Hoe lank tyd nog . . . ? Hierdie gewigtige vraag is op Sondagaand, 11 Januarie 2009, in die program Oop Gesprek deur Flip Loots aan sy drie gespreksgenote — Dr. Piet Muller, toekomskundige, Pastoor, Lemmer du Plessis, reisende leraar van die AGS van Suid-Afrika en ‘n kenner oor die eindtyd en Prof. Adrio König, dogmatikus aan UNISA wat onlangs ‘n boek oor Openbaring die lig laat sien het — gevra. Dit was egter sommer reg van die begin af duidelik dat die drie here nie oor die eindtyd soos dit vir
ons in die Woord van God uitgespel word, sou praat nie, maar hoofsaaklik oor die mens se pogings om moeder aarde van ondergang te red. Hoewel Pastoor Lemmer du Plessis gesê het dat hy hom nie deur die wêrledkrisisse, die donderstorms soos hy dit genoem het, laat intimideer of onderkry nie, omdat hy sy oë op God en sy beloftes gerig hou, het hy as kenner oor die eindtyd, ‘n gulde geleentheid laat verbyglip sonder om vir die luisteraars ‘n Bybelse perspektief op die eindtyd te gee. As programleier moes Flip Loots tog sekerlik gesien het waarop die gesprek afstuur en dit met diplomatiese bedagsaamheid regstel, maar hy het dit nie gedoen nie. “Hoe red ons ons aarde?” moes eerder die onderwerp van sy program wees en nie “Hoe lank tyd is daar nog vir die aarde oor?” nie.
Dr. Piet Muller het die strekking van die gesprek bepaal toe hy die einde van die wêreld metofories beskrywe het. Sy woorde was:
Metafories, wil ek sê, beleef [ons] die einde van die wêreld soos ons dit leer ken het van die Renaissance af
— die wêreld wat oorheers word deur Europa, die blanke lande. Daar is beslis ‘n ekonomiese verskuiwing weg na die Ooste toe. Sjina wat vir baie eeue, voordat die Weste opgekom het, eintlik die grootste ekonomiese moondheid in die wêreld was, is op pad weer soontoe. Die handel tussen Sjina, Australië en Japan . . . is reeds groter as hulle gesamentlike handel met die twee Amerikas; . . . die hele magsbalans is besig om Oos te skuif en dit lyk, . . . . [in] daardie opsig, is [dit] die einde van die wêreld want dit is vreemde dinge waaraan ons gewoond [moet] raak.
Sommige van ons geestelikes (o.a. die Calviniste) en akademici het die vermoë om die betekenis van woorde — in hierdie geval die woord “wêreld”, — met die towerwoord “metafories” op te kikker sodat dit ‘n algeheel nuwe inhoud en betekenis kry. Ons Calvinistiese vriende verklaar dat “wêreld” in Johannes 3:16 nie die totale menseras (van die begin tot nou) insluit nie maar slegs na die uitverkorenes verwys. Die towerwoord “metafories” is beslis ‘n handige post-moderne towerstaffie in die hande van mense wat sekere konkrete Bybelwaarhede bevraagteken maar terselfdertyd tog ook iets van die “waarheid” wil behou. Neem nou maar die konkrete Bybelse waarheid van die letterlik-historiese en fisieke opstanding van Jesus Christus. Baie van ons geestelikes glo nie so daarin nie, maar kan in elk geval nog met redelike oortuiging sê hulle glo in die opstanding; ja, en hulle onderskryf heelhartig die gereformeerde belydenisskrifte omdat hulle ook elke Sondag in hulle onderskeie kerke die Apostolicum opsê. Dit sal in die verloop van hierdie kommentaar duideliker word waarom Dr. Piet Muller nie in ‘n letterlike apokaliptiese vernietiging van die aarde glo nie. Sy siening behels die einde van die Westerse wêreld en die herlewing of opstanding van die Oosterse wêreld.
