paulus sê op ’n plek dat hulle ‘n gedaante van godsaligheid sal hê maar willens en wetens die krag en die wysheid van God (Jesus se kruis) verloën. Ek sê nie dat Jannie Pelser of Flip Loots en baie ander predikante Jesus se kruis willens en wetens verloën nie. Dit is nie wat ek sê nie. Wat ek wel sê, is dat hulle in hulle eie kerke en vanaf hulle eie preekstoele dikwels na Jesus se kruis verwys maar wanneer hulle met die samelewing praat en werk, wil hulle op ander maniere ‘n verskil maak. Groot houtkruise pryk dikwels op die verhoogde verhoë van baie van hulle kerke maar op die verhoë van die wêreld wil hulle die mense darem nie aanstoot gee nie (11 Korinthiërs 1: 18). Rick Warren het hierdie dualisme in die hedendaagse kerke baie goed opgesom toe hy in ‘n onderhoud vertel het hoe Jesus hom geleer het hoe om sy PEACE PLAN wêreldwyd te bevorder:
“And so I said, “What is the man of peace?” He [Jesus] said, “When you find the man of peace, if he’s open and he’s willing to work with you, you bless him and you start your work there. If the guy’s not open to working with you, you dust the dust off your shoes and you go to the next villages, ’cause you can always find someone to work with.”
The man of peace is open and influential….The man of peace does not have to be a Christian believer. Could be Muslim. Could be Jewish. Because, when Jesus said, “Find the man of peace,” there were no Christians yet. Jesus hadn’t died on the cross. There was no resurrection. He’s just saying, “go out and find somebody to work with.”
When I go out and I start telling people, “Do you want to work with us on poverty, disease, AIDS, illiteracy, injustice?” I often find people are more unwilling to work with us than we are willing to work with them. In other words, we’re saying, “You don’t have to change your beliefs for us to work with you.” If you can only work with people that you agree with, then most of the world, you’re ruling out. Okay. I don’t insist that a Muslim change his belief for me to work on poverty. I don’t even insist that a gay person has to change their beliefs. They’re not going to accept my belief, or I’m not going to accept theirs.[5]
Dis maar dieselfde ou storie – hou jy jou by jou geloofsoortuigings en ek sal my by myne hou maar kom ons werk saam om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Kom ons vestig die Koninkryk van God hier en nou op aarde deur mense te leer hoe om die universele norme en waardes van eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid in hulle daaglikse omgang met ander mense te beoefen en uit te lewe. Dit het hoegenaamd niks met die Evangelie te make nie. Dit is pogings wat Christene in die vlees wil uitrig, en wat sê die Skrif oor die vlees? – “die vlees is van geen nut nie…” (Johannes 6:63)
Hoe Leef ‘n Christen ‘n Lewe van Dankbaarheid Teenoor God?
Ds. Jannie het ‘n paar keer beklemtoon dat ‘n Christen ‘n lewe van dankbaarheid teenoor die Here moet voer. In antwoord op Flip Loots se vraag of die morele norme en waardes wat Christene vir hulleself toeëien nie ook vir die volledige samelewing geld nie, het hy ondermeer soos volg gereageer.
. . . vir ’n Christen is daar ’n ander motivering hoekom hy probeer en aspireer om in lyn met hierdie norme te lewe, nl. ’n lewe van dankbaarheid. Kyk, die eerste indeks . . . opsomming van waardes en norme vind ons in die tien gebooie, daar in die Ou Testament, en dis nie ’n spul reëls aan die hand waarmee ons vir God kan beïndruk en hoop om uiteindelik die ewige lewe te beërwe nie; ook die Nuwe Testament, ek dink maar aan Galasiërs 5, waar daar ’n hele lys is van dinge van hoedat mense lewe wat in verhouding met God lewe. Ons lewe nie daai goeters sodat ons God kan beïndruk nie. Hy’s klaar beïndruk want Jesus het klaar gesterwe op Golgota se heuwel. Nee! Ons lewe dit omdat ons verlostes is en ons intens dankbaar is vir die verlossing.
