My oorlede pa was nie ‘n geleerde man nie. Hy het maar net Std. 5 gemaak en moes toe noodgedwonge inspring om hulle groot gesin van dertien kinders te help versorg. Desnieteenstaande het hy dikwels wyshede kwytgeraak wat my tot vandag toe nog bybly. Hy het op ‘n dag vir my gesê:
Ou seun, die waarheid maak kalm, nie kwaad nie. As iemand sê hy dra die waarheid in sy boesem om . . . maar word maklik kwaad wanneer jy hom daaroor uitvra om seker te maak of hy wel die waarheid praat , moet jy weet hy speel eintlik met leuens. Dan maak die waarheid seer en nie kalm nie.
Jare na my bekering het ek besef dis nogal ‘n heel Bybelse waarneming, veral in die lig van die feit dat die Waarheid ‘n mens vry maak. Dit maak jou vry van woede, van kleinserigheid, van selfverdediging, van eersug en grootdoenerigheid; om die waarheid te sê, die waarheid maak jou vry van jouself.
Sy woorde het onwillekeurig na my toe teruggekom toe ek die woedende tirade teen mnr. Sarel van der Merwe in die NGK “Kerkbode” (6 Maart 2009) gelees het. Die berig het verskyn na aanleiding van ‘n seminaar wat mnr. van der Merwe op 28 Februarie in Centurion, Pretoria oor die Ontluikende Kerk aangebied het.
Kom ek val sommer dadelik met die deur in die huis en haal aan wat die bewakers van die Ontluikende Kerk en die Teologiese Fakulteit op UP hom op die voorblad van “Kerkbode” toegesnou het. Skynbaar het Kerkbode ‘n baie handige spreekbuis geword vir ons geestelike leiers (?) om ander mense te laster. Kerkbode het soos volg berig:
Prof. Niemandt, wat ook assessor van die NG Kerk se Algemene Sinode is, het by navraag aan Kerkbode gesê ’n mens huiwer eintlik om op die wilde stellings van mnr Van der Merwe te reageer. Hy beskuldig hom van haatspraak en sê dié “selfaangestelde aanklaer, regter en laksman is besig met ’n volgende rondte leuens en karaktermoord”.
“Kort gelede nog het hy by wyse van ’n DVD teologiedosente van dwaalleringe beskuldig. Ná ’n groot klomp ondersoeke en vergaderings het die kerk hulle onskuldig bevind. Nou gebruik mnr. Van der Merwe ’n konferensie om sy haatspraak voort te sit. Die reklamemateriaal daarvoor kan in drie woorde opgesom word: leuens, laster en liefdeloos. Die Inkwisisie is dood! Lank lewe die Inkwisisie!” het prof Niemandt aan Kerkbode gesê met verwysing na mnr. Van der Merwe se optrede.
Ek het mnr. Sarel van de Merwe se seminaar oor die Ontluikende Kerk bygewoon en nie ‘n enkele keer gehoor dat hy die man en nie die bal speel nie — ‘n “gentleman’s” kunsvaardigheid wat sy aanklaers by die Teologiese Fakulteit op UP nog lank nie onder die knie kon kry nie. Hy het telkens met noukeurige presiesheid slegs die feite op die tafel gelê wat hy deur die jare by wyse van nougesette en wetenskaplike navorsing ondersoek het. Sy hele aanslag is gebou op God se opdrag om die geeste te toets omdat hulle nie almal uit God is nie (1 Johannes 4). Nie een van die persone wat hom so liederlik in Kerkbode beswadder, is in staat om hom vanuit die Woord van God te repudieer nie en wend nie eens die geringste poging aan om hom met die “regte” feite (hulle eie navorsing) oor die Ontluikende Kerk te konfronteer nie. Nee! Pleks daarvan snou hulle hom die mees lasterlike woorde toe.