Dit is dus baie duidelik dat Dr. Piet Muller sy evaluasie van toekomsgebeure en tendense nie op die profesieë in die Bybel begrond nie, maar hoofsaaklik op subjektiewe, post-moderne, metafories-gedrewe gewaarwordinge. Sy einde van die wêreld scenario behels dus die einde van ‘n Westers-georiënteerde wêreldbeskawing en -beskouing en die bloei en die groei van ‘n Oosters-georiënteerde wêreldbeskawing en -beskouing “waaraan ons gewoond moet raak.” Waarskynlik gaan hierdie “gewoond moet raak” ook gepaard met die panenteïstiese siening van God, nl. God is in alles en alles is in God. Die wêreld kan dus nie vergaan nie want indien die aarde waarin God kwansuis immanent teenwoordig is, sou vergaan, sou Hy dus ook daarmee heen wees.
Anders as Prof. Adrio König wat ‘n apokaliptiese siening oor die finale einde van die wêreld huldig, glo Piet Muller nie dat die wêreld op ‘n katastrofiese einde afstuur nie. Syns insiens sal die natuur nie toelaat dat daar met hom gespeel word nie en die tegnologie het die vermoë om baie van die wêreld se kopsere op te los mits die juridici genoeg druk kan uitoefen om die wil daarvoor by mense te kweek. Dr. Piet Muller se hele siening rondom die aarde en die natuur wat nie sal toelaat dat daar met hom gespeel word nie, berus blykbaar op die Oosterse filosofie dat die aardbol ‘n lewende organisme is (die sg “Gaia” hipotese) wat besig is om deur die mens vernietig te word. Daarmee wil ek nie voorgee dat Dr. Piet Muller die Gaia-prinsiep heelhartig ondersteun nie maar dat hy in sy agterkop daarmee speel is nie altemit nie. (Kyk gerus hierna).
Ironies genoeg, was dit nie Dr. Piet Muller wat die bal aan die rol gesit het oor die mensdom se vernietiging van ons planeet nie maar Prof. Adrio König wat sopas ‘n boek oor openbaring geskryf het; — nie dat König die aarde as ‘n lewende organisme beskou nie, maar dit toon maar net weer eens hoe maklik Christene willekeurig of onwillekeurig in die slaggate van die New Age religie kan trap. Sy woorde was:
Piet, is dit nie eenvoudig waar dat ons eintlik aan die einde van ‘n spiraal kom nie; dat die mens net te gevaarlik vir die planeet aarde is en dat daar nie rêrig meer ‘n draai moontlik is nie? Ons moet ekonomiese groei hê . . . om die geweldig vermeerderende mense bevolking van die aarde te voed. Is die mens nie net ‘n te gevaarlike wese vir die planeet nie? (Klem bygevoeg)
Dit is hoogs ironies dat Prof. König ‘n boek oor Openbaring kan skrywe waarin verwoestende apokaliptiese natuurrampe vir die aarde voorspel word, en terselfdertyd so ‘n hartroerende pleidooi vir die bewaring van die aarde kan lewer. Dink hy miskien ons pogings om die aarde te red gaan die apokaliptiese natuurrampe en God se oordele oor ‘n rebelse mensdom hokslaan? Wat bedoel König? Bedoel hy dat die mens ‘n groter gevaar vir planeet aarde inhou as wat die sondegevaar vir die mens inhou? Maar nouja! die post-moderne mens se siening oor sonde (ala Rick Warren en die aardebewaarders) wentel om die bewaring van die aarde en nie om die mens se verwerping van Christus en sy gebooie nie. In antwoord op Flip Loots se vraag: “Wat is die kenmerke daarvan [die eindtyd] en is ons nou werklik daarin” het König die wederkoms van Christus met diplomatiese korrektheid so ‘n bietjie op die agtergrond geskuif en die mens se “verskriklike” sonde teen die aarde weer eens beklemtoon.
Die wederkoms van Christus – Hy sal op die wolke verskyn – kan ons nie [vir ons] voorstel nie. Dis nie vir my maklik om dit direk in verband te bring met die situasie wat ons nou op aarde het nie want terwyl dit God se aarde is, [is] dit ’n klipharde waarheid dat ons God se aarde tot in die grond in kan vernietig. Dis wat sonde is, sonde is om teen die wil van God en teen die raad van God op te tree.
Prof. König se vraag: “Is die mens nie net ‘n te gevaarlike wese vir die planeet nie?” was natuurlik net die regte knoppie om te druk want Dr. Muller het met groot geesdrif soos ‘n wafferse aflosatleet die stokkie by hom oorgeneem en ‘n barshou verder gehardloop daarmee. Hy het soos volg gereageer.