Dit klink baie mooi en heel Skriftuurlik om te sê dat Christene die universele norme en waardes van eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid uitlewe, nie om God te probeer beïndruk nie, maar uit dankbaarheid vir sy verlossingswerk aan die kruis. Die werklikheid is dat mense van ander geloofsoortuigings dit hulle erns maak om dieselfde universele norme en waardes wat Ds. Jannie propageer wel deeglik uit te lewe, juis met die doel om hulle god of gode te beïndruk. Waarom . . .? Die onvermydelike antwoord hierop is, omdat alle ander gelowe, anders as die Christendom, onlosmaaklik gebaseer is op ‘n werkesaligheidsleer. Gaan Ds. Jannie hulle werkesaligheids-lewenspatroon aanprys en die Here die eer gee daarvoor? Die Christen se lewe van dankbaarheid teenoor God maak nie juis ‘n indruk op mense van ander geloofsoortuigings nie omdat hulle in hulle eie oë die Christene se mooi dankbaarheid-lewens ewenaar en soms selfs ver oorskadu. Die Moslems sal byvoorbeeld, vanuit hulle perspektief rondom valse leringe, nooit agter valse leraars en profete aanloop nie. Hulle bly getrou aan Allah en sy profeet Mohammad, selfs al moet hulle hul lewens vir hulle aflê, terwyl Christene dikwels agter valse profete en leraars soos T.B. Joshua aanhardloop wat op godslasterlike wyse kraanwater kwansuis in die bloed van Christus verander.[6] Nee! ‘n mooi morele lewe van eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid is nie noodwendig ‘n lewe van dankbaarheid teenoor die Here nie. Ons het reeds gesien dat Paulus baie hard probeer het om so te lewe maar keer op keer misluk het. ‘n Lewe van dankbaarheid teenoor die Here staan in werklikheid op twee bene – leer en lewe (1 Timotheus 4:16).
Jou leer of leerstellings het betrekking op jou getuienis wat in die waarheid soos ons dit in die Skrif vind, ingebed moet wees. Ek het reeds na die eerste gedeelte van Johannes 6:63 verwys wat sê dat die vlees van geen nut is nie, maar die tweede gedeelte vorm eintlik die kern van hierdie teks, nl “die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” Jesus was tydens sy lewe op aarde die enigste Persoon wat Jannie se vier mooi norme en waardes te alle tye 100% uitgeleef het. Hy het nooit misluk nie, en tog was dit nie sy mooi lewe wat ander mense se lewens aangeraak het nie maar sy leer – sy woorde wat HY tot hulle gespreek het, kom van die Gees en gee lewe. Die tweede been is natuurlik jou lewenswandel voor God en mense, maar hoor hier, ‘n Christen kan alleenlik so lewe as hy of sy daagliks sterwe. Jesus het nie verniet vir ons die opdrag gegee om onsself te verloën en ons kruis op te neem as ons vir Hom wil volg nie. Ds. Jannie en Flip Loots se gesprek het ‘n sprankelende gemis gehad aan hierdie waarhede.
Ek haas my om af te sluit met ‘n bydrae wat een van die gereelde kommentators op my blog, Amanda, elders geplaas het. Ek wil dit graag volledig hier herhaal omdat dit vir my Flip Loots se gesprek met Ds. Jannie Pelser raak opsom.
“…The liberal preacher is really rejecting the whole basis of Christianity, which is a religion founded not on aspirations, but on facts. Here is found the most fundamental difference between liberalism and Christianity – liberalism is altogether in the imperative mood, while Christianity begins with a triumphant indicative; liberalism appeals to man’s will, while Christianity announces, first, a gracious act of God.