Ek kan tot nou toe nog nie begryp waarom ‘n klomp hooggeleerde en hoogwaardeerde teoloë en akadmici aan UP se Teologiese Fakulteit nie ‘n enkele keer vir Jean Oostuizen op die voorblad van Kerkbode aangetree het oor sy Kletskerk nie. Mnr. Oosthuizen is tans op die redaksiepersoneel van Kerkbode. Christus word gereeld op sy Kletskerk gelaster en die aller vieslikste krutaal word gereeld daarin gebruik. Hoe werk julle koppe menere, professore en doktore? Prof. Stephan Joubert roem daarop dat sy kop geswaai is nadat hy Dr. Nelus Niemandt se blitsverkoper, Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede gelees het. Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om hom vriendelik te versoek om sy kop net nog ‘n bietjie meer te swaai en soos ‘n wafferse man ‘n artikel vir die voorblad van Kerkbode te skryf waarin hy Jean Oosthuizen en sy God-onterende webblad Kletskerk aanvat en in die sterkste taal in die openbaar repudieer. Dit sal vir my ‘n aanduiding wees dat die Ontluikende Kerk wat hy en Nelus Niemandt in ons land bevorder diep begaan is oor die wyse waarop die eer en die Naam van God op Kletskerk belaster word. Indien hulle dit nie sou doen nie, sal dit ‘n aanduiding wees dat hulle mense soos Jean Oosthuizen en sy Godloënaar maatjies met broederlike liefde verdra en omarm terwyl hulle diegene wat werklik begaan is oor die eer van die Here van liefdeloosheid, haatspraak, en leuens beskuldig. Wat se soort liefde is dit? Toe mnr. van der Merwe Dr. Nelus Niemand by geleentheid van ‘n vergadering in die Wonderboom NGK Gemeente (11 Maart 2009) met behulp van aanhalings uit Leonard Sweet se boek “Quantum Spiritulaity” bewys dat die Ontluikende Kerk se leiersfigure en hulle filosofie diep ingebed is in die New Age en die Oosterse godsdienste (soos o.a. joga en meditasie) het die Voorsitter die vergadering op versoek van Nelus Niemandt onmiddellik beëindig. Die Teologiese Fakulteit op UP kla voortdurend dat mnr. van der Merwe nie die broederlike pad van Mattheus 18 met hulle wil loop nie, maar dit lyk eerder of dit hulle is wat verseg om hierdie pad met hom te loop. Sodra hy sy mond oopmaak, maak hulle hom stil, soos ons “broeders in die Here” tydens die genoemde vergadering op so ‘n mooi “Christelike” wyse gedoen het.
Soos ek reeds in een van my vorige skrywes gesê het, is vleitaal ‘n opperste onding. Daarvan getuig verskeie gedeeltes in die Bybel wat daarteen waarsku.
Job 32:21, 22 Ek wil nie partydig wees nie; en ‘n mens vlei, sal ek nie. Want ek verstaan nie om te vlei nie; gou sou my Maker my wegneem!
Spr 28:23 Hy wat ‘n mens teregwys, sal agterna meer guns vind as hy wat vlei.
Spr 29:5 ‘n Man wat sy naaste vlei, sprei ‘n net uit voor sy voetstappe.
Jud 1:16 Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel.
Vleitaal is waarskynlik ‘n algemene verskynsel onder die Ontluikende kerklui en veral hulle leraars. Sodra jy hulle konfronteer met onskriftuurlike aanhalings uit die boeke van mense soos Leonard Sweet, Rob Bell, Doug Pagitt, Tony Jones en nog vele ander, skakel hulle onmiddellik oor in vleitaal-rat en sê gewooonlik iets in dier voege: “Prof. Stephan Joubert en Dr. Nelus Niemandt praat met groot lof van Leonard Sweet se aansien, integriteit, intellek en energieke dinamika en ek aanvaar hulle woord en dis vir my genoeg” – so asof dit die barometer is waaraan ‘n mens die waarheid moet meet en nie die Woord van God nie. Kom ons toets hulle hoogaangeskrewe integriteit aan die hand van ‘n paar voorbeelde uit die Ontluikende Kerk se leierskorps.
“Quantum spirituality bonds us to all creation as well as to other members of the human family. New Light pastors are what Arthur
Peacocke calls ‘priests of creation’ earth ministers who can relate the realm of nature to God, who can help nurture a brother-sister relationship with the living organism called Planet Earth. This entails a radical doctrine of embodiment of God in the very substance of creation. The Oxford Dictionary of the Christian Church (1974) identifies the difference between pantheism and panentheism:
“Pantheism is ‘the belief or theory that God and the universe are identical’ panentheism is ‘the belief that the Being of God includes and penetrates the whole universe, so that every part of it exists in Him, but… that His Being is more than, and is not exhausted by, the Universe.”
“New Light spirituality does more than settle for the created order, as many forms of New Age pantheism do. But a spirituality that is not in some way entheistic (whether pan- or trans-), that does not extend to the spirit-matter of the cosmos, is not Christian.” (http://www.leonardsweet.com/Quantum/quantum-ebook.pdfp. 123-124)
Ware Christenskap word dus nie gemeet aan jou verhouding met God deur Jesus Christus nie, maar jou verbondenheid aan en afhanklikheid van die geestes-materie van die kosmos. Dit is suiwer paganistiese New Age spiritualiteit en tog verklaar Stephan Joubert en Nelus Niemandt asook hulle meelopers dat Leonard Sweet ‘n leiersfiguur met groot integriteit in die Ontluikende Kerk is. Het hulle dan blinde leiers van blindes geword of was hulle nog altyd so gewees?