Laat ek dit so stel – deksels gevaarlike wese. Weet jy dat ons in die laaste sestien jaar, as jy nou tot by 2010 gaan, dan het ons in sestien jaar een miljard mense meer geword op aarde. (Klem bygevoeg).
Let asseblief op dat dit nie, soos Christus gewaarsku het, die valse leringe van valse apostels en profete is wat vir die mensdom deksels gevaarlik is nie, maar die mensdom wat vir planeet aarde so gevaarlik is.
“Dis verskriklik” het Prof. König onnadenkend geantwoord. Ek sê “onnadenkend” omdat ek wonder of hy (ons dogmatikus by UNISA) by die geboorte van ’n pragtige bondeltjie vreugde in sy eie familiekring nog dieselfde woord “verskriklik” sou gebruik, veral as die bondeltjie vreugde argumentsonthalwe die wêreldbevolking by sy of haar geboorte sou opstoot van 5,999,999,999 na 6,000,000,000 . . . of miskien gebruik hy die woord “verskriklik” net wanneer ander mense ‘n nuwe bondeltjie vreugde in hulle familiekring verwelkom en sodoende die wêreldbevolking “verskriklik” aanvul. Geagte here, pasop wat julle op Flip Loots se program sê want dis nie almal wat met toe ore luister nie.
Is Prof Adrio König se onnadenkende uitroep van “verskriklik” nie maar ook ‘n direkte uitvloeisel van die wêreld se siening rondom homoseksualisme, aborsie en eutanasie (sg. genadedood) nie? Enigeen wat die geboorte van ‘n bondeltjie vreugde vir sy pappa en mamma, en oupa en ouma as “verskriklik” bestempel, moet noodwendig die drie bg. planeet-beskermende “voorbehoedmiddels” ondersteun en wyd en syd rugbaar maak. ‘n Mens wonder of Prof. König nie besig is om die liefdeloosheid waarvan Christus in Mattheus 24: 12 gepraat het, uit te speel nie: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” Hulle is vreeslik lief vir planeet aarde, die natuur, die omgewing en die diere maar ongebore babatjies kan maar in hulle moederskote vermoor word, siek en ou mense kan maar “genadiglik” doodgemaak word, en normale huwelike kan maar deur die homoseks lewenswyse bedreig word. Kom dit nie neer op die vermoordering van ‘n lewende organisme wat na die beeld van God gemaak is ter wille van ‘n sg. lewende organisme wat nie na die beeld van God gemaak is nie.
So van “uitspeel” gepraat, Robert Muller, die voormalige Assistent Sekretaris Generaal van die VVO wat ook alombekend is as die Filosoof/Profeet van die VVO omdat hy die New Age beweging in die wêreldorganisasie bevorder het, het tydens die Global Citizenship 2000 Youth Congress. wat in 1997 in Vancouver gehou is, pens en pootjies in die skoene van moeder aarde geklim en in die eerste persoon namens haar ‘n hartroerende pleidooi gelewer.
What are you doing to me? You have multiplied the number of beings on this planet from 2.5 billion in 1952 to 5.8 billion today. How could you do this to me? This big population explosion all around the world, and I, the Earth, am supposed to feed them. Why did you do this to me? . . . You are killing me! [1] (Klem bygevoeg)
Amerika se Stonehenge (Georgia Guidestones) wat op een van die hoogste heuwels in Elbert County, Georgia staan, is ‘n massiewe granietmonument wat Robert Muller en die VVO se ekoprogram duidelik uitspel. Inderdaad, dit is niks anders as die New Age se tien gebooie nie.
-
Maintain humanity under 500,000,000 in perpetual balance with nature.

-
Guide reproduction wisely – improving fitness and diversity.
-
Unite humanity with a living new language.
-
Rule passion – faith – tradition – and all things with tempered reason.
-
Protect people and nations with fair laws and just courts.
-
Let all nations rule internally resolving external disputes in a world court.
-
Avoid petty laws and useless officials.
-
Balance personal rights with social duties.
-
Prize truth – beauty – love – seeking harmony with the infinite.