“In maintaining the doctrinal basis of Christianity, we are particularly anxious not to be misunderstood. There are certain things that we do not mean. In the first place, we do not mean that if doctrine is sound it makes no difference about life. On the contrary, it makes all the difference in the world. From the beginning, Christianity was certainly a way of life; the salvation that it offered was a salvation from sin, and salvation from sin appeared not merely in a blessed hope but also in an immediate moral change. The early Christians, to the astonishment of their neighbors, lived a strange new kind of life–a life of honesty, of purity and of unselfishness. And from the Christian community all other types of life were excluded in the strictest way. From the beginning Christianity was certainly a life.
“But how was the life produced? It might conceivably have been produced by exhortation. That method had often been tried in the ancient world; in the Hellenistic age there were many wandering preachers who told men how they ought to live. But such exhortation proved to be powerless. Although the ideals of the Cynic and Stoic preachers were high, these preachers never succeeded at transforming society. The strange thing about Christianity was that it adopted an entirely different method. It transformed the lives of men not by appealing to the human will, but by telling a story; not by exhortation, but by the narration of an event. It is no wonder that such a method seemed strange. Could anything be more impractical than the attempt to influence conduct by rehearsing events concerning the death of a religious teacher? That is what Paul called “the foolishness of the message.” It seemed foolish to the ancient world, and it seems foolish to liberal preachers today. But the strange thing is that it works. The effects of it appear even in this world. Where the most eloquent exhortation fails, the simple story of an event succeeds; the lives of men are transformed by a piece of news. It is especially by such transformation of life, today as always, that the Christian message is commended to the attention of men.”
But Christian service consists primarily in the propagation of a message, and specifically Christian fellowship exists only between those to whom the message has become the very basis of all life. The character of Christianity as founded upon a message is summed up in the words of the eighth verse of the first chapter of Acts–”Ye shall be my witnesses both in Jerusalem, and in all Judea and Samaria, and unto the uttermost part of the earth.”
From the beginning Christianity was a campaign of witnessing. And the witnessing did not concern merely what Jesus was doing within the recesses of the individual life. To take the words of Acts in that way is to do violence to the context and to all the evidence.
“On the contrary, the Epistles of Paul and all the sources make it abundantly plain that the testimony was primarily not to inner spiritual facts but to what Jesus had done once for all in His death and resurrection. Christianity is based, then, upon an account of something that happened, and the Christian worker is primarily a witness. But if so, it is rather important that the Christian worker should tell the truth. When a man takes his seat upon the witness stand, it makes little difference what the cut of his coat is, or whether his sentences are nicely turned. The important thing is that he tell the truth, the whole truth, and nothing but the truth. [7]
Hoe laat Christene Hulle Lig Skyn?
Ds. Jannie het groot nadruk gelê op die feit dat “die grootste uitdaging wat die kerk seker nog ooit gehad het, en wat ’n Christen ooit gehad het om anders te lewe; as ons ooit nodig gehad het om ons lig te laat skyn, dan is dit nou, hier in die jaar 2008, 2009.” Dit is voorwaar baie mooi woorde. Die Christen moet sy lig laat skyn in ’n wêreld wat al hoe donkerder word, maar hoe laat ’n Christen sy lig skyn? Beteken dit dat hy of sy maar net die hele dag mooi moet glimlag, mooi Christelike glanstydskrifte druk en versprei, “nice” moet wees vir mense en die noodlydendes bystaan; ja! en om die Hartstigting en –Inisiatief se nuwe norme en waardes van eerlikheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid uit te leef? Om jou lig te laat skyn, beteken in die eerste plek om in God se waarheid te wandel, daarin te lewe, dit toe te pas en dit vreesloos en in liefde te verkondig. Sê die Skrif dan nie juis dat dit God se waarheid is wat mense vrymaak nie — vrymaak van sondes soos misdaad, korrupsie, moordgierigheid, geldgierigheid, “hi-jacking,” omkopery, politieke onderkruipery, rassisme ens.? Ek kan jou verseker dat jy nooit jou lig sal kan laat skyn wanneer jy mense leer om God soos hulle hom vir hulleself voorstel (“wat ookal mens se persepsie van hom is”) met agting en respek te bejeen nie. Dit is ’n leuen wat in die donkerste duisternis van die duiwel se domein ontstaan het en waar daar hoegenaamd geen lig is nie. Rick Warren het op ‘n kol die “lig-skyn” verskoning gebruik toe hy ‘n lid van die CFR (Council on Foreign Relations) geword het. Syns insiens het hy ‘n lid geword omdat dit hom die geleentheid gee om sy lig daar te laat skyn. Die vraag is: Verkondig hy die waarheid? Die antwoord is ‘n besliste nee!