“New Light embodiment means to be ‘in connection’ and ‘information’ with other faiths. To be in-formation means to know each other’s songs almost as well as one knows them oneself, and to enlarge the community to include those whose conceptions of God differ from ours in form. To be in connection means to be able to sing, not only selected stanzas, but all the verses….” (p. 129)
“One can be a faithful disciple of Jesus Christ without denying the flickers of the sacred in followers of Yahweh, or Kali, or Krishna. A globalization of evangelism ‘in connection’ with others, and a globally ‘in-formed’ gospel, is capable of talking across the fence with Hindu, Buddhist, Sikh, Muslim – people from other so called ‘new’ religious traditions (‘new’ only to us) – without assumption of superiority and power.”(p. 129-130) [Thomas se kommentaar: Die Hindoe godin Kali is die godin van die "dood" en "vernietiging" of "verwoesting." Ten spyte van haar konnotasies hiermee word sy ook beskou as die godin van "tyd" en "verandering." 'n Mens kan miskien ook nou beter verstaan waarom die Ontluikende Kerk, in sy affiliasie met ander godsdienste, soveel klem lê op die noodsaak vir verandering. Brian McLaren het 'n boek geskryf met die titel "Everything Must Change." Die Ontluikende leraars sal voortdurend vir jou sê dat jy nie jou verhouding met die Lewende God, Jesus Christus, kompromiteer nie al sou jy sekere konsepte - soos in hierdie geval "verandering" - in jou Christelike godsdiens assimileer. Die bloeddorstige Kali word ook as Bhavatarini aanbid (letterlik "die verlosser van die heelal"). Ook hier kan die raakpunte tussen die Ontluikende Kerk en ander godsdienste opgediep word. Soos die Hindoeïsme glo die Ontluikende Kerk ook dat verlossing nie net tot die individu beperk word nie maar dat dit van toepassing moet wees op die ganse heelal. Dit is dus 'n universele verlossing wat alles en almal insluit. Dit kan nie anders nie omdat die konsep van panenteïsme - God is in alles en alles is in God - dit vereis. Indien God in alles en alles in God is, dan is dit mos vanselfsprekend waarom alles en almal met hierdie panentieïstiese God versoen moet word en dis hoogs interessant dat die kontemplatiewe spiritualiteit van die Roomse Desert Fathers die medium is waardeur almal nou in die teenwoordigheid van God kan lewe. Die meer resente bewegings in die Hindoeïsme aanbid Kali as die "moeder godin." Is dit so moeilik om te sien waarop dit alles uiteindelik gaan uitloop?]
“…It will take a decolonized theology for Christians to appreciate the genuineness of others’ faiths, and to see and celebrate what is good, beautiful, and true in their beliefs without any illusions that down deep we all are believers in the same thing.” [Thomas se kommentaar: Die Ontluikende leierskorps maak gereeld gebruik van gelaaide terme om hulle invloedsfeer soveel makliker uit te brei. Een hiervan is die woord "decolonized" wat sinspeel op die koloniale era waartydens sendelinge die boorlinge van ongekerstende volkere kwansuis gedwing het om hulle kultuur, gewoontes, folklore ens. prys te gee ter wille van die Christelike gosdiens. Dit is gewoon nie waar nie. Hoewel sekere gevalle voorgekom het waar sendelinge boorlinge geleer het om hulle halfnaakte deurtrekkertjies met westerse kleredrag te vervang, het hulle slegs die kulture wat ingebed was in voorvadergeeste en afgodery baie streng aangespreek en die boorlinge geleer dat dit nie met die Christelike godsdiens versoenbaar is nie. Op hierdie wyse word die sendingaksies van vervloë dae waartydens die Evangelie suiwer verkondig is onder verdenking gebring en gedemoniseer. Die hedendaagse missionêre kerk het die klem verskuif vanaf 'n kompromielose Evangelie na 'n kompromiterende "Evangelie" waarvolgens "waarhede" in ander godsdienste as algemeen geldende riglyne, selfs ook vir die Christelike godsdiens, aanvaar word. Kontemplatiewe spiritualiteit speel 'n geweldige groot rol in die vervaging en selfs uitwissing van die grenslyne tussen godsdienste. Lees gerus hierdie artikel. Kerklidmate wie se lewens nie gebou is op die Rots (Jesus Christus) nie, en nie vertroud is met die hele raad van God soos Paulus dit in sy sendbriewe aan ons oorgedra het, val baie maklik ten prooi van hierdie nuwe kompromiterende "Evangelie" wat eintlik maar geen evangelie is nie. Dis niks anders as 'n baie slim namaaksel van die ware Evangelie nie.