-
Be not a cancer on the earth – Leave room for nature – leave room for nature. (Klem deurgaans bygevoeg)
Die fundamentalistiese Christene word reeds as die kanker van planeet aarde beskou omdat hulle verseg om deel te wees van die lewensgevaarlike en God-onterende New Age eko-religie en die skreiende geestelike afval wat wêreldwyd plaasvind. Rick Warren, die guru en herder van die Ontluikende Kerk en meer as 300,000 leraars wêreldwyd (waarvan ‘n groot deel hier in Suid-Afrika sy sg “PEACE PLAN” bevorder), het reeds by verskeie geleenthede gesê dat fundamentalisme die grootste vyand van die 21ste eeu is.
Wat Flip Loots se drie gaste alles oor die bewaring van ons planeet in sy program Oop Gesprek kwytgeraak het, is dus niks nuuts nie. Hulle het maar net (wetend of onwetend) die oogmerke van die vyande van God in die New Age beweging onderskryf.
Weinig mense is daarvan bewus dat die huidige ekosentriese filosofie van die New Age in Nazi Duitsland groot aftrek gekry het en ook grootliks verantwoordelik was vir die menseslagting onder die Jode. Janet Biehl en Peter Staudenmaier skryf in hulle boek Ecofascism: Lessons from the German Experience as volg:
The “green wing” of the NSDAP was not a group of innocents, confused and manipulated idealists, or reformers from within; they were conscious promoters and executors of a vile program explicitly dedicated to inhuman racist violence, massive political repression and worldwide military domination. Their “ecological” involvements, far from offsetting these fundamental commitments, deepened and radicalized them. In the end, their configuration of environmental politics was directly and substantially responsible for organized mass murder.
No aspect of the Nazi project can be properly understood without examining its implication in the holocaust. Here, too, ecological arguments played a crucially malevolent role. Not only did the “green wing” refurbish the sanguine antisemitism of traditional reactionary ecology; it catalyzed a whole new outburst of lurid racist fantasies of organic inviolability and political revenge. The confluence of anti-humanist dogma with a fetishization of natural ‘purity’ provided not merely a rationale but an incentive for the Third Reich’s most heinous crimes. Its insidious appeal unleashed murderous energies previously untapped. Finally, the displacement of any social analysis of environmental destruction in favor of mystical ecology served as an integral component in the preparation of the final solution.
This is the true legacy of ecofascism in power: “genocide developed into a necessity under the cloak of environment protection.”[2]
For all of these reasons, the slogan advanced by many contemporary Greens, “We are neither right nor left but up front,” is historically naive and politically fatal. The necessary project of creating an emancipatory ecological politics demands an acute awareness and understanding of the legacy of classical ecofascism and its conceptual continuities with present-day environmental discourse. An ‘ecological’ orientation alone, outside of a critical social framework, is dangerously unstable. The record of fascist ecology shows that under the right conditions such an orientation can quickly lead to barbarism. (Klem deurgaans bygevoeg)
Miskien sou Flip Loots, Pastoor du Plessis, Prof. Adrio König en Dr. Piet Muller my van onredelike assosiasie-politiek wou beskuldig, maar die twee here, Muller en König, se mensliewende uitsprake van “deksels gevaarlike wese,” “verskriklik” en “dat die mens net te gevaarlik vir die planeet aarde is, . . .” leen hulle baie maklik tot die filosofie van die gewraakte eerste gebod van die Georgia Guidestones in Amerika — “Maintain humanity under 500,000,000 in perpetual balance with nature.” Ek sidder om te dink waar dit alles gaan eindig as ons geliefde land Suid-Afrika voortdurend blootgestel word aan geleerde akademici, teologiese fakulteite, seminare, geestelikes, predikante, pastore, en ander leiersfigure wat toenemend uit ‘n New Age mond praat en ons jeug verlei en mislei met ‘n ervaringsteologie wat sy ontstaan het in die Roomse tradisie en die mistieke kontemplatiewe spiritualiteit van die Woestynvaders (St John of the Cross, Brother Lawrence), en wat voortgesit is/word deur Brennan Manning, Richard Foster, Thomas Merton, Henri Nouwen, Matthew Fox, Rick Warren, Rob Bell, Tony Jones, Doug Pagitt, Erwin McManus, Nelus Niemandt ensomeer. Miskien sou u wou vra wat hierdie name te make het met die onderwerp van bespreking. Daar word reeds in die geledere van die Ontluikende Kerk gepraat van ‘n “Kerk-ekologie” waarin die idee dat die kerk as ‘n tuin vooropgestel moet word, voorkeur geniet teenoor die geïnstitusionaliseerde kerke met hulle groot en soms massiewe geboue. Daarom word die sg. retraits wat al hoe gewilder raak buite die kerk se mure in die natuur gehou waarin die regte atmosfeer geskep word vir kontemplatiewe spiritualiteite (asemgebede, stilte, lectio divina, lectio continua, laberinte wandelings, ens).