Ek wil afsluit (rêrig afsluit) met ‘n getuienis wat ek sopas in ‘n sendbrief oor Zimbabwe gelees het. Te midde van die hewige vervolging onder die Christene is hulle te alle tye blymoedig en prys en dank die Here tydens hulle dienste. Van hulle stap kilometers ver om saam met ander Christene na die Woord van God te luister. Een van die getuienisse lui as volg:
Redcliffe, a pastor, told us a precious story of seeing an old African woman at the side of her door with her arms raised in praise to God. He stopped to ask her why was she there on her knees praising God. Her reply was, “I am thanking God for Robert Mugabe. Because of him, many people are finding Jesus.”
Die Here gebruik dikwels intense krisisse om mense weer ‘n slag te dwing om stil te sit en na te dink oor hulle sondes en weerbartigheid teen God. HY het dit destyds met Israel gedoen waarom sou Hy dit nie ook nog vandag met lande doen nie? Hoor ‘n bietjie wat sê die Skrif:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Is die verskriklike dinge wat in ons land gebeur nie juis die oordele van God oor ‘n weerbarstige volk wat by monde van hulle sg. geetelike leiers (misleiers?) hulle ewe misleide kerklidmate leer dat “as daar nie respek is en agting is vir God [nie], wat ookal mens se persepsie van hom is, . . .” om vir ons te leer wat ware geregtigheid is nie? Dis “plein” afgodery. Stephan Joubert verkondig dieselfde infame leuien wanneer hy sê Christene kan maar gaan kers opsteek by wie ookal want die waarheid is nie net in die Christendom te vinde nie. Dis orals! . . . . selfs in die ateïsme maar dan moet die Christene nog steeds net sê “Jesus is Lord.”
Ds. Jannie en Flip, miskien moet ons, in die gesindheid van Zimbabwe se Christene, die Here begin dank vir ‘n regering wat magteloos is om die misdaad in die land hok te slaan want dit kan, net soos in Zimbabwe, die manier wees vir mense om Christus te vind. Maar, dan moet ons vir hulle die waarheid en niks anders as die waarheid bring nie, en nie van hulle verwag om ‘n god te eer, hoog te ag en te respekteer soos hulle hom vir hulleself voorstel nie.
U kan die volledige potgooi van Flip Loots se onderhoud met Ds. Jannie Pelser in Oop Gesprek hier aflaai.
[1] Johannes Calvyn: Institute van die Christelike Godsdiens, III:xxi. 1
[2] Op. cit., IIIxxiii, 7
[3] Johannes Calvyn: Institute van die Christelike Godsdiens, I, xvi, 3
[4] R.C. Sproul, Almighty Over All (Baker Book House, 1999), 54,
[5] Onderhoud deur Charlie Rose met Rick Warren (Augustus 17, 2006, http:// videagoogle.com/videoplay?docid=-5555324196046364882).
[6] http://www.deceptioninthechurch.com/tbjoshua-rebuke.html. Ek hoop van harte dat Ds. Jannie nie meer van sy gemeentelede en ander Christene soos in die verlede na Lagos, Nigerië, neem om deur die valse profeet T.B. Joshua genees te word nie. Baie Christene het hom reeds gewaarsku maar of hy dit ter harte geneem het, is ope vraag. Miskien moet Ds. Jannie waardes soos “gehoorsaamheid” en “leerbaarheid” (“teachability”) by sy vier norme en waardes voeg. Dit sal ons almal geweldig baie baat.
[7] J. Gresham Machen, Christianity and Liberalism, p. 45, 52