Dis absoluut verstommend dat sg. behoudende leraars soos Stephan Joubert, Nelus Niemandt, Dries Lombaard en baie ander jong predikante in die NGK kerkfamilie mense soos Leonard Sweet kan verdedig en goedpraat terwyl hy sê dat Christene met behulp van 'n gedekoloniseerde teologie kan leer om ander gelowe se geloofwaardigheid te waardeer en om dit wat goed, mooi en waar is in hulle geloofstrukture, te waardeer sonder om enige voorbehoude te hê dat ons ten diepste almal gelowiges is van dieselfde ding. Dis dan ook geen wonder nie dat Paulus waarsku dat in die laaste dae die mense 'n gedaante van godsaligheid sal hê terwyl hulle die krag daarvan verloën. Soos ek reeds in talle van my ander kommentare verwys het, is die kruis van Jesus Christus die krag en die wysheid van God (1 Kor 1:18). Daar is hoegenaamd nie 'n greintjie van hierdie krag en wysheid in die sg. waarhede, goedheid en skoonheid van ander godsdiens aanwesig nie omdat hulle die kruis van Jesus Christus summier verwerp en tog verklaar Stephan Joubert en sy maatjies skaamteloos dat daar waarhede in ander godsdienste soos die Boeddhisme en selfs in nie-godsdienste soos die ateïsme aanwesig is. As dit nie 'n blatante verloëning is van God se enigste Waarheid en die kruis van Jesus Christus nie, dan weet ek nie meer so mooi nie.]
“The tide of an exoticized and orientalized theology is already at flood stage in New Age thinking partly because of modernist Christianity’s theological xenophobia…. An example of East-West integration that is less a subversion of the Christian tradition than an homage to it is the flourishing field of study known as transpersonal psychology, where the West’s emphasis on material processes of self-realization become mutually dependent on the East’s emphasis on consciousness journeys of self-annihilation.
“The interfaith embodiment of a quantum spirituality is based not on the Enlightenment search for what the world religions hold in common but on the multitudinousness and uniqueness of each particular vision of truth.” (Quantum Spirituality, 129-130 Lees hier.
Paulus het natuurlik ook “the flickers of the sacred in followers of Yahweh, or Kali, or Krishna” raakgesien en hy het ook erken dat “spirituality is based not on the Enlightenment search for what the world religions hold in common but on the multitudinousness and uniqueness of each particular vision of truth.” en daarom het hy die volgende woorde neergepen:
2Kor 6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
Stephan en Nelus asook hulle meelopers sal natuurlik heel gou vir jou sê dat hulle darem nie met alles saamstem wat Leonard Sweet sê en skryf nie. Sê tog asseblief vir my hoe jy integriteit aan iemand kan toedig as jy nie met alles kan saamstem wat hy sê nie, veral rondom die kernboodskap van die Evangelie, nl die verlossing? Tog sê Stephan Joubert nes sy herder, Lennie, dat die Christendom nie alleenreg het op die waarheid nie maar dat daar ook in ander godsdienste soos die Boeddisme en Judaïsme waarhede opgesluit lê – ja, en selfs ook in die ateïsme. Wat makeer die man? Kan die sg. waarhede in die ander godsdienste die mens vrymaak van sy sonde en verlorenheid? Kan dit jou die sekerheid gee dat jy hemel toe gaan as jy die dag te sterwe kom? Indien nie, dan beteken daardie sg. waarhede in ander godsdienste net mooi niks nie. ‘n Mens sê sulke dinge wanneer jy nie tussen lig en duisternis kan onderskei nie. Nog meer, sodra iemand uit oortuiging en ware liefde vir hulle waarsku teen die dwaalweë waarop hulle hul begeef, kryt hulle jou uit as “selfaangestelde aanklaers, regters en laksmanne [wat besig] is met ’n volgende rondte leuens en karaktermoord”. Het hulle nie miskien al daaraan gedink dat hulle self besig is om die Here Jesus wat gesê het “Ek is die Waarheid” se onkreukbare karakter te vermoor nie? Is hulle nie besig om self as aanklaers, regters en laksmanne van die enigste ware Evangelie op te tree nie. Maar natuurlik nie! . . . al wat hulle besig is om te doen is om die Here Jesus as die enigste Waarheid te verloën deur te sê daar is ook geldige waarhede in ander godsdienste. Mag die Here Suid-Afrika van hierdie geestelike laksmanne bewaar en veral ook die skape en lammers in hulle eie gemeentes.
Soos in die verlede, wil ek julle weer eens smeek om julle te bekeer van julle verkeerde weë, want . . . . julle speel met vuur.
1Pet 4:14 As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.
Die koerant Beeld het onderskeidelik op 6 en 12 September, briewe van Proff. Hoffie Hofmeyr (“Klonkies en kabouters en die gekweste hart van die Evangelie”) en Cas Vos (“By: Te veel sout en peper in dié gereg”) geplaas wat maar net weer daarop dui dat die stof sedert Ferdie Mulder se skorsing uit die Teologiese Fakulteit van Pretoria nog lank nie gaan lê het nie.