Nie een van Flip Loots se gaste het verwys na die kernbelangrike tekens wat vir ons aandui dat ons in die laaste van die laaste dae lewe nie. Hoewel König op Flip Loots se vraag “Adrio, daar word in die Bybel nogal baie gemaak van die eindtyd. Wat is die kenmerke daarvan en is ons nou werklik daarin?” ‘n redelike lang antwoord verskaf het, het hy nie veel gesê nie. Trouens, hy het dit as ‘n geleenheid beskou om sy “moederlike” besorgheid oor die vernietiging van moeder aarde te beklemtoon. Sy woorde was:
Flip, ja, ons is in die eindtyd maar ons moet nie dink ons is die eerste wat in die eindtyd is nie. Die eindtyd het aangebreek met die koms van die Here Jesus. Jy weet, teks op teks in die Nuwe Testament sê die laaste dae het God tot ons gepraat deur sy Seun (Hebreërs 1:1); in die laaste dae is die Heilige Gees uitgestort (Handelinge 2). Johannes skryf selfs, julle leef in die laaste uur en dit wemel al van antichriste; moenie dink daar gaan nog ‘n spesiale een kom nie; dit wemel al van antichriste sê Johannes en daaruit weet ons, ons is in die laaste uur. Dis baie moeilik om die Bybelse boodskap oor die eindtyd direk nou hiermee in verband te bring omdat daar een onondervedeelbare eindtyd [is] wat met die koms van Jesus begin het en met sy wederkoms gaan eindig. Maar die wederkoms van Christus is ‘n apokolaptiese begrip. Kyk, gewone goed soos hael en goeie reën en so is baie lekker; ons kan dit alles geniet maar as daar gepraat word van ’n wêreldeinde in die Bybel; en as daar gepraat word van die opstanding van alle mense en ’n oordeel, dan moet ons besef dit is apokaliptiese begrippe; die wederkoms van Christus – Hy sal op die wolke verskyn – ons kan ons dit nie voorstel nie. Dis nie vir my maklik nie om dit direk in verband te bring met die situasie wat ons nou op aarde het nie want terwyl dit God se aarde is, is dit ’n klipharde waarheid dat ons God se aarde tot in die grond in kan vernietig. Dis wat sonde is, sonde is om teen die wil van God en teen die raad van God op te tree. (Klem bygevoeg).
Dat die apokaliptiese eindtyd van ‘n sewejarige Groot Verdrukking nog nie aangebreek het nie, is nie altemit nie, hoewel König dit natuurlik nie so insien nie, maar dat die aanloop daartoe besig is om teen ‘n hoë spoed te eskaleer, is ook nie altemit nie. Prof. König onderspeel so effe die laaste dae wanneer hy sê dat ”ons nie moet dink ons is eerste wat in die eindtyd is nie.” Wil hy daarmee te kenne dat ons nie te veel van die huidige omstandighede moet maak nie omdat ons nie moet dink ons is so uniek om nou eers in die eindtyd te lewe nie en omdat die mense reeds sedert die eerste koms van Jesus daarin gelewe het? Dit gaan in die eerste plek nie oor ‘n spesifieke tydsbepaling nie maar oor ‘n toename in frekwensie van die eindtydtekens wat vir ons aandui hoe naby ons aan die einde is. Jesus Christus het nie om dowe neute die eindtyd met die geboortepyne van ‘n vrou vergelyk nie, want netsoos haar pyne in frekwensie toeneem hoe nader die oomblik vir haar aanbreek om geboorte te skenk, netso neem die tekens van die eindtyd in frekwensie toe namate die einde van die wêreld nader kom. Toe die dissipels hom vra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” was die heel eerste eindtydteken wat Hy genoem het “geestelike misleiding.” Hy het gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Mattheus 24:3).
‘n Mens sou seker soos Prof. König kon redeneer dat geestelike misleiding, valse profete en apostels reeds in die Ou Testament doenig was met hulle vuil werk en dat ons nie die eerstes is wat met hierdie probleem te kampe het nie. Maar, ons moet egter nie uit die oog verloor dat die misleiding in ons eie tyd met rasse skrede toegeneem het nie en dat daar boonop ‘n nuwe dimensie van misleiding togetree het, en dit is dat valse apostels en profete openlik sê dat hulle die Christus (gesalfde van God) is. Trouens, New Agers beweer dat die mens self besig is om geestelik te evolueer na ‘n hoër self en inderdaad ook self ‘n Christus-bewussyn d.m.v. meditatiewe dissiplines kan bereik. Terloops, ons toekomskundige, Dr. Piet Muller, het al self by geleentheid gesê dat ons almal klein Christusse kan word wat natuurlik Prof. König se verwysing na ‘n gewemel van antichriste in Johannes se sendbriewe klinkklaar verifieer. Ongelukkig weerspreek König se ontkenning van ‘n spesiale antichris wat nog moet kom die Here Jesus en Paulus se beskrywing van so ‘n persoon wat inderdaad nog op die wêreldtoneel moet verskyn. Paulus skryf:
2 Thessalonicense 2:3-8 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,
Dit is verstommend hoedat geleerdes sonder enige gewetenswroeging die taalgebruik in die Skrif oor die hoof kan sien om hulle eie agendas te pas. In die bg. gedeelte is die verwysing na die antichris telkens in die enkelvoud wat Paulus se skerp onderskeiding tussen enkelvoudige en meervoudige naamwoorde en voornaamwoorde sonder weerga toelig. Ek glo nie Paulus sou van enkelvoudige naam- en voornaamwoorde gebruik maak indien hy na ‘n gewemel van antichriste wou verwys nie. So-ook het die Here Jesus met ‘n skerp onderskeidingsvermoë tussen enkelvoud en meervoud na ‘n persoon verwys toe hy van die antichris gepraat het en nie na ‘n gewemel van anticrhiste nie.
Johhannes 5:43 Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem.
Die res van Flip Loots se gesprek met sy drie gaste het uiters telleurstellend verloop. Pleks daarvan om die kenmerke van die eindtyd vanuit ‘n Bybelse perspektief te bespreek, en soos Petrus ‘n woord van bemoediging aan God se kinders te rig, het dit ontaard in ‘n kompetisie om te te sien watter kerk nou eintlik die meeste vir die noodlydendes doen. Maar, kom ons kyk eers wat Petrus gesê het:
2 Pertus 3:9-15 Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het . . .
Voordat ek oorgaan om die drie here se uitsprake rondom die kerk se noodlenigingshulp aan mense onder die loep te neem, wil ek die vinger druk op die kenmerke van die post-moderne missionêre spiritualiteit wat besig is om die Evangelie van Jesus Christus te rysmier. Dit kan opgesom word in Rick Warren se woorde:
“You know, 500 years ago, the first Reformation with Luther and then Calvin, was about beliefs. I think a new reformation is going to be about behavior. The first Reformation was about creeds; I think this one will be about deeds. I think the first one was about what the church believes; I think this one will be about what the church does. The first Reformation actually split Christianity into dozens and then hundreds of different segments. I think this one is actually going to bring them together.”
Daar is veral drie baie subtiele en uiters gevaarlike klemverskuiwings in die post-moderne aanbieding van die Evangelie:
- Dissipelskap/Volgelinge van Jesus: Beklemtoon die gedagte dat Jesus Christus net nog ‘n voorbeeld is (soos enige ander gode in ander godsdienste) om na te volg pleks daarvan dat Hy die enigste Weg, Waarheid en Lewe is, wat die voorwaarde stel dat ons Hom alleenlik kan volg as ons ons self verloën en ons kruis opneem.
- Leerstellng: Beklemtoon die rol wat die kerk moet speel in noodlenigingsprojekte op die terrein van VIGS, armoede, onderwys, en leierskap, pleks daarvan om klem te lê op Bybelse leerstellings.
- Eindtydteologie: Simboliseer/allegoriseer die eindtydteologie van die fundamentaliste; maak dit selfs bespotlik en lê eerder klem op die mens se tegnologiese vermoëns om hulle eie probleme op te los op die terrein van aardverwarming, aardbewaring, die nastreef van vrede en ekonomiese stabiliteit.
Al drie die bg. kenmerke van die post-moderne aanbieding van die Evangelie is in een of al drie die here se uitsprake aanwesig. Ek het vroeër gesê dat hulle met mekaar gewedywer het om te kyk wie se kerk nou eintlik die meeste goeie werke verrig. Flip Loots het sy vraag hieroor soos volg geformuleer:
Adrio, wat is die rol van die kerk in hierdie hele situasie waarin ons nou is. Jy weet, sommige mense beweer dat die kerke opeet terwyl Rome brand. Ek bedoel daarmee die kerk is besig om oor dinge te praat in hulle vergaderings wat nie regtig die mense op voetsoolvlak raak nie. Hulle praat van kerklike strukture, die vrou in die amp, kerkeenheid, die bestaan van die duiwel, en ag so kan ek seker aangaan. Hulle sê die kerke is uit voeling met die krisisse en nood van die land. Hoekom sou jy sê, maak hulle so ‘n stelling?
Prof. Adrio König het soos volg gereageer:
Kyk, dis vreeslik moeilik om oor dié kerk te praat want daar is nie eintlik so ‘n ding nie; jy weet, een groot ding wat nou dié kerk is nie. Die Christendom is geweldig verdeeld in kleiner groepe . . . Die kerk waaraan ek behoort, die NG Kerk, die sou jy kon sê het vir baie jare miskien vreeslik min gedoen, maar weet jy daar’s ‘n geweldige ontwaking; die hele vernuwing in die NG Kerk is darem ook ‘n vernuwing om mense in nood te help en as ek hoor van gemeentes, wat gemeentes doen en uitreik. Maar jou moeilikheid is natuurlik, dit is half op ‘n klein skaal, omdat die kerk nie een geweldige groot sentrale organisaie is nie kan jy nie verskriklik baie doen aan . . . wêreldprobleme nie. Behalwe dat ons, en dit dink ek in die verkondiging van die kerk en die boodskap van die verskillende kerke, sal ons baie duideliker moet praat oor ons sonde om die natuur te vernietig want baie leiers, veral in die Weste en Afrika ook, dié sit in die kerk en ek dink nie ons het vir hulle ‘n duidelike boodskap gegee dat dit in die Naam van die Here tyd is dat ons die aarde, die natuur begin beskerm nie.
Dit herinner my nogal aan die Here Jesus se gevleuelde woorde toe Hy gesê het: “Gaan dan heen, maak van al die mense dissipels van “’Green Peace’, . . . en leer die wêreldse leiers om op te hou sondig teen die aarde en die natuuur en om onmiddellik op te hou om dit te vernietig.” Pastoor Lemmer was dit roerend eens met Prof. König.
Ja! ek dink wat Adrio daar sê, is natuurlik waar. Ek dink ook dat ons predikante teiken gewoonlik ons gehoor waarvoor ons preek en ons speel baie keer, as ek so mag sê, speel ons na die begeertes van ons gehoor toe uit i.p.v. dat ons aktuele sake en dinge wat van belang is, nie net vir die mens nie maar ook vir die wêreld waarin ons leef, aanspreek. Maar as ek net kyk, Flip, na byvoorbeeld die Rapport van die 7de Desember, was daar ‘n interessante artikel oor Pastoor Christo Visser in Rustenburg en dan word daar vertel hoedat hulle begin het met ‘n insamelingsprojek vir mense, en dan wasmasjiene, stowe en yskaste ens.; agterstallige huurgeld is deur hierdie gemeente betaal, skoolgeld is betaal, ‘n splinternuwe houthuis is vir ‘n vrou opgerig in ‘n plakkersgebied, babagoed is vir ‘n swangervrou aangeskaf; so oral is die kerk besig om tog sy ding te doen. Dis nie asof ons nie ‘n bydrae maak tot die maatskappy en en sosiale omgewing waarin ons leef nie. As jy byvoorbeeld dink aan die fantastiese sukses wat ‘n man soos Angus Buchan gehad het met sy optrede op Loftus Versveld en op Nuweland — op Loftus het daar 71 000 mense bymekaar gekom het en op Nuweland waar daar twee dae lank saam 60 000 mense was en, die aksent wat hy plaas op die huwelik om ‘n voorbeeld te noem, en hoeveel getuienisse het ek persoonlik nie gehoor van mense wat na hierdie man geluister het en gesê het “maar die Here het my huwelik gehelp”; dis alles boustene daardie wat die wêreld vir ons beter en aangenamer maak. So oral is daar ligpunte. Daar’s baie duisternis maar oral is daar ligpunte.
Afgesien van die feit dat Flip Loots se drie gaste nie by die onderwerp van die program “Hoe lank tyd is daar vir die aarde nog oor” gebly het nie, het hulle telkens ook die opdragte van God verontagsaam. Dit is voorwaar baie edel om die noodlydendes te help maar dit is beslis nie so edelmoedig om jou eie beuel te blaas nie. Wat het dan van die Here se opdrag in Mattheus 6:2 geword?
Mattheus 6:2 Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg.
‘n Berig in ‘n sekulêre koerant oor Christene se weldadigheid is gewis nie die Here se wil nie en Prof Adrio König het juis vroeër tereg daarop gewys dat die wese van sonde is om teen die wil van God en teen die raad van God op te tree.
Angus Buchan mag miskien daarin slaag om ‘n fantastiese getalle-sukses te behaal wanneer derduisende mense sy saamtrekke bywoon, maar getalle is nie juis ‘n barometer vir sukses nie. As getalle die litmustoets was vir sukses dan was die hel ‘n helse sukses omdat die meeste mense uiteindelik daarheen gaan. Dit is nie ek wat so sê nie maar die Here self:
Mattheus 7:13, 14 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
Dit is juis hierom dat predikante, pastore, kerke en elke dissipel van die Here Jesus meer begaan moet wees oor die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus as ‘n moeder Teresa-geïnspireerde lewe van weldadigheid aan die noodlydendes. Daarmee sê ek nie dat die kerk sy taak om die noodlydendes te help moet afskeep nie, maar dat die kerk nie nodig het om sy weldade voor ‘n wêreld wat Christus vyandiggesind is met groot fanfare en trompetgeskal te reklameer en probeer verdedig nie. Toe die Griekssprekende Jode begin murmureer het omdat die daaglikse versorging van die wese en weduwees oor die hoof gesien is, het die dissipels as volg daarop geantwoord.
Handelinge 6:1 En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar ‘n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is. En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie. Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.
Hoe weet ons of ons in die eindtyd lewe? Miskien moet ek herhaal wat die Here Jesus gesê het: “Pas op dat niemand julle mislei nie.” Die vraag is: hoe vind hierdie misleiding plaas? Die misleiding kom nie in die vorm van openlike leuens nie, maar hoofsaaklik deur mooi praatjies dat daar vir die wêreld ‘n blink toekoms van voorspoed en ongekende vrede voorlê. Wat sê die Skrif?
1 Thessalonicense 5:3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.
—————————————————————————————————–
[1] An audio recording of this event, including Muller’s speech, is in the author’s file/audio archives. This section of his speech is also included in the facilitator’s guide, When the Earth Still Had 1000 Days, a post-event handbook published by Creative Learning International (May, 1999).
[2] Gröning and Wolschke-Bulmahn, “Politics, planning and the protection of nature”, p. 138
— die wêreld wat oorheers word deur Europa, die blanke lande. Daar is beslis ‘n ekonomiese verskuiwing weg na die Ooste toe. Sjina wat vir baie eeue, voordat die Weste opgekom het, eintlik die grootste ekonomiese moondheid in die wêreld was, is op pad weer soontoe. Die handel tussen Sjina, Australië en Japan . . . is reeds groter as hulle gesamentlike handel met die twee Amerikas; . . . die hele magsbalans is besig om Oos te skuif en dit lyk, . . . . [in] daardie opsig, is [dit] die einde van die wêreld want dit is vreemde dinge waaraan ons gewoond [moet] raak.
What are you doing to me? You have multiplied the number of beings on this planet from 2.5 billion in 1952 to 5.8 billion today. How could you do this to me? This big population explosion all around the world, and I, the Earth, am supposed to feed them. Why did you do this to me? . . . You are killing me! [1] (Klem bygevoeg)
The “green wing” of the NSDAP was not a group of innocents, confused and manipulated idealists, or reformers from within; they were conscious promoters and executors of a vile program explicitly dedicated to inhuman racist violence, massive political repression and worldwide military domination. Their “ecological” involvements, far from offsetting these fundamental commitments, deepened and radicalized them. In the end, their configuration of environmental politics was directly and substantially responsible for organized mass murder.